Ons weet nie presies wanneer die Africa ecclesiae of die kerk in Noord-Afrika gestig is nie. Daar is wel ’n dokument uit 180 wat van Afrika-martelare vertel en dan is daar ook ’n berig oor ’n Afrika-sinode van ongeveer 220 (Dassmann 2000:264). Van die begin af was die Afrika-kerk egter ’n kruising tussen hierdie kontinent en die weste. Dit was nooit net Afrika of weste nie, maar altyd ’n kruising, ’n mengsel van die twee. Dit was aan die een kant deel van die groot Romeinse Ryk en tog ook weer niks anders as ’n eenkant en soms vergete Afrika-provinsie nie. Van die begin af het Afrika-teologie op die kruising van die partikuliere (Afrika/ later Suid-Afrika) en die universele (die westerse teologie) gehuiwer (Coyle 2001:13-26). Van die begin was dit ’n spanning wat nooit opgelos is of ooit moet word nie.

Tipies van die Afrika-teologie was die toe-eiening, die verinnerliking van die beste teologiese tradisies. Van die begin af is die beste intellektuele tradisies van die weste en ook Afrika oorgeneem en vir die teologie asook praktiese gemeentewerk gebruik (Le Roux 2008a:309-311; 2008b:140-142).

’n Mens sien dit ook in die werk werk van Klemens en Origines. Hulle was deel van die wonderlik Aleksandrynse kategeteskool. Nooit kan ons die waarde van dié skool oorbeklemtoon nie (Von Harnack 1964:637-656). Oor die ontstaan daarvan heers onsekerheid, maar ten tye van Pantaenus (sterfdatum: 200), Klemens (sterfdatum: 215) en Origenes (186-254) het dit ‘n besondere hoogtepunt beleef. Vaste leerplanne is gevolg, die studentekorps het uit persone van verskillende kulture en godsdienste bestaan, geen klasgeld is gevra nie, maar ryk beskermhere het groot bedrae geld geskenk. Die hooftaak van hierdie skool was Bybelstudie. En dié manier waarop hulle dit gedoen het, was om die magtige Hellenistiese of Griekse kultuur- en intellektuele wêreld toe te eien en te gebruik. Dít het hulle gehelp om hulle teologiese stem te vind en bedieningsprobleme te hanteer (Drobner  1994:107-111).

So het Klemens met die arm-ryk-probleem geworstel en Origenes met die spanning tussen Jode en ander volke oor eersgenoemde se diefstal tydens die uittog. In albei gevalle is die intellektuele tradisie van die dag en die uitnemendste eksegetiese metode (allegorie) verinnerlik en gebruik.

 

Die kerk bestaan net uit dommes en armes 

Vir Klemens was die lewe in Aleksandrië nie altyd so maklik nie. In hierdie kultuurstad was daar nie eintlik ryk Christene nie. Waarskynlik het hulle uitgesluit gevoel en was hulle dalk ook vir die kerk ’n verleentheid. Een rede hiervoor was dat die kerk uit die onderste lae van die bevolking gegroei het en daarom was daar maar altyd so ’n gevoel teen die rykes. So byvoorbeeld het die gemeente van Rome aan die begin van die derde eeu vir Kallistus, afkomstig uit ‘n slawefamilie, bo Hippolitus, ‘n geleerde en ‘n welgestelde man, tot biskop verkies. Dié keuse weerspieël tog iets van die vroeë kerk se positiewe houding teenoor die arme asook die agterdog waarmee die ryke bejeën is (Markschies 2006:91-94

En die heidene het dit ook agtergekom. So het Kelsus in 178 nC ’n uiters afbrekende werk oor die Christene geskryf. Hulle was arm want die kerk het uit net slawe, handewerkers, kinders en vroue bestaan. Dit kon ook nie anders nie, want Jesus, die stigter van die kerk, was ‘n skrynwerker en het tot die laer sosiale ekonomiese stratum behoort. Volgens Kelsus was Christene ook mense met ’n beperkte intelligensie wat hulle eie leerstellings nie eers begryp of dit sinvol kon bespreek het nie. Dit was vir hom onaanvaarbaar dat Christene ‘domheid’ as so ‘n belangrike kenmerk beskou het. Ten slotte was die Christene ongekultiveerd. Hulle het teen die Griekse kultuur gewaarsku en mense afgeraai om aardse kennis en wetenskap na te streef. Gevolglik het die Christendom al die wonderlike, verrykende en opbouende van die Griekse kultuur gemis en is daardeur ontsaglik verarm (Drobner 1994:118-119).

 

Die ryke as dillema

Aleksandrië was ‘n groot kultuurstad. Dit was die sentrum van die Hellenistiese kultuur en filosofie. Niemand wat daar gewoon het, kon die kragtige aanslag van die Griekse kultuur en denkwyse ontkom nie. Behalwe Grieke het die gemeenskap ook uit ‘n sterk Joodse groep, wat twee van die vyf stadswyke bewoon het, en ‘n groot aantal Egiptenare bestaan. Elke groep het baie klem op geleerdheid gelê. Binne die een kulturele dampkring het elkeen gestalte aan sy eie denke gegee. Verskeie denkrigtings het ook mettertyd ontstaan wat op sy beurt tot ten minste drie ‘universiteite’ of skole aanleiding gegee het. Nooit kan die intellektule krag en stimulering wat van hieruit gegaan het, oorbeklemtoon word nie (Van den Brink 1965:64-69).

Klemens is deur hierdie intellektuele klimaat van die stad oorweldig en het die welvaart van die stad geniet. In hierdie konteks van geleerdheid en welvaart was hy gelukkig. Vanweë sy herkoms en opvoeding kon dit ook nie anders nie. Maar dit sou hom ook voor geweldige teologiese probleme plaas. Tot nog toe was die kerk sterk teen rykdom gekant en is die destydse wetenskap verwerp.

Twee dinge het gaandeweg vir Klemens duidelik geword. Die een was dat die ryke vir die kerk gewen moes word. Die kerk sou nie kon voortgaan om onbepaald die ryke uit die kerk en per implikasie uit die koninkryk te sluit nie. Sodanige optrede sou die ryke vir ewig van die kerk vervreem. Klemens het ook sterk oor die Hellenistiese kultuur en sy denktradisies gevoel. Om dit sonder meer te verwerp, sou die kerk verarm.

Die vraag was natuurlik hoe hy te werk moes gaan om sy ideaal te realiseer. Prakties sou dit daarop neerkom dat hy die Bybel anders sou moes lees. 

 

Die allegoriese verstaan van werklikheid en Skrif

‘n Belangrike ‘instrument’ was tot Klemens se beskikking, te wete die allegoriese metode. Hiermee kon hy sy doel baie makliker bereik het. Dit is merkwaardig dat Klemens die ganse siening van die vroeë kerk in verband met die arme kon verander en ‘n eensydige beweging ter wille van armes ten dele kon stuit deur middel van hierdie een eksegetiese metode (Dohmen 2006:46-49)..

Vir die ryke kon hy so ‘n plek binne die kerk beding, en kultuur en geleerdheid in ‘n totaal ander lig stel. En dit alles kon met behulp van allegorie geskied. Natuurlik het die ‘moeilike’ tekste wat die arme insluit en die ryke aanstoot gee steeds bestaan. Die allegorie het Klemens net in staat gestel om dit te omseil. Hy was nie die vader van hierdie metode nie, maar is sterk deur Filo, ‘n vroeëre inwoner van die stad Aleksandrië, beïnvloed. Filo het opgemerk hoe die Griekse filosowe die negatiewe in die Griekse literatuur so interpreteer dat ‘n sinvolle boodskap nogtans ontsluit kon word. Hy wou toe hierdie benadering vir die studie van die Pentateug aanwend. Die boodskap van die Pentateug moes dus nie in die uiterlike teks gevind word nie, maar daar moes dieper gesoek word. Hierby het Klemens aangesluit en sy latere student en opvolger, Origenes, het dit op ‘n sistematiese en grootse wyse uitgebrei en op die ganse Bybel toegepas (Graf Reventlow 1990:44-49).

