‘Hy is gebore, hy het gewerk en toe het hy gesterf’ (Safranski 2000:15). So het Heidegger op ‘n dag ‘n lesing oor Aristoteles begin. Dit vat die basiese van menswees saam. Tussen gebore word en doodgaan lê daar ‘n hele lewe van werk en spel, lewensvreugde en lewensmart. Prediker sou dalk ook nog wou byvoeg: en hieroor het ons geen beheer nie.

So kan ons ook oor Wellhausen praat. Hy is op 17 Mei 1844 gebore en het op 7 Januarie 1918 gesterf. Sy pa was ‘n Lutherse predikant wat vroeg dood is en sy ma het vroeg doof geword. Wellhausen was die enigste van vier kinders wat sy ouers oorleef het. Hyself het weer aan slapeloosheid en maagprobleme gely en teen sestig was ook hy doof. Verder het ‘n soort rumatiek hom op sy oudag van harde werk weerhou (Smend 2007:91).

En tog sou Wellhausen die Ou-Testamentiese wetenskap radikaal hervorm en selfs herskryf. Tot vandag voel ons nog die trillings van sy aardskuddende werk. Dit het hom egter ook vele leed besorg (Kraus 1969:255-275; Smend 1989:99-113). Sy denke het geweldige kritiek ontlok en op 5 April 1882 het hy versoek om van sy pos as professor in die teologie aan die Universiteit van Greifswald onthef te word. Wellhausen was uiteraard nie die eerste nie (Van Seters 1999:30-41). Spinoza is uit die sinagoge geban en moes twee moordaanslae verduur net omdat hy die Mosaïese outeurskap van die Pentateug ontken het (Bartuschat 2004:1579-1582). Eweneens moes Richard Simon vanweë sy Pentateugoortuigings vir sy lewe vlug (Rieger 2004:1327).

 

Hy het ons iets nuut gewys

Met Julius Wellhausen bereik die Ou-Testamentiese wetenskap in die negentiende eeu ‘n besondere hoogtepunt. Belangrike figure voor hom het ook al belangrike dinge in verband met die historiese verstaan van die Ou Testament gesê (vgl bv Heinrich Ewald en Karl Heinrich Graf) (Sment 1989:9-98). Wellhausen sou egter totaal anders wees. In hom sou al die lyne saamvloei, sou alle drade saamgeknoop word, sou die geniale opmerkings van vorige geslagte tot ‘n voller, ryker eenheid gesmee word.

Anders as geleerdes soos Johann David Michaelis (1717-1791), Wilhelm Leberecht de Wette (1780-1849), Bernard Duhm (1847-1928), en Berhard Stade (1848-1906) het Wellhausen iets begin wat ons tot vandag toe voel (Graf Reventlow 2001:227-302). Hy het die gesig van die Ou-Testamentiese wetenskap heeltemal verander. Hy het ons gewys hoe die literêre kritiek kan werk; hoe ons ‘nate’ in die teks moet raakien; hoe die ontstaan en groei van die Pentateug (ook die Ou Testament) beskryf kan word; hoe om ‘bronne’ vir geskiedskrywing in die teks self te vind; hoe ‘n geskiedenis van Israel moet lyk; hoe om die beweging in Israel se geskiedenis raak te sien (vgl Wellhausen 2001:1-14).

 

Waar het alles begin?

Tydens die pase van 1863 het Wellhausen op ‘n boek van Heinrich Ewald (1803-1875) oor die geskiedenis van Israel afgekom. Dit het hom geboei en Wellhausen het hom met groot ywer aan Hebreeus en die Ou Testament gewy. Soos Ewald wou hy ook ‘n geskiedenis van Israel skryf en daarom het hy by hom gaan studeer en veel by Ewald geleer.

Wat Wellhausen geboei het, was Ewald se beskrywing van die Ou Testament se wording en groei. Wat in die Ou Testament vervat is, het nie pasklaar uit die hemel geval nie. Dit het oor vele jare en op vele maniere tot volle wasdom gegroei. Israel se godsdiens het oor eeue vorm en beslag gekry.

En dít was die vonk wat Wellhausen aangevuur het. Soos sy leermeester wou ook Hy die lewende prosesse waarin die Ou Testament ontstaan en gegroei het, blootlê. So beslissend was Ewald se invloed dat Wellhausen sy groot werk, Prolegomena zur Geschichte Israel, aan hom opgedra het. Vanweë politieke verskille het die verhouding egter mettergaan versand (Graf Reventlow 2001:302-303).

Wellhausen het egter geweet dat geen geskiedenis sonder bronne geskryf kon word nie en daarom …

 

Kry eers die bronne

Dit is tog wat elke historikus moet doen. Bronne versamel want niemand kan oor die verlede sonder bronne skryf nie. Bronne wat oraloor in argiewe, biblioteke en ander plekke gestoor word en wat op verskillende maniere ontsluit kan word.

Vir die Ou-Testamentikus is dit moeiliker want ons het net die Ou Testament. Indien ons ’n geskiedenis of godsdiensgeskiedenis van Israel of selfs ’n teologiegeskiedenis wil skryf, bly die Ou Testament ons hoofbron. Uiteraard kan die argeologie en die Ou Nabye Oosterse literatuur ons vandag geweldig help, maar Wellhausen het dit nie geken nie. Hy het net die Ou Testament gehad en daarmee moes hy klaarkom.

En hier ontdek ons iets van Wellhausen se grootsheid. Sedert De Wette het almal geweet dat die Pentateug in sy finale gestalte nie net so as bron vir Israel se vroeë geskiedenis gebruik kon word nie. Die finale teks moes eers in bronne opgebreek word. Bronne wat ‘n mens kon weeg en dateer. Dít was die enigste manier waarop ons insig in die groei van die Ou Testament en die geskiedenis van Israel se nadenke oor God en hulself kon kry.

En dit is presies wat Wellhausen gedoen het (vgl Wellhausen 1963). Maar hoe het hy te werk gegaan?

 

‘n Nuwe metode het ontstaan

Sy metode is ‘literêre kritiek’ genoem. Wat is dit? Dit is ‘n vorm van fynlees of dan ‘close reading’. Die teks word oor en oor gelees en vir nate in die teks gesoek. Wat is ‘nate’? Doodeenvoudig gesê: dit is die lasplekke in die teks waar die verskillende bronne aanmekaar vasgemaak is. Hoe sien ‘n mens die ‘nate’ raak? Met behulp van die literêre kritiek wat die leser se oog op die spanninge in die teks rig: dit is op dinge soos die verskillende Godsname, die verskil in taal, styl en teologie, ensovoorts.

Ons kan dit soos volg verduidelik: die Pentateug (of Heksateug soos Wellhausen dit noem) het oor eeue tot stand gekom; het uit verskillende bronne ontstaan wat op ‘n gegewe oomblik tot ‘n eenheid (die Pentateug/ Heksateug) gesmee is; dit is tans onmoontlik om die bronne in die huidige gestalte van die teks met ‘die blote oog waar te neem’; deur middel van die literêre kritiek kan ‘n mens egter wel die spanninge in die teks raaksien. Wellhausen het al hierdie spanninge in die teks genoteer –  dinge soos die verskil in Godsname, taal, styl, teologie, ensovoorts.

En toe het hy nog ‘n stap verder gegaan: hy het al die gedeeltes waarin dieselfde taal, styl, Godsnaam en teologie voorkom, saamgevoeg en probeer omskryf. Op die manier het sy beroemde, of volgens sommige ‘berugte’, vierbronnehipotese ontstaan. Hierdie vier bronne het die basis gevorm waaruit die Pentateug/Heksateug  ontstaan het. Hierdie bronneteorie sou dekades lank en in verskillende vorme die studie van die Pentateug oorheers (vgl Houtman 1980:77-85).

 

Die bronne waarmee ons moet werk

Ons verstaan Wellhausen eers wanneer ons sy Composition des Hexateuch van 1876/77 woord vir woord met die Hebreeuse teks deurwerk. Dit is ‘n moeisame leeservaring, maar die enigste manier om werklik agter die kap van Wellhausen se byl te kom. Vandag nog word Wellhausen as ‘n beroerder Israels afgemaak sonder dat daar intens met sy werk en metode omgegaan is; sonder dat die Ou-Testamentteks noukeurig met die bril van Wellhausen gelees is nie.

Die boek begin weliswaar ‘n bietjie stomp. Hy sê dat ‘n voorwoord onnodig was en verduidelik toe in ‘n paar sinne iets oor die bronne (Wellhausen 1963:1). En toe het hy op sekere dele van Genesis gefokus. Hy het op woordgebruik, die rangskikking van perikope en hoofstukke, die veranderinge, die byvoegings, ensovoorts gelet en dit getuig ten minste iets van Wellhausen se oog vir die fynste detail in die teks (vgl Wellhausen 1963:3-14).

So ‘n fynlees was egter die noodsaaklike voorwaarde vir die raaklees van die Pentateug se bronne. Later in sy boek het Wellhausen sy siening oor die bronne só saamgevat: in die Heksateug (dit is die eerste vyf boeke van die Pentateug plus Josua) kry ons ten minste drie goot bronne: JE, D en P. JE het uit J en E gegroei en is met Deuteronomium verbind. Dan was daar nog ‘n ander selfstandige werk wat die Priesterkodeks of Priestergeskrif genoem is. JE plus Deuteronomium plus die Priesterkodeks het toe saam die Heksateug gevorm (Wellhausen 1963:207).

Ons kan dit ook soos volg verduidelik:

  • · Die Jahwis (J): Hierdie bron is die oudste; dit gebruik die Godsnaam ‘Jahwe’; het in 950 vC in Jerusalem ten tye van die regering van Dawid en Salomo ontstaan.
  • · Die Elohis (E): Hierdie bron gebruik die Godsnaam ‘God of Elohim’ en het na die skeuring van die verenigde ryk in 750 vC ontstaan. Dit dra die duidelike tekens van die Noordrykteologie en het dus heelwaarskynlik in die Noordryk gefunksioneer.
  • · Die Jehowis (JE): Dit is die samevoeging van die bronne J en E. Waarskynlik het dit in 700 vC totstand gekom.)
  • · Deuteronium (D): Dit het in ongeveer 620 vC ontstaan. Volgens Wellhausen het veral Josia se reformasie tot die ontstaan van D aanleiding gegee.
  • · Die Priestergeskrif (P): Hierdie bron het in die ballingskap en daarna begin ontstaan. Ons kan dit ongeveer 550 vC dateer. Dié bron bevat al die wette wat ons in die Pentateug (uitgesonderd Deuteronium) het: die dekaloog, die bondsboek, wette oor die sabat, die priester, ensovoorts. Ook die boek Levitikus word hierby ingesluit.

 

Iets besonder het ontstaan

As ons na hierdie Wellhauseniaanse bronne kyk, sien ons tog iets merkwaardigs: die moontlike stene waarmee die Pentateug gebou is. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die kerk en die studie van die Ou Testament is die moontlike ontstaansgeskiedenis van die Pentateug op so ‘n duidelike en heldere manier uiteengesit.

En Wellhausen het net die teks en sy manier van fyniees gehad. Uiteraard het hy op ander se insigte gebou, maar die skerpsinnige manier waarop hy woord vir woord gelees het, dwing respek af.

Ewe merkwaardig is die invloed, die ‘Wirkungsgeschichte’ van Wellhausen se insigte. Hy het iets begin wat net nooit weer gestop kon word nie: die onderskeiding en datering van Pentateugbronne. Al gaan vandag se geleerdes anders met ‘bronne’ en die literêre kritiek om, word daar nog getrag om die samestellende materiaal van die Pentateug te bepaal en te dateer, word daar vandag nog op die skouers van Wellhausen (en andere waarby ons nog sal kom) gestaan.

Wellhausen se manier van werk het hom in staat gestel om iets van die lewende gang van die Ou Testament se ontstaan en die geskiedenis van Israel (soos hy dit gesien het) te beskryf; kon hy aantoon hoe Israel in verskillende tye oor dinge gedink het; kon hy die beweging in die godsdiens of teologie van Israel beklemtoon.

Ons illustreer hierdie beweging of groei in denke aan die hand van enkele voorbeelde uit Wellhausen se merkwaardige boek, Prolegomena zur Geschichte Israels, wat in 1883 verskyn het. Die respons op hierdie boek was oorweldigend. In 1835 is daar laas so ‘n opskudding ervaar. Dit was met die verskyning D F Strauss se Leben Jesu. Wellhausen is as ‘n ketter uitgekryt en elke moontlike argument is teen hom gebruik (Smend 2007:97).

Eintlik was dit tog so onnodig. Tot sy einde het Wellhausen ‘ein frommer Christ geblieben’ (Reventlow 2001:304) en het hy nie die Ou Testament ondermyn nie. Hy het net gewys hoe ons die Pentateug met sy bril kan lees en verstaan. ‘n Voorbeeld hiervan is die manier waarop hy die heiligdomme en die feeste beskryf het (Wellhausen 2001:53-74).

Om Wellhausen te volg, moet ons die Pentateug met behulp van die bronne JE, Deuteronomium en P verstaan. Dít vorm die basis waarop ons ‘n bepaalde ontwikkelingslyn kan bespeur.

 

Heiligdomme en een heiligdom

Volgens JE was daar aanvanklik (in Israel se vroeë geskiedenis) ‘n verskeidenheid van offerplekke. In hierdie vroeë era (wat deur JE beskryf word) was die kultusplekke volop en oral. Jahwe is sonder enige priesters by al hierdie plekke aanbid (Wellhausen 2001:17-52). In die Abrahamsverhale kry ons mooi voorbeelde hiervan. Nadat Abraham in Kanaän aangekom het, het hy ontdek die land is nie syne. Dit was die Kanaäniete se land. God het egter verskyn en hom die land beloof: ‘Nadat hulle in Kanaän aangekom het, het Abram deur die land getrek tot by Sigem se aanbiddingsplek by die groot waarsêersboom. In daardie tyd het die Kanaäniete die land bewoon Toe het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: ‘Aan jou nageslag gee Ek hierdie land’. Abram het daar ’n altaar gebou vir die Here wat aan hom verskyn het’ (Gen 12:4-8). Iets soortgelyk het ook in verhaal van Abraham en Lot gebeur: ‘Nadat Lot van Abram af weg is, het die Here vir Abram gesê: “Kyk tog rond, kyk van hier af waar jy is, na die noorde en die suide, na die ooste en die weste. Die hele land wat jy sien, gee Ek vir altyd aan jou en jou nageslag. Ek sal jou nageslag so baie maak soos die stof van die aarde. As iemand die stof van die aarde kan tel, sal jou nageslag ook getel kan word. Trek nou deur die land, deur sy lengte en sy breedte, want Ek gee dit vir jou   …. Daar het hy ’n altaar vir die Here gebou’ (Gen 13:14-18) (vgl Wellhausen 2001:19).

In Deuteronomium het alles egter verander: alle aanbidding moes nou in Jerusalem plaasvind (Wellhausen 2001:23-25). Ten tye van Josia se regering is die kultus gesentraliseer en almal moes nou in Jerusalem aanbid. In Deuteronomium verneem ons dit ook in die herhaalde uitdrukking: ‘die plek wat die Here jou sal aanwys’. Daar was net een kultusplek en dit was Jerusalem (Wellhausen 2001:36-38).

 P of die Priestergeskrif het hierdie sentralisering van die kultus verder verskerp (Wellhausen 2001:35). Die tempel, ‘n hiërargiese priesterdom, ‘n vaste offersisteem, ‘n kultiese kalender, ensovoorts het nou op die voorgrond gestaan. Anders gestel: alles het (volgens Wellhausen) tot ‘n vaste kultusplek met ‘n permanente priesterkorps en spesifieke offerwette verstar. Vanaf JE tot D tot P het daar dus ‘n ontwikkeling plaasgevind (Wellhausen 2001:43-52). ‘n Ontwikkeling wat ons net kan ‘sien’ danksy Wellhausen se literêre kritiek, sy identifisering van bronne, sy datering daarvan in spesifieke tydperke in Israel se geskiedenis en sy historiese verhaal wat hy op grond daarvan vertel het (Kraus 1969:260-269).

 

Offers en feeste

Wellhausen se denke oor die offers gryp ’n mens tog aan. Iets mooi, iets groots het met die jare verlore gegaan. By JE het mense se lewensasem die offers deurtrek, maar toe het dit verstar. By JE was die offer aan die bodem, die aarde, die gewone lewe geanker; het dit mense saamgebring en was dit ’n familiefees; het dit elke lid van die familie vaster aan die ander gebind; het die familiehoof voorgegaan en geslag en geoffer. Die offer het as‘t ware die kleure van die gewone lewe weerspieël. Elke jaar het die tye opmekaar gevolg. Vrugtetyd, koringoes, skaapskeerdery en nog ander geleenthede en dit het families bymekaar laat kom en dan is daar geoffer en feesgevier (Wellhausen 2001:74).

In Deuteronomium het dinge al hoe strammer geword. Daar was nou een aanbiddingsplek en die offer is geritualiseer en die familieband is ondermyn. Soos Wellhausen dit gestel het: ’n mens kon in Hebron woon en werk, maar jy móés in Jerusalem offer en so het die band tussen lewe en godsdiens losgerafel (Wellhausen 2001:75-76).

By P het hierdie proses verdiep. Klem is gelê op waar geoffer moes word (Jerusalem), wanneer dit moet gebeur en wie dit kon offer (Wellhausen 2001:79). In die proses het die spontane karkater verdwyn; was offers nie meer deel van die intieme familierking nie, maar het dit deel van die groot kultusgemeente geword; het die band met die lewe vervaag want konkrete gebeure in die gewone lewe was nie meer die rede vir die bring van offers nie, maar is daar nou volgens ‘een vaste patroon’ geoffer (Houtman 1980:77).

Dieselfde het met die feeste gebeur (Wellhausen 2001:80-114). By JE is die feeste nog baie nou aan die landbou gekoppel. In Deuteronomium word die feeste aan groot historiese gebeure van die uittog en intog gekoppel en in P het die historiese gebeure heeltemal oorheers. Die loofhuttefees is aan die woestyntog, die paasfees aan die uittog, en die fees van weke aan die wetgewing by Sinai gekoppel (Houtman 1980:77; Graf Reventlow 2001:308-309).

 

Slot

Wellhausen is baie afgemaak sonder dat mense hom werklik probeer verstaan het. En tog het hy iets ontdek en iets oopgemaak wat tot ‘n dieper en ryker verstaan van die Ou Testament gelei het.

 

Bronnelys

  • · Bartuschat, W 2004. Spinoza, Baruch. RGG 4, 1579-1582.
  • · Berlejung, A., 2009, Geschichte und Religionsgeschichte des Antiken Israel, in Gertz, J Chr (Hg), Grundinformation Altes Testament, pp. 59–192, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.
  • · Clements, R E (1976)/1983. A century of Old Testament Study. Guildford: Lutterworth.
  • · Graf Reventlow, H 1995. The role of the Old Testament in the German liberal Protestant theology of the nineteenth century, in Graf Reventlow & Farmer (reds), Biblical studies and the shifting of paradigms. Sheffield: Academic Press, 132-148.
  • · Graf Reventlow, H 1997. Epochen der Bibelauslegung, III. München: C H Beck.
  • · Graf Reventlow, H 2001. Epochen der Bibelauslegung, IV. München: C H Beck.
  • · Houtman, C 1980. Inleiding in de Pentateuch. Kampen: Kok, 37-41;
  • · Kraus, H-J 1969. Geschichte der historisch-kritischen Erforschung des Alten Testaments. Neukirchen: Neukirchener Verlag, 255-274
  • · Preuss, H D 1982. Deuteronomium. Erträge der Forschung. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.
  • · Rieger, R 2004. Simon, Richard. RGG 4, 1327.
  • · Rogerson, J & Barton, J 1998. Beginning Old Testament Study. St Louis, Missouri: Chalice Press.
  • · Rogerson, J 1984.  Old Testament criticism in the nineteenth century.  London: SPCK.
  • · Rogerson, J 1992. Interpretation, History of. Anchor Bible Dictionary, Vol 3, 425-433.
  • · Safranski, R 2000. Heidegger en zijn tijd. Olympus: Amsterdam.
  • · Smend, R 1989. Deutsche Alttestamentler in drei Jahrhunderten. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 99-113.
  • · Smend, R 2007. From Astruc to Zimmerli. Tübingen: Mohr Siebeck.
  • · Van Seters, J 1999. The Pentateuch. A social-science commentary. Sheffield: Sheffield Academic Press, 30-41.
  • · Wellhausen, J 2001. Prolegomena zur Geschichte Israels. Berlin: Walter de Gruyter.

· Wellhausen, J 1963. Die Composition des Hexateuchs und der Historischen Bücher des Alten Testaments. Berlin: Walter de Gruyter.