Die Middeleeue se omgang met die Ou Testament is selfs roerend. Vir hulle (soos vir die vroeë kerk) is alles op die Skrif gebou. Moeite is gedoen om ‘n standaardteks saam te flans, elke aspek daarvan te ondersoek en dan daaroor te skryf. Alhoewel nie alles bewaar is nie, is daar ongelooflik baie geskryf. Veral kommentare. En dit nogal voor die boekdrukkuns ontdek is. Tydens die Middeleeue was die klooster, die klein kloostersel en kloosterskole die plek waar dinge gebeur het.

‘n Belangrike priester en geleerde

Een so ‘n kloosterskool aan die oewer van die Seinrivier in Parys is Sinte Victor genoem. In die twaalfde eeu het dié skool ‘n belangrike geleerde gehad wat diep oor teks en geskiedenis nagedink het; wat krities teenoor die uitwasse van die allegorie gestaan het en wat erns met die eerste eksegetiese stap van die Middeleeuse eksege gemaak het. Sy naam was Hugo en is mettertyd Hugo van Sinte Viktor genoem. Hy het nie oud geword nie, maar destyds het mense ook nie lank geleef nie. Gebore tussen 1097 en 1099 en gesterf in 1141. Soos so baie ander het Hugo egter baie lewensin binne die vier mure van die klooster ervaar en het hy in die eensame klein kloostersel die groot wêreld van die Bybel en die teologie te ontdek.

Sy groot krag lê in sy historiese verstaan van die teks: ‘Hugh presents, according to his own expression the fundamentum fundamenti in the field of exegesis, that is to say the lectio historica of the whole Sacred Scripture, i.e. a historical summa’ (Berndt 2000:472). Anders gesê: in die historiese lees van die Bybel het hy teologiese diepte probeer raaksien. Om dit verstaan, let ons kortliks eers op die Middeleeuse eksegetiese metode waarvan Hugo integraal deel was en wat hy op sy eie manier toegepas het.

 

Die viervoudige verstaan van die Ou Testament

Elke teks moes van verskillende kante bekyk word sodat meerdere betekenisse ontgin kon word. Die eerste stap was om op die letter van die teks te fokus. Of soos dit in Latyn geformuleer is: ‘Littera gesta docet’ – die letter leer wat gebeur het. Die sigbare woorde in die Ou Testament se teks was belangrik want dit het die verhaal van Israel se geskiedenis vertel. Die letterlike betekenis het van God se geskiedenis met Israel en die wêreld vertel en moes daarom met groot erns bejeën word. Hierdie historiese grondlaag het dus die basis van alle eksegese gevorm. Dít het God se betrokkenheid by en ingrype in ons menswêreld beklemtoon en daarom was die letterlike verstaan van ‘n teks (die woorde, name, verwysings, ens) van groot waarde. Of soos die Middeleeuse mense gesê het, ‘historia est fundamentum’, die geskiedenis vorm die grondslag van Skrifverstaan. Alles het inderdaad om feite gedraai, maar die feit of werklikheid van God se ingrype in die geskiedenis (De Lubac 2000:41-82).

Die volgende stap was die allegorie: ‘quid credas allegoria’ – die allegorie vertel wat geglo moes word. Alhoewel allegorie inderdaad met vergeesteliking te make het en tot ‘n veelvoud van geestelike verklarings kan lei, was dit baie nou aan die letterlike betekenis gekoppel. Die allegoriese verklaring moes die geheime van die geskiedenis, van ‘n teks se letterlike verstaan oopmaak en die dieper geestelike betekenis van die ‘historiese feite’ verwoord. Letterlike (of historiese) en die allegoriese manier van verstaan, was eintlik onlosmaaklik; die allegorie wou net die dieper betekenis van Israel se geskiedenis ontgin het (De Lubac 2000:83-126).

Vervolgens moes die morele betekenis verduidelik word: ‘moralis quid agas’ – die morele sê wat gedoen moet word. Hierdie leesfaset het die leser aangemoedig om etiese besluite te neem en ‘n hoë morele leefstyl te ontwikkel. Dit is ook ‘tropologiese eksegese’ genoem en wou op ‘n baie persoonlike vlak die gelowige help om reg te leef. Hierdie leeswyse het ‘n baie persoonlike kleur aan die Skrif gegee; dit was op die individuele gelowige in die gemeente gerig; dit moes die enkeling innerlik versterk om vroom te leef. Die allegoriese en die morele verklaring moes nie verwar word nie: die allegorie het gesê wat geglo en die morele hoe geleef moes word. Laasgenoemde is ook ‘tropologie’ genoem en die tropologiese leeswyse het Luther in sy stryd om geloofsklaarheid baie gehelp. En die rede daarvoor was dat die tropologiese as ‘t ware op die innerlike van die individu gefokus het (De Lubac 2000:127-178).

Ten slotte is die eksegeet se oog op die toekoms gerig: ‘quo tendas anagogia’ – dit waarna gestreef moet word. Uiteindelik moet teksstudie by die wederkoms eindig. Alle eksegese moet uiteindelik in nadenke oor die wederkoms en hemelse vreugde uitmond. Die eerste letterlike fase het op die koms van Christus uit die volk Israel gewys; die allegoriese uitleg het die geestelike betekenis van sy koms toegelig; die morele verstaan het die boodskap verder gevoer en gesê hoe daar in die lig van die Christusgebeure geleef moes word; en die laaste eksegetiese moment, die sogenaamde anagogiese verstaan, moes die hoop op die ewige lewe gekoester het (De Lubac 2000:179-226).

Hierdie vier wyses van Skrifverstaan was eintlik baie nuttig (vgl Köpf 2000:148-179). Vir die Middeleeuse kerk was dit in vele opsigte eintlik so merkwaardig. Dit het ‘n lang en samehangende beweging beskryf wat vanaf die letterlike of historiese Israel, tot by die allegoriese of dieper geestelike vlak, tot by die morele of etiese lewenstyl en tot by die anagogie of die hemelse geluk gestrek het; dit was ‘n poging om God se betrokkenheid vollediger vanaf Israel in die Ou Testament tot die wederkoms toe te lig; dit het die Skrif se meerduidigheid erken en wou alle betekenismoontlikhede ontgin; dit het van die uitleg van die Bybel ‘n lewendige en kreatiewe daad gemaak; dit was ‘n opregte poging om willekeurige eksegese hok te slaan.

 

Metode en vroomheid ineenvervleg

Vir Hugo en sy tydgenote was hierdie manier van eksegese doen geensins ’n kliniese en objektiewe handeling nie. Eksegetiese metode en ‘n vroom lewe was ineengestrengel (vgl Clement 2004:15-94). Anders gestel: vir Hugo (soos vir die Middeleeuse kerk) was die viervoudige verstaan veel meer as net ‘n metode wat sistematies toegepas moes word, want dit was ook ‘n soort riglyn vir die geloofslewe. Die vrug van nimmereindigende harde werk en eksegetiese arbeid was ‘n lewe van studie, meditasie, gebed en ‘contemplatio’ of bepeinsing of nadenke oor die ewigheid en wat nou reeds daarvan ervaar kon word (Did V, 9; Reventlow, 174). Hierdie tipe vroomheid, wat veral in die kloosters verder ontwikkel en verdiep is, het eksegese en daaglikse lewe baie nou verbind; die ‘eksegetiese stappe’ moes as ‘t ware ‘n fisiese gestalte in die eksegeet se daaglikse lewe van studie, meditasie, gebed en kontemplasie vind. Wat op ‘n keer van Johannes Cassianus en sy tydgenote gesê is, is ook van Hugo (en die Middeleeuse kloosterlinge) waar: ‘The Bible was not primarily an object but a dialogue partner, not simply a site of interpretation but a quest to embody was read … The monk’s quest (was) to make Scripture into their own flesh and bone’ (Green 2005:19 – my kursivering). Kortom: die manier waarop met die teks omgegaan is, moes vlees word en in die daaglikse lewe gesien kon word.

 

Die belangrike eerste stap

Voorop staan die geskiedenis. En niemand het dit so mooi, so vol, so betekenisryk soos Hugo gesê nie (De Lubac 2009:211-213). Alles het op die letterlike, die historiese interpretasie van die teks neergekom. In die letterlike tekswoorde moes historiese mense en gebeure ontdek, en die teks se kern boodskap histories ontsluit word. Dit is eintlik vir die Middeleeue so belangrik dat ons voortdurend daaroor kan nadink. Klemens en Origenes van die Aleksandrynse skool het ook by die fisiese teks voor ons begin, maar dan het hulle dit onmiddellik begin allegoriseer of vergeestelik. Vir hulle was die teks net die vertrekpunt sodat hulle dit eindeloos verder kon vergeestelik. Vir vele was dit ‘n heerlike ontvlugting vanuit die probleme van die teks. Vir Hugo was dit anders: die letterlike teks was die beginpunt en moes eers verklaar word (Berndt 2000:472).

In die vroeë kerk was daar ook al verset teen die allegorie se uitspattighede (vgl Leonardi 2000:180-195). Soos wat die Aleksandryse skool (met Klemens en Origines) die allegorie beklemtoon het, het die Antiocheense skool ( met Theodorus van Mopsuestia) klem op die letterlike betekenis geplaas. Volgens Theodorus moes die Ou Testament as ‘n verslag van God se historiese handelinge met Israel verstaan word; moes die Ou Testament slegs binne sy eie historiese konteks gelees en verstaan word; moes die leser ‘n historiese ontwikkeling binne die Ou Testament raakgesien het. Alhoewel die Ou Testament tipes van die nuwe bedeling in Christus reflekteer, moes die historiese konteks waarbinne hierdie tipes gefunksioneer het nooit uit die oog verloor word nie (vgl Wiles 1989:508)

Hugo het dit verder gevoer. Vir sy studente het hy geleer dat hulle eers die geskiedenis moes ken en hulle met ‘die waarheid’ van die gebeure moes besighou alvorens hulle kon allegoriseer. Hulle moes eers vra: Wat het gebeur? Wanneer het dit gebeur? Waar het dit gebeur? ‘n Historiese interpretasie het dus vier dinge geïmpliseer: die persoon wat handel, die handeling self, die tyd en plek waar dit gebeur het (Did VI,3; Reventlow, 175). Die begrip ‘histories’ of ‘geskiedenis’ het nie bloot net op ‘bruta facta’ gedui nie, maar ook op die oorspronklike sinsamehange waarin dit ingebed is. Nogmaals: deur die letterlike woorde in die teks uit te lê en sonder om te allegoriseer, kon ‘n mens al iets van die boodskap verstaan. Volgens Hugo was Moses en die profete almal historici en daarom moes die priesterstudente met die historiese boeke soos die Pentateug begin. Geskiedenis was die eerste en allesomvattende eksegetiese stap; dit was soos ‘n huis wat ‘n tuiste vir die ander stappe gebied het en waarbinne dié stappe ook kon groei en gedy (De Lubac 2009:211-267).

 

‘n Historiese lees keer oordrewe vergeesteliking

Hugo was ‘n tipiese Middeleeuse geleerde en kon dus nie net sommer allegorie verwerp nie. Hy wou ook eintlik nie! Al wat hy wou doen, was om die uitwasse van die allegorie te beperk en daarom moes almal by die historiese begin. Dit is so belangrik dat ons dit met behulp van die begrip ‘tradisie’ in die vroeë kerk kan verduidelik. Vir iemand soos Vincentius van Lerinum was dit pynlik om te sien hoe Arius die Skrif sus, Pelagius so en Nestorius weer op ‘n heeltemal ander manier uitlê. Om alle willekeur hok te slaan, moes die tradisie help. Volgens Vincentius moes die tradisie nie iets by die Skrif voeg nie, maar net die eksegese rig. Die kanon was immers klaar afgesluit en dit het volledig aan die kerk se behoeftes voldoen. Wat egter gelol het, was die verskillende interpretasies van die een teks. Vincentius ondervang dan die probleem met sy beroemde uitlating: ‘Quod ubique, quod semper, quod ab omnibus creditum est’. Die tradisie wat oral, altyd en deur almal geglo is, moes alle Skrifverklaring begelei (Drobner 1994:2, 344). En wanneer die Bybel in die lig van die tradisie gelees is, het hierdie tradisie die eksegeet gehelp en die geloof gevoed.

Wat Vincentius met die tradisie wou doen, wou Hugo met die letterlike of die historiese verstaan bereik. Anders gesê: die historiese bemoeienis met die Ou Testament moes mense van ’n oppervlakkige, simplistiese, vrome lees weerhou. Hy was ook geweldig krities teenoor diegene wat oor die letterlike, historiese eksegese wou spring en sommer onmiddellik met vergeesteliking wou begin. Hy was skerp teenoor diegene wat lui was en wat nie die moeisame weg van historiese eksegese wou volg nie; hulle wat nie lus was vir die moeisame historiese interpretasie nie en kortpaadjies wou volg; hulle wat domweg gemeen het dat geen boodskap in historiese inligting te vinde is nie en dit wou geïgnoreer het (Did VI,3 Reventlow175). Op ‘n keer het hy dit ook baie hard gesê: ‘Begryp dit tog, die mistieke (of allegeriese) verstaan kan slegs op die letterlike (historiese) betekenis gebou word. Ek is stomverbaas oor die karige historiese kennis en die totale onkunde in verband met die letterlike (historiese) betekenis van ‘n teks by diegene wat sommer met vergeesteliking wil wegval. Moet nooit hierdie mense navolg nie (Did IV, 3; De Lubac 212,597). Elders sê hy in soveel woorde: ‘Jy moet eers kruip voordat jy kan loop. Moet daarom nie oor die letterlike spring nie want jy kan jou bloedmond oor jou eie swak eksegese val’ (De Script 5; De Lubac 597).

Klem op die letterlike het dus ‘n baie goeie kennis van grammatika nodig (vgl De Lubac 2009:211-267). Elke woordjie en uitdrukking in die Vulgaat moes deeglik ondersoek word en daarvoor was ‘n deeglike taalkennis nodig. Soos geskiedenis die grondslag van Bybelondersoek gevorm het, was grammatika die hartslagaar van enige literêre studie. Voordat met egte eksegese en teologiese arbeid begin kon word, moes die student hom eers aan die ‘vrye kunste’ wy. Dit het vakke soos grammatika, dialeketiek en retoriek ingesluit en moes hom help om die ‘sacra pagina’ soos Hugo die Bybel genoem het, te verstaan. En as dié voorstudie vir sommige moeilik en irrelevant gelyk het, het Hugo goeie raad gehad: ‘Bestudeer alles goed en jy sal later besef dit was nie onnodig nie’ (Reventlow 1994:175). Kortom: die pad na historiese studie was voorstudie, veral taalstudie.

Hugo het iets soos ‘n ‘inleiding tot die Ou Testament’ geskryf. Daarin het hy name verklaar, Bybelkarakters toegelig, die skrywers van die verskillende boeke en elke Bybelboek se indeling toegelig. Verder is verwysings na die apokriewe, die besluite van belangrike konsilies en sinodes gemaak en is die belangrikste insigte oor die kerkvaders se insigte gemaak, en het hy die kanonvorming aan die hand van die kerkgeskiedenis verduidelik. Alles hulpmiddels om die historiese lees van die Ou Testament te vergemaklik.

 

Is ons oppervlakkig?

Daar was soveel diepte in die Middeleeue. ‘n Studie van byvoorbeeld die Renaissance maak ‘n mens nou nog opgewonde en laat jou iets van dié diepgang besef (vgl Huizinga 1969; Versfeld 1962; Tarnas 2000; Johnson 2000). Vandag nog roer die Middeleeuse omgang met die Ou Testament ‘n mens. Soveel harde werk, soveel energie, soveel skerpsinnigheid sien ‘n mens dalk nie meer vandag nie. Alles moet met die praktyk of die konteks resoneer terwyl Skrifstudie na ‘n handjievol Ou Testamentici afgewentel is. Hugo en al die teoloë van die Middeleeue (en veral ook die vroeë kerk) wou ook relevant wees, wou ook vir hulle tyd iets sê, maar die weg daarheen het deur harde wetenskaplike Skrifstudie en nadenke geloop. Dit laat ‘n mens nogal dink.

 

 

  • · Adam, A 1968. Lehrbuch der Dogmengeschichte, II. Gütersloh: Gerd Mohn.
  • · Berndt, R 2000. The school of St. Victor in Paris,  in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 467-495.
  • · Burckhardt, J 1960. The civilization of the Renaissance in Italy. London: Phaidon.
  • · Caputo, J  2006. Philosphy and theology. Bloomington: Indiana Press.
  • · Clement, O 2004. The roots of Christian mysticism. New York: New City Press.
  • · Dahan, G 2000. Genres, forms and various methods in Christian exegesis of the Middle Ages, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 180-195.
  • · De Lubac, H 1996. The discovery of God. Grand Rapids: William B Eerdmans.
  • · De Lubac, H 1998. Medieval exegesis, Vol 1. Grand Rapids: William B Eerdmans.
  • · De Lubac, H 2000. Medieval exegesis, Vol 2. Grand Rapids: William B Eerdmans.
  • · Drobner, H R 1994. Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.
  • · Drobner, H R 1994. Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.
  • · Eco, U 1987. De naam van de roos.  Amsterdam: Bert Bakker.
  • · Evans, G R 2000. Masters and disciplines: aspects of Christian interpretation of the Old Testament in the eleventh and twelfth centuries, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 237-260.
  • · Green,  B 2005. Johah’s journeys. Georgeville: Liturgical Press.
  • · Grondin, J 2001a. Der Sinn für Hermeneutik. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft
  • · Heusi, K 1921. Altertum, Mittelalter und Neuzeit in der Kirchengeschichte. Tübingen.
  • · Hugo v St Victor, De Scripturis et scriptoribus sacris
  • · Hugo v St Victor. Didascalicon – De studio legendi.
  • · Hugo v St Victor. Opera omnia, in Patrologiae cursus completus. Series Latina, J-P Migne (red).
  • · Huizinga, J 1950. Geschiedenis en hedendaagse cultuur, in Versamelde Werke VII, 85-95
  • · Huizinga, J 1950. Verzamelde werken, VII. Haarlem: H D Tjeenk Willink.
  • · Huizinga, J 1969. Herfsttij der Middeleeuwen. Haarlem.
  • · Johnson, P 2000. The Renaissance. London: Weinfeld & Nicolson.
  • · Köpf, U 2000. The institutional framework of Christian exegesis, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 148-179.
  • · Leonardi, C 2000. Aspects of Old Testament interpretation in the church from the seventh to the tenth century, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 180-195.
  • · Reventlow, H G 1994. Epochen der Bibelauslegung, II. München: C.H. Beck.
  • · Tarnas, R 2000. The passion of the western mind. London: Random House.
  • · Thiselton, A C 1980. The two horizons. Exeter:Pater Noster.
  • · Versfeld, M 1962. Rondom die Middeleeue. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
  • · Wiles, M F 1989. Theodore of Mopsuestia as representative of the AntiochAenoie School in Ackroyd, P R & Evans, C F 1989. The Cambridge history of the Bible. Cambridge: Cambridge University Press.
Share this / Deel hierdie: