In 1938 skryf Von Rad aan die einde van ‘n belangrike studie oor die Heksateug (of eerste ses boeke van Ou Testament) dat dié groot werk oor ‘n lang tyd ontstaan en baie mense daaraan meegewerk het. In ‘n kursief-gedrukte sin sê hy dan dat geen enkele stadium in die Heksateug se groei en ontwikkeling oorbodig of onnodig was nie. Elke era in hierdie lang ontstaansgeskiedenis het egter ‘n eie unieke boodskap gehad wat ons nou nog in die Heksateug kan terugvind (Von Rad 1958:85). En ons moet (deur die teks) hierdie unieke, anderse van elke tyd probeer verstaan. Vir Von Rad was kennis van hierdie wordingsgeskiedenis van die Heksateug dus belangrik; geen verstaan van die Heksateug was daarsonder moontlik nie.

Vir die Suid-Afrikaanse Bybelwetenskaplikes was so ‘n siening na 1971 heeltemal onmoontlik. Soos ons nog sal sien, is die klem toe op die finale teks gelê en het historiese inligting byna oorbodig geword. Von Rad het anders gedink en hieronder word sy standpunt verduidelik. Eers onderskei ons tussen ‘Pentateug’ en ‘Heksateug’.

 

Pentateug en Heksateug

Von Rad het eerder van ‘Heksateug’ as ‘Pentateug’ gepraat en daarmee die volgende boeke bedoel: Genesis, Eksodus, Levitikus, Deuteronomium plus Josua. Die rede vir die gebruik van ‘Heksateug’ is omdat ‘n deurlopende verhaal vanaf Genesis tot einde Josua vertel word: God het die wêreld geskep, die aartsvaders geroep en land aan hulle beloof; die volk Israel het in Egipte groot en magtig geword, is verdruk, maar God het ingegryp en Moses het hulle toe uitgelei; in die woestyn het Hy hulle versorg en toe in die beloofde land ingelei. Von Rad het dus die groot verhaal vanaf Genesis beklemtoon en Josua ingesluit omdat die landsbelofte aan die aartsvaders daarin vervul word (Von Rad 1958:48-55).

Ons kan dit miskien ook so verduidelik. Die Heksateug vertel van Israel se interpretasie van kerngebeure in hulle geskiedenis. In die Heksateug handel dit dan om die volgende gebeure: A. Genesis 1-11: twee skeppingsverhale, die sondeval en die gevolge van die sonde; B. Genesis 12-52: die aartsvaderverhale; die verhale van Abraham, Isak en Jakob (en Josef, Jakob se seun) asook die beloftes van ‘n nageslag en landC. Eksodus 1-15:  die lyding in Egipte en die uittog; D. Eksodus 16-18: die eerste woestynervaring; E. Eksodus 19:1-Numeri 10:10: die aankoms by Sinai drie maande na die uittog en die ontvangs van al die wette. F. Numeri 13:11-36:13: die woestyntog word voortgesit tot net voor die beloofde land. G. Deuteronomium: Hiervolgens staan die volk op die grens van die beloofde land en Moses vertel vir oulaas hoe hulle in die nuwe land moet leef; om dit te kon doen, het Moses al die wette wat veertig jaar vroeër by Sinai gegee is, nuut geïnterpreteer en vir die volk verklaar. H. Josua: in dié boek word vertel hoe Israel uiteindelik die beloofde land binnegegaan, die land beset het en die landsbelofte aan die aartsvaders uiteindelik vervul is.

Indien ons net op die kursiewe woorde let, vind ons die basiese verhaalinhoud van die Heksateug: skepping, aartsvaders, uittog, Sinai, woestyn en landinname. Ons kan sê dat dít die hoofelemente van Israel se vroeë geskiedenis saamvat.

 

Belangrike invloede

Die manier waarop Von Rad die Heksateug wou verstaan en uitlê, was so tipies van sy tyd. Hy het die intellektuele tradisies van die negentiende eeu en veral Wellhausen en Gunkel sy eie gemaak. Wellhausen se literêre kritiek was ‘n vorm van ‘close reading’ waarin hy op grond van taal, styl en teologiese verskille probeer het om die bronne of die boumateriaal (soos byvoorbeeld die Jahwis, die Elohis, Deuteronomium en die Priesterskrif) van die Pentateug te identifiseer en te beskryf. Vir Von Rad was Wellhausen se literêre kritiek soos ‘n boor waarmee hy tot die vroegste vorm van die Heksateug kon afboor.

Gunkel se klem op literêre vorme het nuwe verstaanshorisonne vir Von Rad geopen. Deur middel van vorme kon ons as ’t ware iets die Ou-Testamentiese gelowige se worsteling met God, homself en sy tyd verneem (Von Rad 1971b:248-261). Israel het sy verlede met behulp van kleiner literêre vorme (soos die credo) en groot literêre vorme (soos die Heksateug) oorvertel (Von Rad 1970a:30-42).

Literêre vorme was dus belangrik. Die groot- sowel as die kleinvorm. Die Heksateug as die grootvorm sowel as iets soos die sogenaamde credo wat die kleinste literêre vorme was.

 

Die finale teks is die vertrekpunt

Daar is ook iets anders wat Von Rad by Gunkel geleer het. Iets wat vir ons in Suid-Afrika van uiterste belang is. Iets wat goed by ons eie eksegetiese tradisie inpas. En dit is die belangrikheid van die finale gestalte van die Heksateug en die Ou Testament (Von Rad 1974:319). Gunkel het Von Rad vir die eindvorm van die Ou Testament laat oog kry. Daar, en presies daar moes alle wetenskaplike arbeid in verband met die Ou Testament begin en ook eindig (Rendtorff 1991:54-63).

En tog het Von Rad verder, heelwat verder as ons gegaan. Hy wou vasstel hoe die finale gestalte ontstaan het. Hy wou weet hoe hierdie finale gestalte van die Heksa­teug tot sy huidige gestalte gegroei het. En dit is natuurlik ‘n historiese onderneming. Maar: dit het ook teologiese konsekwensies gehad. Geskiedenis en teologie was onlos­maaklik verbind.

Ons kan dit weer soos volg verduidelik. Eers as ‘n mens iets (soos die Heksateug) se ontstaan en groei kan verstaan, kan ‘n mens iets van Israel se teologie begryp. Eers wanneer ons kan vertel waar alles (met betrekking tot die Heksateug) begin en geëindig het, snap ons iets van Israel se teologie (Von Rad 1973c:154-188). Kortom: in die historiese verhaal (oor die Heksateug se ontstaan) lê die teologiese insigte (van Israel) ingebed (Von Rad 1971a:9-86).

 

Alles het by ‘n geloofsbelydenis begin

Von Rad het toe begin boor. Van bo tot onder het hy ‘geboor’.  Vanaf die Heksateug se finale gestalte tot die kleinste deeltjie; vanaf die finale vorm (die Heksateug) tot die kleinste vorm (die credo).  En die ‘boor’ wat hy gebruik het, was Wellhausen se literêre kritiek.  Daarmee kon hy tot die kleinste deeltjie probeer deurdring. Die kleinste deeltjie of vorm wat hy toe raak geboor het, was ‘n geloofsbelydenis (of credo) (Von Rad 1957:121-128).

 ‘n Voorbeeld hiervan kry ons in Deuterono­mium 26:5-9. Elke keer wanneer die eerstelinge van die oes aan die priester oorhandig is, moes die boer eers bely: ‘My vader was ’n Arameër wat van plek tot plek getrek het. Hy het na Egipte toe gegaan …  Daar het hy ’n groot, sterk en talryke nasie geword.  Die Egipte­naars het ons …  verdruk …  Ons het na die Here …  om hulp geroep, en Hy het ons ge­hoor …  Die Here het ons uit Egipte laat wegtrek …  Hy het ons in hierdie plek gebring en hierdie land aan ons gegee, ’n land wat oorloop van melk en heuning’. In hierdie woorde het Von Rad die begin van die Heksateug gehoor. In dié belydenis is die hoofmomente van God se handelinge met Israel saamgevat: die aartsvaders (‘My vader was Arameër …’), die Egiptiese verdrukking en bevryding, en die intog in die beloofde land (Von Rad 1958:11-16).

Israel se geloof was dus in die geskiedenis gegrond; in die groot dade van God in hulle geskiedenis. Deur sy  magtige dade by die uittog of die intog het God gewys dat Israel sy eiendom was, dat Hy hulle liefgehad en gekoester het. In Israel se geskiedenis het God sy erbarming en sorg geblyk. En dit was iets wat alle geslagte geraak het. As die boer voor die priester gestaan en dié woorde opgesê het, het hy hom onherroeplik deel van die geloofsgemeenskap van gister en eergister ervaar. As hy  die woorde voorgedra het, het hy hom so één met vorige geslagte gevoel dat dit was asof hy en sy geslag self in Egipte was en uitgelei is en daarom sê hy ‘ons’ is  verdruk, ‘ons’ het gely, ‘ons’ is uitgelei, ‘ons’ is na die land van melk en heuning gebring. So intens was die herbelewenis van God se ingryping in al Israel se gisters dat  die mense van nou alles weer ervaar; so intens was dit dat dit mense se geloof versterk en hulle nuwe moed gegee het. asof hy weer uitgelei word (Von Rad 1973b:109-153).

 

‘n Groot teoloog: die Jahwis

Vir Von Rad was die Jahwis ‘n besondere skrywer. Daar is al gesê dat Von Rad in die tyd van die groot teoloë (soos Von Harnack, Barth en Bultmann) geleef het en daarom het hy onbewustelik die Jahwis ook ‘n groot teoloog gemaak het. Vir Von Rad was die Jahwis inderdaad belangrik en die eintlike grondlegger van die (Pentateug en) Heksateug want hy het die credo as basis geneem en toe uitgebrei. Vooraan het hy die skepping en die verhaal van die eerste mense gevoeg (Gen 1-11), die aartsvaderverhale (Gen 12 -50) uitgebou en ten slotte die Sinaigebeure (vanaf Eks 19) ingevoeg (Von Rad 1958:51-74).

Die Jahwis was groot want hy het in grootse tye geleef en gewerk. Dit was (volgens Von Rad) die tyd van die Salomoniese Aufklärung of Verligting. Dit was ‘n ongelooflike tyd van politieke mag, ekonomiese vooruitgang en nuwe denke. En die Jahwis is deur dié tyd se kragte gevorm en geslyp. En ons sien die nuwe tydsgees ook as ‘t ware deurslaan in sy bydrae tot die Heksateug (Von Rad 1957:48-56).

Ons sien dit byvoorbeeld in die manier waarop hy die verhaal van Israel se vroeë geskiedenis beskryf het. In die tyd van die groot Salomoniese Verligting is anders oor geskiedenis gedink: gebeure is met mekaar verbind en in verhaalvorm vertel. Die Jahwis se geskiedenis was dus nie ‘n blote kroniek van datums en gebeure nie, maar ‘n verhaal waarin gebeure aanmekaar verbind is (Von Rad 1957:316-318).

Ons noem ‘n voorbeeld. Die Jahwis begin sy verhaal in Genesis 2:4b-25 met die skepping. Dit is eintlik ‘n roerende verhaal van God wat die mens uit die aarde se bogrond geskep en hom gekoester het en selfs in sy eensaamheid ‘n vrou gegee het. Te midde van die magtige Dawid-Salomoniese tyd skets die Jahwis die mens dan in al sy kleinheid en broosheid as iemand wat net van God se asem kan leef (Von Rad 1957:316-318).

Van dié broosheid verneem ons ook in die sondeval (Gen 3) en die verskriklike gevolge van die sonde (in Gen 4-11). Vanweë die sonde lê die mens se verhouding met God, met mekaar en met die natuur aan flarde. Aan die einde van Genesis 11 blyk dit selfs asof God klaar was met die mens, maar dan breek sy erbarming in Genesis 12 deur as Hy opnuut met Abraham en sy nageslag begin (Von Rad 1970a:10-56).

Hierdie aaneenskakeling sien ‘n mens ook in die Jahwis se plasing van die gebeure in sy verhaal. Eers kom die uittog uit Egipte en dan Sinai (en die wette). Die verhaal van Israel begin nie met wette nie, maar met verlossing of bevryding. Eers moes Israel God se liefde en genade in Egipte, by die see en in die woestyn ervaar word alvorens oor wette of  God se wil gepraat kon word. Dit is ook waarom die Tien Gebooie met God se erbarming begin: ‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte uit die slawehuis gelei het’ (Von Rad 1957:187-190).

 

Deuteronomium op die mespunt van die geskiedenis

Soms is al gesê dat die hart van die Heksateug of selfs van die hele Ou Testament vir Von Rad in die boek Deuteronomium klop. In dié boek word op ‘n grootse wyse oor God se liefde vir Israel en Israel se liefde vir mekaar gepraat. En dít het in ‘n krisistyd in Juda se geskiedenis gebeur (1973b:109-118).

Josia van Juda (640-609 vC) het met baie gewaagde hervormings begin. Sy pa Amnon (642-640) en sy oupa Manasse ( 687-642 vC) het Juda in die diepste dieptes van afgodery gedompel en die geloof met ander godsdienste vermeng. Dit was die gevolg Juda se ondergeskiktheid aan Assirië. Onderworpenheid aan dié groot wêreldmag het ook godsdiens-integrasie beteken. Juda moes aspekte van die Assiriese godsdiens met hulle eie godsdiens vermeng en veral Manasse was fanaties hieroor (2 Kon 21).

Josia wou alles verander, maar dit was gevaarlik. Indien hy al die vreemde beelde, altare en sieninge sou uitban, was dit ‘n daad van verset teen die Assiriërs. En tog het Josia met ‘n radikale hervorming voortgegaan. In dié omstandighede het die Levitiese priesters die ou wette van Israel wat by Sinai gegee is, geherinterpreteer deur dit vir die volk te preek. In hierdie uiters belangrike tyd van hervorming waar dinge maklik skeef kon loop, preek die Leviete Sinai se wette op so ‘n manier dat dit vir Israel nuut en aktueel geword het (Von Rad 1971b:245-261)

En die Leviete se uitgangspunt in dié moeilike tye was God se liefde en Israel se sorgende liefde vir mekaar. God was lief vir Israel en daarom moes hulle mekaar liefhê. Anders gesê: tot in die kleinste dingetjies moes Israel vir mekaar omgegee het. As iemand ‘n huis gebou het, moes hy op die daktuin ‘n reling sit sodat sy broer nie sou afval nie (Dt 22:8). As iemand bang was, hoef hy nie oorlog toe te gegaan het nie (Dt 20:8). As iemand ‘n wingerd of ‘n koringland gehad het, moes hy sy mense (veral die armes) toelaat om soveel druiwe te eet en soveel are te pluk as wat hulle wil. Hulle moes net nie die trosse in sakke sit of ‘n sekel in die koringland gebruik nie (Dt 23:24-25) (Von Rad 1973b:150-153).

‘n Jongman wat pas getroud is, moes ‘n jaar lank van militêre diens en van ander verpligtinge ‘vrygestel wees om sy vrou met wie hy getroud is, gelukkig te maak’ (Dt 24:5). Nooit moes die twee maalklippe waarmee ’n vrou elke oggend brood bak, geneem word om skuld te betaal nie. En as ’n Israeliet  vandag iemand gehuur het en die persoon was arm moes hy hom dieselfde dag nog voor sononder betaal want hy reken op die geld (Dt  24:14-15) (Von Rad 1973a:9-105).

In die wording van die Heksateug het Deuteronomium ‘n sentrale plek ingeneem want dit het die ideaal van liefde en omgee vir mekaar gestel.

 

Die Priesterskrif

P of die Priesterskrif was die laaste redakteur wat vir die Heksateug se huidige gestalte verantwoordelik was. P se teologie is in die smeltkroes van die Babiloniese ballingskap gevorm en geslyp en ‘n mens sien nou nog die merke daarvan in sy werk. So byvoorbeeld vertoon sy skeppingsverhaal in Genesis 1 die invloed, maar ook verwerping van die Babiloniese skeppingsmites. Teenoor die vegtende gode wat met die oorwonnenes se bloed en liggaamsdele die wêreld geskep het, vertel P van ‘n soewereine God wat net sê en dan gebeur dinge.

En hierdie siening van die skepping was vir P oorheersend in sy afronding van die Heksateug. Hy het byvoorbeeld die rede waarom die sabbat volgens Deuteronomium 5 gevier moes word, verander. Volgens Deuteronomium moes Israel ses dae in die week werk, maar die sewende dag rus want ‘Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte ‘n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou’ (Dt  5:12-15). P het dit later verander en gesê dat Israel op die sewende dag moet rus want die ‘Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig’ (Eks 20:8-11).

Soms is gesê dat P strak was en hom soos ‘n priester net met wette besig gehou het. Dit is nie heeltemal waar nie want ook hy gebruik die heilsgeskiedenis om  Israel se godsdiens te begrond. Ons kan dit só verduidelik: tydens die ballingskap en ook daarna het die priesters veel oor die na-eksiliese heropbou van Israel nagedink; vir hulle was dit egter duidelik dat as Israel nog ‘n kans gegun sou word hulle die godsdiensgebruike (soos die sabbatviering en besnydenis) met groter erns sou moes bejeën.

P maak dan die belangrike punt dat dié gebruike nie maar uit die lug geval het nie, maar nou aan Israel se heilsgeskiedenis verbonde was. Die sabbat is by die skepping gegee, die besnydenis was oud want dit kom van Abraham se tyd af, die paasfees was baie nou met die gebeure in Egipte verbind, en by Sinai het die kultus ontstaan. Israel se geskiedenis en godsdiens was dus volgens P ineengestrengel; Israel se kultus was die gevolg van God se ingrype in Israel se geskiedenis.

Die Pentateug/Heksateug is dus afgerond en afgesluit met P se histories-teologiese riglyne oor hoe Israel nuut kon begin en leef.

 

Slot

Soos ons hierbo gesê het, het baie dinge sedert Von Rad se tyd verander.  Nuwere insigte in en perspektiewe op die Ou Testament het Von Rad in baie opsigte gedateer. En tog ook nie. Daar is nie verniet van die tyd voor en na Von Rad gepraat nie. So gou is ons nie klaar met hom nie. Sy impak op die Ou-Testamentiese wetenskap was daarvoor net te groot.

 

Bronnelys

Bright, J 1972.  A history of Israel.  London: SCM.

Gunkel, H 1910.  Genesis.  Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Gunkel, H 1926/1927.  The ‘Historical Movement’ in the study of religion.  ExpTimes 38, 532-536.

Gunkel, H 1975.  Einleitung in die Psalmen.  Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Le Roux, J H 1981.  Uittog en Sinai.  Pretoria: UNISA.

Von Rad, G 1957.  Theologie des Alten Testament, Vol 1.  München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1960.  Theologie des Alten Testament, Vol 2.  München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1960/1961.  History and the patriarchs.  ExpTimes 72, 213-216.

Von Rad, G 1966.  Deuteronomy.  A commentary.  London: SCM Press.

Von Rad, G 1970a.  Genesis.  London: SCM Press.

Von Rad, G 1970b.  Weisheit in Israel.  Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag.

Von Rad, G 1971a.  Das formgeschichtliche Problem des Hexateuch, in Gesammelte Studien zum Alten Testament 1, 9-86.  München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1971b.  Die levitische Predigt in den Büchern der Chronik, in Gesammelte Studien zum Alten Testament 1, 248-261.  München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1973a.  Das Gottesvolk im Deuteronomium, in Gesammelte Studien zum Alten Testament 2, 9-108.  München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1973b.  Deuteronomium-Studien, in Gesammelte Studien zum Alten Testament 2, 109-153.  München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1973c.  Die Theologie der Priesterschrift, in Gesammelte Studien zum Alten Testament 2, 154-188.  München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1973d.  Offene Fragen im Umkreis einer Theologie des Alten Testaments, in Gesammelte Studien zum Alten Testament 2, 289-312.  München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1974.  Gottes Wirken in Israel.  Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag.

Wellhausen, J 1905.  Prolegomena zur Geschichte Israels.  Berlin: Reimer.

Wellhausen, J 1963.  Die Composition des Hexateuchs und der Historischen Bücher des Alten Testaments.  Berlin: Walter de Gruyter.