Teologie en konteks

Kerkgeskiedenis het dus met die geskiedenis van Skrifuitleg te make; met die manier waarop die Ou Testament oor die eeue gelees en geïnterpreteer is en hoe dit in mense se lewens neerslag gevind het. En omdat ‘geskiedenis’ nie bloot ’n kroniek van feite is nie, maar ‘n herbelewenis van die verlede is, maak die herinnering ons deel van die lewende proses van uitleg oor die eeue. Deur ons in dié verlede in te leef, evaar en herbeleef ons iets van die kerk se pogings om sin van die Ou Testament te maak.

Die lewende proses van interpretasie

‘n Bekende filosoof het op ‘n keer oor die woordjie ‘antiek’ nagedink en gewonder wanneer iets werklik antiek is. ‘n Antieke stoel, byvoorbeeld, wat duur gekos het, eenkant in die huis staan en waarop kinders nie mag spring of grootmense sit nie. ‘n Stoel wat net op ‘n afstand bewonder en oor gepraat kan word. Wat maak dit antiek? Is dit omdat die stoel so oud en duur is, of dat die hout en stoffering uit ‘n ander era kom of dat die interessante vorm of uitgekerfde patroontjies tipies van ‘n vorige eeu is? Hoegenaamd nie. Die stoel is antiek omdat dit uit sy leefwêreld geneem is. Sy leefkonteks waarin mense daarop kon ontspan en kinders dit kon rondstoot en daarop spring. Iets is dus antiek wanneer dit uit sy oorspronklike en lewende konteks geneem en in ‘n ander, vreemde wêreld geplaas is.

Ons het van die Ou Testament ‘n antieke boek gemaak omdat ons dit uit sy oorspronklike wêreld weggeneem het; uit sy wêreld van gewone mense wat gevoel, gedink en geglo het; uit ‘n leefkonteks waarin dit stuksgewys ontstaan en gegroei het. En omdat ons dít gedoen het, het die Ou Testament ‘n strak en krakerige boek uit ‘n grys verlede geword. Eers wanneer ons dit as ‘t ware in sy historiese leefwêreld terugsit, kan ons die stemme van mense hoor wat oor God en met mekaar gepraat het. Eers wanneer ons die Ou Testament in sy verskillende historiese kontekste terugplaas, kan ons iets van God in mense woorde verstaan.

Bogenoemde is ook ten opsigte van die geskiedenis van die Ou Testament se uitleg waar. Die afgelope twee duisende jaar is die Ou Testament in verskillende tye op verskillende maniere verstaan en uitgelê en dié lewende proses van interpretasie en herinterpretasie is baie belangrik vir ‘n lewende teologie.

Niemand ontsnap hierdie proses, of die ‘Wirkungsgeschichte’ nie

‘n Teks word nooit finaal uitgelê en die eksegetiese worsteling nooit finaal afgesluit nie. In elke nuwe situasie word nuut en anders oor teks en sy betekenis nagedink. En al hierdie eeue lange interpretasies is vir Gadamer nie stowwerige argiefmateriaal of verouderde werke wat sinloos op boekrakke staan nie. Dit kan ‘n mens help om te verstaan. Dit verskaf interpretasies waarvan ons nie geweet het nie of waarvan ons vergeet het. Gadamer noem hierdie voortdurende proses van interpretasie en herinterpretasie ‘Wirkungsgeschichte’ (Ndl: ‘effectieve geschiedenis’; Eng: ‘effective history’) (Gadamer 1990:305-312). Die ‘Wirkungsgeschichte’ is ‘n historiese beweging wat nou nog hier en nou (bewustelik of onbewustelik) die lees van tekste en die verstaan van geskiedenis beïnvloed (Gadamer 1990:346-352). ‘n Teks se verstaan word mede deur die geskiedenis van die interpretasies daarvan bepaal. ‘n Mens kan nooit ‘n teks op sy eie of opsigself verstaan nie. Dit kan nooit los van die interpretasies daarvan begryp word nie: ‘Werken kunnen niet los gezien worden van die geschiedenis van hun effecten’ (Oudemans 1980:56).

Uiteraard het dit konsekwensies vir ons verstaan van ‘n teks. Ons is net nooit alleen nie want die teks se ‘verlede’ praat in die eksegetiese proses mee. Verstaan is dus nie soseer ‘n objektiewe handeling van ‘n subjek nie, maar eerder ‘n proses waarin ons deel van ‘n teks se verstaansgeskiedenis gemaak wordb (Gadamer 1990:295). Ons word as ‘t ware in die geskiedenis van die uitleg ingetrek en een daarmee gemaak. Anders gestel: menswees (of: teoloogwees) is nooit los van die verlede nie; ons is aan die geskiedenis ‘onderworpe’; ons maak nie geskiedenis nie, maar die geskiedenis maak ons; die geskiedenis (die ‘Wirkungsgeschichte’) rig daarom ons verstaan; dit help ons om tekste te kan begryp. In ‘n baie bekende aanhaling sê Gadamer dat die ‘Wirkungsgeschichte’ meer syn as bewussyn is: ‘wirkungsgeschichtliches Bewusstsein ist mehr Sein als Bewusstsein(Gadamer 1993:101). Die geskiedenis van die Ou Testament se voortdurende herinterpretasie penetreer as ‘t ware ons totale lewensbestaan so volledig dat ons nooit daarvan kan loskom nie.

Reg of verkeerd?

Daar is nie reg of verkeerd in hierdie geskiedenis van die interpretasie nie. In plaas daarvan om af te maak, moet ons eerder die unieke bydrae van elkeen probeer verstaan. Augustinus begin byvoorbeeld sy uitleg van Psalm 1 met ‘n onmiddellike verwysing na Christus. Hy verklaar die woorde, ‘Gelukkig is die mens wat nie die raad van die goddeloses volg nie’, soos volg: ‘Hierdie woorde verwys na onse Here Jesus Christus, wat Heer en mens is’. Hierdie is ‘n vrye vertaling van Augustinus se woorde: ‘de Domino nostro Iesu Christo, hoc est homine Dominico, accipiendum est’. Augustinus het dit doelbewus so uitgelê omdat ‘n Christologiese lees van die psalms deel van sy tradisie was. Daar was ook ‘n ander rede: hy wou die gelowige help om ‘n ‘greep’ op die psalms te kry deur dit as ‘n profesie aangaande Christus te lees. In sy verklaring van Psalm 56 sê Augustinus dan ook dat elke vers van Christus spreek; in elke vers klink Christus se woorde deur middel van die psalmskrywer. So ‘n verklaring is vandag eintlik onmoontlik, maar in plaas daarvan om dit net te verwerp, moet ons eerder probeer om die unieke, die anderse van Augustinus se psalmverklaring te verstaan en te herleef. En wanneer dit gebeur word die band met gister en eergister se mense net sterker.

Wat soek ons?

Ons soek na ‘n leidende idee of teologie of ‘episteme’, soos wat Foucault dit noem. Elke eeu en elke geslag het ‘n soort geheime kennisstelsel of ‘n verborge intellektuele ondergrond wat aan mense woorde, uitdrukkinge en perspektiewe gee om hulle wêreld te verstaan. Dit is ‘n soort verborge poel van idees waaruit almal onbewustelik put en wat mense vorm om op ‘n bepaalde manier te dink en te skryf. Elkeen wat daarom ‘n spesifieke era in die geskiedenis wil verstaan, moet diep delf om hierdie verborge argief van denke raak te kap. En wanneer dit gebeur, verstaan jy waarom mense in die of daardie tyd sus of so gedink en gedoen het. Historiese arbeid beteken dus om soos ‘n argeoloog te grawe totdat jy by hierdie argiewe van die denke kom en dan versigtig elke era van daaruit te probeer verstaan.

Foucault se argeologiese arbeid is dus ‘n soeke na die noodsaaklike, noodwendige, onbewuste en anonieme vorme van denke wat hy ‘epistemes’ noem. Hy wou nie ‘n geskiedenis van idees skryf of die vooruitgang van kennis bespreek nie, want hy was in historiese kontekste en die soort kennis wat in dié kontekste ontstaan het, geïnteresseerd. Anders gesê: hy het belang gestel in die sosiologiese konteks wat ‘n sekere soort kennis ‘veroorsaak’ en ‘n sekere tipe  kennis moontlik gemaak het. Of soos Foucault dit self geformuleer het: ‘…what I am attempting to bring to light is the epistemological field, the episteme in which knowledge came about’ (Foucault 2009:xxiii).

Twee duisend jaar se uitleg van die ote moet ook so benader word. Daar was nooit net een verklaring van ‘n teks nie want die verborge intellektuele ondergrond het die heeltyd verander en mense het God en die Ou Testament telkens anders verstaan. Die vroeë kerk se verstaan van die Skrif was baie anders as sêmaar dié van die negentiende eeu en die rede daarvoor was dat elkeen se ondergrondse poel van denke verskillend was. Soos ons hieronder sal sien, het daar ‘n verskeidenheid vorme van uitleg bestaan en ons moet probeer om elkeen se andersheid binne sy eie tyd te verstaan. So ‘n werkswyse help ons ook om onsself te verstaan.

‘n Laaste woord

Die geskiedenis van die Ou Testament se uitleg bind ons aan die voortyd se gelowiges. Geloof maak ons aan voorgeslagte vas en daarom moet ons ook deel word van hulle worsteling om die Skrif uit te lê en te verstaan. In al hulle pogings om te verstaan, kan ons onsself vind want die uitleg van gister en eergister het ons ook radikaal beïnvloed. Ons manier van Skrifuitleg het ‘n lang pad gekom en kennis daarvan help ons om onsself te verstaan. Ons lees nie meer soos in die vroeë kerk nie omdat tye verander en ons verander het, maar deernis en begrip vir hulle Skrifverstaan vorm ons eie denke en eksegese.

En vir ‘n lewenskragtige teologie is die luister na die outentieke stemme in die geskiedenis onontbeerlik. Een manier om dié stemme te hoor, is deur die geskiedenis van die eksegese. Elke stukkie eksegese is ‘n stem, ‘n lewende stem uit ‘n ou verlede.

 

Share this / Deel hierdie: