Geen negentiende eeuse Ou Testamentikus het so ‘n impak op die Ou-Testamentiese wetenskap van die twintigste eeu as Gunkel gehad nie. Veral die invloed van sy psalmnavorsing word tot vandag toe ervaar (vgl Zenger 2000:399-435).

Daar is egter iets roerend aan hierdie psalmstudie van Gunkel verbonde. Hy het veral tydens die laaste deel van sy lewe daaraan gewerk, maar dit was ‘n tyd van groot finansiële en gesondheidsprobleme. In 1918 het dit so sleg gegaan dat hy hulle ruim woning vir ‘n kleiner huis moes verruil. Dit was vir sy vrou en kinders amper traumaties, maar dit kon nie anders nie. En in dié tyd het sy gesondheid so verswak dat hy nie altyd meer hard kon werk nie (Klatt 1969:222).  

En tog het Gunkel hom met elke greintjie krag aan sy psalmwerk gewy. Aan die begin van 1920 het hy aan sy uitgewer geskryf dat hy selfs onder die moeilikste omstandighede sal voortwerk en iets nuut en groot oor die psalms skryf. Teen Kersfees 1931 kon hy nie meer nie en het die onvoltooide manuskrip van sy Einleitung in die Psalmen aan sy student Joachim Begrich gegee om persklaar te maak (Gunkel 1975:Vorwort). Gunkel is op 11 Maart 1932 oorlede en die inleiding het in 1933 verskyn.

 

Die groepie

Dit is merkwaardig hoe ‘n paar persone in ‘n spesifieke tyd en op ‘n bepaalde plek net die denke van die dag kan draai. Hoe  dinge net op ‘n spesifieke tyd en plek gebeur omdat ‘n klein groepie dink, praat en skryf. Wie dus die geskiedenis van die navorsing bestudeer, moet dus fyn op sulke mense, tye en plekke let. Daar is byvoorbeeld al beweer dat die westerse denke van die afgelope eeue in koffieplekke en restaurante gevorm en geslyp is (vgl Meijer 2011:76-78). Gunkel was ook deel van so ‘n besondere groep.

In 1881 is hy Göttingen toe om daar teologie te gaan studeer. Dit kon ‘n mens eintlik verwag het want sy pa was predikant en die kerk, die prediking en die teologie was vroeg reeds deel van sy wêreld. In Göttingen het Albrecht Ritschl aanvanklik groot indruk op die jong Gunkel gemaak, maar daar was iets wat mettertyd gepla het. Iets wat ons die a-historiese verstaan van tekste kan noem. Gunkel het op ‘n stadium selfs gevoel Ritschl doen die tekste geweld aan met sy eksegese (Klatt 1969:19-20).

En dít is waaroor Gunkel en sy vriende gereeld in ‘die Mensa’, die eetplek saamgesels het. Tussen al die geëet en gedrink deur het hulle hulle teen die teologie van die dag verset. Hulle was eintlik nog studente, maar hulle het geweet wat hulle wou hê en hoe om dit te verwoord. Al die lede het later op verskillende maniere ‘n groot rol in die Bybelwetenkap en die teologie in die algemeen gespeel: Albert Eichorn (1856-1926), William Wrede (1859 -1906), Hermann Gunkel (1862-1932), Wilhelm Bousset (1865-1920), Ernst Troeltsch (1865-1923), Wilhelm Heitmüller (1869-1926) en in ‘n mindere mate Johannes Weiss (1863 -1914).

Daar is baie oor geskiedenis gepraat en dit het Gunkel se denke help vorm. Vir hulle (en vir Gunkel in die besonder) was geskiedenis nie net interessante inligting oor die verlede nie, maar was dit ‘n manier om die Bybel te verstaan. Nie vrome gedagtes nog dogmatiese strukture kon die Ou Testament oopmaak nie, maar wel die geskiedenis. Anders gesê: ons kan die Ou Testament slegs verstaan as ‘n boek wat deur Israel se lewende verlede gevorm en saamgestel is; ons moet daarom Israel se letterkunde (die Ou Testament) binne hierdie lewende geskiedenis verstaan (Becker 2008:80-86).

Dié soort denke sou Gunkel lewenslank beïnvloed.  

 

Godsdiens, geskiedenis en vorme

Eintlik kan ons Gunkel se bydrae aan die hand van twee woorde verduidelik: ‘Religionsgeschichte’ (of godsdiensgeskiedenis) en ‘Formgeschichte’ (of vormgeskiedenis). Eersgenoemde kan ons met behulp van die woorde ‘godsdiens’ en ‘geskiedenis’ verduidelik. Gunkel was nie in godsdiens as algemene verskynsel geïnteresseerd nie, maar baie spesifiek in die godsdiens van Israel. Israel was egter deel van die groot Ou Nabye Oosterse wêreld en het veel van dié volke geleen en omvorm. En die woordjie geskiedenis beklemtoon hoe Israel se godsdiens in bepaalde historiese kontekste ontstaan en gegroei het: ‘This religion was to be set in the context of the historical life in which it originally moved’ (Smend 2007:121). Gunkel was een van die kragte agter die godsdiens-historiese verstaan van tekste en dié ‘skool’ het ‘n groot invloed op die eksegese van die Ou en Nuwe Testament gehad.

Daar is egter ook iets anders wat Gunkel uniek gemaak het en dit is ‘Formgeschichte’ (of vormgeskiedenis). Hy het in die Ou Testament vorme (soos sages, sprokies, himnes, ens.) ‘ontdek’ en dit vir die verstaan van die Ou Testament aangewend. Meer nog: hy het vorme nooit los van Israel se lewe gesien nie en aan elke vorm ‘n plek in Israel se lewensbestaan gegee. Die uitdrukking wat tot vandag toe gebruik word, is ‘Sitz im Leben’ of ‘plek in die lewe’. Uiteraard het die onderskeiding van vorme en elkeen se ‘Sitz im Leben’ mettergaan groot kritiek ontlok, maar Gunkel het eens en vir altyd ons oë vir die integrale band tussen Israel se literatuur (die Ou Testament) en sosiale kontekste geopen (Graf Reventlow 2001:330-346).

In sy eerste groot werk, Schöpfung und Chaos in Urzeit und Endzeit, sien ons Gunkel se ‘Religionsgeschichte’ aan die werk: Israel se godsdiens was deel van ‘n groter godsdiens-historiese-konteks waarvan ons moes kennis neem. Wellhausen het egter ernstige probleme daarmee gehad. 

Sy stryd met Wellhausen

Gunkel het nie soveel van Wellhausen gehou nie. Hy het hom wel hoog geag en hom ‘’n baanbreker en leier’ genoem, maar hulle het fundamenteel van mekaar verskil (Klatt 1969:72). Wellhausen se beginpunt was die finale Hebreeuse teks. Hy het die teks intens en woord vir woord bestudeer en met behulp van al die taalkundige en teologiese spanninge in die teks die bronne en hulle skrywers onderskei. Eers was daar die Jahwis en Elohis wat die Jehowisbron geword het, dan Deuteronomium en ten slotte die Priestergeskrif. Al drie het afsonderlikk en in spesifieke tye ontstaan en vertel iets van die groei in die denke (of godsdiens of teologie) van Israel (vgl Geskiedenis van die Ou Testament-eksegese, nr 19).

          Vir Wellhausen was dit genoeg, maar vir Gunkel was dit weer te min. Gunkel het gemeen dat ’n mens verby die ‘finale skriftelike teks’ na die wêreld agter die teks moes beweeg. Daar was ’n groot Ou Nabye Oosterse wêreld wat ’n mens in ag moes neem. In sy eerste hoofwerk, Schöpfung und Chaos, sê Gunkel dat agter die skeppingsverhaal van Genesis 1 daar ’n ou tradisie lê waarby die skrywer aangesluit het (Gunkel 1921:16, 143-161). En dié tradisie was die Babiloniese skeppingsmite, Enuma elis, en dit was volgens Gunkel hiér waar ons vir die ontstaan en wording van Genesis 1 se skeppingsverhaal moes gaan soek (Gunkel 1963:4-6, 45-47).

Wellhausen het aanvanklik skerp op Gunkel gereageer. Daar was vir hom in Schöpfung und Chaos meer chaos as skepping, maar later was sy kritiek meer gematig. Hy het ’n groter waardering vir Gunkel ontwikkel, maar sy gekrap agter die teks was vir Wellhausen onaanvaarbaar. Vir hom was die gesoek na die oorsprong van die Ou Testament en wording van die teks in die Ou Nabye Oosterse wêreld teologies geheel en al irrelevant. Wat Gunkel doen, mag wel interresante historiese of antikwariese waarde hê, maar dit mag nooit die hooftaak van die teoloog of eksegeet word nie. Ons moes eerder baie fyn op die teks voor ons let en dit aan die hand van die bronne en hulle skrywers verstaan. Dít was volgens Wellhausen ons eintelike taak (Klatt 1969:71).

Gunkel was woedend. Hy het dit ou-skool-denke genoem. Volgens hom was dit onmoontlik om Israel se godsdiens bloot net uit die finale teks te probeer verstaan. Israel se omgang met die Ou Nabye Oosterse wêreld en denke en het tog sy eie godsdiens radikaal beïnvloed en Gunkel wou dit probeer verstaan. Israel se godsdiens het tog in die lewenskragtige Ou Nabye Oosterse konteks vorm en beslag gekry en daarom moes dié wêreld ondersoek word; moes Israel se godsdiens binne die groter geheel begryp word (Klatt 1969:72-73).

Daar was ook iets anders waarna Gunkel gesoek het: literatuurvorme en hulle Sitze im Leben, hulle plek en funksie binne Israel se verskillende lewensverbande. In sy kommentaar op Genesis sien ons hoe hy verby die finale teks na ‘n wêreld agter die teks kyk; en dié keer was dit ‘n literatuursoort wat hy ‘n ‘sage’ noem wat hom gehelp het om die ‘ander wêreld’ te verstaan.

 

Soek agter die teks na kleiner vorme

Gunkel wou as ‘t ware agter die Genesisteks gaan loer. Hy wou verstaan wat agter die verhaal van byvoorbeeld Abraham lê. Waarop hy toe afgekom het, was sages en nogmaals sages (of dan verhale) wat mondelings oorgelewer is (vgl Thompson: 1987:51-59. Agter die teks was daar sages oor figure soos Abraham wat mondelings van geslag tot geslag oorgelewer is. Hy begin sy kommentaar op Genesis met ‘n beroemde sin: ‘Die Genesis ist eine Sammlung von Sagen’ (Gunkel 1910:vii). Die boek Genesis is ‘n versameling van sages. Die verhale oor Abraham, Isak en Jakob is uit ‘n groot verskeidenheid sages saamgestel; diverse sages wat uit verskillende oorde gekom en tot ‘n eenheid (‘Sagenkränze’ of ‘n ‘Sage-eenhede/verhale’) saamgesnoer is (Gunkel 1910:xxxix). Hierdie ‘Sagenkränze’ was onafhanklike verhaaleenhede wat na dieselfde karakter(s) (soos sêmaar Abraham, Isak en Jakob) verwys het, dieselfde tema (sêmaar land) gehad het, oor dieselfde gebeurtenisse (sêmaar rondtrek) berig het en wat mettertyd in vehaalsiklusse saamgevoeg is (Gunkel 1910:xxi-xxv).

En as ons iets van Abraham wil verstaan, moet ons met hierdie sages erns maak. Abraham het immers deur middel van hierdie sages tot ‘n ‘lewende mens’ gegroei; sages was die ‘boumateriaal’ waarmee die ‘lewensverhaal’ van Abraham gebou is; dit was die ‘argiefmateriaal’ aan die hand waarvan iets oor die ‘lewe en werk’ van Abraham gesê is; dit was die baie brose en onbetroubare ‘bronne’ aan die hand waarvan ons ‘n man genaamd Abraham kon leer ken. So gesien, bevat sages geen outentieke historiese inhoud nie (Gunkel 1910:vii,viii,xv,xxvi,lvi-lxxx). Trouens, tussen sage en geskiedenis moet duidelik onderskei word. Laasgenoemde fokus op groot sosiaal-politieke gebeure terwyl ‘n sage baie meer beperk is; dit fokus op die mens, die enkeling, die individu. En in Genesis en veral die Abrahamsverhale is daar egter geen politieke belangstelling nie (Gunkel 1910:ix).

Vir Wellhausen was dit te vaag, te onseker en eintlik nutteloos. In die skriftelike bronne JE en P (in Gen 12-25) het ons mos die Abrahamsverhaal en dit was nie nodig om agter die finale teks na sages of die oorspronge van die Abrahamsfiguur te gaan soek nie. Gunkel het heftig verskil. Toe JE en P oor Abraham (in Gen 12-25) geskryf het, was die Abrahamsfiguur klaar deur die sages gevorm en kon hulle dit net so oorneem (Gunkel 1910:lvi). En vir Gunkel was hierdie voor-fase, hierdie voor-skriftelike-fase so ‘n lewendige en opwindende era dat hy hom daarin verloor en dit goed probeer ken het. Dít moes hom help om Genesis en Abraham te verstaan.

En een van die lewensruimtes waarin hierdie sages vertel, oorvertel en ook uitgebrei is, was die familiekring. Gunkel het dit mooi gestel: in die koue wintersaande het die familie rondom die vuur gesit; die oudstes het stories vertel; dit was verhale oor die verlede; oor die begin van die wêreld, die voorvaders (soos Abraham, Isak, Jakob), die ontstaan van die volk Israel en nog baie ander dinge meer. En die kinders het die verhale van die baasvertellers ingedrink en dit ook weer oor en oor vertel. Wat egter oorgedra is, was nie presiese historiese feite nie, maar sages wat die geskiedenis van die wêreld en die eie volk probeer verklaar het; volkskuns wat die diepste denke en gevoelens van ‘n bepaalde groep weerspieël het (Gunkel 1910:xxxi).

Hierdie band tussen vorm (sage) en lewe word egter veral in Gunkel se psalmstudie pragtig geïllustreer.

 

Die skoonheid van die psalms

Dalk lê Gunkel se blywende bekoring in sy werk oor die psalms. Voor hom het mense ook die psalms probeer indeel, maar by Gunkel het alles anders geword. Hy het vorme (of soorte psalms) onderskei en dit dan aan egte lewenservaringe of ’n Sitz im Leben verbind. Vorm en lewe was dus onafskeidelik. En ’n mens kan dit byvoorbeeld mooi in die klaaglied van die enkeling sien (Gunkel 1975:172-265). Volgens Gunkel was hierdie psalms ’n kosbare bron van menslike ervaringe en dit is waarom dit oor al die eeue steeds gewild is (Klatt 1969:218-260).

So ‘n klaaglied het ‘n duidelike vorm (of struktuur). Eers is daar die klag wat gewoonlik skerp geformuleer word: ‘Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? (vs 2). Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?’ (vs 3). Dan volg ‘n smeekgebed waarin God se hulp gevra word: ‘Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie,anders sê my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers oor my ondergang’ (vss 4-5). Ten slotte is daar die belydenis van vertroue: ‘Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het’ (vs 6) (vgl Gunkel 1975:212-231).

Die Sitz im Leben van hierdie en ander klaagliedere van die enkeling kan nooit presies vasgestel word nie. Dit belig eerder egte menslike ervaringe waarteen die gewone mens magteloos gestaan het. Ervaringe soos hoop en wanhoop, siekte en pyn, dreiging van die vyand en laster van mense, eensaamheid en godverlatenheid, angs vir lewe en dood (Gunkel 1975:175, 184-196). Die mooie van Gunkel se psalmwerk is (vir my in elk geval) hierdie band met die lewe. Ons kan selfs sê dat elke psalm se hart in die lewe klop; en dit vertel van die egte lewenservarings van mense oor al die eeue (Klatt 1969:218-260).

Daar was ook ‘n ander dimensie in Gunkel se werk en dit was die verstaan van die religieuse mens. Alles draai nie net om godsdiens, geskiedenis, vorme, die Sitz im Leben, ensovoorts nie, maar om ‘n lewende godsdiens.

 

Begryp die religieuse mens

Volgens Gunkel was godsdiens iets wat lééf. Godsdiens was nie blote uiterlike handelinge en rites, of droë dogmas nie, maar dit het met die diepste gevoelens en hartsoortuigings van ‘n vroom mens te make. Of soos hy dit self gesê het: ‘Religious teachings arose in the hearts of men and they express very deep religious feelings. When touched by God the heart of the pious man becomes the well-spring out of which religion eternally flows. Religion thus has to do with the innermost affections of good men; the deepest religious feelings of pious men’. Vir Gunkel was dit dan die kritiese (let wel ‘kritiese’) Ou-Testamentiese wetenskap se taak om hierdie gevoelens te probeer verwoord: ‘And this is the “object” of critical Old Testament scholarship: the understanding of the most profound religious feelings, sentiments and convictions of the Bible’s pious men; the penetration of the spiritual world in which the Old Testament originated’ ((Gunkel 1926/27:535-536- my kursivering). 

Ons moet dus deel van die geestelike wêreld (of ‘geesteswêreld’) van ou Israel kom. Ons moet ons daarin kan inleef en deel daarvan word, maar hoe kom ons in dié wêreld, hoe verstaan ons iets van Israel se wêreld? Gunkel antwoord soos volg: ‘To accomplish this the Old Testament scholar must first of all become “as intimately as possible” acquainted with the religious atmosphere of the Old Testament. Then he must by means of spiritual empathy or sympathy enter into the world of the text. Put differently: The modern scholar must become contemporary with the original context, relive the experiences of the Biblical parsonages, enter in the Old Testament world of religious experience by spiritual sympathy, re-enact the original religious experiences and feelings, appropriate the original message. In short: We must penetrate so deeply into their experiences that we can sympathise with them, that we can repeat them in ourselves, and become the interpeters of them to our own generation. Be means of this ‘empathy with the originals’ a whole new world was unlocked: A world inhabitated by real human beings with profound religious convictions and which formed the living context out of which the Old Testament arose’ (Gunkel 1903:403-407).

Ons moet dus inderdaad iets van die godsdiens van Israel verstaan en iets van die religieuse mens (Abraham) begryp. En ons kan dit alleen deur geestelike inlewing, meelewing en herlewing doen (vgl Gunkel 1926/27:535).

 

‘n Laaste woord

Daar is iets tragies in Gunkel se ywer vir Israel se godsdiensgeskiedenis. Hy was daarvan oortuig dat die Duitse volk altyd in die godsdiens van Israel sou belangstel en daarom het hy tydens vakansies oral opgetree en mense hiervan vertel. Na die Eerste Wêreldoorlog het dit geblyk dat die Duitsers wel nog in godsdiens, Israel se godsdiens geïnteresseerd is, maar nie volgens Gunkel se weergawe nie want dit was te aards, te menslik, te ‘tydelik’, te ‘verbygaande’. Hulle het hulle eerder aan Karl Barth en die dialektiese teologie se klem op openbaring en God se totale andersheid vasgemaak. In die donker dae na die oorlog het Barth se teologie hulle meer hoop en moed gegee.

En tog, ten spyte van alles is Gunkel nou nog die moeite werd om te lees.

 

  • · Albertz, R 1992. Religionsgeschichte Israels in alttestamentlicher Zeit, 1 & 2. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • · Becker, U 2008. Exegese des Alten Testaments. Ein Methoden- und Arbeitsbuch. Tübingen: JCB Mohr.
  • · Donner, H 1984. Geschichte des Volkes Israel und seiner Nachbarn in Grundzügen, I. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • · Gottwald, N K 1985. The Hebrew Bible. A socio-literary introduction. Philadelphia: Fortress Press.
  • · Graf Reventlow, H 2001. Epochen der Bibelauslegung, IV. München: C H Beck.
  • · Gunkel, H 1903. The religio-historical interpretation of the New Testament. The Monist 13, 398-455.
  • · Gunkel, H 1921. Schöpfung und Chaos. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • · Gunkel, H 1926/27. The ‘Historical Movement’ in the study of religion. ExpTimes 38, 532-536.
  • · Gunkel, H 1927. Biblische Theologie und biblische Religionsgeschichte. RGG I, 1089-1091.
  • · Gunkel, H 1928. What remains of the Old Testament and other essays. London: George Allen.
  • · Gunkel, H 1966. The legends of Genesis. New York: Schocken Books.
  • · Gunkel, H 1975. Einleitung in die Psalmen. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • · Hayes, J H & Prussner, F C 1985. Old Testament theology. London: SCM.
  • · Klatt, W 1969. Herman Gunkel. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • · Kraus, H-J 1969. Geschichte der historisch-kritischen Erforschung des Alten Testaments. Neukirchen: Neukirchener Verlag.
  • · Le Roux J H 1997. Our historical heritage. OTE 10/3, 410-423.
  • · Mehlhausen, J 1984. Geschichte/Geschichtsschreibung/Geschichtsphilosophie.TRE 12, 643-658.
  • · Rogerson, J 1984. Old Testament criticism in the nineteenth century. London: SPCK.
  • · Rowley, H H (ed) 1967. The Old Testament and modern study. London: Oxford University Press.
  • · Thompson, T L 1974. The historicity of the patriarchal narratives.
  • · Thompson, T L 1978. The background of the patriarchs. JSOT 9, 2-43.
  • · Thompson, T L 1987. The origin tradition of ancient Israel. Sheffield: JSOT.
  • · Zenger, E 2000. Psalmenforschung nach Hermann Gunkel und Sigmund Mowinckel, in Lemaire & Saebo (eds), 399-435. Lemaire, A & Saebo, M (eds), Congress Volume. Supplements to Vetus Testamentum, 80; Leiden: Brill.