 

Soek ’n teks se eintlike betekenis in die ‘onsigbare’, die geestelike

Die allegoriese verklaringswyse was meer as net ‘n metode. Dit was bowenal ‘n wêreldbeskouing. Anders gestel: onderliggend aan hierdie metode was die manier waarop die werklikheid verstaan en verklaar is. Plato se denke het hierin nogal ‘n belangrike rol gespeel. Sy soeke na dit wat waarlik goed is, het hom gebring by sy siening van ‘n ander en onsigbare werklikheid waar idees suiwer, volmaak en ewig voortleef.

In hierdie wêreld neem ons net die swakke, veranderlike en verganklike afskynsels of vorme van ’n ander en ’n meer volmaakte werklikheid waar. Hierdie gedagtes van Plato het ‘n groot invloed op die verstaan van die werklikheid uitgeoefen. Al hoe meer is gesê die sigbare wêreld is nie die eintlike nie, maar wys na ‘n volmaakte wêreld heen. Aan die eenkant is daar die uiterlike wêreld: uiteraard is dit ‘n onontbeerlike deel van die werklikheid maar per slot van rekening nie so belangrik nie; dit verhul slegs iets dieper. Aan die anderkant is daar die onsigbare werklikheid: dit is blywend, ewigdurend en vorm die die eintlike sin van die ganse werklikheid; slegs die ingewyde kan hierdie dieper geestelike betekenis verstaan. Volgens hierdie Platoniese interpretasie van die werklikheid word daar altyd met twee wêrelde gewerk waarvan die een belangriker as die ander is. Verder word die uiterlike altyd negatief en die onsigbare as die eintlike werklikheid beskou (vgl Mullins 2003: 213-217).

 

Daar staan nie wat daar staan nie

Hierdie tweedelige beskrywing van die werklikheid het sy neerslag in die allegoriese verstaan van die Skrif gevind. Die sigbare woorde en sinne in die teks asook die letterlike betekenis daarvan was nie so belangrik nie. Volgens die allegoriese benadering het die Bybelskrywer die eintlike betekenis van ‘n teks onder die sigbare oppervlakte van die woorde geplaas en was dit die eksegeet se taak om dit te ontsluit. Alle allegoriese verklaring streef dus voortdurend na die ware boodskap wat in die uiterlike woorde en sinne verhuld lê, te ontsluit en te verwoord. Hierdie klem op die ‘onsigbare’ en geestelike betekenis het onvermydelik tot die ontkenning van die letterlike betekenis, die literêre konteks asook die historiese omstandighede van ‘n teks of perikoop gelei (Klemens, 3-5).

Die allegoriese Skrifverstaan het nuwe wêrelde vir Klemens ontsluit. Die negatiewe woorde oor die rykes wat hy voor hom in die teks gelees het, het eintlik nie gesê wat dit sê nie: dit was maar net die omhulsel wat iets diepers verhul. Alles het op die onsigbare of innerlike neergekom: dít het die eintlike boodskap van die Skrif verwoord. Met gemak kon Klemens toe die byna rewolusionêre stelling maak dat God mense nie bloot op grond van hulle skatte uit die koninkryk uitsluit nie. Rykdom op sigself kon tog geen skade berokken nie (Klemens, 11-19).

In die lig van bogenoemde was dit nie verkeerd om ryk te wees nie. Uiterlikhede was tog nie so belangrik nie en daarom kon iemand sy weelde geniet het. Dít was egter nog nie die eintlike rykdom nie. Ware rykdom was eerder geestelik van aard. Dit was ten diepste iets wat innerlik ervaar word. Van die ryke word gevra wat ook van ander verwag word: om arm van gees te word. Dit beteken dat die gebooie van God nagekom moes word, die oë op Hom gerig moes wees, nederig geleef sou word, ’n mens vry van dwingende begeertes na geld sou wees, selfbeheersd sou optree en in die regte verhouding tot die naaste sou wandel. Eers wanneer dít gebeur, is ’n mens waarlik ryk (Klemens, 7-8, 10).

 

’n Slotwoord

Konteks en Skrifverstaan loop dus hand aan hand. Klemens is deur die intellektuele en kultuurkonteks van Aleksandrië oorweldig. Diskussies met geleerdes en welvarendes het nuwe horisonne vir hom geopen. Vir hom was dit belangrik dat die kerk se deure vir diesulkes oop sou wees. Woorde soos ‘rykdom’, ‘geleerdheid’, ‘kultuur’ en ‘wetenskap’ moes nie sonder meer verwerp word nie. Sy probleem was egter dat die kerk se bestaande sieninge in verband met rykdom en armoede, kultuur en wetenskap so iets onmoontlik gemaak het. Indien Klemens ‘n ander standpunt sou stel, moes hy die Skrif anders lees.

‘n Letterlike of historiese interpretasie het hom voor groot probleme gestel. In sy Aleksandrynse konteks was die allegoriese verstaan van die werklikheid en die Skrif tot groot hulp gewees. Hiermee het hy tot die konklusie gekom dat uiterlike rykdom en armoede nie van wesentlike waarde is nie. Alles draai om innerlike armoede en rykdom. Wie arm van gees is, is waarlik arm, maar ook waarlik ryk. Met behulp van die allegoriese verstaan van die werklikheid en die Skrif kon die ryke en die geleerde in die kerk tuisvoel, en het die deure vir die Hellenistiese kultuur oopgestaan.

Met verloop van die geskiedenis van die kerk is verskillend oor Klemens geoordeel. Sommige het gemeen hy het gekapituleer. Te veel is toegegee en die evangelie te drasties aangepas om die ryke en die geleerde te akkomodeer. Gelukkig was dit nie die enigste oordeel nie. Talle teoloë wat met verloop van eeue met die probleem van geloof en rede, geloof en wetenskap, kerk en kultuur geworstel het, het met dankbaarheid na Klemens opgesien vir die pad wat hy geopen het.  

 

Adam, Alfred. 1965. Lehrbuch der Dogmengeschichte. Gütersloh: Gerd Mohn.

Altaner, Berthold. 1951. Patrologie. Freiburg: Herder.

Bakhuizen van den Brink, J H 1965. Handboek der Kerkgeschiedenis. Den Haag: Bert Bakker.

Coyle, J K 2001. Particularities of Christianity in Roman Africa. Studia Patristica XXXIX, 13-26.

Dassmann, E 2000. Kirchengeschichte, vol I. Stuttgart: Kohlhammer

Dohman, C 2006. Die Bibel und ihre Auslegung. Munchen: C H Beck.

Drobner, Hubartus R. 1994. Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.

Klemens, The rich man’s salvation. Loeb Classical Library. London: William Heineman.

Kraus, H–J 1969. Geschichte der historisch–kritischen Erforschung des Alten Testaments. Neukirchen: Neukirchener Verlag.

Le Roux, J.H 1976. Die paasbeskouing van Gaudentius van Brixia. Pretoria.

Le Roux, J.H., 2008a, Africa and the future of our scholarly past, in H. de Wit & G.O. West (eds.), African and European readers of the Bible in dialogue, pp. 307–323, Brill, Leiden.

Le Roux, J.H., 2008b, Confrontation with the African ‘other’: a response, in H. de Wit & G.O. West (eds.), African and European readers of the Bible in dialogue, pp. 140–142, Brill, Leiden.

Le Roux, Jurie. 1997. Our historical heritage. OTE 10/3: 401–23.

Markschies, C M 2006. Das Antiken Christentum. Munchen: C H Beck.

Mullin, P J 2003. Text and Gnosis, Studia Patristica, XL1, 213-217.

Paget, James N.B.C. 1996. The Christian Exegesis of the Old Testament in the Alexandrian Tradition. Pages 478–542 in Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Procopé, John F. 1996. Greek Philosophy, Hermeneutics and Alexandrian Understanding of the Old Testament. Pages 451–77 in Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Reventlow, H.G. 1994. Epochen der Bibelauslegung. München: C.H. Beck.

Siegert, Folker. 1996. Early Jewish Interpretation in a Hellenistic Style. Pages 130–198 in Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Share this / Deel hierdie: