Vanaf Simon, Astruc en De Wette bied die studie van die Pentateug ‘n besondere perspektief op die geskiedenis van die Ou Testament se uitleg en verstaan. Deur die Pentateugkritiek verstaan ons iets wat die afgelope twee honderd of wat jaar op die werf van die Ou-Testamentiese wetenskap gebeur het. Dit het soveel insigte ontsluit dat die Pentateugkritiek soms die trots, die blinkende ster van die wetenskaplike studie van die Ou Testament genoem is.

Ons verstaan van die boeke Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium het ‘n lang pad gekom en in hierdie artikel fokus ons veral op die bydraes van Simon, Astruc en De Wette.

Dit kom van ver af

Dit is merkwaardig hoe die wetenskap op sekere impulse reageer. Ons kan sê dat die wetenskap histories bepaald is. Mense in ‘n bepaalde tyd kyk na die wêreld op ‘n spesifieke manier en ontwerp dan woorde, begrippe en denkstyle om hulle besondere perspektief te verwoord en uit te druk. Met verloop tyd groei hierdie benadering tot ‘n navorsingstradisie wat die wêreld op ‘n spesifieke manier verstaan en verwoord (vgl Graf 2007:93-99).

Wetenskaplikes met dieselfde benadering begin dan hulle metode meer verfyn en duideliker artikuleer. Op dié manier word die wetenskap dan ‘n sosiale gebeurtenis waaraan baie mense meewerk. Dus: ‘wetenskaplike aktiwiteit is altyd die aktiwiteit van ‘n bepaalde groep of ‘n individu wat tot die groep behoort. En ook dit wat wetenskaplik as waar gesien word, is dus altyd vir ‘n bepaalde groep binne ‘n bepaalde paradigma of navorsingstradisie waar’ (Van Huysteen 1986:68-69).

Dít is ook van die studie van die Pentateug (Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium) waar. Ons kan sê dat die Pentateugkritiek as ‘t ware histories bepaald is: dit is deur mense in ‘n bepaalde tyd geslyp, het ‘n bepaalde ‘kyk’ op die Pentateug gevorm en het spesifieke woorde, begrippe en denkstryle ontwikkel met behulp waarvan ons die Pentateug kon bestudeer. Die manier waarop mense soos Wellhausen, Von Rad, Eckart Otto en andere die Ou Testament en veral die Pentateug (Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium) verstaan het, het nie sommer uit die lug geval nie, maar het oor baie jare tot stand gekom (vgl Houtman 1980).

Daar is dus ‘n lyn van sêmaar Jean Astruc en Wilhelm Martin Leberecht De Wette tot vandag toe. Nie altyd reglynig of sonder breuke nie, maar daar is tog iets van ‘n goue draad wat die Ou-Testamentiese wetenskap van die afgelope twee honderd of wat jaar deurkruis. Soms het hierdie draad weggeraak of verdof, maar die Pentateugkritiek van die afgelope eeu het ons denke verander en ons totaal anders na die Pentateug/Ou Testament laat kyk. Selfs al het mense dit verwerp, moes hulle hulle tog op die en of ander manier daarmee rekening hou (Van Seters 1999:30-86).

Gister se interpretasies help ons vandag

Ons kan dit ook met die woordjie ‘Wirkungsgeschichte’ omskryf. Die filosoof Hans-Georg Gadamer het dit gebruik om te sê dat al die eeue lange interpretasies (van sêmaar die Pentateug) geen stowwerige argiefmateriaal of verouderde werke is wat sinloos op boekrakke hoef te staan nie. Dit kan ‘n mens help om (die Pentateug) te verstaan. Dit kan interpretasies van ’n teks verskaf waarvan ons nooit geweet het nie of waarvan ons vergeet het (Gadamer 1990:305-312). Die ‘Wirkungsgeschichte’ is ‘n historiese beweging wat nou nog hier en nou (bewustelik of onbewustelik) die lees van tekste (van die Pentateug) en die verstaan van geskiedenis (van Israel) beïnvloed (Gadamer 1990:346-352). ‘n Teks se verstaan word mede deur die geskiedenis van die interpretasies daarvan bepaal. ‘n Mens kan nooit ‘n teks op sy eie of opsigself verstaan nie.

Wanneer ons dus die Pentateug lees, is ons nooit alleen nie want die teks se ‘verlede’, se vorige interpretasies praat in die eksegetiese proses mee. Verstaan is dus nie soseer ‘n objektiewe handeling van ‘n subjek (of leser of eksegeet) nie, maar eerder ‘n proses waarin ons deel van ‘n teks se verstaansgeskiedenis gemaak word (Gadamer 1990:295). Ons word as ‘t ware in die geskiedenis van die uitleg ingetrek en een daarmee gemaak (Gadamer 1993:101).

Gadamer illustreer dit aan die hand van die moderne teater. Alle belangrike dramas is al soveel keer opgevoer dat ‘n bepaalde interpretasietradisie ontstaan het. Wie ‘n bepaalde drama opvoer, het dus al hierdie interpretasiemoontlikhede tot sy/haar beskikking. Dit is egter belangrik om daarop te let dat al hierdie interpretasies vanuit die omgang met die dramateks gegroei het. Mettertyd het dit by wyse van spreke aan die teks vasgegroei. Wie hom/haar dus met die interpretasiegeskiedenis besighou, is ook primêr met die teks besig. Deur hierdie interpretasiegeskiedenis (of navorsingsgeskiedenis) verkry die leser toegang tot die verstaan van die teks. Kortom: die talle interpretasies van ‘n teks (van die Pentateug) kan ‘n mens help om te verstaan (Gadamer 1990:124).

As ons hier en nou die Pentateug lees, moet ons nie maak asof ons dit vir die eerste keer lees nie, maar moet ons dit in die lig van die Pentateugtradisie vanaf 1678, 1753 en veral 1805 verstaan. In dié tradisie is die allermooiste en allerdiepste insigte oor die Pentateug saamgepars en ons moet dit probeer ontsluit deur die gang van die interpretasie oor die eeue te verstaan.

Simon is die eerste wat ons bespreek. Hy het probleme in die teks raakgesien, dit verwoord en toe ‘n duur prys betaal.

Richard Simon: ‘n ontnugterde priester

‘n Kritiese of wetenskaplike studie van die Pentateug was van die begin af ‘n gevaarlike onderneming. So het Richard Simon het dit aan sy lyf ervaar. Hy was ‘n Franse priester wat die Pentateug intensief bestudeer en Moses se outeurskap bevraagteken het.

Daar was veral vier dinge wat hom gehinder het. Een was die anakronismes. Sekere gebeure kon tog nie in Moses se tyd plaasgevind het nie. Daar was ook net te veel herhalinge wat Simon aan latere skrywers of samestellers toegeskryf het. Hierdie samestellers het die verskillende weergawes op ‘n slordige wyse bymekaargevoeg en dit het tot verwarring gelei. ‘n Voorbeeld volgens hom is die sondvloedverhaal (Gen 7:17-24). As dit die verhaal van een outeur was, sou hy die herhalinge vermy en die verhaal beter afgewerk het (Rieger 2004:1327). 

Die volgorde van hoofstukke in die Pentateug het ook gepla. Hy skryf dit daaraan toe dat die latere skrywers wat die Pentateug oorgeskryf het, op klein boekrolle en los bladsye geskryf het en dat alles op ‘n stadium deurmekaar geraak het. So word daar in Genesis 1:27 na die vrou verwys voordat sy nog geskep is. Die verskillende stylvorme in die Pentateug het Simon ook teen Moses laat besluit. Hierdie verskille het Simon dan probeer verklaar deur Moses  se bydrae tot die neerskryf van wette en gebooie te beperk. Ander skrywers het weer verantwoordelikheid vir ander dele van die Pentateug geneem (Graf Reventlow 2001:88-89).

Na Moses se dood het die werk aan die Pentateug voortgegaan. Materiaal is voortdurend bygevoeg, uitgelaat en geredigeer en dié redaksieproses het tot in die tyd van Esra voortgeduur. ‘n Verskeidenheid skrywers het dus tot die ontstaan van die Pentateug bygedra. Vanaf Moses tot Esra was daar ‘n onderonderbroke oorleweringsproses waarin die tradisies van Israel lewend gehou en aan die nageslag oorgelewer is. En wat ons tans in die Pentateug het, is ook maar net ‘n soort uittreksel uit ‘n massa geskrifte en bronne is wat ons nie ken nie  (Graf Reventlow 2001:90-92; vgl Bartuschat 2004:1579-1582).

Simon het dit toe alles in 1678 in ‘n boek Histoire Critique du Vieux Testament gepubliseer. Een duisend drie honderd is gedruk wat nogal baie vir dié tyd was. Dit het hom egter duur te staan gekom: hy is uit sy orde ontslaan, uit die Rooms-Katolieke kerk van destyds geban en die hele oplaag van sy boek is vernietig. Vir Simon was dit verpletterend. Hy wou tog nooit die Pentateug en die Ou Testament se gesag ondermyn nie, en hy wou ook nooit sy kerk ondergrawe nie. Al wat hy eintlik wou doen, was om die gebrekkige Protestantse Skrifbeskouing aan die kaak te stel. Volgens hom het die Protestante die gesag van die Pentateug van Moses se outeurskap laat afhang. En dit was verkeerd! Die inspirasie van die Pentateug of die Ou Testament het tog niks met outeurskap te make nie. Genesis het steeds vir die gelowige en die kerk gesag al het Moses dit nie geskryf nie (Houtman 1980:40-42).

Vir Simon was alles helder en klaar, maar ander het nie so gedink nie. Spanning met die kerk ander groepe het sy lewe moeilik gemaak, maar sy bydrae tot die Pentateug se verstaan was belangrik. Hy het teksprobleme aangedui en gesê dat die Pentateug oor ‘n lang tyd ontstaan en dat baie daartoe bygedra het.

Jean Astruc: Moses het die oorspronklikes in sy hande gehou

In 1753 het ‘n boek verskyn ‘whose title every theology student even today should commit to memory’ (Smend 2007:7). En die titel was: Conjectures sur les memoires originaux. Regonder die titel het woorde van Lucretius verskyn: ‘Ek het op onbegaanbare paaie geloop en op plekke gekom waar niemand anders dit nog gewaag het nie’. Opvallend is dat die outeur se naam ontbreek. Hy was maar skrikkerig om sy naam te plaas, maar almal het egter geweet dit is deur die mediese dokter en hoogleraar in medisyne Jean Astruc geskryf. Hy was bang dat die boek ‘n storm sou ontketen en dat vrydenkers dit sou gebruik om die Pentateug se gesag te ondermyn. ‘n Vroom vriend het hom egter oortuig om met publikasie voort te gaan omdat die boek heelwat van Genesis se probleme sou verklaar. En tot ‘n groot mate het Astruc se boek inderdaad gehelp om Genesis anders te lees en te verstaan (Houtman 1980:51-57).

Astruc se probleem het by Genesis gelê. Soos Calvyn twee eeue vroeër, het Astruc gewonder waar Moses al die inligting wat in Genesis staan, gekry het. Gegewens oor die skepping, die mens se val, Abraham, ensovoorts moes tog êrens vandaan gekom het. Moses se tyd het eers in Eksodus 3 begin en vanaf daardie punt beskryf hy wat hyself beleef het. Waar het hy egter die Genesismateriaal gekry? Het moes sekerlik bronne gebruik het, maar was dié mondeling of skriftelik? Klaarblyklik was dit nie mondelings nie want daar was net te veel detail (soos in die geslagsregisters) wat oorgelewer en onthou moes word. Dus: Moses het skriftelike bronne gebruik (Smend 2007:7).

Astruc sê dan amper aangrypend dat Moses die oorspronklike skriftelike weergawes van Israel se vroeë geskiedenis in sy hande gehou en gevoel het. Moses het dit met die grootste sorg hanteer en wou dat niks verlore gaan nie. Hy het toe begin om hierdie bronne volgens gebeure (soos die twee skeppingsverhale in Gen 1 en 2) bymekaar te sit en te rangskik. Nadat hy alles wat bymekaar hoort, saamgesit het, het hy dit agtermekaar geplaas sodat die gebeure logies op mekaar volg. Alles saam is toe ‘Genesis’ genoem (vgl Graf Reventlow 2001:213, 285).

‘n Mens kan Moses se lapwerk vandag nog op verskillende maniere in die teks raaksien. Jy moet net fyn lees en op ‘n paar ‘merkers’ let: die herhaling van dieselfde gebeure, die wisseling van die godsname Elohim en Jahwe, die afwesigheid van hierdie wisseling in die res van die Pentateug (veral vanaf Eksodus 3 waar Moses se eie verhaal begin), en ten slotte anakronismes. En as jy dit in die teks raakgesien het, kan jy begin om die teks uitmekaar te haal om die oorspronklike dele te identifiseer en Moses se werksplan te verstaan.

Om dit nog ‘n keer te sê. Moses het skriftelike bronne vir die samestelling van die boek Genesis gebruik en dit op ‘n bepaalde manier gerangskik. Volgens Astruc kan ons nou nog iets van die wonder van hierdie bronne sien as ons ‘n skerp oog vir die herhalings in die teks, die godsname, ensovoorts ontwikkel (Smend 2007:8).

En dit is presies wat Astruc gedoen het. Hy het dit gewaag om Genesis as ‘t ware te ontbondel. Deur middel van fynlees het hy die nate in die teks raakgesien. Met ander woorde: hy het die lasplekke van die verskillende dele of bronne probeer ontdek. En dit kon hy regkry deur op die godsname te let. As daar in ‘n aantal verse of hoofstukke die naam Jahwe of Elohim voorkom, het Astruc opgewonde begin raak. Dit was vir hom die eerste teken dat hy een van Moses se oorspronklike skriftelike bronne raakgelees het. En as hy ook nog ‘n anakronisme of die herhaling van ‘n gebeurtenis raakgesien het, dan het hy geweet: híér het hy iets van die vroegste kors of laag van die oorspronklke bronne raak geboor. Hy kon dan nou met die delikate proses van herwinning van dié bronne begin (Smend 2007:9-14).

Astruc sê dit was eintlik nie so moeilik nie want hy moes net die gedeeltes wat bymekaar hoort bymekaar gesit. In Kolom A het alles gekom waar die naam Elohim in voorkom. Op dié manier kon hy al die verse of fragemente waarin dié naam voorkom, maklik raaksien. Daar was ook ‘n Kolom B waarin al die tekste wat Jahwe gebruik, geplaas is. Astruc het ook nog ‘n Kolom C geskep waarin alle gedeeltes wat nie Jahwe of Elohim gebruik nie, geplaas is. Die sondvloedverhaal is ‘n voorbeeld. Inligting word drie keer herhaal, maar sonder die godsname en daarom het Astruc ‘n aparte kolom geskep. In Kolom D het Astruc alle tekste geplaas wat moontlik aan buurvolke ontleen is. Met ander woorde teksgedeelte wat nie oor Israel handel nie, maar oor ander volke. Kolom D het as ‘t ware inligting oor ander nasies verskaf. Soos byvoorbeeld die verwysing na Ketura en Ismael se nageslag (Gen 25:1-6; 12-18) (Houtman 1980:54-55).

Astruc het geweet dat hy hiermee die teks- en hoofstukvolgorde van Genesis heeltemal omvergegooi het, maar hy het nie eintlik omgegee nie want hy wou by die oorspronklike bronne waaraan Moses gevat en wat hy herskryf het, kom.

Wilhelm Martin Leberecht De Wette: ‘n voetnoot se invloed

De Wette wou nie eintlik die Pentateug as bron vir die rekonstruksie van Israel se vroeë geskiedenis gebruik nie. Dit het geen historiese waarde nie en moes eerder as ‘n geloofsboek hanteer word. Dit is nie ‘n geskiedenisboek nie, maar ‘n werk wat van Israel se geloof vertel (vgl Jüngel 2004:904-919). Indien ons die Pentateug/Ou Testament as historiese bron wil gebruik om ‘n presiese geskiedenis te skryf, ondermyn ons dit eerder. Vir die historikus het De Wette daarom net een stukkie raad gehad: Moenie ‘n geskiedenis van Israel skryf nie, maar lees die Pentateug eerder as ‘n geloofsboek wat die lesers se geloof wou versterk (Smend 2007:47).

En tog het De Wette in 1805 ‘n opmerking gemaak wat ‘n soort Archimedespunt, ‘n soort vastepunt vir die historiese datering van die Pentateug en die ander dele van die Ou Testament geword het. Dit het in ‘n voetnoot in sy Latynse proefskrif (Dissertatio critica qua a prioribus Deuteronomium pentateuchi libris diversum, alius cuiusdam recentiori auctoris opus esse monstratur) gestaan. Daarin het hy belangrike band tussen Josia se reformasie en die boek Deuteronomium gelê. Die proefskrif was nie lank nie, maar net sestien bladsye en tog het dit die Pentateugnavorsing ingrypend beïnvloed. ‘n Jaar of wat later het De Wette ‘n belangrike werk, Beiträge zur Einleitung in das Alte Testament, gepubliseer waarin hy sy denke verder uitgewerk het (Smend 2004:1499-1502).

Om De Wette se opmerking te verstaan, let ons eers Josia, die koning van Juda se reformasie in 622 vC. Volgens die Koningsboek het Josia in sy agtiende jaar opdrag gegee dat die tempel opgeknap en skoongemaak moet word. In die proses het die hoëpriester Gilkija die ‘wetboek’ ontdek en dit toe via Safan aan die koning oorhandig. Josia was onsteld toe hy dele uit die boek aangehoor het en het terstond ’n afvaardiging na die profetes Gulda gestuur (2 Kon 22:1-20).

Gulda se woorde het Josia tot die daad aangespoor en hy het met ’n hervorming begin wat geen gelyke in die geskiedenis van Juda geken het nie. Hy het begin om al die beelde van Baäl en Asjera en al die hemelliggame wat sy oupa, Manasse, en sy pa, Amon, oral opgerig het, met geweld te verwyder. Verder het hy alle aanbidding van Jahwe in Jerusalem gesentraliseer en ’n verbond met Hom gesluit (2 Kon 23:1-27) (Berlejung 2009:117-121).

Dié stukkie geskiedenis tussen 622 en 609 vC in Jerusalem vorm die agtergrond vir De Wette se voetnootopmerking (Barth 1975:408-416).

Deuteronomium se andersheid

Die groot vraag was wat met die ‘wetboek’ en ‘die boek van die verbond’ bedoel is. Volgens De Wette was dit ’n vroeë vorm van die boek Deuteronomium en dít is wat hy in die voetnoot van sy 1805-proefskrif gesê het. Maar watter dele? Dít het De Wette nie gesê nie, maar sy opmerking het talle en talle Ou Testamentici die afgelope twee eeue besig gehou. Hulle het 2 Konings 22 en 23 intensief bestudeer en elke daad van Josia probeer beskryf. Met ander woorde: Wát het hy gedoen en waar kan ’n mens dié daad of dade in die boek Deuteronomium terugvind? Watter dele uit Deuteronomium het Josia beïnvloed? Ter illustrasie noem ons een voorbeeld. Die gevolg van Josia se reformasie was die vernietiging van alle plattelandse heiligdomme en die sentralisering van die kultus in Jerusalem. Alle aanbidding van Jahwe en alle feeste (soos die paasfees) moes in Jerusalem gesentraliseer word. Dié daad stem dan ooreen met ’n frase wat meermale in Deuteronomium voorkom: ‘Julle moet na die wil van God gaan vra op die plek wat die Here julle God sal kies uit al die stamgebiede om sy Naam daar te vestig en daar te woon’ (Dt 12:5). Dié plek was Jerusalem en dáár moes die drie groot jaarlikse feeste (die paasfees, die fees van die weke en die loofhuttefees) plaasvind (Dt 16) (Smend 2004:1499-1502).

De Wette het Deuteronomium se andersheid beklemtoon. Dit was anders as die ander vier boeke (Genesis, Exodus, Levitikus en Numeri) van die Pentateug. Hy het veral op die spanning tussen die taak en funksie van Moses in die eerste vier boeke en Deuteronomium gewys. Dit lyk asof Moses se taak teen die einde van Numeri afgehandel is: hy het al die wette ontvang en Josua as sy opvolger aangewys. En dan skielik verskyn hy weer aan die begin van Deuteronomium. Hy kondig nuwe wette aan, bevestig Josua se aanstelling as sy opvolger en herinterpreteer vroeëre dele uit Eksodus en Levitikus (Smend 2007:48-49).

Volgens De Wette word dit wat in die eerste vier boeke kortliks beskryf is, meer breedvoerig in Deuteronomium aangebied (Wolf 1956:159). Eksodus 20:18 word in Deuteronomium 5 in ses verse en Levitikus 26:29 in Deuteronomium 28:53-57 in vyf verse omskryf. De Wette het ook die tipiese taal en styl van Deuteronomium beklemtoon en so die partikuliere aard van Deuteronomium beklemtoon. Hy het dit reggekry deur onder andere die tipese teologiese karakter van Deuteronomium te bepaal. Hy het ‘n groei van ‘n meer eenvoudige geloof in Genesis tot Numeri tot ‘n meer verfynde teologie in Deuteronomium bespeur. So byvoorbeeld is die manna in Deuteronomium eerder teologies of geestelik verstaan. ‘n Mens kan dit byvoorbeeld ook in die teologie van die aanbiddingsplek raaksien. Abraham kon byvoorbeeld nog oral ‘n heiligdom bou en daar aanbid, maar by Deuteronomium het alles verander: daar sou nou net een aanbiddingsplek wees. ‘Julle moet na die wil van God gaan vra op die plek wat die Here julle God sal kies …’ (Dt 12:5). En dít het natuurlik teologiese gevolge gehad: die paasfees was nie meer ‘n familiefees nie, maar iets wat in die tempel in Jerusalem gevier moes word (Graf Reventlow 2001:229-233).

Dié insig van De Wette het tot intense studie van Deuteronomium en 2 Konings 22-23 aanleiding gee (vgl Preuss 1982:1-74). Al dié studie het ons kennis van sowel Deuteronomium as Konings geweldig verdiep en tot ’n besef van Deuteronomium se belangrikheid bygedra (vgl Von Rad ). Een gevolg van De Wette se eksegese was dat Moses Deuteronomium nooit kon geskryf het nie; dat Deuteronomium heelwat later as die boeke Genesis, Eksodus, Levitikus en Numeri ontstaan het; dat die Pentateug ‘n versamelwerk is waarin baie mense se insigte oor baie eeue vervat is; dat ‘n volksepos of volksverhaal die basis van die Pentateug vorm; dat dit mettertyd met allerlei kortverhale en wette uitgebrei is; dat Deuteronomium later deel daarvan geword het en die Pentateug (die vyf boeke) so gevorm is (Smend 2007:49).

Deur die ander se bril 

Die Pentateug/Ou Testament is baie moeilik om te verstaan. Dit is nie net sommer vir lees en preek nie. So maklik is dit nie. Die Pentateug maak swaar oop en dan verdwaal ‘n mens ook nog maklik in al die verse en hoofstukke.

Die geskiedenis van die Pentateugnavorsing kan ons egter help. Deur die bril van andere kan ons baie leer. Hoe ons ook al vandag oor die Pentateug en die Ou-Testamentiese wetenskap dink en praat, is ingrypend deur ons vak se voorgeslagte gevorm. Veral die negentiende eeuse Ou-Testamentici het alles omgekeer, groot onrus veroorsaak, maar tog die Pentateug/Ou Testament soos in geen ander eeu oopgebreek en die ongelooflike skoonheid daarvan ‘gewys’ nie (vgl Clement 1983; Rogerson 1992;425-433; Rogerson & Barton 1998:6-24).

Simon, Astruc en De Wette se stemme kan dus maar steeds gehoor word.

Bronnelys

  •  · Barth, K 1975. Die Protestantische Theologie im 19. Jahrhundert. Hamburg: Siebenstern Taschenbuch Verlag.
  • · Bartuschat, W 2004. Spinoza, Baruch. RGG 4, 1579-1582.
  • · Berlejung, A., 2009, Geschichte und Religionsgeschichte des Antiken Israel, in Gertz, J Chr (Hg), Grundinformation Altes Testament, pp. 59–192, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.
  • · Berlin, I 2000. Three critics of the Enlightenment. London: Pimlico.
  • · Bodanis, D 2001. E=mc2. London: Pan Books.
  • · Clements, R E (1976)/1983. A century of Old Testament Study. Guildford: Lutterworth.
  • · Graf Reventlow, H 1997. Epochen der Bibelauslegung, III. München: C H Beck.
  • · Graf Reventlow, H 2001. Epochen der Bibelauslegung, IV. München: C H Beck.
  • · Graf, F W 2007. Der Protestantismus, in Joas, H & Wiegandt, K (reds), Säkularisierung und die Weltreligionen. Frankfurt: Fischer Taschenbuch Verlag.
  • · Houtman, C 1980. Inleiding in de pentateuch. Kampen: J H Kok.
  • · Jüngel, E 2004. Schleiermacher. RGG 4, 904-919.
  • · Le Roux, J H 1997. Our historical heritage. OTE 10/3, 401-423.
  • · Pannenberg, W 1973.  Wissenchaftstheorie und Theologie.  Frankfurt: Suhrkamp.
  • · Polman, A D R 1969. Gereformeerd katholieke dogmatiek. Kampen:Kok.
  • · Preuss, H D 1982. Deuteronomium. Erträge der Forschung. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.
  • · Rieger, R 2004. Simon, Richard. RGG 4, 1327.
  • · Rogerson, J & Barton, J 1998. Beginning Old Testament Study. St Louis, Missouri: Chalice Press.
  • · Rogerson, J 1984.  Old Testament criticism in the nineteenth century.  London: SPCK.
  • · Rogerson, J 1992. Interpretation, History of. Anchor Bible Dictionary, Vol 3, 425-433.
  • · Rogerson, J 1992. W.M.L. de Wette. Founder of modern biblical criticism. An intellectual biography. Sheffield: Academic Press.
  • · Schmidt, W H 1972.  ‘Theologie des Alten Testaments’ vor und nach Gerhard von Rad. EvThBeih 17, 1-25.
  • · Smend, R 1989.  Deutsche Alttestamentler in drei Jahrhunderten.  Göttingen: Vanden­hoeck & Ruprecht.
  • · Smend, R 2004. Wette, Wilhelm Martin Leberecht de. RGG 4, 1499-1502.
  • · Smend, R 2007. From Astruc to Zimmerli. Tübingen: Mohr Siebeck.
  • · Van Huysteen, W 1970.  Teologie van die rede.  Kampen: Kok.
  • · Van Huysteen, W 1986. Teologie as kritiese geloofsverantwoording. Pretoria:RGN.
  • · Van Seters, J 1999.  The Pentateuch.  A social-science commentary.  Sheffield: Sheffield Academic Press.
  • · Wolf, E 1956. De Wette, Wilhelm Martin Leberecht. RGG 2, 159.
Share this / Deel hierdie: