Van die begin af was die Ou Testament wesenseen met die vroeë kerk se denke oor die eucharistie (of nagmaal) en die viering van pase. In die verhaal van die twee Emmausgangers (Luk 24:13-35) het Jesus die brood tydens die aandmaaltyd gebreek en hulle het Hom herken. In die Lukasevangelie speel dié gebeure ’n kernrol. Lukas gemeente was arm, het swaargekry en het baie onder die Romeine gely. Veral sleg was Jesus se vertraagde wederkoms en die hoop wat al by baie getaan het. En dan sê Lukas dat hulle die Ou Testament moes lees totdat Hy kom; en elke keer wanneer hulle dit doen, sou hulle harte brandende word en sou hulle intense vreugde ervaar. Nou verbonde daaraan was die viering van die eucharistie (of nagmaal); om in die harde eerste eeuse wêreld te kon oorleef, moes die Lukasgemeente uit die Ou Testament leef en die teenwoordigheid van Christus in die eucharistie ervaar.

Die eucharistie (nagmaal) is elke week gevier en ook uit die Ou Testament gepreek. Dit was veral tydens die kategesetydperk (veertig dae voor pase) en ook tydens paasfees dat die Ou Testament prominent was. Hieronder let ons op twee voorbeelde: die verteologisering van die lente en die verklaring van die paaaslam. Eers iets oor die tyd van pase.

 

Pase was ‘n intense tyd

Paasfees in die vroeë kerk was ’n tyd van intense herinnering en herbelewing. Die gebeure by die kruis en die opstanding was nie bloot veraf gebeure nie, maar het deur die herinnering lewend geword en is intens herbeleef. Elke Sondag het die ‘ingewydes’, die wat klaar gekatkiseer het, of soos ons dit noem: ‘voorgestel en aangeneem’ is, aan die einde van die diens die eucharistie, die nagmaal gevier en ’n kenmerk hiervan was die intense ervaring van Christus se teenwoordigheid. Paasfees was eintlik dan net ‘n intensifering, ‘n verdieping van die weeklikse prediking en viering van die eucharistie (Lies 2005:83-107).

‘n Voorbeeld van so ‘n verdiepte ervaring kry ons in een van die heel vroegste reisbeskrywings na Palestina en Jerusalem. Dit is deur ‘n Spaanse non in die vierde eeu met die naam van Aetheria geskryf. Sy vertel van die historiese plekke (volgens vierde-eeuse siening) wat hulle besoek het. Bybelgedeeltes wat na dié plekke verwys, is hardop voorgelees, dan is daar gebid en gesing en weer verder getrek. Skuins voor pase in die jaar 381 het hulle in Jerusalem aangekom en vir Aetheria was alles oorweldigend. Sy het ’n jaar of twee daar gebly, het deel van die gemeente geword en ook oor haar ervaringe beskryf (Le Roux 1976:26-44). 
       

Aangrypend is haar vertelling oor die plekke rondom Jerusalem wat hulle die week voor pase besoek het (Aetheria, Peregrinatio, 46). Al die plekke wat Jesus ook tydens daardie dae voor pase besoek het, het hulle aangedoen. By elke plek het hulle eers die betrokke gedeeltes in die evangelies gelees, stil geword en aan Jesus se lyding teruggedink; al sy pyn is herbeleef en hulle het dit hulle eie gemaak het. So aangrypend was dit dat hulle kort-kort in trane was. So intens was hierdie herinnering en herbelewenis dat hulle voortdurend deur intense emosies oorweldig is. Tydens daardie laaste week het Jesus deur die herinnering naby aan hulle gekom en het hulle Hom eksistensieel ervaar (Aetheria, Peregrinatio, 27). 



En die Ou Testament en Israel se uittogervaringe was soos ‘n fyn membraan waardeur die vroeë kerk in dié tyd gekyk en haarself ontdek het. Alles is so geïnterpreteer en verinnerlik dat dit die paaservaringe verdiep het.

 

Die verteologisering van die lente

Pase is op ‘n spesifieke datum in die vroeë kerk gevier. Of eintlike ook nie. Daar is eers baie oor die datum gepraat en gestry want hulle wou dit nie op dieselfde dag en uur as die Jode vier nie (vgl Eusebius, HE V,24,17; 25,11-17). Om hulle toe van die Jode te onderskei, het die vroeë gelowiges pase nie op 14 Nisan gevier nie, maar op die eerste Sondag na die lente-volmaan. So is dit ook by Nicea (325) vasgelê en is die patriarg van Aleksandrië gevra om sorgvuldig die presiese dag en datum te bereken en dit in ‘n Paasbrief aan almal te laat weet. In 550 het die monnik, Dionysius Exiguus, die Aleksandryse berekeninge so verfyn dat dit oral aanvaar is (Dassmann 1999:133-134). Toe eers het almal geweet wanneer dit moes plaasvind.

Al die harde woorde oor die paasdatum was bloot die uiterlike terwyl die innerlike, die teologie van die paastyd (die Europese lente) tog iets besonder was (Collingwood 1994:213-215). Hierin het Genesis 1 en die skeppingsteologie ‘n belangrike rol gespeel. Volgens die vroeë vaders (of die ‘patres’) kon paasfees net in die lente plaasvind. Dit was wel die maand waarin die Ou-Testamentiese pasga gevier is en die uittog uit Egipte plaasgevind het. Daar was egter ook nog twee ander lente-temas: skepping en herskepping (Eusebius Caesariensis, Solemnitate, col 696). In Genesis 1 word iets van die lentetyd gesuggereer en daarom is skepping en lente aanmekaar gekoppel. By Filo, die groot Joodse teoloog, word dieselfde gedagte gevind. Telkens met die aanbreek van die lente kry ons volgens hom ‘n idee van hoe dinge net na eerste skepping (van Genesis 1) gelyk het. Elke jaar wanneer lente aanbreek, is Filo aan die skepping herinner. God het die lente waarin alles mooi is, geskep om die mens elke jaar te herinner aan die feit dat dit Hy is wat die wêreld geskep het (Cyrillus Hierosolymitanus. Procatechesis I. MPG 33, col 332-333).

Lente is ook die tyd van die herskepping. In dieselfde seisoen waarin die mens as gevolg van sy ongehoorsaamheid uit die paradys verjaag is, word hy as gevolg van die kruisgebeure weer herskep en na God teruggelei. Kortom: die heil in Christus word in dieselfde seisoen (lente) geskenk as waarin die mens oorspronklik geskep is; in dieselfde jaargety waarin die mens in die begin geskep is, is hy ook in Christus herskep (Hippolytus, Sanctum IV,3. MPG 59, col 739; Gregorius Nyssensus. Sanctum, MPG 46, col 620).

Van die vier seisoene was lente dus die beste tyd vir die paasvieringe. Die ander seisoene het net nie by hierdie teologie ingepas nie. Volgens een skrywer was paasfees so ‘n gewigtige fees dat dit eintlik eers na die mistige newels van die herfs, die versrkikkinge van die winter, maar voor die warm somergloede moes gebeur (Gaudentius Sermo I). Die bekende Eusebius van Caesarea het weer gesê dat paasfees nie in die winter kon plaasvind nie want alles was darem net te somber en te donker. Die somer was weer te warm. As gevolg van die hitte het die akkerlande verlep gelyk, het dit laataand eers donker geword en was die ure net te lank. Herfstyd was ook nie reg nie want dit was die tyd wanneer die mooi gesig van die akkerlande verbruin en die vrugte verwelk het (Eusebius, Pashali, 2).

 

‘n ‘Dieper’ verstaan van die paaslam

Tydens pase is veel oor die paaslam en die uittog gepreek. Hoe dit gebeur het, is nogal interessant. As ons ons vir ‘n oomblik in so ‘n vroeë-kerkse predikant se studeerkamer kan indink, was daar waarskynlik nie soveel boeke en kommentare nie. En tog moes hy preek maak en soms ook in die week preek. Hy moes die woorde in die teks verklaar en ‘n boodskap vir die gemeente formuleer. Hoe het dit gebeur?

Die wêreld van toe was egter baie eenvoudiger, makliker. Hulle het toe nog niks van die Hebreeuse teks se probleme, tekskritiek en historiese verstaan begryp nie. Al wat hulle moes doen, was om te begin lees en hulle wêreldbeeld asook ‘n bypassende metode (allegorie) sou hulle help. Destyds is gemeen dat agter ons wêreld ‘n ander wêreld was. In hierdie huidige wêreld neem ons net die swakke en verganklike afskynsels van ’n ander en ’n meer volmaakte werklikheid waar. Hierdie sigbare wêreld was dus nie die eintlike nie, maar het na ‘n volmaakte wêreld heengewys. Aan die ander kant was daar die onsigbare werklikheid: dit was blywend, ewigdurend en slegs die ingewyde kon hierdie dieper geestelike betekenis verstaan (Graf Reventlow 1990:44-49).

En só het die vroeë kerk ook oor tekste nagedink. Die sigbare woorde en sinne in die teks asook die letterlike betekenis daarvan was nie die eintlike nie. Die allegoriese metode het hulle gehelp om die eintlike betekenis van ‘n teks wat as ‘t ware onder die sigbare oppervlakte van die woorde ‘weggesteek’ is, te ontsluit. Alle allegoriese verklaring het dus probeer om die ware boodskap, wat in die uiterlike woorde en sinne verhuld lê, te ontsluit en te verwoord. Hierdie klem op die ‘onsigbare’ en geestelike betekenis het onvermydelik daartoe gelei dat die letterlike betekenis, die literêre konteks asook die historiese omstandighede van ‘n teks of perikoop nie eintlik geag is nie ( Paget 1996:478–542; Procopé 1996:451–477).

Op baie spitsvondige maniere het die prediker en teoloog (wat destyds nog ‘n eenheid gevorm het) jong lidmate veertig dae voor pase in die geheimenisse van elke Sondag se eucharistieviering en die paasgebeure ingelei. Deur vergeesteliking is gewone gemeentelede in hulle paasgeloof versterk en het die eucharistie nuwe betekenis in hulle lewens gekry. ‘n  Voorbeeld is die verklaring van die paaslam in Eksodus 12 en die toepassing daarvan op die eucharistie (vgl Cyrillus Alexandrinus DA, MPG 68, col 1068, 1072, 1076). In vers 9 lees ons: ‘Julle moenie daarvan eet as dit rou is of in die water gekook is nie, maar oor ‘n vuur gebraai: die kop met die pootjies en die binnegoed’ (Ou Vertaling= OV). Volgens Gaudentius van Brixia het dit daarop gedui dat die eucharistie nie ‘rou’ gevier moes word nie, dit wil sê letterlik en sonder die allegoriese (of geestelike) interpretasie (Gaudentius, Sermo II, col 856, 858,859, 860). Dit moes ook nie gaar gekook word nie, dit wil sê op so ‘n wêreldse of vleeslike wyse verklaar word dat dit niks te sê het nie. Oor ‘n vuur moes dit gebraai word, dit wil sê deur die werking van die Heilige Gees moes die ware en vaste betekenis van die tekens (brood en wyn) begryp en toegeëien word. Aan die kop en pootjies en die binnegoed is ook ‘n geestelik betekenis geheg. Die kop het na God die Vader verwys en die voete, die uiterste punt van die liggaam, na Christus se wederkoms. Die binnegoed was weer ‘n verborge heenwysing na die misterie van die nagmaal asook die kruisiging en opstanding (Pseudo-Chrysostomus, II, 8).

Volgens Eksodus 12:10 moes niks van die vleis oorbly tot die môre toe nie. Indien dit wel gebeur, moes dit met vuur verbrand word. Hierdie vers het volgens sommige daarop gedui dat as iets van die misterie van die Eucharistie oorbly, dit wil sê as daar iets is wat ons nie nou begryp nie, dit in die môre van die wederkoms verstaan sal word. Volgens Eksodus 12:11 moes die lendene tydens die paasmaal omgord word en dit moes ook geestelik verklaar word: voor die eucharistie gevier kon word moes die begeerlikhede van die vlees eers gekruisig word. Eers wanneer dit gebeur, kon iemand deel aan die bloed en die liggaam van Christus kry (Hippolytus, HP, 163).

 

‘n Slotwoord

Die eerste eeue van die kerkgeskiedenis was dalk die beslissendste en mees dramatiese, maar dit was ook ‘n tyd van ongelooflike interne stryd en spanning. Oor God, Christus, die heil, die eucharistie, ensovoorts is veel geskryf en fel verskil, maar in die liturgie, die viering van pase, die herbelewenis van die Ou Testament leef die vroeë kerk se geloof. En dít moet ons aanmoedig om hierdie spore fyn te sny en ook iets van die vroeë kerk se paasvreugde te ervaar.

 

Bibliografie

  • · Adam, A 1965. Lehrbuch der Dogmengeschichte. Gütersloh: Gerd Mohn.
  • · Aetheria. Peregrinatio ad loca sancta. CSEL 39. 

  • · Altaner, B 1951. Patrologie. Freiburg: Verlag Herder.
  • · Bakhuizen van den Brink, J N 1965. Handboek der kerkgeschiedenis. Den Haag: Bert Bakker.
  • · Collingwood, R G 1994. The Idea of History. Oxford: University Press. 

  • · Cyrillus Alexandrinus, De Adoratione. MPG 68.
  • · Cyrillus Hierosolymitanus. Procatechesis I. MPG 33, col 332-333.
  • · Daniélou, J 1977. The origins of Latin Christianity. London: Darton, Longman & Todd.
  • · Dassmann, E 1999. Kirchengeschichte II/2. Stuttgart: Kohlhammer.
  • · Drobner, H R 1994. Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.
  • · Eusebius Caesariensis. De Solemnitate paschali 2. MPL 24, col 696.
  • · Eusebius Caesariensis. Historia Ecclesiastica, Eckart Schwartz (ed), GCS 9, 1/2.
  • · Frend, W H C 1984. The rise of Christianity. London: Darton, Longman & Todd.
  • · Gaudentius. Sermo I. MPL 20, col 845-848.
  • · Gregorius Nyssensus. In sanctum pascha. MPG 46, col 620.
  • · Hippolytus. In sanctum pascha IV,3. MPG 59, col 739.
  • · Le Roux, J H 1976. Die paasbeskouing van Gaudentius van Brixia. Pretoria: Unisa.
  • · Lies, L 2005. Mysterium fidei. Würzburg: Echter Verlag.
  • · Markschies, C 1995. Arbeitsbuch Kirchengeschichte. Tübingen: JCB Mohr (Paul Siebeck).
  • · Markschies, C 2006. Das Antike Christentum. München: C H Beck.
  • · Markschies, C 2006. Das antike Christentum. Tübingen: JCB Mohr (Paul Siebeck).
  • · Paget, James N.B.C. 1996. The Christian Exegesis of the Old Testament in the Alexandrian Tradition. Pages 478–542 in Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • · Pelikan, J 1971. The emergence of the catholic tradition. Chicago: University of Chicago Press.
  • · Procopé, John F. 1996. Greek Philosophy, Hermeneutics and Alexandrian Understanding of the Old Testament. Pages 451–77 in Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • · Reventlow, H G 1994. Epochen der Bibelauslegung.München: C.H. Beck.
  • · Seeberg, R 1965. Lehrbuch der Dogmengeschichte. Darmstadt: WBG.
  • · Von Harnack, A 1964. Lehrbuch der Dogmengeschicte. Darmstadt: WBG.
Share this / Deel hierdie: