Die Ou Testament is ‘n geskiedenisboek. Dit het in egte lewensomstandighede ontstaan, in verskillende historiese kontekste gegroei en dra die merke van ‘n lang groeityd. Verder vertel dit van ‘n geskiedenis: God se geskiedenis met Israel, maar wat vanuit Israel se pespektief vertel word. ‘n Geskiedenis wat oor en oor vertel en van verskillende kante toegelig is. En as ons hierdie beweging wil verstaan, moet ons die Ou Testament histories verstaan.

Von Rad se klem op ‘tradisies’ en ‘tradisiegeskiedenis’ het ons gehelp om ‘n beweging in Israel se ‘geloofsdenke’ te kan raaksien. Meer nog: om ingetrek te word daardeur. Vooraf eers ‘n paar opmerkings oor waar ‘tradisiegeskiedenis’ inpas (vgl Becker 2005:115-128).

 

Eers iets oor historiese kritiek

Die uitdrukking ‘historiese kritiek’ word baie los en vas gebruik en dikwels is dit bloot ‘n versamelnaam vir iets wat eerder vermy moet word. Meesal verstaan kritici nie mooi hoe ‘historiese kritiek’ werk en hoe alles inmekaarsteek nie. Miskien is dit die woordjie ‘kritiek’ wat die meeste hinder. Dit dui hoegenaamd nie op Bybelkritiek of ‘n kritiese instelling teenoor die Ou Testament nie. Een manier om dit te verklaar, is om ‘kritiek’ bloot met ‘wetenskaplik’ te vervang en ‘historiese kritiek’ as ‘n wetenskaplike metode te sien wat die Ou Testament histories (in sy oorspronklike kontekste) wil verstaan. 

‘n Ander manier is om ‘kritiek’ as ‘n soort beskerming teen die uitbuiting van die dogmatiek te sien. ‘n Bekende Ou Testamentikus, Bernard Duhm (1847-1928), het in die Voorwoord van sy Jesajakommentaar geskryf dat sy histories-kritiese metode die teks as ‘t ware teen die aanslae van allerlei vorme van dogmatiese misbruik moes beskerm (Becker 2005:4-5). Historiese kritiek was dus in die beginjare as ‘n soort skutmuur gesien wat die teks van die Ou Testament teen allerlei waninterpretasies moes beskut. En historiese kritiek was die beste manier waarop ons iets van die Ou Testament se historiese wording en betekenis kon verstaan.

Vanaf die negentiende eeu het die historiese kritiek bly groei of ontwikkel. Dit het oor baie, baie jare tot die metode gegroei wat ons vandag ken. En dié metode kan ook weer in ‘n aantal ‘kleinere metodes’ verdeel word. Tot dusver het ons al met die eerste twee te make gekry: Wellhausen se literêre kritiek en Gunkel se vormkritiek. Von Rad se manier van doen, is ‘tradisiegeskiedenis’ genoem en dít het ‘n baie belangrike benadering in die uitleg van die Ou Testament geword. Dít het ‘n invalshoek geword om die Ou Testament te verstaan; ‘n venster wat op Israel se geloofsverstaan oopmaak.

 

Tradisiegeskiedenis

Vir ons doel kan ons dalk ‘tradisiegeskiedenis’ met ‘teologiegeskiedenis’ of dalk selfs met ‘geloofsgeskiedenis’ omskryf. Met ‘tradisie’ het Von Rad nie ‘n dorre verlede bedoel nie, maar Israel se lewende interpretasie (of liewer ‘herhaalde interpretasie’) van sy verlede. In die geloof het Israel hulle gisters met God probeer verstaan, verwoord en oor en oor in nuwe kontekste toegepas. Von Rad se tradisiegeskiedenis het ons dus baie naby aan Israel se geloofsverstaan gebring; het ons ‘n kykie gegee in Israel se geloofsworsteling om sin van God se bemoeienis met hulle te maak.

In die proses het ‘geskiedenis’ het vir Israel ‘n eksistensiële betekenis gehad: voortdurend is die verlede geaktualiseer; dit is geherinterpreteer en op hulle eie tyd van toepassing gemaak (Von Rad 1971a:12–18; 1971c:64). Elke geskiedenis was ‘n eietydse weergawe van die verlede: ‘n skrywer het vertel wat vir hom belangrik was en hoe hy die verlede beskou het; hy het sy geskiedenis in die taal en die teologiese denke van sy tyd gegiet.  Israel se geskiedsbeeld het oor ‘n lang tyd gegroei: na ‘n lang en ‘n volgehoue proses van refleksie het die beeld van aartsvaders plús uittog plús woestyn plús Sinai plús intog ontwikkel (Von Rad 1930;1957:93-96,344-351; 1971b:189-204).

In die oorlewering en herinterpretasie van hierdie tradisies sien ons hoe Israel met hulle tyd geworstel en hoe hulle oor God in verskillende tye gepraat het. Met behulp van enkele voorbeelde wil ons dit hieronder illustreer.

 

Ander tye ander interpretasies

Die draaipunte in Israel se interpretasie van die verlede is baie belangrik. Elke keer wanneer ‘n gebeurtenis anders, verskillend geïnterpreteer is, kry ‘n mens ‘n vinnige kykie in Israel se wêreld en denke.

Israel se skeppingstradisie is een voorbeeld. Tydens die magtige Dawid-Salomoniese era skets die Jahwis die mens in al sy kleinheid en broosheid as iemand wat net van God se asem kan leef (Von Rad 1957:316-318). Tydens die ballingskap is die priesters met die Babiloniese skeppingsmites gekonfronteer en in Genesis 1 het P daarop gereageer. Teenoor die vegtende gode, wat met die oorwonne gode se bloed en liggaamsdele die wêreld geskep het, vertel P van ‘n soewereine God wat net sê en dan gebeur dinge. In Psalm 8 word verwonderlng en God se sorg met mekaar verbind (Von Rad 1957:316-318), in Jesaja 40 word skepping en troos verbind (die God wat geskep het, was ook instaat om  Israel uit ballingskap te lei) en in Job (38-42) kry dit ‘n plek binne die probleem van lyding.

Nog ‘n voorbeeld is Israel se regstradisie. Volgens Von Rad is die wette van Sinai (in Eks 21-23) tydens Josia van Juda (640-609 vC) se hervorming radikaal geherinterpreteer is. En die neerslag van dié ‘nuwe’ interpretasie kry ons in die boek Deuteronomium. Dit lees amper soos ‘n preek en dit is wette met ‘n ‘hart’ (Von Rad 1971b:245-261). In die spanningsvolle tyd van Josia se hervorming het God se liefde en Israel se sorgende liefde vir mekaar sentraal gestaan. Anders gesê: tot in die kleinste dingetjies moes Israel vir mekaar omgegee het.

En dié liefde is in Israel se wette ingeskryf. As iemand byvoorbeeld ‘n huis gebou het, moes hy op die daktuin ‘n reling sit sodat sy broer nie sou afval nie (Dt 22:8). As iemand bang was, hoef hy nie oorlog toe te gegaan het nie (Dt 20:8). As iemand ‘n wingerd of ‘n koringland gehad het, moes hy sy mense (veral die armes) toelaat om soveel druiwe te eet en soveel are te pluk as wat hulle wil. Hulle moes net nie die trosse in sakke sit of ‘n sekel in die koringland gebruik nie (Dt 23:24-25) (Von Rad 1973b:150-153). Deuteronomium se teologiese atmosfeer, taal en styl was verskillend van Eksodus 21-23 want die omstandighede in die sewende eeu het ‘n totaal ander benadering en interpretasie gevra (Von Rad 1973a:9-105).

 

‘n Voorlopige samevatting

Tradisiegeskiedenis fokus nie primêr op ‘historiese feite’ nie, maar eerder op hoe Israel gedink en geglo het. In die oorvertel van die ontstaangeskiedenis en die herinterpretasies van die verlede kom soveel teologiese vonke los dat ons die teologiese lyne in die Heksateug/Ou Testament helderder en duideliker kan raaksien (Von Rad 1971a:75-81).  

Hierdie tradisiegeskiedenis of teologiegeskiedenis van Israel het nie in ‘n lugleegte gestalte gekry nie. Mense van vlees en bloed het in verskillende tye in Israel se geskiedenis op verskillende maniere sin aan hulle lewens probeer gegee. Hulle het toe besluit om hulle eie verlede teologies te interpreteer en dit so te doen dat dit vir hulle daaglikse lewe sin maak. En die geskiedenis wat hulle hiervoor ‘gebruik’ het, was God se geskiedenis met hulle. Spesifieke dade (soos by die skepping, die aartsvaders, die bevryding uit die Egipte, die woestyntyd, die gebeure by Sinai en die intog) het die basis van hulle geloofsnadenke gevorm (Von Rad 1957:127-134).

Met behulp van hierdie dade het Israel verder gedink, geglo en gedoen.  Israel het hierdie groot handelinge van God in die verlede in die geloof geïnterpreteer: dit was nie blote historiese feite nie, maar ‘n geskiedenis wat vanuit ‘n bepaalde geloofsdimensie gestalte gekry het.  Hierdie dade is voortdurend geherinterpreteer (Von Rad 1960/1961:213-216): daar is voortdurend daaroor nagedink en vir hulle eie tyd geïnterpreteer. Israel het hierdie geskiedenis voortdurend geaktualiseer: hulle het hierdie verlede vir hulle eie tyd so relevant gemaak dat hulle lewensmoed vir hulle daaglikse lewe gekry het; vanweë Jahwe se geskiedenis met hulle sou hulle môre nie minder sinvol as hulle gisters en eergisters wees nie. Vir Israel was hierdie geskiedenis die grondslag van hulle toekomsverwagting: aan die hand van hierdie groot dade het hulle inhoud aan hulle toekomshoop gegee (Von Rad 1960:125-132).  Kortom: geloof roep om historiese besinning en historiese dade ondersteun die geloof.

Von Rad se teologie van Israel se tradisies het ‘n geweldige invloed uitgeoefen. Daar is selfs van ‘n teologie voor en na Von Rad gepraat. Veral een student van sy studente sou ‘n besondere interpretasie aan sy denke gee. Dit was Wolfhart Pannenberg.

 

Geskiedenis is die wydste verstaanshorison

Op 5 Januarie 1959 het Wolfhart Pannenberg op Wuppertal by ‘n byeenkoms van teologiese dosente ‘n belangrike rigting aangedui. Lynreg teenoor die dialektiese teologie met die groot klem op die Woord, het Pannenberg die geskiedenis sentraal gestel. Beroemd is die inleidingsinne van die destydse referaat: geskiedenis is die mees omvattende horison van die Christelike teologie; alle teologiese vrae en antwoorde het slegs sin en betekenis binne die raamwerk van die geskiedenis wat God met die mensheid en deur die mensheid met die hele skepping het (Pannenberg 1970:15). 

Pannenberg se woorde was soos ‘n hamer wat gevestigde sieninge bevraagteken het, maar ook nuwe wêrelde oopgekap het (Rogerson 1984:79-90, 138-144; Graf Reventlow 1985:65-71). So het die historiese besigwees met die Ou Testament egter baie meer as net ‘n metode of ‘n blote liefhebbery geword. Dit moes ‘n lewenswyse wees. ‘n Manier waarop die teologie bedryf en die Ou Testament bestudeer kon word. Anders gesê: geskiedenis moes ons hele wetenskaplike besigwees tipeer (1973:31-73).

Hiermee wou Pannenberg met ’n dualisme in die teologie afreken. ’n Dualisme wat uit vrees vir die historiese kritiek altyd tussen twee soorte geskiedenis onderskei het: feitelike geskiedenis en heilsgeskiedenis (of geskiedenis met ‘n boodskap). By Karl Barth en Rudolph Bultmann was daar altyd ‘n stukkie geskiedenis wat buite die greep van die historiese kritiek gestaan het. Klem is so sterk op ‘openbaring’ geplaas dat dit altyd die historiese kritiek ontsnap het; openbaringsteologie het dan sy eie ‘beskermde’ studiegebied gehad wat nie deur die mot en roes van die historiese kritiek verniel kon word nie. En die gevolg: ‘n voortdurende spanning tussen openbaringsteologie (wat slegs deur die geloof toeganklik was) en ‘n histories-kritiese verstaan van die Ou Testament (soos hierbo).

Vir Pannenberg was universele geskiedenis belangrik. Geskiedenis bestaan nie net maar uit ‘n aantal losstaande historiese dade nie, maar is deel van ‘n groot geheel. God se betrokkenheid by mense en sy andersheid kan net deur die geskiedenis in sy geheel verstaan word. Die enkeldaad word by die totaliteit van gebeure ingevoeg en kry slegs binne daardie konteks sin en betekenis. Elke afsonderlike gebeurtenis veronderstel dus ‘a universal horizon of meaning’ (Pannenberg 1970:199). ‘n Betekenis wat eers teen einde van die tye ten volle verstaan kan word. Geskiedenis is daarom fundamenteel oop; elke betekenis wat ons aan historiese gebeure gee, is dus voorlopig, onafgesluit, oop na die toekoms toe. Eers aan die einde kan die betekenis van die geheel raakgesien word. So het die einde in sy volheid in Christus aangebreek, maar dit was tegelyk ‘n voorlopige aanbreek; die volledige einde sal eers later in sy volheid aanbreek.

Histories besigwees het ook konsekwensies vir die hede. Historiese studie behels meer as net die rekonstruksie van die verlede waarna die teks verwys. Feite leef voort deur die betekenisse wat daaraan geheg word; dit groei nog steeds na ‘n betekenisvolheid toe; ons bevind ons in die ruimte tussen feit en finale betekenis; ons word in die betekenisstroom meegeneem na ‘n immergroeiende insig in die handelinge van God (De Knijff 1980:140). Pannenberg gebruik Gadamer en gee hieraan inhoud met behulp van die term ‘Horizontverschmelzung’: teks en leser is voortdurend op mekaar betrokke; verstaan vind eers plaas wanneer hierdie twee horisonne mekaar ontmoet; en dit gebeur deur hierdie voortdurende proses van interpretasie en herinterpretasie (Pannenberg 1970:117-128).

Dieselfde het in die Ou Testament gebeur. God se geskiedenis met Israel is voortdurend geïnterpreteer en vir nuwe tye relevant gemaak. Elke interpretasie het tot ‘n verdieping in die betekenis gelei en alles het tot groter betekenisvolheid gegroei (De Knijff 1980:140). En daarom was Von Rad se tradisiegeskiedenis vir Pannenberg belangrik want daardeur kon ons ‘n kykie in die wêreld van Israel kry en hoe hulle in elke era betekenis aan God se dade gegee het.

 

Die verlede omvou ons

Hans-George Gadamer was ‘n tydgenoot van Von Rad in Heidelberg, maar klaarblyklik was hulle nie naby-vriende nie. Gadamer se filosofie lig egter Von Rad se tradisiegeskiedenis op verskeie maniere toe en ons vermeld net een aspek.

‘n Teks word nooit finaal uitgelê en geskiedsinterpretasie nooit finaal afgesluit nie. In elke nuwe situasie word nuut en anders oor teks en geskiedenis nagedink. En al hierdie eeue lange interpretasies is vir Gadamer nie stowwerige argiefmateriaal of verouderde werke wat sinloos op boekrakke staan nie. Dit kan ‘n mens help om te verstaan. Dit verskaf interpretasies waarvan ons nie geweet het nie of waarvan ons vergeet het. Gadamer noem hierdie voortdurende proses van interpretasie en herinterpretasie ‘Wirkungsgeschichte’ (Ndl: ‘effectieve geschiedenis’; Eng: ‘effective history’) (Gadamer 1990:305-312). Die ‘Wirkungsgeschichte’ is ‘n historiese beweging wat nou nog hier en nou (bewustelik of onbewustelik) die lees van tekste en die verstaan van geskiedenis beïnvloed (Gadamer 1990:346-352). ‘n Teks se verstaan word mede deur die geskiedenis van die interpretasies daarvan bepaal. ‘n Mens kan nooit ‘n teks op sy eie of opsigself verstaan nie. Dit kan nooit los van die interpretasies daarvan begryp word nie.

Uiteraard het dit konsekwensies vir ons verstaan van ‘n teks. Ons is net nooit alleen nie want die teks se ‘verlede’ praat in die eksegetiese proses mee. Verstaan is dus nie soseer ‘n objektiewe handeling van ‘n subjek nie, maar eerder ‘n proses waarin ons deel van ‘n teks se verstaansgeskiedenis gemaak word (Gadamer 1990:295). Ons word as ‘t ware in die geskiedenis van die uitleg ingetrek en een daarmee gemaak. Anders gestel: menswees (of: teoloogwees) is nooit los van die verlede nie; ons is aan die geskiedenis ‘onderworpe’; ons maak nie geskiedenis nie, maar die geskiedenis maak ons; die geskiedenis (die ‘Wirkungsgeschichte’) rig daarom ons verstaan; dit help ons om tekste te kan begryp (Gadamer 1993:101). Geskiedenis (of dan die ‘Wirkungsgeschichte’) penetreer as ‘t ware ons totale lewensbestaan so volledig dat ons nooit daarvan kan loskom nie.

Met behulp van Gadamer kan ons sê dat Von Rad se tradisiegeskiedenis belangrik vir die Ou Testament se verstaan is: dit maak ons deel van ‘n lang interpretasieproses; ‘n proses waarvan ons nooit kan loskom nie. As ons die Ou Testament vanuit ‘n tradisie-historiese bril probeer verstaan, word ons onherroeplik deel van byvoorbeeld die skeppingstradisie en ons besef hoe dit verskillend in verskillende omstandighede geinterpreer is

 

Slot

‘n Teologie van die Ou Testament se groot taak was dan volgens Von Rad om die tradisiegeskiedenis of geloofsinterpretasies van Israel oor te vertel. ’Nacherzählung’ (‘na-vertel’, ‘oorvertel’) is die woord wat hy hiervoor gebruik het (Von Rad 1957:111-120). In so ‘n teologie het die kollig op Israel se verstaan van en ‘getuienis’ oor God se handelinge in hulle geskiedenis geval.

Baie dinge het egter sedert Von Rad se tyd verander (Schmidt 1972:1-25). Nuwere insigte in en perspektiewe op die Ou Testament het Von Rad in baie opsigte gedateer.  En tog ook nie. So gou is ons nie met hom klaar nie. Sy impak op die Ou-Testamentiese wetenskap was daarvoor net te groot. Vir ons in Suid-Afrika sal hy altyd relevant bly.

 

Bronnelys

Albertz, R 1992.  Religionsgeschichte Israels in alttestamentlicher Zeit,1.  Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Becker, U 2005. Exegese des Alten Testaments. Tübingen: Mohr Siebeck.

De Knijff, H W 1980. Sleutel en slot. Kampen: Jahwe Here Kok.

Graf Reventlow, H 1985.  Problems of Old Testament theology.  London: SCM.

Hasel, G.  1982.  Old Testament theology: Basic issues in the current debate.  Revised edition.  Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.

Knight, D.A.  1975.  Rediscovering the traditions of Israel.  Revised edition.  Missoula: Scholars Press.

Kraus, H-J 1969.  Geschichte der historisch-kritischen Erforschung des Alten Testament.  Neukirchen: Neukirchener Verlag.

Pannenberg, W 1973a.  Glaube und Wirklichkeit im Denken Gerhard von Rads, in Wolff & Rendtorff 1973:37-54.

Pannenberg, W 1973b.  Wissenchaftstheorie und Theologie.  Frankfurt: Suhrkamp.

Pannenberg, W 1981. God’s Presence in History, Christian Century, 3/11, 260-263.

Rogerson, J 1984.  Old Testament criticism in the nineteenth century.  London: SPCK.

Schmidt, W H 1972. Theologie des Alten Testaments’ vor und nach Gerhard von Rad.  EvThBeih 17, 1-25.

Smend, R 1989.  Deutsche Alttestamentler in drei Jahrhunderten.  Göttingen: Vanden­hoeck & Ruprecht.

Thiselton, A C 1980.  The two horizons.  Exeter: Paternoster.

Van Huysteen, W 1970.  Teologie van die rede.  Kampen: Kok.

Van Seters, J 1999.  The Pentateuch.  A social-science commentary.  Sheffield: Sheffield Academic Press.

Von Harnack, A 1908 Das Wesen des Christentums.  Leipzig: Heinrichsche Buch-handlung.

Von Rad, G 1957.  Theologie des Alten Testament, Vol 1.  München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1960.  Theologie des Alten TestamentVol 2.  München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1960/1961.  History and the patriarchs.  ExpTimes 72, 213-216.

Von Rad, G 1966.  Deuteronomy.  A commentary.  London: SCM Press.

Von Rad, G 1970a.  Genesis.  London: SCM Press.

Von Rad, G 1970b.  Weisheit in Israel.  Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag.

Von Rad, G 1971a.  Das formgeschichtliche Problem des Hexateuch, in Gesammelte Studien zum Alten Testament 1, 9-86.  München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1971b.  Die levitische Predigt in den Büchern der Chronik, in Gesammelte Studien zum Alten Testament 1, 248-261.  München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1973a.  Das Gottesvolk im Deuteronomium, in Gesammelte Studien zum Alten Testament 2, 9-108.  München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1973b.  Deuteronomium-Studien, in Gesammelte Studien zum Alten Testament 2, 109-153.  München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1973c.  Die Theologie der Priesterschrift, in Gesammelte Studien zum Alten Testament 2, 154-188.  München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1973d.  Offene Fragen im Umkreis einer Theologie des Alten Testaments, in Gesammelte Studien zum Alten Testament 2, 289-312. München: Chr Kaiser Verlag.

Von Rad, G 1974.  Gottes Wirken in Israel.  Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag.

Von Rad, G 1991 (1958). Holy war in Israel.  Grand Rapids/Michigan: William B Eerdmans.

Wellhausen, J 1905.  Prolegomena zur Geschichte Israels.  Berlin: Reimer.

Wolff, H W & Rendtorff, R  1973.  Gerhard von Rad.  Seine Bedeutung für die Theologie.  München: Chr Kaiser Verlag.

Wolff, H W (red) 1971.  Probleme Biblischer Theologie.  München: Chr Kaiser Verlag.