Die Middeleeue was g’n donker nie. In die negentiende eeu is dit so genoem omdat min bronne oor dié era bestaan het en die Middeleeuse mens as intellektueel agterlik beskou is. Soms is dit ook so genoem omdat die Middeleeue vir sommige ‘n afbuiging, ‘n omvorming van die Nuwe Testament en die vroeë kerk se teologie was. Eintlik was die Middeleeue ‘n wonderlike tyd vol lig, kreatiwiteit en opwinding. Nuwe uitvindinge, die Renaissance, die skilderkuns, die geweldige nuwe denke, die ontdekking van die mens en wêreld het van die Middeleeue ‘n boeiende era gemaak (vgl Burckhardt 1960:178-216).

Die kerk was oral

In dié tyd is die Ou Testament nie minder gelees nie, maar moes eerder sy plek in die magtige en alomteenwoordige kerk vind. Karel die Grote (‘Charlemagne’) (768-814) het in sy tyd al die Christenstreke van Wes-Europa in die Heilige Romeinse Ryk verenig en in 800 dié keiser van die groot ryk geword. Soos vele voor hom het Karel die Grote gemeen hy moes die kerk se belange bevorder: dit teen vyande te beskerm, maar ook innerlik te vernuwe en te organiseer. In die proses het hy aan ‘n magtige kerk help bou: ‘The Christian world view offered a stable, unchanging womb of spiritual and emotional nourishment in which every human soul was significant in the greater scheme of things. An unquestioned sense of cosmic order prevailed … Viewing now in retrospect the Roman Catholic Church at the height of its glory in the high Middle Ages – with virtually all of Europe Catholic … the omnipresence of the Church and Christian religiosity in every sphere of human activity – all this can hardly fail to elicit a certain admiration for the magnitude of the Church’s success in establishing a universal Christian cultural matrix and fulfilling its earthly mission’ (Tarnas 1991:169).

In die proses het die Ou Testament geïnstitusionaliseer geraak. Dit het deel van die kerk se magtige sisteem van kloosters, kloosterskole, universiteite en intellektuele vorming geword. Veral die kloosters was aanvanklik die middelpunt van denke,  Bybelstudie en vroomheid. Later het universiteite gevolg en het saam met die kloosters het dit die ruimte, die intellektuele sowel as geloofsruimte vir die studie van die Ou Testament geword.

Eers iets oor die kloosters.

Die plek van gebed en geleerdheid

‘n Kenmerk van die klooster was afsondering van die wêreld, ‘n asketiese leefstyl en harde studie. Van die Ierse kloosterwese is gesê: ‘the Irish monasticism combined strictest ascetism with outstanding scholarship’. Monikke was dus geleerdes: ‘To the Irish mind an illiterate monk was a contradiction in terms’ (Köpf 2000:154).

Kloosters wat volgens die Regula Benedicti (die kloosterorde volgens Benedictus van Nursia) ingerig is, het die dag so ingerig dat daar genoeg tyd was vir lees, studie en intellektuele vorming. Elke dag is in verskillende ure en geleenthede ingedeel en die Ou Testament het ‘n belangrike rol gespeel. Op sekere tye van die dag en plekke (soos die eetsaal) is die Ou Testament (veral die psalms) hardop gelees. Volgens die Regula Benedicti moes die monnike die Ou Testament asook dele uit ander kerngeskrifte woord vir woord geleer het. Hulle moes dit so verinnerlik dat hulle die Ou Testament en ook ander geskrifte oor en oor kon opsê (Regula Benedicti 9,10; 10,2; 12:4; 13,11).

Daar was natuurlik ‘n belangrike voorwaarde: die monikke móés Bybels en ander boeke gehad het. Byna alle Middeleeuse kloosters het daarom biblioteke gehad. Al was dit klein, maar biblioteke was nodig om die strewe na kennis te voed en intellek te verryk (Köpf 2000:148-179).

Nog iets was nodig: die scriptorium. Die plek waar priesters baie noukeurig die Bybel en ander tekste oorgeskryf het. In Umberto Eco se roman oor die gebeure by ‘n klooster in die noorde van Italië gedurende die laaste dae van November 1327 word mooi oor die scriptorium gepraat. Adson,  die jong novice, vertel van ‘n koue laatmiddag toe hy die groot vertrek binnegestap het. Oral was enorme vensters waardeur die laaste daglig nog helder ingestroom het. Die loodvensters was nie gekleur soos in die destydse kerke nie. Die son se felle lig is dus nie deur menslike kunswerke verhinder nie, maar het elke plekkie in die scriptorium helder verlig (Eco 1987:80) .

Volgens Adson was elke stukkie lig noodsaaklik want die priesters het tot laaste lig gewerk. Volgens Middeleeuse siening het skoonheid met drie dinge te make gehad: volledigheid of volmaaktheid (iets wat onvolledig was, was lelik); dan harmonie en ten slotte lig, helder lig (daarom was helder kleure mooi). Die helder verligte scriptorium, die plek waar die Ou Testament se teks en ander boeke met sorg oorgeskryf is, was dus vir Adson mooi en het ‘n innerlike vreugde hom oorweldig.

By elke tafel was ‘n priester aan die skryf, lees of aantekeninge maak. Op die tafel was ‘n inkhouer, penne met fyn punte wat voortdurend met ‘n messie skerp gemaak is, ‘n spesiale soort steen om die perkament glad te maak, liniale om die lyne te trek waarop die letters geskryf is. Langs hom was nog ‘n tafel met al die kodekse wat gekopieer moes word. En daar het hy bly sit tot met Vespers teen vier dertig die middag. Almal in die scriptorium is van die ander gebedstye kwytgestel omdat hulle tot die laaste moes werk (Eco 1987:81).

‘n Spanning wat gekom het om te bly

Uit die kloosters se deeglike intellektuele skoling het die kloosterskole gegroei en daaruit weer die universiteitswese. Laasgenoemde was ‘n belangrike gebeurtenis wat die lees van die Ou Testament tot vandag toe ingrypend beïnvloed het. Dit het egter ook mettertyd tot spanning tussen universiteitsteologie en die klooster se praktiese ingesteldheid gelei; ‘n spanning tussen die manier waarop eksegese van die Ou Testament aan die universiteit en in die kloosters gedoen is.

Toe die eerste universiteit in ongeveer 1170 in Parys begin is, was dit ‘n grootse gebeurtenis in die westerse geskiedenis. En die wonderlike is dat alles as ‘t ware ware in die skoot en aan die boesem van die kerk gebeur het. Op ‘n heel unieke wyse het die kerk die groot ondersteuner, borg en beskermer van wetenskaplike kennis en intellektuele vorming geword. Deur middel van die kerk is die Middeleeuse mens se intellek geslyp en het die destydse wetenskap ‘n besondere diepte bereik. Deur die kerk se toedoen het die wetenskap gedy en is nuwe soort teoloog gevorm. Iemand wat die wetenskap sou gebruik om die Skrif te verstaan. 

‘n Uitstekende voorbeeld van ‘n tipiese universiteitsgeleerde was Petrus Abelardus (1079-1142) – sy verhouding met Héloise sou hom later beroemd maak, maar ook groot pyn veroorsaak het. Met sy skerp analitiese gees en die insigte van Aristoteles het hy diep oor die teologie nagedink. Hy was ‘n meester in die formulering van kritiese vrae waarvoor daar nie eintlik antwoorde was nie. Hy was so aggressief in die formulering van die vrae en so krities in sy denke dat soms gemeen is dat hy die geloofswaarhede van sy tyd omvergegooi het. In sy boek, ‘Sic et Non’ (‘Ja en Nee’), het hy ‘n hele aantal uitsprake van die vroeë kerkvaders langs mekaar geplaas en gewys hoe dit mekaar weerspreek. Abelardus wou nooit die geloof ondermyn nie, maar het al hoe meer die klem op die pluraliteit, die veelkantigheid van die waarheid geplaas; hy wou die geloof krities bestudeer en wys hoe die rede, die verstand ‘n mens kan help om God en die teologie beter te verstaan. Sy standpunte sou hom egter nog groot probleme besorg. 

Teenoor die universiteitsteologie het dié van die klooster gestaan. In die klooster is ander soort vroomheid aangetref. In die klooster is egter ‘n baie tipiese spiritualiteit, Skrifbenadering en teologie ontwikkel. Meditasie, kontemplasie, mistieke ervaringe, die vorming van die verstand om geestelike waarhede in die Skrif raak te sien en ‘n ‘n afkeer aan intellektuele vorming was so tipies van baie kloosters in die Middeleeue. In die klooster is universiteitskennis nie altyd waardeer nie en is die wetenskap nie altyd omhels nie. Hierdie spanning tussen klooster en universiteit was soms ondraaglik en hiervan was Bernardus van Clairvaux (1090-1153) ‘n goeie voorbeeld.

Bernardus kon Abelardus nie verduur nie en het hom verketter en aangekla. En die kern van Bernardus se probleem was juis die spanning tussen klooster en universiteit, tussen klooster-eksegese en die universiteit se kritiese uitleg.  Hy was konserwatief en het gemeen dat die kloosterspiritualiteit van meer waarde was as die dinge wat die jong priester op universiteit moes leer; dat die gevoel en wil vir die jong kloosterling belangriker was as die universiteit se voortdurende klem op die rede en die vorming van die intellek; dat die direkte mistieke ervaring van God soveel meer as intellektuele vorming aan die universiteit kon bied. Kortom: Bernardus was bekommerd dat die geloof voor die rede sou swig en dat wetenskaplike kennis die geloof sou doodmaak. 

Bernardus se verset sien ‘n mens ook in sy kommentaar op Hooglied. Vir die Middeleeuse mistici was dié boek nogal belangrik en toe Bernardus sy kommentaar geskryf het, was daar ten minste honderd kommentare of fragmente op Hooglied bekend. Sy interpretasie was egter ‘n nuwe kyk op die mistiek: nooit het die siel in God ‘opgelos’ nie en is die bruid in Hooglied op die siel (en nie die kerk of Mariavereerders nie) betrek. Volgens sy bruidsmistiek is die liefde tot Christus as ‘n huwelik beskryf; ‘n huweliksverhouding tussen die bruidegom (Christus) en die bruid (die siel). Vir Bernardus was hierdie mistieke, geestelike, praktiese kloosterteologie baie dieper, ryker, voller as die universiteit en die wetenskap. En toe hy op ‘n keer van universiteitskant krities gekonfronteer is, was sy antwoord gewoon dat hy Hooglied geestelik-en-affektief (of gevoelsmatig) uitgelê en verklaar!

Hierdie spanning tussen praktyk en kritiese ‘Bybelwetenkap’, klooster-eksegese en wetenskaplike uitleg, bedieningsbehoeftes en die eise van die Bybelwetenkap sou tot vandag toe voortbestaan. Vir Klemens en Origenes was dit makliker want hulle allegoriese uitleg was deel van hulle tyd se ongeproblematiseerde omgang met die Skrif, maar met die opkoms van die universiteitswese het alles verander. Daar sou ‘n spanning tussen kerk en teologie ontstaan. ‘n Spanning wat eintlik noodsaaklik was en wat ook nooit opgelos moet word nie.   

En hoe ‘n mens nou ook al die spanning in die Middeleeue verstaan, die kerk se byna onverbreeklike band met wetenskap, kennis, geleerdheid is eintlik wondermooi en van die wonderlikste teologie het juis in hierdie wetenskaplike dampkring ontstaan. In die elfde eeu het Anselmus (1033-1109), die aartsbiskop van Kantelberg, aangrypend op die noue band tussen geloof en rede gewys. Geloof roep om die rede; roep om verduideliking, wetenskaplike verstaan. En wanneer die geloof redelik verstaan word, is daar intense blydskap.

‘n Kritiese Bybelwetenkap (veral sedert die negentiende eeu) hoort dus by die universiteit, maar ook die kerk.

Die uitleg was ook mooi

Ten spyte van al die spanninge was die Middeleeuse manier van uitleg eintlik so mooi en ryk. Daar was natuurlik hulpmiddels, soos die ‘catena’ en die ‘glossa’, maar die wyse waarop hulle ‘n teks benader het, was kreatief en soms selfs oorweldigend. Eers iets oor die hulpmiddels. Die ‘catena’ of ‘ketting-Skrif’ was ‘n versameling van die vroegste kerkvaders se uitsprake oor tekste in die Bybel. Indien iemand dus ‘n bepaalde Skrifgedeelte gelees het, kon hy vinnig die vernaamste uitsprake daaroor nagaan. Dit was bloot ‘n aaneenryging van die verskillende geleerdes se sieninge in verband met ‘n teks. Hierdie ‘eksegetiese handboeke’ is veral by priesteropleiding gebruik, maar alle Bybellesers het dit aangewend. ‘n Onbedoelde vrug van die catena was egter dat die uitsprake van die kerkvaders normatief begin word het. Dit kon ook nie eintlik anders nie want dit was ‘n onontbeerlike hulpmiddel wat elke dag gebruik is. Hierdie ‘catenas’ is oor baie jare deur priesters in kloosters met die allergrootste ywer en noukeurigheid saamgestel.

Dan was daar die ‘glossa’. Dit was iets soos ‘n kort kommentaar op teksverse en woorde wat sommer in die Bybel afgedruk is. Een manier was om spasies tussen die versreeëls te maak en dit dan met kort verklarings van name woorde en begrippe te vul. Dikwels is die teks ook geparafraseer en is die betekenis van die teks omskryf. Dít was ‘n wonderlike ‘kommentaar’ vir dosente wat priester moes oplei. Alles was sommer onmiddellik beskikbaar en die priester-dosent moes dit net aan die studente voorlees. Sy eie insigte was nie so belangrik nie want die student moes met die denke van die groot geleerdes oor die eeue bekend raak.

 Die helpende hand van die filosofie

Eintlik kan ‘n mens die Middeleeuse teoloë ook nooit sonder die filosofie verstaan nie. Ons noem twee voorbeelde: Anselmus (1033-1109) en Thomas Aquinas. Anselmus die aartsbiskop van Kantelberg, het aangrypend op die noue band tussen geloof en rede gewys. Geloof roep om die rede; roep om  verduideliking, wetenskaplike verstaan. En wanneer die geloof redelik verstaan word, is daar intense blydskap. Dit is waarom Anselmus gesê dat wanneer ons geen poging aanwend om te verstaan wat ons glo nie, is dit growwe nalatigheid. Daar was egter iets baie belangrik wat vooraf eers gedoen moes word: die bestaan van God moes bewys word.

En Plato het hom gehelp. Anselmus het vir die jong monnike gesê dat hulle hierdie volmaakte idee van God moes hê; hulle geloof en gebede gerig moes gerig wees op ‘n Wese so groot, so volmaak, so perfek, so groots en wat juis vanweë hierdie volmaaktheid bestaan. God is in en deur sy volmaaktheid híér; in sy oorvloedige volmaaktheid hier en nou. Kortom: hulle moes hiedie idee van God, die begin, die einde, die volmaakte wat bo ons, maar ook binne-in ons koester. Anselmus wou iets oor God sê en Plato het hom gehelp.

Vir Aquinas was dit in ‘n sekere sin makliker. Aristoteles het hom weer gehelp en daarom wou Aquinas nie met die wêreld daarbo begin nie, maar met die sigbare wêreld hier voor hom begin. Hy wou begin met dit (die skepping, die natuur) wat voor hom is; God het tog (volgens Gen 1) alles goed en volmaak geskep en daarom lê sy spore in die volmaakte skepping voor jou; soek Hom daar; jou sintuie en rede is nie sleg nie; dit kan jou help want God het dit goed gemaak.

Die Middeleeuse intellektuele wêreld van studie, eksegese en praktiese vorming is ook (bewustelik en onbewustelik) deur hierdie groot wêreld van die filosofie geslyp. Dit was asof die filosofie soms die teologie aan die hand geneem en oor die moeilike bulte gelei het.

Slotwoord

Die Middeleeue was dus geensins donker nie. Dit was ‘n boeiende tyd vol ontdekkings, ongelooflike kunswerke, besondere musiekstyle, interessante geloofservaringe en nog baie dinge meer. In die Middeleeue het ook iets gebeur wat die Bybeluitleg tot vandag toe radikaal beïnvloed het. En dit was die kloosterwese asook die opkoms van die universiteitswese en eersgenoemde se reaksie daarop. Of anders gesê: die begin van die spanning tussen universiteitsteologie en die klooster se praktiese ingesteldheid.

Bronnelys 

  • · Burckhardt, J 1960. The civilization of the Renaissance in Italy. London: Phaidon.
  • · Caputo, J  2006. Philosphy and theology. Bloomington: Indiana Press.
  • · Dahan, G 2000. Genres, forms and various methods in Christian exegesis of the Middle Ages, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 180-195.
  • · Dilthey, W 1996. Hermeneutics and the Study of History. Eds. Rudolf A. Makkreel and Frithjof Rodi. Princeton, New Jersey: Princeton University Press, 1996.
  • · Eco, U 1987. De naam van de roos.  Amsterdam: Bert Bakker.
  • · Evans, G R 2000. Masters and disciplines: aspects of Christian interpretation of the Old Testament in the eleventh and twelfth centuries, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 237-260.
  • · Grondin, J 2001a. Der Sinn für Hermeneutik. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft
  • · Heusi, K 1921. Altertum, Mittelalter und Neuzeit in der Kirchengeschichte. Tübingen, 40-47
  • · Huizinga, J 1950. Geschiedenis en hedendaagse cultuur, in Versamelde Werke VII, 85-95
  • · Huizinga, J 1950. Verzamelde werken, VII. Haarlem: H D Tjeenk Willink.
  • · Huizinga, J 1969. Herfsttij der Middeleeuwen. Haarlem.
  • · Johnson, P 2000. The Renaissance. London: Weinfeld & Nicolson.
  • · Köpf, U 2000. The institutional framework of Christian exegesis, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 148-179.
  • · Leonardi, C 2000. Aspects of Old Testament interpretation in the church from the seventh to the tenth century, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 180-195.
  • · Tarnas, R 2000. The passion of the western mind. London: Random House.
  • · Thiselton, A C 1980. The two horizons. Exeter:Pater Noster.
  • · Versfeld, M 1962. Rondom die Middeleeue. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Share this / Deel hierdie: