Augustinus het nie net sommer net geskryf nie, maar hy wou iets met al sy skrywery bereik. Daar moes iets in die leser gebeur. In sy ‘De doctrina christiana’ sê hy dat hy graag mense in beweging wou bring (Doctr chr 4.28.61/20). Aan die einde van sy lewe het hy in die ‘Retractiones’ verklaar dat sy ‘Confessiones’ bedoel was om mense se intellek en gevoel op God te rig (Retr 2.6). In sy psalmkommentaar moes dieselfde gebeur. Hy wou die leser help om met mense in ‘n psalm te identifiseer, om hulle met alle lof- en klaagliedere te vereenselwig. En dit kon maklik gebeur want die psalms het ‘n anonieme karakter en ons kan ons probleemloos met andere se woorde en gevoelens identifiseer. Wanneer dít gebeur, het ons ‘n psalm verinnerlik en kan ons dit elke dag bid (Rutten 2005:117-119).

 

Christus is die hermeneutiese sleutel

Augustinus se psalmverklaring, ‘Enarrationes in Psalmos’, is nie net een van sy langste werke nie, maar ook een van sy belangrikste (vgl Von Balthasar 1936:9-13). Op verskeie maniere is sy ‘Enarrationes in Psalmos’ ‘n brose werk. Hy het byvoorbeeld nie soos ons oor die Hebreeuse teks beskik nie, maar moes dikwels eers ‘n teks ‘maak’. Uit verskillende Latynse weergawes moes hy soms eers ‘n basisteks skep om te kon uitlê (Wright 1996:701-730).

Met groot geduld en ywer het hy egter sy psalmteks woord vir woord nagevors en vindingryk probeer verwoord. Dikwels het hy te ver afgedwaal en het ‘n enkele woord hom aan iets soortgelyk op ‘n ander plek in die Ou Testament laat dink en dan het hy die leser eers daarheen meegesleur. Nou nog moet ‘n mens jou lees van die ‘Enarrationes’ ken want jy kan maklik die draad kwytraak (vgl En. in Ps 1,3). Uiteraard het hy ook dikwels herhaal, maar die ‘Enarrationes’ ‘fits together into a wonderful organic unity’ (Hebgin & Corrigan 1960:6). 

          Volgens Augustinus het Christus die weg na die hart van die psalms oopgemaak. Deur Hom kon die eintlike betekenis verstaan en verwoord word. Anders gestel: deur die psalms moes die gelowige leer om God en sy naaste lief te hê (Schindler 1979:645-698; Mühlenberg 1998:959-967). Dit is mooi, maar ook nie so maklik nie. Die psalms is moeilik en nie vir vinnige en slordige lesers bedoel nie. Haastige lesers stamp dikwels hulle koppe want die teks is onverstanbaar en daar is soveel duister dinge wat in die woorde en uitdrukkinge wegkruip (De doctr.chr. II,6,7). Daar is egter ook iets anders wat die verstaan van die psalms en die hele Ou Testament moeilik maak. En dit is Augustinus en elke mens se onvermoë om God helder te kan verstaan en die Skrif finaal te verwoord.

         Ten spyte daarvan dat die ‘Enarrationes in Psalmos’ soms moeilik lees en deurmekaar vookom, bind Augustinus se Christologiese interpretasie hierdie werk. Volgens die vroeë kerk het die Ou Testament nie net na Christus verwys nie, maar ook sy diepste denke en gebede verwoord. Augustinus het hierby aangesluit, maar ook uitgebrei. In sy uitleg het Augustinus probeer om die innerlike van Christus bloot te lê (vgl Ps 22). Met groot helderheid het hy ‘the soul of the One Man as He prays, suffers and rejoices’ probeer uitlê. In die psalmbundel is al die menlike ervaringe saamgebind en ‘actually become the Book of Hours of the Mystical Christ, whom we hear praying to God’ (Hebgin & Corrigan 1960:10; vgl Bonner 1989:541-563; Balthasar 1936:9). En Augustinus se psalmuitleg wou die vroeë kerk hiermee help (Van der Meer 1957:122-183).

 

‘n Roerende begin

Die psalmbundel begin só: Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose nie (Ps 1:1 – Ou Vertaling). Roerend is Augustinus se verklaring. Die ‘man’ in vers 1 dui nie op ‘n gewone mens nie, maar op Jesus Christus. En ‘n kenmerk van Hom was dat Hy nie ‘op die weg van die sondaars’ gestaan nie. Hy is wel soos ‘n mens in ‘n wêreld van sondaars gebore, maar Hy het nie daarin vertoef of daarin bly staan nie. En die wêreld se verleidinge het geen greep op Hom gehad nie. En Hy het ook nie in die kring van die spotters nie gesit (vs 1). Augustinus se Latynse vertaling het gelui: ‘nie op die troon van onheil gesit nie’. Vir hom was dit ‘n beskrywing van Christus wat nie na wêreldse mag of ‘n aardse koninkryk gesmag het nie. Almal wil mag hê, jaag eer na en streef na glorie, maar Christus, die man waarvan in vers 1 gepraat word, was anders. Hy is nie deur magslus, trots en hubris voortgedryf nie (Enarrationes 1,1).

Die gewone aardse mens (‘homo terrenus’) was nie soos die Man van die eerste vers nie. Hy het weg van God ‘gewandel’, stewig in die wêreld van sondige verleidinge ‘gestaan’ en as ‘t ware op sy troon van trots, hoogmoed, oormoed gaan ‘sit’. Dié mens was magteloos en aan sy nietige, sinlose bestaan uitgelewer totdat hy bevry is deur Hom ‘wat nie in die raad van die goddeloses gewandel het nie, nie op die weg van die sondaars gestaan het nie en nie op die troon van sy eie ek gesit het nie’.

In vers 2 word die vreugde van wet- of woordstudie beklemtoon. Wie dag en nag, in blye dae en donker oomblike (volgens Augustinus) met die woorde van God of die wet (soos Augustinus dit geïnterpreteer het) besig is, ervaar groot blydskap. In vers 3 word die gelowige met ‘n boom vergelyk: ‘En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit’. Elkeen van hierdie kursiewe gedeeltes het Augustinus toe op sy eiesoortige Christologiese manier geïnterpreteer. Die ‘boom’ was vir hom Christus, ‘ons Heer’ wat by lopende water geplant was. En lopende water kan ook met ‘vallende water’ beskryf word wat weer op sonde en gevalle sondaars kan dui (Enarrationes 1,2). 

Die feit dat Christus by die waterstroom geplant is, beteken dat Hy as ‘t ware deur sy sisteem van boomwortels die ‘vallende’ sondaar nader aan Hom kon trek. En die vrug hiervan was die talle kerke wat oraloor gestig is. Alles sou egter ‘op sy tyd’, op die regte tyd gebeur. Dit is, na Christus se opstanding en hemelvaart want dan eers kon die Heilige Gees kom en die gelowiges vrug dra. Die boom (dit is Christus) se ‘blare’, dit is sy woorde, sou nooit hule krag verloor nie. Soos Jesaja gesê het, ‘ … die blom verwelk, maar die woord van onse God hou stand tot in ewigheid’ (40:8) (Enarrationes 1,3-4).

Só het Augustinus stap vir stap met sy gemeente deur die psalms geloop. Nie maklike leesstof nie, maar sy Christologiese interpretasie bied voortdurend interessante wendinge en moontlikhede. Baie, baie woorde is geskryf en tog is Augustinus se psalmkommentaar ook op ‘n ander manier besonder broos: dit bevestig sy onvermoë om die psalms se finale betekenis vas te stel.

Om dit te verstaan, loop ons eers ‘n kort ompad deur Nicea en Konstantinopel.

 

‘n Kort omweg

Augustinus was ‘n nederige eksegeet. Hy het ‘n diepe besef van kennis se eindigheid gehad. Dikwels sou hy sê dat ander hom maar kan reg help as sy verstaan van die Ou Testament se woorde of verse verkeerd is (De Trin 2,9,16). Die grond vir hierdie nederigheid het in sy onvermoë om die Triniteit te ken en te verwoord, gelê. Omdat God ongrypbaar en onbegrypbaar is, is geen eksegese finaal of absoluut nie.

Miskien kan ons dit aan die hand van die Ariaanse stryd verduidelik (Adam 1965:220-230). Arius was ‘n priester in Aleksandrië wat tussen 315 en 318 skerp teen sy biskop, Aleksander, gereageer het omdat dié beweer het dat die Seun nie voortgebring is, maar ewig soos die Vader was. Volgens Arius was Christus se goddelikheid ‘n afgeleide en ‘n mindere goddelikheid. Arius het monoteïsties gedink en het vir die één God en die één Vader opgekom; Hy alleen was volkome God en bo alles verhewe; Hy was bo die geskape wêreld asook die Seun, die Heilige Gees en ander gode. Aan sy biskop het Arius toe geskryf dat ons slegs één God ken wat ongebore, ewig en sonder begin of einde is (Van Bavel 2005:165-185).   

Hierdie één God was die Skepper en Vader van alles en dus ook van die Seun. Die Seun was dus niks anders as ‘n skepping van die Vader nie. Hy het dit nou wel in die voortyd gedoen, maar die Vader het die Seun in tyd voorafgegaan en daarom kon die Seun geensins deel aan die Vader se natuur gekry het nie (vgl Le Roux 1976:81-124).

Uiteraard was dit vir die kerk verwerplik. Die Vader en die Seun was wesenseen. Beide het in dieselfe goddelike natuur gedeel. En die rede vir die dringendheid was die werklikheid van die heil. As Christus nie werklik God was nie, was die heil van die mens ook nie ‘n werklikheid nie: ‘Amid all the varieties of the response to the Gnostic systems, Christians were sure that the Redeemer did not belong to some lower order of divine reality, but was God himself’ (Pelican 1971:173).

By Nicea in 325 is toe duidelik gesê Christus God is en van dieselfde substansie as die Vader is. Nicea was egter geensins die einde van die stryd nie. Dit het inteendeel die spanning en stryd verhewig. So erg was dit dat ‘n sinode in Mei 381 in Konstantinopel byeengeroep is wat Nicea bevestig het en ook ‘n byvoeging oor die Gees se godheid gemaak het: ‘Deze toevoeging is van Gregorius van Nyssa en voltooit de Triniteitsleer’ (Bakuizen van den Brink 1965:162).

Dit was hierdie ‘Nicaeno-Constantinopolitanum’ wat in Augustinus se agterkop gelê en hom ook in die uitleg van die psalms gestuur het.

 

Eksegese is baie beskeie daad

Soos gesê, het Augustinus by Nicea en Konstantinopel aangesluit en dit ook op sy eie skerp manier bevestig en verwoord. So byvoorbeeld illustreer hy die wesenseenheid tussen Vader en Seun met behulp van ‘n vuur en sy gloed: soos wat ‘n vuur nie sonder ‘n gloed bestaan nie so bestaan die Vader ook nie sonder die Seun nie ( Van Bavel  2005:173).

Die mooie van Augustinus se spreke oor God en die Triniteit is egter sy erkenning dat hy nie kan nie. Dat hy nie presies weet hoe nie en daarom dit ook nie kan regkry nie. Êrens sê hy dat ons die God moet lief hê, dié God wat ons nie kan ken nie. Nadenke oor die Triniteit is ook ‘n luukse wat nie altyd bekostig kan word nie want dit is te moeilik en daar is ander belangriker praktiese probleme wat ons aandag verg ( Van Bavel  2005:173).

En tog het Augustinus oor en oor probeer. Dit is selfs roerend hoe hy in ‘De doctrina Christiana’, waarin hy die geloofsleer uiteensit, vertel dat hy die Drie-eenheid of Triniteit wil verduidelik, maar na ‘n paar paragrawe erken hy kan nie. Telkens het hy probeer, maar die finale woorde het hom telkens ontglip (. Aan die einde van sy werk oor die Triniteit, ‘De Trinitate’, bely hy dat hy oor God die Vader, Seun en Heilige Gees eintlik niks gesê het nie want hy kon nie (De Trin 15,27,50). As ‘n mens nie eers sy eie intellek of rede kan ken nie, hoe kan hy God uiteindelik ken (De Trin 5,1,2).

Augustinus se onvermoë om oor God te praat, het ook sy eksegese beïnvloed. Hy kon die psalms se diepte nooit volledig uitdelf nie, nooit die boodskap volledig ontgin nie, nooit die teologie in klare terme en vir ewig verwoord nie want hy kon God nooit helder in sy visier kry nie. Dit is eers in die worsteling met die teks dat ‘n mens sy onvermoë om uit te lê, ontdek. Anders gestel: as ‘n mens God nie eers volledig kan beskryf nie, hoe kan jy sy woorde begryp.

 

‘n Slotwoord

Geen mens kan vandag nog die psalms soos Augustinus verklaar nie (vgl net Hossfeld & Zenger 1993:5-43). Dit maak ook nie eintlik saak nie want om histories te werk, beteken nie om iemand af te maak nie, maar om mense en gebeure te verstaan. Om elkeen, ook Augustinus, in sy individualiteit, sy partikulariteit in ‘n baie spesifieke tydsgleuf te probeer begryp. En as ons dit só doen, is daar baie in Augustinus wat ons nou nog roer en boei en wat ons verder kan deurdink.

 

Bibliografie

  • · Ackroyd, P R & Evans, C F 1989. The Cambridge history of the Bible. Cambridge: Cambridge University Press,541-563.
  • · Adam, A 1965. Lehrbuch der Dogmengeschichte. Gütersloh: Gerd Mohn.
  • · Altaner, B 1951. Patrologie. Freiburg: Verlag Herder.
  • · Augustinus, A 1956. Enarrationes in psalmos. Corpus Christianorum, Corpus Latina, 38. Turnhout: Typographi Brepols editores pontificii.
  • · Augustinus, A 1968. De trinitate. Corpus Christianorum, Corpus Latina, 50-50A. Turnhout: Typographi Brepols editores pontificii.
  • · Augustinus, A 1995. De doctrina Christiana, in Green, 1-293.
  • · Bakhuizen van den Brink, J N 1965. Handboek der kerkgeschiedenis. Den Haag: Bert Bakker.
  • · Bonner, G 1989. Augustine as Biblical scholar’, in Ackroyd & Evans (eds), 548.
  • · Coxe, A C 1974. Introduction, in Schaff (ed), i-iii.
  • · Derrida, J 1995. Points … Stanford: University Press.
  • · Drobner, H R 1994. Lehrbuch der Patrologie.  Freiburg: Herder.
  • · Gadamer, H-G 1957. Was ist Wahrheit, in H-G. Gadamer, Gesammelte Werke 2. Tübingen: J.C.B. Mohr, 44-56.
  • · Gadamer, H-G 1966a. The universality of the hermeneutical problem, in Gadamer 1966b, 3-17.
  • · Green, R P H 1995. Augustine – De doctrina Christiana. Oxford: Clarendon Press.
  • · Haddan, A W 1887. St. Augustin: On the holy Trinity, in P. Schaff (ed).
  • · Hebgin, S & Corrigan, F 1960. St Augustine on the Psalms. New York: Newman Press.
  • · Le Roux, J H 1976. Die paasbeskouing van Gaudentius van Brixia. Pretoria.
  • · Lemaire, A & Saebo, M (eds), Congress Volume. Supplements to Vetus Testamentum, 80; Leiden: Brill.
  • · Mühlenberg, E 1998. Augustin. RGG 1, 959-967.
  • · Pelican, J 1971. The Christian tradition. Chicago: University Press.
  • · Reventlow, H G 1994.  Epochen der Bibelauslegung. München: C.H. Beck.
  • · Rutten, T 2005. Augustinus en de spiritualiteit van de Psalmen, in P van Geest & J van Oort, Augustiniana Neerlandica. Peters: Leuven,113-130.
  • · Schaff, P (ed) 1887. A select library of the Nicene and Post-nicene fathers, 3 Edinburgh: T&T Clark.
  • · Schaff, P (ed) 1974. A select library of the Nicene and Post-nicene fathers,8. Edinburgh: T&T Clark.
  • · Schindler, A 1979. Augustin. TRE 1, 645-698.
  • · Van  Bavel, T 2005. ‘Wij moeten leren het onuitspreekbare op onuitsprekelijke wijze te zien’, in P van Geest & J van Oort, Augustiniana Neerlandica. Peters: Leuven, 165-185.
  • · Van der Meer, F 1957. Augustinus de zielzorger. Utrecht: Het Spectrum.
  • · Van Oort, J 1995. Jeruzalem en Babylon.  Zoetermeer: Uitgeverij Boekcentrum.
  • · Von Balthasar, H U 1936. Aurelius Augustinus – Über die Psalmen. Leipzig: Jakob Hegner.
  • · Wright, D F 1996. Augustine: His exegesis and hermeneutics, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. The history of interpretation. Göttingen: V&R.
  • · Zenger, E 2000. Psalmenforschung nach Hermann Gunkel und Sigmund Mowinckel, in  Lemaire & Saebo (eds), 399-435.
Share this / Deel hierdie: