Op die skutblad van Marianne Weber se biografie oor haar beroemde man, Max Weber , verskyn ‘n gedig van Rainer Maria Rilke wat só begin: ‘Das war der Mann, der immer wiederkehret …’ (Weber 1986). So was en is Augustinus steeds. Die man wat telkens weer en weer terugkeer, weer en weer aan die deur klop. En nie almal wat die deur oopmaak, hou noodwendig van hom nie, maar dié man het die teologie tot vandag toe ingrypend beïnvloed. Vandag nog praat mense oor hom, lees hulle hom intensief en verinnerlik sy denke. Of ons dus die kloppende Augustinus innooi of wegwys hy is daar en gaan nog lank daar wees.

       Sy lewensloop het mettertyd net so beroemd soos sy ander werk geword. Die rede daarvoor is omdat hy sy lewensverhaal in die beroemde ‘Confessiones’ of ‘Belydenisse’ of ‘Confessions’ vertel het en dit nou nog boei. Dit is steeds ‘n treffer en word daarom oor en oor herdruk. Sy denke, teologie en werk is nou met sy lewe verweef en daarom sal die ‘Confessiones’ altyd belangrik wees.

 

’n Kort lewenskets

Augustinus is op 13 November 354 in Thagaste in Noord-Afrika gebore. Dit was toe nog ’n Romeinse provinsie en Augustinus sou later onafskeidelik deel van die Romeinse taal (Latyn) en kultuur word. Soos alle kinders is hy skool toe en op sestien is hy Kartago toe om Retoriek te bestudeer. Op agtien het hy Cicero se ‘Hortensius’ gelees en dit het sy lewe verander. Hy sou van daardie oomblik af onverpoosd studeer en na die ware wysheid soek. Met oorgawe het hy hom aan die antieke filosofie en ander wetenskappe gewy (Drobner 1994:326-328).

Sy vrome ma, Monnica, het hom op ’n manier nog aan die kerk gebind en hy was ten minste ’n ruk lank ’n ‘katechumeen’ of ’n katkisant. Dit het nie veel vir hom beteken nie en hy het dit weer gelos. In Kartago was die meisies mooi en Augustinus het hom aan losbandigheid oorgegee.  Op ‘n stadium het hy saam met ’n vrou geleef en later het hulle ’n seun, Adeodatus, gehad.

Vanweë sy ma kon hy die Christelike geloof na sommer los nie. Vir nege jaar (373-382) was hy toe lid van die Manicheërs. ’n Sekte wat die katolieke kerk (of hoofstsroom kerk) op verskillende maniere bedreig het. Augustinus was ook nie so dol gelukkig by hulle nie en hy kon ook nooit verder as ’n ‘auditor’ of ’n hoorder vorder nie (Van der Meer 1957:16-26).

In 383 het hy dosent in retoriek in Milaan geword en hy moes Afrika verlaat. Dit was ’n beslissende gebeurtenis in sy lewe. Sy ma sou ook later kom en hom nouer aan die beroemde Ambrosius (339-397) bind. Ambrosius was die predikant van Milaan en sy preke sou Augustinus ook meer en meer boei (vgl Confessiones V 13, 23). In die jaar 386 het sy beroemde bekering toe plaasgevind. ‘Beroemd’ omdat hy daarvan in sy ewe-beroemde ‘Confessiones’ (‘Confessions’/ ‘Belydenisse’) vertel het en dit oor die eeue selfs ‘n bietjie geromantiseer is. Dit het gebeur terwyl hy in die tuin van sy huis gesit en gehoor het hoe kinders die woorde ‘tolle lege’ (‘neem en lees’) gesing het. Hy slaan toe die Bybel by Romeine 13:13-14 oop en lees onder andere die volgende: ‘Ons moet welvoeglik lewe …. soos volgelinge van die Here Jesus Christus’ (vgl Confessiones VIII 2, 3-4).

 

Alles draai om die Woord

Op 24 April 387 is Augustinus in Milaan deur Ambrosius gedoop. Monnica was oorstelp want dit was die verhoring van jare se gebede. Kort daarna het die groot terugtog na Afrika begin en aan die einde van 387 was die Augustinusfamilie in die hawestad Ostia. Monnica het daar gesterf en Augustinus sou sy ‘Ostiavisioen’ ervaar. Op grond van dié ‘visioen’ is dikwels gewonder of Augustinus nie basies ’n mistikus was nie. Iemand wat God en die Bybel deur mistieke ervaringe wou ken. Eintlik nie. Kennis van God kry ’n mens volgens Augustinus nie deur mistieke belewenisse nie, maar deur jouself, jou eie harde werk, studie en insig. Kortom: ‘Augustinus verwerpt stavast subjectieve ervaring as als middel voor epistemologische vooruitgang voor Godskennis’ (Geybels 2005:146).

Dit het ook van die Bybel gegeld. Geen mistieke ervaringe nie, maar slegs deur harde studie word die Bybel verstaan. Ons verstaan daarom ook die brief wat hy in 391 aan sy biskop, Valerius, gestuur het. Hy was sopas en nogal teen sy sin as presbiter van die gemeente in Hippo Regius georden. Talle gemeenteverpligtinge het op hom gewag. Kort voor lank sou hy in allerlei aktiwiteite soos prediking, huisbesoek, katkisasie en administrasie vasgevang word. Augustinus het dit geweet en daarom die brief aan Valerius. Wat hy vra, is baie interessant. Hy vra ‘n vakansie en dit kon maar korterig wees. In elk geval nie langer as Pase nie. En wat wou hy doen? Hy wou net die Bybel bestudeer. Al sy tyd en kragte wou hy daaraan wy. In sy brief vermeld Augustinus ook die gesindheid waarin hy dit wou doen: met gebed, harde studie en ootmoed (Epistula 21,4).

Augustinus het agt duisend bladsye nagelaat en ‘n kenmerk van sy nalatenskap was sy bemoeienis met die Skrif. Dit was eintlik maar tipies van al die vaders van die vroeë kerk. Soos hulle het Augustinus ook oor die manier van eksegese nagedink. In sy groot werk oor die Christelike geloofsleer, ‘De Doctrina Christiana’, verklaar Augustinus dat in die teks na die outeur se bedoeling gesoek moet word. Wie dit nie doen nie, was op die verkeerde eksegetiese weg (De docrina christiana, I,36).

          Maar hoe gemaak met die moeilike dele? Almal weet daar is tekste wat nie so maklik verklaar kan word nie. Volgens Augustinus het God doelbewus hierdie moeilike gedeeltes in die Skrif (lees: Ou Testament) geplaas. Daarmee wou Hy die oormoedige leser temper. Onverstaanbare gedeeltes moes die hoogmoedige beteuel, die beterweterige nederig maak en die selfversekerde op sy onkunde wys. Niemand moet die intellektueel-bevredigende gevoel kry dat hy alles van die Bybel af weet nie. Niemand moet in oormoed meen hy verstaan alles en daarom die mag het om ander by sy Skrifbeskouing te laat inpas nie. Niemand ken en weet volledig nie. Daarvoor sorg die baie moeilike dele in die Bybel. Dus: om iets van die Ou Testament te verstaan, vereis baie harde werk en ‘n gesindheid van groot nederigheid (De docrina christiana, I,6,7).

 

Eksegese is moeiliker as wat ons dink

Woorde is snaaks goed. Dit is nooit vas nie (De doctr.chr. II,3,6-7). Die oomblik wanneer ons iets gesê het, is dit weg en volgens Augustinus kan ons probeer om dit vas te vat deur dit neer te skryf. Skryf is ‘n manier om woorde vas te hou, dit te verewig (Drobner 1994: 355-357). Woorde wat ons sien (sêmaar in die Ou Testament) is dus as ‘t ware tweedehands; dit is ‘n teken van iets wat weg is; ‘n teken van wat was

Augustinus verduidelik dit baie mooi aan die hand van twee uitdrukkinge: die ‘verbum cordis’ of die ‘innerlike woord’ en die ‘verbum exterior’ of ‘die woord wat ons fisies uitspreek’. Eers iets oor die ‘innerlike woord’. Dit is die hartstaal, die woorde wat hierbinne in ons lê en wat eintlik onuitspreeklik is; dit  is ons egte, ware gevoelens wat binne-in ons harte woon en wat ‘n taal praat wat net ons kan verstaan. Die oomblik wanneer ons egter hierdie innerlike woorde probeer uitspreek, verloor ons alles (De trin. XV,10,19).  Geen menslike woord of ‘verbum exterior’ kan alles wat ons binnekant koester, saamvat en mooi netjies en duidelik uitsê nie. Geen hoorbare of geskrewe woord kan ooit vasvat wat ons in ons harte voel nie (De trin. XV,11,20).

Dit is so ‘n belangrike punt dat ons dit weer herhaal. Die innerlike woorde wat ons binnekant koester en die woorde wat dit in klank en skrif probeer verwoord, is nooit dieselfde nie. Niemand is ooit ten volle teenwoordig in die woorde wat hy uitspreek nie; daar bly altyd as ‘t ware nog iets in die hart agter. En die uiterlike woorde wat ons hoor of lees sê, nie alles nie; fisiese woorde vat nooit volledig die innerlike woorde saam nie, put dit nooit uit nie: ‘Was ausgesagt ist, ist nicht alles’ (Gadamer 1973 504).

Daar is wel ‘n uitsondering, sê Augustinus, en dit is God. In sy Woord (Jesus) het Hy Homself as ‘t ware volledig uitgespreek of ‘ontledig’. God se woord het mens geword sodat ons Hom kan verstaan. Alhoewel die Woord nie die Vader is nie, het God deur die Woord gepraat. En toe die Vader gepraat het, was dit asof Hy Homself volledig in sy Woord uitgedruk het (De trin. XV,13,22). Kennis, insig wat in die Vader se hart geleef het, is in die Woord uit gesê. Dit kon ook nie anders nie want ‘in all things like and equal to the Father, God of God, Light of Light, Wisdom of Wisdom, Essence of Essence, is altogether that which the Father is’ (De trin. XV,14,23 ).

Met mense woorde is dit anders gesteld. Daar bly altyd iets onuitgespreek agter en daarom is daar altyd iets onaf, onklaar in ons woorde. Mense taal belig altyd net een faset van die innerlike woord en die woorde wat ons sien en hoor is nooit finaal nie (vgl De trin. XV,11,20).

En die Bybel is voorbeeld hiervan. Die woorde in die teks is mense werk en niemand verstaan alles nie. Woorde en begrippe se volle betekenis is nie noodwendig onmiddellik beskikbaar vir die leser nie. Elkeen moet daarom hard studeer en met die teks worstel. (vgl De trin. XV,10,19; cf Gadamer 1976: 276-291; Grondin 1995: 102-104; 1999:119-122; 2000:210-215).

 

Harde Skrifstudie en die liefde hoort saam

Elke teks wil egter iets sê. En hierdie ‘iets’ is die liefde. Liefde tot God en die naaste. Wie dit nie in die teks vind nie, verstaan dit nie. Wie nie hierdie tweekantige liefde (vir God en mens) in ‘n Skrifgedeelte kan ontdek nie, moet weer van vooraf begin. Hieroor was Augustinus nogal baie beslis: Skrifondersoek sonder liefde is nutteloos. Volgens ’n Engelse vertaling: ‘So anyone who thinks that he has understood the divine scriptures or any part of them, but cannot by his understanding build up this double love of God and neighbour, has not yet succeeded in understanding them’ (De doctr.chr. I,36,40; Green 1995:49). Al is ’n mens se eksegese hoe verkeerd, maar dit is nogtans in die liefde vir God en die medemens gedrenk, is dit beter as ’n kille, liefdelose verklaring van die Skrif (De doctr.chr. I,36,41). Elke teks het daarom slegs een tema: liefde vir God en die naaste. En waneer die eksegeet nie hierdie liefde belig en dit self kan uitleef nie, was alles nutteloos. ’n Blote wetenskaplike uitleg sonder liefde was vir Augustinus onmoontlik.

Ons kan dit ook aan die hand van sy onderskeiding tussen ‘gebruik’ en ‘geniet’ verduidelik (Van Oort 1995:119-122). Om iets te geniet, is om al ons aandag daarop te fokus en daaraan vas te hou. Om iets te gebruik, is om dit vir die een of ander doel aan te wend. Augustinus pas dit dan op God en die Bybel toe: die enigste ‘objek’ wat ons in die lewe moet geniet en waaraan ons moet vashou, is God; om hierdie genot te kan ervaar, is die Bybel noodsaaklik; dit is die instrument aan die hand waarvan ons God kan geniet; deur die Bybel ‘te gebruik’, word Hy ervaar en word die liefde (vir God en mens) ontdek (De docrina christiana, I,35,36,39,40). En van alles wat ‘n mens in hierdie lewe kan geniet, is die Vader, die Seun en die Heilige Gees die hoogste: ‘These three have the same eternal nature, the same unchangeableness, the same majesty, the same power. In the Father there is unity, in the Son equality, and the Holy Spirit a harmony of unity and equality. And the three are all one because of the Father, all equal because of the Son, and all in harmony because of the Holy Spirit’ (De doctr.chr. I,4,4; Green 1995:17).

‘n Blote wetenskaplike studie van die Bybel sonder liefde was vir Augustinus onmoontlik. ‘n Bybelwetenskap sonder dat die liefde jou lewe verander, was vrugteloos (Bonner 1989:548).

 

Slotwoord

Soos dit nog in die volgende artikel oor Augustinus sal blyk, kan ons nie meer soos hy die Skrif uitlê nie. En tog kan ons hom ook nie los nie. Die klem op die ‘onvolledigheid’ van die Bybelwoorde voor ons is so modern dat dit ons eintlik verstom. Sy klem op werklike harde Skrifstudie en diepgaande nadenke oor dit wat ons lees, moet ons altyd navolg. Sy vreugde wat hy in eksegetiese arbeid gevind het, is inspirerend. En die ontdekking van die liefde (of enige iets mooi) in en deur die kritiese Bybelwetenkap moet altyd ‘n ideaal bly.

 

Bronnelys

  • · Augustinus, A 1968. De trinitate (Corpus Christianorum, Corpus Latina, 50-50A; 2 vols; Turnhout: Typographi Brepols editores pontificii).
  • · Augustinus, A 1995. De doctrina Christiana, in R.P.H. Green, Augustine – De doctrina Christiana (Oxford: Clarendon Press).
  • · Augustinus, A 1995. Epistola. Afgelaai: http://www.documentacatholicaomnia.eu/20_40_0354-0430-_Augustinus,_Sanctus.html
  • · Augustsinus, A 1955. Confessiones, in Augustine: Confessions. Vertaal deur Albert C Outler. Afgelaai: http://www.ccel.org/ccel/augustine/confessions.titlepage.html
  • · Bakhuizen van den Brink, J N 1965. Handboek der kerkgeschiedenis (Den Haag: Bert Bakker).
  • · Bonner, G 1989. ‘Augustine as Biblical scholar’, in Ackroyd, P R & Evans, C F, The Cambridge history of the Bible. Cambridge: Cambridge University Press, 548.
  • · Drobner, H R 1994. Lehrbuch der Patrologie (Freiburg: Herder).
  • · Gadamer, H-G 1957 Was ist Wahrheit, in H-G. Gadamer, Gesammelte Werke 2 (Tübingen: J.C.B. Mohr): 44-56.
  • · Gadamer, H-G 1966 The universality of the hermeneutical problem, in H-G. Gadamer, Philosophical hermeneutics (Berkeley: University of California Press).
  • · Gadamer, H-G 1970. Sprache und Hermeneutik, in H-G. Gadamer, Gesammelte Werke 2 (Tübingen: J.C.B. Mohr): 184-198.
  • · Gadamer, H-G 1976 Rhetorik und Hermeneutik, in H-G. Gadamer, Gesammelte Werke 2 (Tübingen: J.C.B. Mohr): 276-291.
  • · Gadamer, H-G 1985 Grenzen der Sprache, in H-G. Gadamer, Gesammelte Werke 8 (Tübingen: J.C.B. Mohr): 350-361.      
  • · Gadamer, H-G 1990 Wahrheit und Methode (Tübingen: JCB Mohr).
  • · Green, R P H 1995. Augustine – De doctrina Christiana (Oxford: Clarendon Press).
  • · Grondin, J 1995 Sources of Hermeneutics (Albany: State University of New York).
  • · Grondin, J 1999 Hans-Georg Gadamer (Tübingen: JCB. Mohr).
  • · Grondin, J 2000 Einführung zu Gadamer (Tübingen: JCB Mohr).
  • · Grondin, J 2002 Gadamer’s basic understanding of understanding, in R.J. Dostal (ed), The Cambridge companion to Gadamer (Cambridge: University Press): 36-51.
  • · Haddan, A W 1887 St. Augustin: On the holy Trinity, in P. Schaff (ed), A select libraryof the Nicene and Post-nicene fathers 3 (Edinburgh: T&T Clark).
  • · Reventlow, H G 1994 Epochen der Bibelauslegung (München: C.H. Beck).
  • · Van der Meer, F 1957. Augustinus de zielzorger. Utrecht: Het Spectrum.
  • · Van Oort, J 1995. Jerusalem en Babylon. Zoetermeer: Uitgeverij Boekencentrum, 119-122.

· Weber, Marianne 1986. Max Weber. Ein Lebensbild. Tübingen: J C B Mohr (Paul Siebeck) (derde druk). (Digitale Bibliothek Band 58: Max Weber. Berlin: Direct Publishing).

Share this / Deel hierdie: