Voordat ons by die negentiende eeu kom eers iets oor die onttowering van die wêreld deur die sestiende en sewentiende eeuse natuurwetenskappe. Eeue lank het die Bybelse wêreldbeeld die vertrekpunt van alle natuurstudie gevorm. Hiervolgens was alles so eenvouidig en duidelik: die aarde was plat en die son en die ander hemelliggame het om die aarde gedraai. Dit was eintlik so ‘n wonderlike teorie wat soveel gemoedsrus verskaf het: die aarde, die mens het die middelpunt van God se heelal gevorm en alles (son, maan, sterre) het om die mens en sy wêreld gedraai; die mens was die heelal se sentrum en alles het om hom gewentel; die aarde het op sy pilare gestaan en die mens kon gerus en veilig voel. Natuurwetenskaplike kennis vanaf die sestiende en sewentiende eeur het dié gevoel van geborgenheid egter finaal vernietig (vgl De Knijff 1980:100-102).

Die Reformasie se snaakse impuls

Die Protestantse reaksie teen die ‘nuwe wetenskap’ was skerp. Veral dié van Luther en Calvyn. Vir Luther was Kopernikus bloot ‘n beginner, ‘n amateur wat nie veel geweet het nie en wat tevergeefs probeer het om die ganse natuurwetenskap van sy dag om te keer. Calvyn (van alles mense) was ook vol kritiek en het die onbeweeglikheid van die aarde en sy vaste fondamente beklemtoon. Kopernikus se insigte was maar (volgens Calvyn) gebrekkig en dit sou nooit die Bybelse waarhede oor die onbeweeglike aarde kon vervang nie. So erg was die verset dat Osiander, die uitgewer van De Revolutionibus en ook ‘n Protestant, sonder Kopernikus se medewete iets by die Voorwoord gevoeg het: Kopernikus se sieninge was ‘n blote teorie en nog geen vaste waarheid nie (vgl Methuen 2008b:3-20). 

En tog was die Reformasie ook ‘n belangrike natuurwetenskaplike stimulus. Miskien kan ons dit aan die hand van ‘n besluit op 8 April 1546 deur die Konsilie van Trente verduidelik. Op dié dag is iets belangrik oor Skrifinterpretasie gesê: in sake dei geloof en die morele lewe (‘in rebus fidei et mores’)  mag niemand op sy eie insigte en oordele vertrou nie; niemand moes dit waag om die Skrif anders as die kerk te verklaar nie; geen ander interpretasie as dié van die kerk sou geduld word nie. Selfs nie eers ‘n verklaring wat met die patres, die vroeë kerkvaders verskil, is aanvaar nie (Blackwell 1991:9-14).

Die Reformasie het dinge vir die natuurwetenskaplike egter makliker gemaak want ‘n atmosfeer is geskep waarin die vryheid van die individu beklemtoon is, en die gelowige en Bybelleser van kerklike dwingelandy bevry is. Elkeen moes vir sy eie interpretasie verantwoordelikheid neem en was aan geen hoër instansie verduideliking verskuldig nie.

Wetenskap en kerk

Natuurwetenskappe in die sestiende en sewentiende eeue was so nuut, opwindend en kreatief, maar ook gevaarlik. Die alomteenwoordige kerk het niks afwykend geduld nie en vir die ‘nuwe’ natuurwetenskaplikes was daar slegs een uitweg. Hulle moes hulle natuurwetenskaplike insigte met die Bybel, veral die Ou Testament, in verband bring; alle nuwe insigte moes ook in ooreenstemming met die Ou Testament wees.

‘n Mooi voorbeeld is dié van Michael Maestlin (1550-1631), een van die vroeë sestiende eeuse natuurwetenskaplikes wat die geosentriese model van die heelal verwerp het. Hiervolgens was die aarde die sentrum van die heelal en alles het daarromheen gedraai, maar die ontdekking van ‘n nova (of ‘n nuwe ster) in 1572 asook nuwe komete in 1577, 1578 en 1581 het mense soos Maestlin anders oor die heelal laat nadink (Methuen 1997:499-515). Hy moes egter mooi trap anders was kerk op hom,  maar hy het toe ‘n uitstekende verklaring bedink. Volgens hom moes die oproep in die psalms om die God van die Skepping te loof, ‘natuurwetenskaplik verstaan’ word. Om die Skeppergod te loof, het geïmpliseer dat ‘n mens die natuur fyn moet bestudeer, dit baie noukeurig sal waarneem en presies sal neerskryf. Op dié manier leer ons hoe skepping saamgestel is en hoe dit funksioneer (Methuen 2008:669-670). En hierdie kennis wat deur deeglike studie verkry is, het ons die nodige insig verskaf om God reg te loof. Dít, so het Maestlin verder geredeneer, sou ons ook help om die ou uitgediende geosentriese siening te verwerp omdat dít nie die egte ‘natuurkennis’, wat vir die lof aan die Skeppergod nodig is, verskaf nie (vgl Foucault 2002 & 2009).

Kopernikus draai alles om

Maestlin het ‘n student aan die Universiteit van Tübingen gehad met die naam van Kopernikus wat ook baie fyngevoelig vir kerklike inmenging was. Nicolaus Kopernikus (1473-1543) het ook hierdie rustelose drang na studie en ondersoek gevoel en hy sou letterlik die wêreld omkeer. Hy het ook gemeen dat deur harde werk, noukeurige waarnemings en fyn wiskundige analises die mens inderdaad sonder die Bybel die diepste geheimenisse van die natuur kan ken en beskryf. Uiteindelik het hy die son anders begin verstaan en dít het ‘n omwenteling in die kerk en teologie veroorsaak. Volgens hom was dit nie die son wat om ons draai nie, maar ons om die son; die aarde staan nie vas nie, maar dit draai op sy eie as om die son; die aarde beweeg en skep valslik die indruk asof ons stilstaan en dat dit slegs die son en maan is wat beweeg. Kopernikus se heliosentrisme (waarvolgens die son die aarde as vastepunt vervang het) was gevaarlik (Methuen 2008a:665-690).

Die idee van ‘n bewegende aarde was vir kerk en teologie onaanvaarbaar. Trouens, Kopernikus het ook hierdie spanning aangevoel en daarom wou hy nooit sy groot werk, De Revolutionibus, publiseer nie. Eers aan die einde van sy lewe het hy ‘n vriend toegelaat om die manuskrip van Pole na ‘n Duitse uitgewer te neem. In die voorwoord dra hy die boek aan die pous op en sê dat hy maar altyd versigtig was om die volle konsekwensies van sy insigte bekend te stel. Op sy sterfbed is daar uiteindelik ‘n uitgawe van sy boek aan hom gegee (Methuen 2008a:673).

Kopernikus se werk was verdag omdat dit duidelike Ou Testamentiese uitsprake oor die son, maan en beweging ondermyn het. In Psalm 93:1 word tog duidelik gesê die aarde staan vas: ‘Die wêreld staan vas, dit wankel nie’. Selfs Prediker 1:5 is teen Kopernikus gebruik wat uitdruklik word van ‘n bewegende son gepraat: ‘Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom’. Josua 10:13 het ook bevestig dat die aarde stilstaan en son en maan beweeg: ‘ … die maan het nie geroer nie … Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna ‘n volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie’ (Hübner 1990:591-595).

Hoe ontkom ‘n mens uit die knelgreep van sulke denke? Enersyds deur die ondermyning van ‘n letterlike interpretasie en andersyds deur die klem op die Ou Testament se historiese bepaaldheid. ‘n Letterlike lees van die Ou Testament was nie noodwendig ‘n verstokte en naïewe manier van lees nie. Philip Melanchton van Wittenberg was byvoorbeeld ‘n groot voorstander van die destydse natuurwetenskappe. Hy het noukeurige navorsing en presiese optekening aangemoedig en was selfs vol lof vir Kopernikus, maar hy kon nie sy heliosentrisme aanvaar nie. In sy hermeneutiek het Melanchton die ‘claritas’, die helderheid en die ‘perspicuitas’, die duidelikheid van die Ou Testament beklemtoon en vir hom was die psalms baie helder en duidelik oor die bewegende son: ‘Vir die son is daar in die hemel ‘n tent opgeslaan. As hy stralend begin om sy baan te volg … Aan die een kant van die hemel kom hy op en aan die ander kant gaan hy onder’ (Ps 19:5-7) (Westman 1975:164-193).

Kopernikus moes ook antwoord. Vir hom was dit duidelik dat die Ou-Testamentiese uitsprake oor die skepping nie letterlik verstaan moet word nie. Die Bybel is vir spesifieke mense in spesifieke omstandighede geskryf en God het by hulle begripsvermoë aangesluit en daarom is alles eenvoudig gestel. Studie van die hemelruim verg ‘n ander taal en instelling.

Die taal van die astronomie is wiskunde en fisika

Johannes Kepler (1571-1630) het soos sy leermeester Maestlin hom ook op die psalms beroep: deur die studie van die hemelruim kon ‘n mens as ‘t ware die inhoud vir jou lof aan die Skeppergod kry. Daar was egter ‘n probleem: die Ou Testament kon jou nooit die metodes verskaf om die hemelruim te ontleed nie nog minder die wette waarvolgens die hemelruim beweeg. Dít kon slegs die wiskunde en die fisika voorsien. Met behulp van Luther se onderskeiding tussen wet en evangelie het Kepler ‘n duidelike onderskeid tussen die taal van die Bybel en die taal van die astronomie of ‘natuurlike filosofie’ gemaak. In die Bybel lees ons die taal van die geloof en die evangelie, maar die taal van die wiskunde en fisika is totaal anders (Methuen 1998:2-100).

Volgens Kepler is die taal van die Ou Testament eenvoudig en word op ‘n alledaagse manier oor die hemelruim gepraat. As Josua bid dat die son moes stilstaan, was dit nie ‘n natuurwetenskaplike uitspraak nie. Josua het niks van die wiskunde of fisika geweet nie, en hy het dit maar net vertel soos wat die mense dit op dié spesifieke dag ervaar het. En as Psalm 19 van die bewegende son praat, is dit poëtiese en nie natuurwetenskaplike taal nie. In elk geval het Kepler gemeen dat die son wat in die ooste opkom en in die weste ondergaan eerder op die verspreiding van die evangelie oor die hele wêreld dui (Methuen 2008a:676-679).

Hiermee het Kepler die historiese aard van die Ou Testament netjies aangedui: die teks (dat die son byvoorbeeld stilgestaan het) moes nie letterlik verstaan word nie, maar moes as die ervaringe van mense in ‘n spesifieke tyd begryp word; dit beskryf nie iets wat werklik in die natuurwêreld gebeur het nie, maar is eerder die taal van die geloof.

‘n Teleskoop en ‘n nuwe wêreld

Kopernikus se rewolusie is deur Kepler bevestig en was onstuitbaar op ‘n oorwinningstog. Dit is deur hoëvlak wiskunde en fisika begrond en die bestaande paradigma was aan die kwyn. Toe Kepler in 1609 sy boek oor die beweging van die hemelliggame in Praag gepubliseer het, het Galileo begin om met sy pasvoltooide teleskoop die hemele te ondersoek en wat hy gesien het, was asemrowend. Kraters en berge op die maan, bewegende vlekke op die son, die vier mane om Jupiter, Venus se groeifases en die ontelbaar sterre het net op een ding gedui: Kopernikus was reg (Tarnas 2000:258). Na maande se waarneming en optekening het Galileo ‘n boek geskryf, ‘Sidereus Nunctus’, wat ‘n Europese treffer geword het. Galileo se teleskoop het alles verander: die heliosentrisme was nie net ‘n blote wiskundige berekening nie, maar kon ook fisies, empiries bewys word. Al hoe meer mense het deur ‘n teleskoop begin loer en wat het hulle gesien? Die nuwe Kopernikaanse heelal (Tarnas 2000:259).

So maklik was dinge ook nie. Die Inkwisisie het toegeslaan en Galileo moes bely, standpunte terugtrek en in afsondering leef. Dit was hard, maar ons moet ook die kerk van destyds verstaan. Eerstens, die Reformasie het die een kerk reeds uitmekaargeruk en verdere afsplintering moes verhoed word. Die kerk kon nie stilsit en toekyk hoe die bestaande wêreldbeeld, wat soveel sielevreugde oor soveel eeue verskaf het, net so afgemaak word nie. Tweedens, die pous was by vele politieke konflikte betrokke en die ‘nuwe wetenskap’ het sy posisie verswak. Derdens, het die geval Giordano Bruno nog vlak in die kerk se onderbewussyn gelê. Hy het ook die ‘nuwe wetenskap’ ondersteun, maar moes in 1600 met sy lewe daarvoor betaal. So iets moes vermy word. Vierdens, het die ontdekking van die drukpers en Galileo se galante Italiaanse skryfstyl die mense oorrompel en dit moes gestop word.

Galileo moes ook teologies geantwoord het. En vir sy verdediging het hy swaar op Augustinus se ‘De Genesi ad litteram’ geleun. Hiervolgens moes ons nooit op die Ou Testament (of die Bybel) as ‘n bron van kosmologiese inligting bou nie; nooit kon die Ou Testament oor die onstaan van die hemelruim reg inlig nie want die Bybel het ‘n totaal ander doel gehad: dit wou die gelowige versterk en met die regte lewenspad help. Kortom: ‘he wished to distinguish clearly between theological questions, subject to and of biblical hermeneutics, and questions of natural philosophy, for which Scripture could not be seen as authoritative’ (Methuen 2008a:684).

Slotsom

In die sestiende en sewentiende eeue moes die natuurwetenskaplike ook op ‘n manier Bybelwetenskaplikes wees, maar die natuurwetenskap het hom toenemend aan die kerk ontworstel en sy eie pad geloop. Natuurwetenskaplikes het nie meer die kerk en die Bybel vir hulle werk nodig geag nie. Met die opkoms van die wiskunde en baie verfynde wetenskaplike metodes kon wetenskaplikes sonder Bybelse insigte die natuur se geheime ontrafel en beskryf. Die natuur, en nie die Bybel nie, het die ‘boek’ geword waaruit ‘n mens iets van God kon leer ken. En wie die Ou Testament lees, moes die skeppingsverhale radikaal anders verstaan en Israel se wêreldbeeld anders hanteer. 

Bronnelys

  •  · Blackwell, R J 1991. Galileo, Bellarmine and the Bible. Notre Dame: University of Notre Dame Press.
  • · De Knijff, H W 1980. Sleutel en slot. Kampen:Kok.
  • · Foucault, M 2002. The archaelogoy of knowledge. London: Routledge.
  • · Foucault, M 2009. The order of things. London: Routledge.
  • · Gadamer, H-G 1990. Wahrheit und Methode. Tübingen: JCB Mohr.
  • · Hübner, J 1990. Kopernikus, Nikolaus, TRE 19, 591-595.
  • · Losee, J 1987. A historical introduction to the philosophy of science. Oxford: University Press.
  • · Methuen, C  1997. ‘This comet or new star’: theology and the interpretation of the nova of 1572,” in: Perspectives on Science 5 (1997), 499-515.
  • · Methuen, C 1998. Kepler’s Tübingen: Stimulus to a Theological Mathematics. Aldershot: Ashgate.
  • · Methuen, C 2008a. On the threshold of a New Age, in in Sæbø, M (ed), Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings, vol 2, 665-690. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • · Methuen, C 2008b. Science and Theology in the Reformation: Studies in Theological Interpretation and Astronomical Observation in Sixteenth Century Germany (T & T Clark: London 2008).
  • · Oberman, H A 1988. Luther. Mens tussen God en duivel. Kampen: J H kok.
  • · Reventlow, H G 1997. Epochen der Bibelauslegung, III. München: C. H. Beck’sche Verlagsbuchhandlung.
  • · Tarnas, R 2000. The passion of the western mind. London: Pimlico.
  • · Westman, R S 1975. The Melanchton circle, Rheticus, and the Wittenberg interpretation of the Copernican theory, Isis 66, 164-193.
Share this / Deel hierdie: