Luther se hart het by die eksegese gelê. In Oktober 1512 het hy ‘n professor vir die ‘Lectura in Biblia’ in Wittenberg geword en dertig jaar lank sou hy al sy kragte aan die uitleg van die Bybel wy. In die beginjare moes hy ook ander administratiewe take vervul, soos toesig oor ‘n aantal kloosters, toelogiese opleiding en die toepassing van kloosterreëls hou. Daarbenewens moes hy oral en altyd in verskillende kloosters preek. En soos wat die jare aangestap het, het  dié take meer geword en dit het sy kragte getap, maar hy het hom altyd weer aan die eksegese en die skryf van kommentare gewy.

 

Twee portrette van ’n eksegeet

Ons sal nooit weet hoe Luther gelyk het nie. Die groot portretskilders van destyds, Hans Holbein en Albrecht Dürer, wou hom graag ontmoet, maar dit het net nooit gebeur nie. Uiteindelik het ons net Lukas Cranach se portretskilderye (Oberman 1987:318-319). Hy was ’n vriend van Luther en het uiteraard ook vele persoonlike trekke in die skilderye ‘ingeteken’ .

Een daarvan was die huweliksportret van 1525. In dié jaar is Luther met Katharina, ’n weggeloopte non, getroud en Cranach het van elkeen ’n portret gemaak. Luther se gesig lyk moeg en mat, en sy oë dof. Dit was egter ’n uiters moeilike tyd want die berugte boere-opstand het sopas begin en groot verwoesting gesaai. Kerk en staat het die vinger na Luther gewys, maar hy kon dit nie keer nie. Elke dag het die druk toegeneem en het die spanning onhoudbaar geword. Cranach het dit geweet en het dit as ‘t ware in sy portret ‘ingeskilder’.

Daar was ook ander skilderye waarin die goeie doktor vrolik en meer ontspanne verbeeld is. Portrette waarin sy lyf eerder van oordaad, sy warm pelsjas van versorging en sy houding van geluk spreek. 

So het Cranach se skilderye die twee kante van Luther mooi saamgevat. Aan die een kant die Luther wat aanvegtinge geken, deur swaarmoedigheid gefolter is, wanhoop ervaar en die spanninge van die lewe gevoel het. Cranach se kwas het ook ’n ander Luther geskets: sterk, vol vertroue en vrolik.

Dié twee kante vind ons ook in Luther die eksegeet. Na aanleiding van Psalm 33 wou hy tot God se eer jubel, maar die anderkant moes as‘t ware eers ‘hanteer’ word; eers moes die sondige, vleeslike deur genade oorwin word alvorens hy ‘’n nuwe lied’ kon sing (Reventlow 1997:75). In die eksegese was ‘donker’ en ‘lig’ altyd teenwoordig en moes dit in die eksegese oorwin word (vgl die boetepsalms hieronder). Dít het Luther egter ’n nederige eksegeet gemaak.

In die Benediktynse kloosterreëls (uit die sesde eeu) lees ons ook mooi oor ‘humilitas’ se belangrikheid. Elke kloosterling moes elke dag na nederigheid streef en moes ’n hele aantal ‘geestelike oefeninge’ volg. Innerlik moes die monnik aan homself sterf. Nooit moes hy te veel van homself dink of hoogmoedig wees nie. Uiterlik moes dit ook gesien kon word. Wanneer daar gewerk is, moes daar geswyg word. In die gange moes daar met oë afwaarts geloop word. By die maaltye moes in stilte na die voorlesing uit die Skrif geluister word. Onder alle omstandighede moes die kloosterhoof gehoorsaam word. Dit was alles pogings om die gelowige tot nederigheid te dwing.

Luther se ‘nederigheid’ het ’n ander toonkleur gehad. Vir hom was dit meer ’n innerlike gebrokenheid. ‘n Soort innerlike vernietiging vanweë menslike swakheid en sonde. ’n Soort gebrokenheid wat telkens in sy eksegese geblyk en wat sy innerlike worsteling teen menslike swakheid en sonde bevestig het. Anders gestel: eers moes die gebroke mens deur die genade oorwin word alvorens die blye eksegeet sy vreugde kon toon.

En Augustinus se besondere siening van Christus en die psalms het dit as‘t ware vir Luther moontlik gemaak om so met byvoorbeeld die boetepsalms om te gaan.

 

Augustinus se ‘totus Christus’ en die psalms

Luther het sterk op die psalmkommentare van andere geleun (Bornkamm 1948:9-37). Veral Augustinus se ‘Enarrationes in Psalmos’  en die klem op die ‘totus Christus’ , die ‘hele Christus’ was besonder waardevol.  Hiervolgens het die psalms nie net oor Christus gepraat nie, maar ook oor sy hele liggaam (of die kerk). Dit is so belangrik dat ons dit weer wil herhaal. Volgens Augustinus wou Christus nooit sonder die kerk, sonder ons wees nie en daarom het die psalms nie net op Christus betrekking nie, maar ook op al die gelowiges wat daaruit lees; die gelowige se verbondenheid met Christus veroorsaak dat die enkele individu ook in die Christologiese uitleg tot sy reg moet kom. Nog anders gestel: die psalms vertel nie net van Christus nie, maar ook van die kerk, van die individuele gelowige; die liggaam van Christus, die kerk is by hierdie Christus van die psalms inbegrepe en daarom kon die gelowige elke psalm toe-eien (vgl Augustinus, In Johannis, 1,1-5).  Soos wat die aardse Jesus deur sy liggaam op die aarde was, so is die verrese Heer deur ons in die wêreld: ‘Wij zijn niet met Christus verenigd “alsof” wij zijn lichaam waren, maar wij behoren werkelijk tot Christus omdat zijn leven het onze geworden is’ (Van Bavel 1970:93).

Hierdie verstaan van die psalms het Luther gehelp om homself in die psalms ‘raak te lees’; om in die psalms ingetrek te word en in die ervaringe van Christus homself te kon ervaar.; om in die woorde, ‘My God, my God waarom het U my verlaat?’ (Ps 22:3), sy eie ervaringe te herken. Omdat Christus nooit van die kerk, van hom (wat Luther was) los was nie, het hy ook deel aan Christus se kruisuitroep en se godverlatendheid gehad. Die verskil was net dat Christus in Luther se plek van godverlate was sodat hy dit nooit hoef te ervaar het nie.

Behalwe Augustinus het die Middeleeuse manier  van eksegese Luther ook gehelp.

 

Die waarde van die tropologie

In sy uitleg van die boetepsalms blyk die Middeleeuse eksegese nog sterk (vgl. Holl 1932: 544-82; Ebeling 1969:48-89; Ebeling 1971:51-4). Hiervolgens was daar vier ‘stappe’: die eerste was die letterlike, die tweede die allegoriese, die derde die tropologiese en die vierde die anagogiese (vgl De Lubac). Die eerste stap was om op die letter van die teks te fokus:  die sigbare woorde in die Ou Testament se teks was belangrik want dit het die verhaal van Israel se geskiedenis vertel. Die volgende stap was die allegorie: die teks is vergeestelik en na die dieper geheime van die teks gesoek. Vervolgens moes die morele betekenis verduidelik word: dit is ook ‘tropologiese eksegese’ genoem en wou op ‘n baie persoonlike vlak die gelowige help om reg te leef; deur middel van hierdie leeswyse is ‘n baie persoonlike kleur aan die Skrif gegee; dit was op die individuele gelowige in die gemeente gerig; dit moes die enkeling innerlik versterk om vroom te leef. Ten slotte is die eksegeet se oog op die toekoms gerig: alle eksegese moes uiteindelik in nadenke oor die wederkoms en hemelse vreugde uitmon

In sy later jare was hy nogal krities oor die ‘vier stappe’ en tydens ’n tafelgesprek het hy dit as ‘Narrenwerk’ afgemaak (WA TR V, 45). Hoe dit ook al sy, in sy vroeë fase het die tropologiese eksegese hom baie gehelp. Dit het hom met sy Reformatoriese deurbraak gehelp (Bornkamm 1948:74-86) want hiervolgens moes alle eksegetiese inligting (wat tot nog toe verkry is) op die individuele gelowige betrek word (Kooiman 1961:27). Met behulp van die tropologie kon Luther sy eie worsteling in donker kleure beskryf, maar ook die persoonlike ervaring van God se genade verwoord (vgl. Ebeling 1964:111-119). Dit het in sy jonger dae nogal by die klooster-eksegese van sy tyd gepas: die uitleg van die Ou Testament was baie eng met die individuele leser se eie lewenservaringe vermeng (Reventlow 1997:84). 

Ter illustrasie let ons op Luther se 1517-verklaring van die boetepsalms. Dié werkie was nogal belangrik want dit belig ook twee ander gebeurtenisse wat later in dieselfde jaar plaasgevind het. Die een was ’n brief en die ander die 95 stellings.

 

Die protesbrief van 1517

Op dieselfde dag, 31 Oktober 1517, waarop Luther die vyf en negentig stellings teen dit kerkdeur vasgeslaan het, het hy ook ’n brief aan die aartsbiskop, Albert van Mainz, geskryf. Daarin het hy die aflaathandel skerp aangeval en gesê dat dit die gewone mense verwar (Luther, Brief).

Aan die begin van 1517 het Pous Leo X besluit om aflate uit te reik. Hy het die mense van Fugger, die Duitse bank wat die kerk se geld hanteer het, besoek. Hulle sou teen ’n goeie kommissie die aflaathandel finansier, monitor en afhandel (Bainton 1965:56-57). Tetzel, ’n Dominikaan, sou weer oral rondreis en die hele projek bestuur. Al die geld sou vir die bou van die St Petruskerk in Rome aangewend word.

Wat Luther geërger het, was die gedagte dat die aflaat al jou sondes vergewe, jou van ewige skuld bevry en ook jou geliefdes uit die vagevuur verlos. Kortom: geloofsekerheid is aan die aflaat gekoppel; sodra die geldstuk in die kas gegooi is, kon iemand van sy saligheid verseker wees; en die aflaatgenade was so kragtig dat selfs die grootste sonde daardeur vergewe kon word (Luther, Brief). Geen berou en geen sondebelydenis was nodig nie want die aflaat het ’n mens van alle pyn, skuld en straf gevrywaar (Luther, Brief).

Saam met sy protesbrief aan Albrecht het hy ook die stellinge gestuur wat hy later die dag aan die kerkdeur vasgespyker het (vgl Bainton 1965:60-64). Albei dié gebeure was die gevolg van Luther se eksegese van die Psalmboek, die Romeinebrief, asook Galasiërs en Hebreërs, wat hy in die jare 1513 tot 1518 indringend uitgelê het (Lohse 1997:43-45). Ons is nie seker nie, maar dalk het Luther sy ‘toringervaring’ voor of tydens die eerste lesings oor die psalms gehad. Later in sy lewe het Luther vertel hoe hy op ‘n dag in sy studeerkamer bo-in die toring van die klooster ‘n antwoord op sy vraag na die geregtigheid van God gekry het. Romeine 1:16 ev het hom gehelp want daarin het hy ontdek dat ‘n mens regverdig word deur die geloof in Jesus Christus (Bornkamm 1948:9-37).

En  die 1517-eksegese-boek gee blyke van dié stryd  en oorwinning .

 

’n Klein werkie op die vooraand van die Reformasie

Tetzel en die aflate was egter nie die groot drywers van die hervorming nie. Iets anders, of dalk baie meer, het oor die jare gebeur. Ons kry ’n kykie in die eintlik dryfkrag agter Luther se optrede in ’n baie interessante werkie oor die psalms wat in Mei 1517 verskyn het. Dit handel oor die boetepsalms en is die resultaat van iets wat al sedert 1513 aan die gebeur was. Luther het in Wittenberg in die plek van Johann Staupitz klasgegee en met die psalms begin. 

In die Voorwoord sê hy dat die Latynse teks van Hieronymus gebruik het as ook die vertaling van die geleerde Johannes Reuchlin. Sy uitleg was nogal boeiend en belig die groei van die ‘reformatoriese idee of teologie’ goed. Toe hy die kommentaar geskryf het, het die ‘groot deurbraak’ reeds gebeur. Luther het reeds ontdek dat die mens niks is nie en dat God se genade alles is. Hierdie Mei-werkie is egter vol spore van ’n verskriklike stryd. Hy het die sewe boetepsalms (Ps 6, 32, 38, 51, 102, 130 en 143) een vir een uitgelê, maar dit is vol verwysings na sy eie worsteling. Elke woord, uitdrukking en ‘emosie’ in die teks het hy verinnerlik en op homself toegepas. In die Voorwoord sê hy ook dat sy verklaring van hierdie psalms in Duits dalk ‘stoutmoedig’ was, maar hy het gehoop dat dit vir gelowiges nuttig sou wees.

Soos te verwagte oorweldig Luther se verklaring van die sewe boetepsalms ’n mens geheel en al. Hy konfronteer die leser met die werklikheid, die mag en die verskrikking van sonde. Voortdurend word beklemtoon dat die mens vasgevang is in die draaikolk daarvan, en dat hy magteloos is om hom aan hierdie greep te ontworstel. Sonde is ‘n sware, treurige en angswekkende las wat alle kragte van die siel uitput en wat nooit met behulp van goeie werke uit die weggeruim kan word nie (WA I, 190). 

Afgesien van sondige woorde, dade en gedagtes, is die mens selfs vanaf sy ontvangenis en die aanvang van sy wese sondig. Van nature is hy ‘n kind van die toorn en sal so bly tot aan die einde van sy lewe (WA I, 188). In ons harte is niks anders as sonde en bose neigings nie. Dit word goed uitge­druk met die woorde ‘my lendene is vol ontsteking’ (Ps 38:8a). Met ‘lendene’ bedoel die psalmskrywer die allergrootste onreinheid wat in die diepste diepte van die hart skuil (WA I, 178). 

Treffend gee Luther in sy kommentaar ook inhoud aan sy eie sielesmart en lyding oor sonde. God se pyle het diep in sy hart geskiet en hy was so intens bewus van al sy sonde en die verskriklike lyding wat dit binne-in hom veroorsaak het (WA:175). Die boetepsalms het aan hom ‘n rykdom van beelde geskenk aan die hand waarvan hy sy eie gevoelens en sy eie swaar gemoed kon verwoord. So vind hy in Psalm 38:5 dan die regte woorde om die stryd in donkerste dieptes van binneste te beskryf: ‘Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos ’n swaar pak het hulle vir my te swaar geword’ (Ps 38:5). Sy sonde het hom innerlik geheel en al neergeslaan. En as die pyle van God se Woord ‘n mens tref, word die grootheid van die sonde net meer intens ervaar, staan jy magteloos, het jy geen verweer nie en ly jy die een vernederend neerlaag na die ander (WA I, 176). 

Vanweë hierdie sondelas voel dit asof hy van God afgesny is en dat hy vir niks anders as die ewige vuur deug nie (WA I, 197). Sy nagte word met geween gevul: ‘Elke nag laat ek my bed swem, ek deurweek my bed met trane’ (Ps 6:7). Sy siel was so ontsteld en het hy in so ‘n worstelstryd oor die sonde verkeer, dat as dit liggaamlik moontlik was, sou hy sy bed met trane deurdrenk het. As sy liggaam hom sou onder­werp aan die siel, wat met soveel hartgrondige berou en smart vervul is, sou dit binne ‘n uur soos sneeu wegsmelt en totaal verdwyn (WA I, 163). Hierdie innerlike stryd was ook uiterlik waarneembaar: ‘My wonde stink, hulle dra vanweë my dwaasheid’ (Ps 38:6). Soos etterende wonde en swere die liggaam onrein maak en sleg laat ruik, so word die sondige gebreke en die smartlike lyding van die siel ‘n bron van verderf en onreinheid (WA I, 177). 

 

’n Kort hermeneutiese opmerking

Hermeneutiek het met verstaan te make. Met die vraag, ‘Hoe verstaan ’n mens die Skrif?’, en Luther se 1517-uitleg is ’n goeie antwoord op dié vraag. Aan die einde van sy kommentaar weet ons nog maar min van die boetepsalms in die Hebreeuse Bybel, bestaan daar nog vele onverklaarde teksprobleme en begryp ons die boetepsalms nie eintlik beter nie. Luther was ook nie hierin geïnteresseerd nie en dit maak ook nie soveel saak nie. Luther se uitleg help ons nie om die psalms te verstaan nie, maar eerder om hóm te begryp; om hom in die moeilike vroeë jare van sy stryd te begryp.

Anders gestel: Luther het nie die boetepsalms verklaar nie, maar dit het hom verklaar; hy het nie die boetepsalms ontsluit nie, maar dit het sý wêreld vir ons oopgemaak; hy het dit nie reggekry om die Skrif te laat spreek nie, maar die boetepsalms het hom as ‘t ware aan die praat gekry; hy het nie die teologie van hierdie psalms verduidelik nie, maar sy uitleg het eerder die aard van sý teologie toegelig; sy verklaring het nie Israel se geloof beskryf nie, maar hy het onbewus sy eie worsteling en insigte verwoord.

En dít is ook mooi want dit laat ons iets van die menslikheid, die broosheid selfs van alle eksegese besef. Dit leer die eksegeet nederigheid want sy beste eksegese skiet steeds te kort.

 

Slot

Indien geskiedenis met herbelewenis te make het (vgl Collingwood), lê die herdenking van die Hervorming in die herbelewenis van die laat-middeleeue en daarna. Dit beteken dat ons Luther (asook Calvyn en die ander) se lewe en denke as ‘t ware weer moet herbeleef en herervaar. En om dit te kan doen, moet ons ons weer in die primêre of oorspronklike bronne verloor, weer in ons verbeelding mense sien, weer hulle stemme hoor, weer hulle ervaring van God se genade herbeleef. 

Luther se ‘Die Seiben Busspsalmen’ van Mei 1517 is daarom ’n goeie begin. 

 

  • · Adam, A 1968. Lehrbuch der Dogmengeschichte,   Vol 2. Gütersloh: Gütersloher Verlagshaus Mohn. 
  • · Aland, K 1970. Hilfsbuch zum Lutherstudien. Witten 
  • · Augustinus. In Johannis evangelium tractatus. http://www.ccel.org/ccel/schaff/npnf107.iii.ii.html
  • · Bainton, R 1964. Here I stand. New York: Mentor Books.  
  • · Bakhuizen van den Brink, J N 1965. Handboek der kerkgeschiedenis. Den Haag: Bert Bakker.
  • · Bornkamm, H 1948. Luther und das Alte Testament. Tübingen: JCB Mohr.
  • · Bornkamm, H 1979. Martin Luther. Gottingen: Vandenhoeck & Ruprecht.  
  • · Cranach, L – Google cranach luther en sien onder andere die volgende webwerwe:

http://www.metmuseum.org/toah/works-of-art/55.220.2

http://www.google.com/images?client=safari&rls=en&q=cranach+luther&oe

  • · De Lubac, H 1998. Medieval exegesis,  Vol 1. Grand Rapids: William B Eerdmans. 
  • · De Lubac, H 2000. Medieval exegesis,  Vol 2. Grand Rapids: William B Eerdmans. 
  • · Ebeling, G 1947. Kirchengeschichte als Geschichte der Auslegung der Heiligen Schrift. Tubingen: JCB Mohr (Paul Siebeck). 
  • · Ebeling, G 1964. Luther. Tubingen: JCB Mohr (Paul Siebeck).  
  • · Ebeling, G 1969. Evangelische Evangelienauslegung. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.  
  • · Ebeling, G 1971. Lutherstudien,  Vol 1. Tübingen: JCB Mohr (Paul Siebeck). 
  • · Holl, K 1932. Luthers Bedeutung für den fortschrift der Ausle­gungskunst, in Gesammelte Aufsätze zur Kirchengeschichte, Vol 1. Tubingen: JCB Mohr (Paul Siebeck). 
  • · Kooiman, W J 1961. Luther en de Bijbel. 2e druk. Baarn: Bosch & Keuning. 
  • · Kooiman, W J 1962. Luther. 6e druk. Amsterdam: W Ten Have.  
  • · Lohse, B (red) 1980. Die Lehrentwicklung im Rahmen der Konfes­sionalität. Gottingen: Vandenhoeck & Ruprecht. 
  • ·   Lohse, B 1997. Martin Luther. Eine Einführung in sein Leben und sein Werk. 3 Auflage. München: C H Beck.
  • · Luther, M 1517. Brief: Aan Aartsbisschop Albrecht van Mainz. Gereformeerde Bibliotheek, XVIII,
  • · Luther, M 1517. Die Sieben Busspsalmen 1517, in D. Martin Luthers Werke I. Kritische Gesamtausgabe, Wiemarer Lutherausgabe. Weimar: Hermann Bohlaus. (Hierna afgekort as WA).   
  • · Pelican, J 1959. Luther’s works. Companion volume I. Saint Louis: Concordia Publishing House.
  • · Schoeman, K 1998. Verliesfontein. Kaapstad: Human & Rousseau.  
  • · Van Bavel, T J 1970. Augustinus. Van liefde en vriendschap. Baarn: Het Wereldvenster.
Share this / Deel hierdie: