Soos die wysheidsleraar hom oor die liefde tussen man en vrou verwonder so is die gange van die wetenskap ook soms ondeurgrondlik. Idees en mense vind mekaar op die regte tyd en dan gebeur daar iets. Iets nuut word gesê, dit boei mense, dit bring hulle in ‘n wetenskaplike konteks bymekaar en dit kweek ‘n vorm van wetenskapsbeoefening wat oor ‘n lang tyd aan andere oorgedra word.

So iets het in die begin van die sewentiger jare van die vorige eeu gebeur. Eers onder Nuwe Testamentici en toe onder Ou Testamentici. In hierdie wye en droewe land sal daar dalk nooit weer so ‘n era aanbreek nie. ‘n Era waarin so diepsinnig oor tekste en hulle verstaan gepraat is nie. ‘n Era waarin ‘n nuwe metode so deeglik ontwikkel en toegepas is en soveel eksegete saamgesnoer het nie. ‘n Era waarin Bybelwetenskaplikes so hulle beste kragte oor baie jare aan wetenskaplike teksarbeid gewy het nie.

Oor die jare is intense intellektuele debatte oor die aard en toepassing van die nuwe metode gevoer. Al dié vurige gesprekke en debatte by vakkongresse of tussen kollegas en in wetenskaplike publikasies was deel van hierdie besondere hoogtepunt in ons nadenke oor teks en eksegese, maar ook in die toepassing van dié metode op die teks van die Hebreeuse Ou Testament en die Griekse Nuwe Testament.

Hieronder is ‘n baie persoonlike verhaal. ‘n Verhaal soos wat ek dit self beleef het. Tot vandag toe beskou ek dit as onuitspreeklike voorreg dat ek dié dag meegemaak het, die begin van ‘n eksegeties-wetenskaplike tradisie kon ervaar het en kon sien hoe dit ‘n neerslag in die Nuwe Testament- asook Ou Testament-eksegese gevind het. Waarskynlik was die tyd reg vir so ‘n deurbraak.

 

Alles op die regte tyd

‘n Belangrike impuls tot hierdie nuwe beweging was die uitstekende, deeglike en gepubliseerde proefskrifte wat gedurende die sestigerjare in Nederland en ook Switzerland verskyn het. Ons noem ‘n paar. Tjaart van der Walt promeer in 1962 by Herman Ridderbos met ‘n proefskrif oor die koninkryk van God in die Sinoptiese evangelies (Van der Walt 1962). En in dieselfde jaar promoveer Isak Du Plessis ook by Ridderbos oor Christus as Hoof van kerk en kosmos volgens  Efesiërs en Kolossense (Du Plessis 1962). In 1965 verskyn die proefskrif van Andrie du Toit oor die vreugde tydens die vroeg-Christelike nagmaalsvieringe (Du Toit 1965). Hy het in Basel onder die promotorskap van Oscar Cullmann gepromoveer, en ook die klasse van onder andere die Nuwe Testamentikus Bo Reicke en die beroemde Kark Barth bygewoon. Johnnie Roberts het in 1963 ‘n proefskrif by Herman Ridderbos in Kampen oor die opbou van die kerk volgens die Efesebrief geskryf en in 1968 promoveer Bernard Combrink aan die Vrije Universiteit, Amsterdam onder leiding van R Schipper. Hy het oor die diens van Jesus na aanleiding van Markus 10:45 geskryf (Combrink 1968).

Proefskrifte soos hierdie het die Europese vakmanskap in ‘n Afrikaanse wêreld laat posvat. Hulle het ‘n bepaalde wetenskaplike etos oorgedra waarvolgens deeglike eksegese ‘n tipiese kenmerk van ‘n vakman moes wees. Daar was ook nog iets anders: ‘n bepaalde houding teenoor die teks van die Nuwe Testament. In 1970 het Andrie du Toit hierdie ingesteldheid baie mooi geformuleer. Nuwe-Testamentiese arbeid is baie harde tekswerk, maar Bultmann en die ‘eksistensieteoloë’ se werkswyse moes vermy word.

Volgens Du Toit moes teen ‘drastiese ingrype in die teks’ (Du Toit 1970:71) gewaak word; daar moes nie met ‘die gegewendheid van die Skrif’ gepeuter word nie (Du Toit 1970:72); die moderne mens se selfverstaan moes nie in die teks ingelees word nie; ‘n ‘Skrifvreemde uitlegprinsipe’ moes vermy word; teen ‘n ‘reduksierproses’ van die historiese Jesus moes gewaak word; geen skeiding moes tussen die historiese Jesus en die kerugmatiese Christus gemaak word nie; terugprojeksies van die Christologiese titels het tot tot enorme verskraling gelei. Sy verset teen Bultmann (en ook die ‘eksistensieteoloë’) is dus baie duidelik: ‘Daarom moet ook hier ‘n besliste “nee” teenoor die Bultmannrigting uitgespreek word. Dit sou geen oordrewe dramatisering wees om te beweer dat ‘n oorwinning vir hierdie benadering die einde vir die Christendom sou inlui nie’ (Du Toit 1970:78).

Kerk en teologie moes egter na ‘die regte hermeneutiese sleutel soek’ (Du Toit 1970:78). Die Nuwe Testament moes sorgvuldig ‘beluister’ word; na sy ‘bedoeling’ gevra word; en ‘ootmoedig’ na geluister word; daar moes gepoog word om ‘’n steeds diepergroeiende insig in die wese van die Skrifbedoeling’ te bekom (Du Toit 1970:73,79).

‘n Jaar later sou daar ‘n metode wees waarin hierdie ‘hermeneutiese’ ideale en wetenskaplike etos as ‘t ware ‘n tuiste kon vind. Anders gestel: ‘n metode wat reg sou laat geskied aan die groot begeerte om intens wetenskaplik te werk en tog ook aan die gesag van die Skrif vas te hou; ‘n metode wat krities is, maar tog ook die eenheid van die teks bewaar.

 

Wat het gebeur?

Op ‘n herfsoggend presies veertig jaar gelede het die gesig van die teologie, veral die Bybelwetenkap in Suid-Afrika, ingrypend verander. Die datum was 3 Maart 1971, die plek die destydse UNISA-gebou in Visagiestraat in Pretoria en die geleentheid was ‘n vergadering van die Pretoriagroep van die NTWSA  (of die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika). Daar was dertien van ons teenwoordig en van die aawesiges wat ek nog onthou, was E P Groenewald, Johnie Roberts, Ian Eybers, Jan Stoop, Carel Borchardt, Cornelis de Waal, Jurie le Roux en Willem Vorster (vgl Le Roux 1994:5-7).

By dié geleentheid het Willem Vorster (toe nog ‘meneer’) ‘n lesing gelewer waarin hy die belangrikheid van die moderne taalkunde vir die studie van die Nuwe Testament beklemtoon het (Vorster 1971:139-148). As ek nog reg onthou, het hy ‘n bruinerige pak aangehad en met die een hand in die sak het hy sy lesing gestaan en voorlees. Hy was skaars dertig en vol selfvertroue dat iets van die oue (die historiese kritiek) verbygegaan het en dat iets nuut aangebreek het.

Hy het veral by die taalinsigte van Jannie Louw, wat op daardie stadium ‘n professor in Grieks aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat was, aangesluit. Louw sou in later jare nog ‘n baie belangrike bydrae tot die studie van die Griekse en Nuwe Testament-taalkunde lewer, maar op daardie dag in Maart by UNISA was dit Willem Vorster se beurt. Sy toespraak was soos ‘n sneller wat ‘n hele beweging onder eksegete teweeggebring het. ‘n Nuwe eksegetiese metode het hieruit gegroei waarvan die invloed nooit oorskat kan word nie. Dit het mettertyd tot ‘n normale, algemeen-aanvaarde wetenskap gegroei wat dekades lank ‘n groot invloed op die Suid-Afrikaanse Bybelwetenkap uitgeoefen het (vgl Du Toit 2004:207-210).

Na Vorster se lesing het die groep van dertien vir middagete by die Fonteine Restaurant verdaag. Almal was diep die onderdruk van dié oggend se gebeure en aan tafel het die gesprek voortgegaan. Die kerkhistorici het getwyfel of ‘n mens Augustinus ooit só sou kon lees en ander het weer gewonder of dié nuwe metode ooit sou werk. Dit het!

 

Wat was die nuwe?

Hoe nuut, of liewer anders, Vorster se gedagtes daardie oggend was, hoor ons in die volgende uittreksels: ‘Dat die moderne lingustiek egter nog nie behoorlik deurgedring het tot die gebied van die Bybelnavorsing nie, blyk uit die feit dat daar in die jongste tyd reeds stemme opgaan wat die aandag daarop vestig … Die feit dat Bybelnavorsers van ons tyd nog in so ‘n groot mate onbekend is met die tegnieke van die moderne linguistiek … Daar bestaan nog ‘n ander belangrike onderskeiding wat ook op De Saussure teruggaan te wete die tussen sinchroniese en diachroniese taalkunde  … Sinchroniese taalbeskrywing kan egter onafhanklik van die diachroniese onderneem word … Maar dit is nie so dat die voorgeskiedenis van ‘n taal betrek moet word as ‘n taal beskryf word nie. Die sinchroniese aspekte is baie belangriker vir die verstaan daarvan … Struktuuranalise het al noemenswaardige resultate opgelewer  … Iets wat nie uit die oog verloor moet word nie, is die belangrikheid van die sinchroniese ondersoek waarby die diachroniese nie ‘n rol hoef te speel nie’ (Vorster 1971:141, 143, 144, 145, 147).

Met dié teksbenadering is gepoog om die historiese kritiek op sy kop te keer. ‘n Diakroniese of historiese verstaan soos Wellhausen, Gunkel en Von Rad dit bedoel het, het skielik onbelangrik, selfs nutteloos geword. Kennis van ‘n teks se voorgeskiedenis (dit is sy ontstaan en groei) was eintlik onnodig want die teks soos dit voor ons lê, was die belangrikste.

 

‘n Stryd om tekens

Ten diepste het dit om ‘n stryd om die tekens gegaan. Anders gestel: Wat doen ‘n teken? Dit is ‘n woord, ‘n uitdrukking of ‘n taaluiting in die teks. Verskaf dit enige betekenis en verklaar dit die skrywer se bedoeling? Kan ‘n metode (wat uit spesifieke stappe) bestaan enige betekenis ontsluit? En wat van inligting van ‘buite’? Dit is inligting in verband met die geskiedenis of wording van ‘n teks of die konteks waarbinne dit ontstaan het. Die help nie eintlik nie.

In navolging van die Franse taalkundige Ferdinand De Saussure het Vorster die band tussen ‘n teken (‘n woord) en sy historiese verwysing geproblematiseer. Vir De Saussure het taal na binne oopgemaak en nie na buite (die verlede) nie. Woorde en begrippe het eers in samehang met ander woorde in die teks betekenis gekry. Inligting oor die tradisiegeskiedenis byvoorbeeld was onnodig. Vir De Saussure was taalstrukture belangrik. As ons byvoorbeeld sê, ‘Ek skiet die vark’, help dit nie veel om aan die vark wat daarbuite rondloop te dink nie. Inligting buite die teks is van weinig hulp. Slegs binne die taaluiting (die vers, die hoofstuk) kry woorde betekenis. Ons kan dit ook anders sê: betekenis is van die struktuur van so ’n taaluiting afhanklik (Le Roux 2007:1-18).

Daarmee word twee dinge bedoel. Eers die uiterlike: die plek van die teken (in hierdie geval die woordjie ‘vark’) in die taaluiting, die relasie tot ander tekens of woorde (soos ‘ek’ en ‘skiet’) en die struktuur van die taaluiting. Dan is daar ook die nie-waarneembare element: dit is die dieptestruktuur wat die uiterlike veroorsaak; dit is die verborge taalsisteme wat deur die taalgemeenskap gevorm word en wat in die uiterlike strukture navore kom. Amper soos by die allegorie (maar hoegenaamd nie dieselfde nie) lê daar onder die woorde ’n dieptestruktuur;’n dieper betekenis wat in die oppervlakte van die teks weerspieël word (vgl Derrida 1976:27-73).

Om dit weer te stel. Die betekenis van die (Hebreeuse) taal word as ‘t ware deur taal gegenereer. Dit word nie deur ‘n buite-werklikheid (soos die geskiedenis) verkry nie; tekens verwys nie na die buitewerklikheid nie. Die Hebreeuse woorde in die teks en hulle relasie tot mekaar is lewensbelangrik. En onder die tekens (of die woorde op die oppervlakte van die teks) lê die eintlike verborge betekenis. Die sigbare tekens (of woorde) in ‘n taaluiting (of ook in ‘n vers of ‘n versgedeelte) ‘is a system of “coded” utterances which usually mean something other than what they appear to mean’ (Kearney 1989:249). En hierdie verborge betekenis moes verwoord word en die metode wat hiervoor gebruik moes word, is struktuuranalise genoem.

 

‘n Nuwe naam vir ‘n nuwe metode

Oornag is daar toe ’n nuwe metode in die geledere van ons Bybelwetenskap gebore en dit sou ‘struktuuranalise’ genoem word. ‘Struktuuranalise’ sou ’n soort gonswoord word wat verskillende reaksies ontlok het, maar wat deel van ’n groep mense se vaktaal geword het. Groot optimisme het geheers dat ons deur middel van struktuuranalise deur die sigbare taalnetwerke na die verborge taalstrukture (die plek waar betekenis gelê het) kon beweeg.

Nooit kan ’n mens hierdie eie Suid-Afrikaanse wetenskaplike ontdekking oorbeklemtoon nie. Dit het die aangesig van ons teologiese wetenskap verander want een van die belangrikste kenmerke van die metode is die intense en deeglike manier waarop tekste uitgelê is. Detail-eksegese is gedoen en selfs die kleinste deeltjie in die teks is ondersoek. Eintlik het die struktuuranalise die gewete van die Suid-Afrikaanse teologie geword. ’n Gewete wat ons altyd sal treiter met die vraag of ons diepgaande genoeg met die teks geworstel het.

Struktuuranalise het die Bybelwetenskap oor die jare tot groot hoogtes gevoer, maar dit moes ook langs die pad veranderinge en verstellinge maak. En een was dat die lewenskonteks van ’n teks nie sommer net gelos kon word nie en dat die historiese krtiek nog lank nie gaan lê het nie. Laasgenoemde het oor die jare ook verander, maar dit het soos ’n bul bly voortstorm en vandag het struktuuranalise en historiese kritiek baie nader aan mekaar gekom. Albei gesigspunte vorm tans die grondslag van die Bybelwetenskap hier te lande (vgl Du Toit 2004:207-220). 

 

Historiese vrae is iets totaal anders

Tot nog toe is daar in hierdie reeks op die historiese verstaan van tekste gewys. Von Rad byvoorbeeld het die betekenis van ‘n teologiese tradisie (soos sêmaar die gebeure by Sinai en die regsmateriaal in die Pentateug) histories verstaan. In Israel se voortdurende interpretasie en herinterpretasie van hulle verlede wou Von Rad die diepte van Israel se geloof verstaan. Hy wou begryp hoe teologiese tradisies in verskillende lewenskontekste vir Israel nuwe hoop gegee het. So ‘n benadering is ‘n ander eksegetiese spel en lê ver, baie ver van struktuuranalise af.

Die probleem met geskiedenis, wat ook ‘n teks is, is dat dit nie so maklik oopmaak nie. Gebeure vervlug vinnig en ons kan dit nie so maklik soos ‘n teks vasvang nie. Dit lê in die aard van geskiedenis. Die een oomblik gebeur iets en dan is dit weer vinnig weg en bly net die herinnering oor. Feite help ons ook nie want dit bestaan nie eintlik nie en al wat ons het, is spore van die verlede. En dié spore is dokumente of ander bronne wat ons vaagweg iets van die verlede laat begryp; nooit kan ons die verlede in sy volheid vat, voel of ten volle verstaan nie. Dit sal ons altyd ontglip en geen metode kan ons help nie (Caputo 1997:1-30).

Mense soos Wellhausen, Gunkel en Von Rad het geen vaste metode gehad waarmee hulle Israel se verlede kon verwoord nie. Dit sou ook ‘n onmoontlike poging gewees het want die geskiedenis laat hom nie presies ken nie. Hierdie vaagheid van die verlede het die mense van die struktuuranalise grondeloos gefrustreer. Hulle metode het hulle ‘n vaste greep op die teks gegee terwyl diegene wat die Ou Testament histories wou verstaan te algemeen, te onpresies en ongekontroleerd gewerk het. En boonop was historiese inligting nie belangrik nie, want taal maak na binne en na buite toe oop nie.

Hieroor is jare lank gedebatteer en geskryf. Soms het ons kwaad geword vir mekaar, maar dan het ons voortgepraat oor hoe ‘n mens ‘n teks in die Ou Testament en Nuwe Testament moet verstaan. Dit was ‘n diskussie wat almal ryker en meer bekwame eksegete gemaak het.

 

’n Mooi pad  

As ons na die pad van die Bybelwetenkap sedert 1971 terugkyk, vervul dit ‘n mens met enorme verwondering en bewondering. Verwondering oor die diepe en ryke teologiese denke wat dié metode (en sy ‘aanpassings’) ontsluit het. Bewondering vir akademici, studente en ook predikante wat dié metode deur baie harde werk verinnerlik en vir die wetenskap en prediking bruikbaar gemaak het. Dalk sal so ‘n tyd nie weer kom nie.

 

Bronnelys

Botha, P J J 2007. Historical Jesus Research and Christian Identity in South Africa, 1-18.  

Caputo, J 1997. The prayers and tears of Jacques Derrida. Indianapolis: Indiana University Press.

Combrink, H J B 1968.  Die diens van Jesus. ‘n Eksegetiese studie oor Markus 10:45. Groningen: V.R.B.
Groenewald,  E P 1932.  Koinonia (Gemeenskap) by Paulus. W D Meinema: Delft.

Derrida, J 1976. Of Grammatology Baltimore: John Hopkins.

Derrida, J 1995. Points …  Stanford: University Press.

Derrida, J 1997. Limited Inc. Evanston, Illinois: Northwestern University Press.

Derrida, J 1998. Geloof en wete: Die twee bronne van die “religie” op die grense van die suiwere rede. Fragmente 2, 14-38.

Derrida, J 1999. Response to Jean-Luc Marion, Introduction: Apology for the impossible: Religion and postmodern, in J D Caputo & M J Scanlon (eds), God, gift, and postmodernism. Bloomington: Indiana University Press. (Kindle e-book, locations 714-797).

Derrida, J 2005. Composing “Circumfession”, in J D Caputo & M J Scanlon (eds), Augustine and postmodernism. Confessions and Circumfession. Bloomington: Indiana University Press. (Kindle e-book, locations 284-444).

Du Plessis, I 1962. Christus as hoof van kerk en kosmos. ‘n Eksegeties-Teologiese Studie Van Christus se Hoofskap Veral in Efesiërs en Kolossense. Groningen: V.R.B., 1962. 

Du Toit, A 1965. Der Aspekt der Freude im urchristlichen Abendmahl. Winterthur: P G Keller.

Du Toit, A 2004. Het diskoersanalise ’n toekoms? HTS 60(1&2) 2004, 207-220.

Le Roux, J H 1994. A brief description of an intellectual journey: on Willem Vorster’s quest for understanding. Neo Testamentica 28/3, 1-32.

Le Roux, J H 2007. Setting the scene: the battle of the signs, in Le Roux, J H & Otto, South African perspectives on the Pentateuch between synchrony and diachrony. New York: T&T Clark, 1-18.

Roberts, J H 1963.  Die opbou van die kerk volgens die Efese-brief.  Groningen: V.R.B.
Van der Walt, T 1962.  Die koninkryk van God – Naby! Kampen: J H Kok.

Vorster, W S 1971. Moderne Linguïstiek en Bybelnavorsing, ThEv 4/2,139-148.