Eksegese en hemelse geluk

Origenes was die grootste. So het baie in die vroeë kerk oor hom gedink. Volgens een het God aan Origenes die wondergawe van uitleg gegee. Hy het die Ou Testament (en ook die Nuwe Testament) so goed verstaan en die boodskap daarvan so goed vir gewone mense verwoord dat dit was asof God die Ou Testament heel eerste aan hom gedikteer het (Paget 1996:500). Volgens ‘n moderne kerkhistorikus was daar nog nooit weer so ‘n volronde Bybelgeleerde soos Origenes nie (Von Harnack 1964:637-697;  1969:189-193). Sy bydrae tot die destydse verstaan van die Ou Testament was oorweldigend en groots. Dit was asof baie sieninge, teorieë en probeerslae om die Ou Testament te verstaan in hom saamgekom en ryp geword het. En sy gawe om min te slaap, ontsaglik hard te werk, elke detailtjie in die teks raak te sien, te beskryf en vir die prediking vrugbaar te maak, dwing nou nog net die grootste respek af (vgl Schütz 1984:9-16).

 

Sy lewensweg

Origenes is in 185 in Aleksandrië gebore en dít het hom vir sy lewenstaak gevorm. Aleksandrië was ‘n stad van kultuur, geleerdheid, Philo en die allegoriese verstaan van die Ou Testament (Vgl vorige artikel oor Klemens). Sy pa Leonidas het tydens die vervolging van 201 omgekom en Origenes wou ook die marteldood sterf, maar sy ma het sy klere weggesteek. Om sy ma en die ander kinders te onderhou, het hy ‘n soort grammatika- en letterkundeskool begin, maar toe die vervolgings in 206 hervat, moes hyself noodgedwonge vlug. Na die vervolging het hy teruggekeer en hom aan teologiese opleiding gewy.

Origenes was omstrede omdat hy homself laat ontman het en dit het sy weg na kerklike ampte bemoeilik. Gedurende ‘n besoek aan Caesarea in Palestine is hy as presbiter bevestig en dit het groot probleme veroorsaak. Die biskop van Aleksandrië het beswaar gemaak en baie het saamgestem. Origenes se lewe is toe op verskillende maniere vergal, maar die tyd vanaf 235 tot 245 wat hy in Caesarea deurgebring het, was baie produktief. Hy het soos gewoonlik aanmekaar gewerk, gelees en geskryf (Drobner 1994:111-114).

Tydens Decius se vervolging (249-251) is Origenes gevang, gemartel en het uiteindelik op nege en sestigjarige ouderdom gesterf (vgl Eusebius, Historia Ecclesiastica VI).

 

Eers moes daar ‘n teks wees

Wat Origenes so ewig nuut en vars maak, is sy bemoeienis met die teks, die fisiese teks. Dit is eintlik roerend. Van die begin af moes hy hard vir die Ou Testament stry. Marcion se kritiek het nog geleef en baie het aan die Ou Testament se ‘geestelike waarde’ vir die kerk en die prediking getwyfel. In sy poging om die Ou Testament vir die kerk te bewaar, het hy eers op die kanon en die teks van die Ou Testament gefokus. Hy was een van die eerstes wat die kanonvraag gestel het. Eintlik kon dit nie anders nie want om die Ou Testament vir kerk en teologie ‘te red’, moes die aantal boeke eers vasgestel word; moes eers bepaal word watter boeke in is en watter nie. ‘n Knellende vraag in dié tyd was of Judit, Tobit, Barug, ensovoorts deel van die Ou Testament-kanon moes wees of nie. Klaarblyklik het Origenes kwaai met die probleem geworstel en soms wou dit lyk of hy aan die apokriewe kanoniese status verleen het (Paget 1996:503).

In ‘n brief het Julius Africanus Origenes juis oor sy gebruik van die Susannaverhaal (in Daniël) uitgevra. Hy kon dit nie verstaan dat Origenes dit kon aanhaal asof dit kanonies was nie. Met vele argumente probeer hy dan die nie-kanoniese aard van Susanna aantoon en vind dit vreemd dat Origenes nie ook die andersheid van dié verhaal kon insien nie (Ep ad Origenes, 1-2). In sy lang antwoord (wat hy aan Ambrosius gedikteer het – Ep ad Afric 15) lyk dit tog of Origenes die apokriewe as kanonies hanteer het. In latere werke het hy weer die apokriewe uitgesluit. Hoe dit ook al sy, voordat Origenes die Ou Testament kon uitlê, moes hy eers oor die aantal boeke besluit. En dit was geen maklike taak nie.

Daar was egter ook nog iets anders. Voordat Origenes eksegese kon doen, moes hy eers die regte teks skep. In sy tyd was daar nog geen finaal-gedrukte Hebreeuse of Griekse tekste nie en moes elkeen eers sy eie teks maak. Dít was ‘n verpligte voorafstap voordat ‘n mens enigsins eksegese van die Ou Testament kon doen. Eksegese het die regte teks veronderstel en dié moes telkens gemaak word. 

Dít was ook geen maklike taak nie. Die Septuagint of LXX was die Griekse vertaling van die Ou Testament, maar daar het ook ander Griekse vertalings of uitgawes bestaan. So was daar vertalings van Aquila, Theodotion en Symmachus en Origenes wou met elkeen erns maak. Om dinge te vergemaklik het Origenes toe sy eie ‘Bybel’ gemaak wat ons vandag die ‘Hexapla’ noem en wat nooit vir publikasie bedoel nie want dit het uiteindelik uit meer as ses duisend bladsye bestaan. Hy het dit bloot vir eiegebruik tot stand gebring omdat hy met een oogopslag die Hebreeuse teks, die LXX en die ander vertalings wou sien. Dit was uiteindelik ‘n werk wat uiters noukeurig uitgevoer is, waarin Origenes aan die kleinste teksdetail sy volle aandag gewy het en wat baie jare se enorme werkkrag en energie geverg het.

Die Hexapla het uit ses kolomme bestaan. Eers was daar die Hebreeuse teks en in die volgende kolom het Origenes die Hebreeuse teks in Griekse letters oorgeskryf; dan het Aquila, Symmachus, Theodotion en die LXX gevolg. Elke kolom is so gerangskik dat Origenes elke teks gemaklik met een opslag kon sien. Uit die rangskikking van kolomme blyk dat Origenes duidelik vir die Hebreeus gekies het. Dit was die bron waarheen elkeen moes terugkeer en waarteen die Septuagint (LXX) telkens krities moes getoets word (vgl Paget 1996:504-506)

 

Iets meer was egter nodig

Die Ou Testament se inspirasie en boodskap, en Christus se vleeswording was nou verwant. Slegs na die koms van Christus is die inspirasie van Moses en die profete besef. Voor sy koms was dit dus eintlik onmoontlik om oor die Ou Testament se inspirasie en waarde te besin. Christus se vleeswording was ‘n ‘hermeneutiese gebeurtenis’ (Paget 509); dít het die Ou Testament se eintlike betekenis ontsluit; die baie onverstaanbare gedeeltes in die Ou Testament verhelder en die besondere waarde van die Ou Testament vir die kerk beklemtoon. Sonder die vleeswording was dít nie moontlik nie en sou die Ou Testament nooit werklik verstaan kon word nie. Kortom: alle eksegese van die Ou Testament moes Hom in die teks soek want dit was die voorwaarde vir verstaan.

En as ons dit nie reg kry nie, was dit eintlik ons eie skuld. Dit dui op ons onvermoë om die verborge glorie van elke teks raak te sien; om Hom in die Ou Testament se duister hoekies en vreemde styl te ontdek; om verby die sigbare die onsigbare raak te sien (Origenes De Princ 4.1.7; Paget 1996:510). Ons moes daarom dieper as die fisiese teks kyk om die verborge waarhede te ontbloot; om die eintlike betekenis van ‘n woord, ‘n uitdrukking of ‘n vers raak te sien en te verwoord; om Christus uiteindelik in die teks te verstaan en te ervaar (Reventlow 1999:170-1730.

 

‘n Teks se liggaam en gees

Soos ‘n mens het elke teks ook ‘n liggaam, siel en gees. Soos in die Christendom die liggaam belangrik is, maar nie die allerbelangrikste is nie, so is dit ook met die letterlike teks voor ons gesteld. Elke teks se liggaam is die sigbare woorde en uitdrukkinge. Uiteraard is dit belangrik want dit verskaf baie ‘empiriese’ inligting wat vir die dieper verstaan van die teks belangrik is. En vir gewone gelowiges kan hierdie oppervlakte-kennis baie interessant en geestelik verrykend wees, maar dit is hoegenaamd nie genoeg nie. Iets dieper moet egter gesoek word. Daar moet as ‘t ware onder die teks ingekruip word (vgl Origenes De Princ 4.2.7).

En die metode wat hom hiermee gehelp het, was die allegorie (vgl die vorige artikel oor Klemens en die allegoriese metode). Hierdie metode het Origenes in staat gestel om alle historiese inligting vir sy gemeente relevant te maak. Trouens, dit het hom gehelp om die afstand tussen ‘toe’ en ‘nou’ te oorbrug; om sy gemeente en die era van die Ou Testament bymekaar te bring. Só het hy na aanleiding van Jeremia 2:21-23 gevra waarom die wynstok-Israel suur geword het en waarom Israel in ballingskap geneem is. Hy het dan geantwoord dat God die siel, die wynstok goed geplant het, maar dat dit verword het; die gemeenskaplike tussen Israel en Origenes se gemeente was die siel en daarom moes die gemeente altyd na morele verbetering streef sodat die siel nie sal verword nie en die wynstok van die siel nie sal verdor nie. 

Israel se fisiese geskiedenis (dit wat ons in die liggaam van die teks letterlik lees) is ook so vergeestelik dat dit op die lewensgang van die gewone gelowige gedui het; Israel se fisiese gang deur die wêreld het na die geestelike stilhouplekke van die gelowige verwys. Israel se lang pad deur die wêreld, vanaf die skepping tot die beloofde land, het op die lewenstog van die Christen tot by die Vader (of die beloofde land) heengewys. Die eerste stilhouplek was die sondeval. Daar het die mens sy hemelse beeld verloor, maar wat hy egter net deur boetedoening kon terugkry. ‘n Volgende stilhouplek was die uittog uit Egipte. Origenes se gemeente moes besef dat God die Vader elkeen ook uit sy/haar Egipte van sonde deur Christus kan lei. 

‘n Uiters belangrike stilhouplek was die woestyntog. By dié ‘stasie’ moes ‘n mens lank stilstaan. Wie Israel se woestyntog geestelik herbeleef het, moes uit die wêreld van sonde uitgaan en as ‘t ware in sy/haar geestelike woestyn leef. En wie getrou aan God leef, sal uiteindelik God se beloofde land ingaan en deel aan die hemelse blydskap en onsterflikheid kry (Reventlow 1999:174-184). 

 

Daar staan nie wat daar in die teks staan nie

‘n Mens kan jou dit skaars indink, maar die drie verwysings in Eksodus na Israel wat die Egiptenare beroof het, het mettertyd groot probleme geskep. So erg was dit dat volgens legende ‘n hofgeding tussen verteenwoordigers van Egipte en van Jode in Aleksander die Grote se tyd plaasgevind het. Die Egiptenaars het die beskrywings van die diefstal in Eksodus letterlik verstaan en aangedring om vergoeding. Israel het hulle beroof en daarom moes hulle al die gesteelde goud en silwer terugbetaal. ‘n Geleerde Jood het egter ‘n interessante antwoord gehad. ‘n Antwoord wat nou nog vir vele (ook in Suid-Afrika) aantreklik is. Volgens hom het Israel gevat wat hulle eeu lank ontneem is. Vir langer as vier honderd jaar het hulle elke dag onbetaalde slawediens verrig en daarom het Israel net gevat wat hulle toekom. Dit was egter baie minder as wat hulle toegekom het en daarom moes hulle eintlik baie meer geneem het. Dít was ‘n skitterende argument wat die Jode vrygespreek en die Egiptenaars die eintlike skuldiges gemaak het. Hulle het Israel onderdruk en daarom het hulle net gekry wat hulle gesoek het (Beatrice 1996:160-161). Hulle het die onreg begin deur geen salarisse en baie swak behandeling en Israel het net op die regte oomblik sonder mag of geweld gevat wat hulle toekom. En dít was ‘n daad van geregtigheid (Beatrice 1996:162).

Die Aleksandryne se manier van eksgese doen, het die verstaan van die roof-tekste op hulle kop gekeer. Veral Origenes se fyn allegoriese bril het hom iets anders in dié tekste laat raaksien. Die Egipte-Israel-verklaring is heeltemal opgehef en die klem is na die waarde van heiden-filosofie verskuif. Dit is eintlik baie skerpsinnig gedoen: die buit wat Israel in Egipte het, word nou die goeie wat die heidene die kerk kan gee. Van die Griekse filosofie moes geneem wat nuttig vir die kerk sou wees; die geometrie en astronomie wat goed vir die uitleg van die Skrif kon wees; die reëls van die grammatika en die retoriek wat goed vir die kerk se onderrig kan wees.

Volgens Origenes het die Egiptenare al die voorwerpe verkeerd gebruik en daarom het Israel dit gevat om die tabernakel te bou. Netso moet die kerk wêreldse geleerdheid oorneem en dit vir die eksegese, teologie en ware aanbidding vrugbaar maak. Net soos die Egiptenare al die goud en silwer verkeerd gebruik het, so het die wêreld se geleerdes die filosofie, geometrie, astronomie, ensovoorts misverstaan en daarom móét dit kerk dit oorneem en op die regte manier aanwend.

Soos die allegorie Klemens gehelp om die rykes en geleerdes in Aleksandrië vir die kerk te wen, het dit Origenes gehelp om ‘n lastige sosiale probleem te hanteer.

 

‘n Slotwoord

Deur middel van die allegoriese metode het Origenes die historiese afstand tussen toe en nou, Israel se tyd en die Origenes-gemeente klein gemaak. Eintlik het dit nie meer bestaan nie en kon hy maklik tussen die tye beweeg en maklik die Ou Testament uitlê. Eksegese (asook teologie en prediking) van die Ou Testament het dus uiteindelik ‘n lang lewenstog van die siel geword; ‘n lewenstog wat tot binne-in die beloofde land, die hemel, die hart van God gelei het. En op ‘n manier is dit tog roerend. ‘n Bekende teoloog, Jean Danielou, het op ‘n keer gesê die eksegese van die vroeë kerk is ‘n soort van ‘n teenmiddel teen die aanslae van die historiese kritiek en die kritiese Bybelwetenkap vanaf die negentiende eeu (Reventlow 1986: 32-33). Eintlik is dit nie so nie. Die waarde van die kritiese Bybelwetenkap moet net telkens ontdek word, maar die patristiese eksegese bly egter mooi en ook inspirerend.

 

Adam, Alfred. 1965. Lehrbuch der Dogmengeschichte. Gütersloh: Gerd Mohn.

Altaner, Berthold. 1951. Patrologie. Freiburg: Herder.

Beatrice, F 2006. The treasures of the Egyptians. A chapter in the history of patristic exegesis and late antique culture. Studia Patristica XXXIX, 159-183.

Drobner, Hubartus R. 1994. Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.

Origenes. De Principiis. GCS Or 5. (1913, P Koetschau).

Paget, James N.B.C. 1996. The Christian Exegesis of the Old Testament in the Alexandrian Tradition. Pages 478–542 in Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Procopé, John F. 1996. Greek Philosophy, Hermeneutics and Alexandrian Understanding of the Old Testament. Pages 451–77 in Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Reventlow, H.G. 1986. Problems of Biblical theology.  London: SCM Press.

Reventlow, H.G. 1994. Epochen der Bibelauslegung. München: C.H. Beck.

Schütz, W 1984. Der Christliche Gottesdienst bei Origenes. Stuttgart: Calwer Verlag.

Siegert, Folker. 1996. Early Jewish Interpretation in a Hellenistic Style. Pages 130–198 in Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Von Harnack, A 1964. Lehrbuch der Dogmengeschichte, 1. Darmstadt: WBG.

Von Harnack, A 1969. Origen, in Pelikan, J (red), Twentieth century theology in the making.  London: Fontana.

Share this / Deel hierdie: