‘n Metode vir die Ou Testament

Met die wetenskap gaan dit ook maar soos met mense. Dinge gebeur soms net. Sonder dat iemand dit beplan of ryp druk, groei daar ‘n nuwe denke omdat die regte mense op die regte tyd en die regte plek is en die regte dinge doen. Soos in ‘n vorige aflewering gesê, was daar in die sewentiger en tagtiger jare van die vorige eeu ‘n intellektuele oplewing of rewolusie in ons Bybelwetenkap wat alles omgekeer en in nuwe bane gestuur het. Die tyd was reg en die regte mense was op die regte plek sodat dinge kon gebeur. Anders gestel: daar was ‘n groot klomp jong en entoesiastiese Bybelwetenskaplikes in akademiese poste wat oorsee studeer het en met enorme ywer die nuwe eksegetiese insigte toegeëien, verinnerlik en in hulle navorsing en onderrig toegepas het.

 

Die nuwe metode

Met verloop van tyd is hierdie nuwe met verskillende name benoem: struktuuranalise, diskoersanalise, immanente eksegese, ensovoorts. Hoe dit ook al sy, hierdie metode het ‘plaaslik wye populariteit geniet … en ook oorsee aandag getrek’ (Du Toit 2004:208).

       Saam met die entoesiasme oor die nuwe metode het ook ‘n stuk oormoed gekom. ‘n Siening dat ons heil in ‘n metode lê; in die regte metode lê; veral in hierdie nuwe metode: ‘In sommige Suid-Afrikaanse kringe is diskoersanalise entoesiasties begroet as ’n soort wondertegniek wat alle eksegetiese probleme sou oplos. Met groot optimisme is byvoorbeeld aanvaar dat diskoersanalise dié struktuur van ’n bepaalde teks as ‘t ware onfeilbaar sou kon blootlê … ’n Ander simptoom van hierdie aanvanklike optimisme was die neiging om eksegese in diskoersanalise te laat opgaan. Sommige studente was selfs onder die indruk dat met die afhandeling van die diskoersanalise van ’n bepaalde teks hulle eksegetiese taak voltooi was’ (Du Toit 2004:208-209).

       Dit is tog interessant dat toe ons aan die begin van die negentien sewentigs baie metode-bewus geword en klem op die regte metode gelê het, iemand soos Hans-Georg Gadamer alreeds krities oor ‘n bepaalde soort metodebewustheid was. Uiteraard is ‘n metode belangrik. Indien iemand ‘n huis bou, is ‘n plan van die struktuur asook die werkswyse essentieel. Daarsonder kan die huis nie gebou word nie. Nog die plan, die struktuur of die werkswyse (metode) is egter die huis. Netso is dit met die geesteswetenskappe (en Bybelwetenskappe) gesteld: ‘n metode is belangrik, maar dit kan nie waarheid verskaf nie (Grondin 2000:32-39). Gadamer het hom dus teen die neiging verset dat ‘n metode sekerhede, ontwyfelbare sekerhede kan verskaf (Gadamer 1993:276-291). Volgens hom het hierdie positiwistiese metode-ideaal net te ver gegaan; dit het gebiede betree waar dit nie hoort nie en onbillike eise aan kennis, waarheid en ervaring begin stel (Gadamer 1990:9-15).

       Indien ‘n mens egter die teologies-historiese konteks van die tweede deel van die twintigste eeu in Suid-Afrika bekyk, was hierdie fokus baie belangrik. Deur harde nadenke oor die metode het baie ander noodsaaklike fasette van die eksegetiese proses oopgegaan.

 

Die mense wat die nuwe gestalte gegee het

In dié tyd was Pretoria die sentrum, die plek waar die immanente metode bedink, bespreek en toegepas is. By die universiteite van Pretoria en Suid-Afrika was daar knap jong Bybelwetenskaplikes wat gestalte aan die nuwe manier van lees gegee het. En die Ou- en Nuwe-Testamentiese werkgemeenskappe met die destydse sisteem van kleiner werkgroepe, wat uit mense van oor die hele land bestaan het, het die metode nog verder verfyn en uitgebrei.

       Uiteindelik het baie mense op verskillende plekke en in verskillende tye tot die vestiging van hierdie metode bygedra. In Pretoria was daar egter veral drie Ou Testamentici wat in die beginfases sterk bydraes gelewer het. Hulle was Jimmie Loader en Willem Prinsloo wat met behulp van Jannie Louw en Wolgang Richter (vlg 1971) se insigte dié metode vir die Ou-Testamentiese wetenskap bruikbaar en toepasbaar gemaak het. Ferdinand Deist egter, was baie meer krities en het ander insigte beklemtoon. In die volgende aflewerings word by elkeen van hierdie geleerdes stilgestaan. Willem Prinsloo en Ferdinand Deist is ongelukkig in hulle vroeë vyftigs dood, en Jimmie Loader het in 1997 na Wene, Oostenryk geëmigreer waar hy tans nog aan die Universiteit van Wene verbonde is. In al die volgende artikels word daarom op vroeë werke gefokus.

Vir die skrywer van hierdie artikel was die opkoms van die  struktuur-analise of die immanente lees van die Ou Testament in die 1970s en later ‘n besondere mooi tyd in die geskiedenis van ons eie Ou Testamentiese wetenskap. Ek het nooit so gewerk nie, maar die etoesiasme en die oorgawe waarmee mense hulle aan die Ou-Testamentiese (asook Nuwe-Testamentiese) wetenskap gewy het asook die genot waarmee hulle hierdie metode op die teks toegepas het, sal my altyd bybly.

 

Waarom was metode vir ons so belangrik? ‘n Kort hermeneutiek

Daar was ‘n tyd toe gemeen is dat die ‘ek’, die eksegeet die betekenis van die objek of teks helder en suiwer kon ken en beskryf. Gewapen met die regte manier van lees, kon die ‘ek’ deur middel van die regte metode ‘n vaste greep op die teks kry en presies sê wat daar staan.

Tydens die eerste dekades van die vorige eeu het ons al hoe meer besef dat ‘n vaste metodiese greep op ‘n teks nie moontlik was nie. Veral twee dinge het gebeur. Een is dat die subjek (in ons geval die eksegeet) gedesentreer is; hy (kom, ons hou dit manlik), die subjek is van sy troontjie gestamp; hy is nie meer die magtige figuur wat oor die objek heers nie; nie meer die een wat presies kan sê wat die aard van dit of dat is of wat die betekenis van ‘n objek is nie. Die subjek het sy mag oor die objek verloor.

Tweedens, een van die redes vir hierdie onttroning is dat die geraas te groot geword het. Anders gesê: ons kan tekste nie meer duidelik hoor nie want die geraas binne-in ons te groot. Een manier om dit te verduidelik, is deur middel van Ricoeur se hermeneutiese suspisie en sy ‘drie meesers van die valse bewussyn’. Dié drie meesters, Friedrich Nietzsche, Karl Marx en Sigmund Freud het altyd nog ons vroom maskers afgeruk en op die vele ‘onsuiwerhede’ binne-in ons gewys; hulle het hard daarop gewys dat ons nie instaat is om net een ware betekenis of boodskap te formuleer nie. Ongenaakbaar het hulle ons valse pretensies ontbloot en ons metodes se beperkthede aan die kaak gestel (Körtner 2001:1-100).
Volgens Nietschze skuil in elkeen van ons ’n onblusbare drang na mag en daarom wil ons mense by ons eksegese en Skrifversaan laat inpas. Volgens Marx bepaal jou sosio-ekonomiese plek in die samelewing hoe jy die Skrif gaan lees en dit is waarom armes die Bybel anders as gegoede of ryk mense lees. Ten slotte het Freud gesê daar is in ons onderbewuste dinge waarvan ons nie eers bewus is nie, maar wat ons lees van die Bybel ingrypend bepaal (soos byvoorbeeld ’n skuldgevoel) (Kearney 1989:60-70).
       En tog het metode vir ons belangrik geword. Hoekom? Dalk ‘n poging om die eksegeet se gedesentreerdheid te verwerk? Dalk ‘n manier om die geraas binne-in ons, die geraas soos wat Nietzsche, Marx en Freud verduidelik het, te smoor of te bowe te kom? Dalk die gevolg van ‘n bepaalde Skifgeloof: omdat die Bybel gesag dra, moes dit met die allerbeste metodes bestudeer word sodat die Woord se suiwer bedoeling beskryf kon word? Dalk ‘n kombinasie van aldrie?
Wat ook al die antwoord mag wees, die keuse vir ‘n metode was in die beginjare ‘n goeie een.

Van die begin af was Jimmie Loader se skerp insigte en formuleringe onontbeerlik. Hy het die ‘nuwe’ mooi verwoord en baie daaroor geskryf. Laasgenoemde was ook ‘n belangrike kenmerk van Deist en Prinsloo (Le Roux 1993:358-362; 371-373). Nuwe kennis verbrei deur artikels en boeke en dit het ook in hierdie tyd gebeur. ‘n Blote kort seleksie uit Loader se werk tussen 1973 en 1986 (sien bronnelys) illustreer hierdie punt. Hy het drie proefskrifte, kommentare en talle artikels gepubliseer en sodoende gewys hoe struktuur-analise op die Hebreeuse Ou Testament toegepas kan word.

Daar is interessante verhaal aan een van sy artikels verbonde. Loader het ‘n paar artikels oor die ‘nuwe metode’ aan die redakteur van die HTS (Hervormde Teologiese Studies) voorgelê om afsonderlk gepubliseer te word. Elke afsonderlike artikel sou ‘n faset van die nuwe metode toegelig het, maar al die artikels is toe saamgepubliseer en dit het as ‘t ware ‘n heeltemal nuwe betekenis gekry; dit het die indruk gewek asof hierdie metode uit sekere stappe, wat op mekaar volg, bestaan (Loader 1978b:1-40). Dalk nie heeltemal wat die skrywer sou wou gehad het nie.

Hoe dit ook al sy, hierdie artikel is waarskynlik een van die publikasies uit daardie tyd wat ‘n groot invloed op die Bybelwetenkap asook teologie in die algemeen gehad het. Talle het dit in verskillende kontekste as ‘n voorbeeld van goeie struktuur-analise aangehaal. Dit kon ook nie anders nie omdat Loader ‘n metode (met stappe en al) asook die woorde (die taal, terminologie, perspektiewe) om dié metode te kan gebruik, verskaf het. In 1978 het Ou- Testamentici dus amper iets tasbaar gehad om die Hebreeuse Ou Testament uit te lê en te verstaan (Loader 1978b:1-19). 

Uitgangspunt was die finale teks, die teks wat voor ons lê. Inligting oor die ontstaan en groei van die teks was nie onbelangrik nie, maar nie eintlik ter sake vir ‘n struktuur-analise nie. Alle klem moes op taal en struktuur val. Taal is gestruktureerd en betekenis is deur sulke strukture bepaal. Kennis van ‘n versgedeelte se struktuur en strukturele eienskappe was noodsaaklik vir die betekenis. Met ander woorde, die leser fokus op die woorde in ‘n teks asook elke woord se posisie in die teks en sy relasie tot ander woorde. Om ‘n teks te verstaan, moes jy nie op los versdele fokus nie, maar op ‘betekenisdraende woordrelasies’ (Loader 1978b:22-26). Of soos Loader dit geste het: ‘Elke deel van ‘n teks is tekskonstitutief … en dra by tot die geheel van die teks’ (Loader 1978b:19).  

Vir Loader was struktuur-analise ‘n versamelnaam vir ‘n hele aantal metodes wat onderling sterk verskil, maar ‘n gemeenskaplike grondslag of doel het. En dit is dat eksegete (in daardie tyd) al hoe meer ‘n oog vir die komposisie, opbou en interne relasies van tekste ontwikkel het en minder vir die oorsprong en groei van ‘n teks. Of, soos Loader dit stel, ‘Een gemeenschappelijk element van de structuuranalytische methoden is derhalve een nieuwe belangstelling voor het literaire werk als zodanig, meer dan voor hetgeen achter dit werk ligt of daartoe aanleiding gegeven heeft’ (Loader 1986b:128).

Deur middel van Jimmie Loader se bydraes was die nuwe metode nie net ‘n teorie nie, maar ook iets wat toegepas moes word. En hy het gewys hoe.

 

Spanning tussen Skrifgesag en wetenskaplike eksegese

In die sewentigs en tagtigs (wat ek as ‘n bloeityd beskou) is daar ook veel oor die ‘kritiek’ in ‘historiese kritiek’ en ‘n wetenskaplik-kritiese verstaan van die Ou Testament gepraat. Die groot vraag was of die kritiese Bybelwetenkap of die wetenskaplike omgang met die Ou Testament nie te afbrekend vir die kerk en die geloof was nie. Op ‘n manier het almal geweet dat niemand die kritiese Bybelwetenkap kan ontbeer nie; dat dit die hartslagaar van alle onderrig, vanaf voorgraads tot doktorsgraad, is en dat dit eerder omhels as verwerp moes word. Maar hoe gemaak met dinge soos geloof, Bybelgesag, die kerk, ensovoorts.

Jimmie Loader (en ook Ferdinand Deist) se denke het weereens nuwe moontlikhede geopen. Interessant is dat Loader se sieninge nie soseer deur filosowe gevorm is nie, maar twee Nederlandse Ou Testamentici wat in die etiese rigting gestaan het (Loader 1984a).  Die twee Ou Testamentici, J J P Valeton en Gerrit Wildeboer, het in ‘n tradisie gestaan waarin religieuse gevoel belangrik was en kerklike dogmas nooit absolute waarhede kon formuleer nie. Die etici van die negentiende eeu het hierby aangesluit en die term ‘eties’ eerder aan ‘n verhouding, ‘n verhouding tot God of ‘n groter werklikheid verbind (Loader 1985a:233-251).

Daar is dus iets onaantasbaar, iets wat buite die greep van die wetenskap lê en dit is die waarheid wat ‘n mens diep binne-in jouself ervaar. Anders gestel: die geloof wat ‘n mens innerlik ervaar, kan deur niks vernietig word nie. So gesien, was dit ‘n klein treetjie na die gedagte dat die krities-wetenskaplike omgang met die Ou Testament geensins die geloof of Skrifgesag kon ondermyn nie; en dat die historiese kritiek daarom omhels moet word want dit kan tog nie hierdie binne-kern van die geloof vernietig nie. Of soos Valeton (volgens Loader) dit verwoord het: ‘Liefde en eerbied vir die Bybel duld nie alleen die kritiek nie, maar vereis dit. Dit is so omdat die kritiese metode die enigste weg is om vas te stel hoe die geskiedenis van die openbaring daaruit sien’ (Loader 1984a:105; 1986a:148-166).

Die waarde van hierdie onderskeiding vir destyds kan nie genoeg beklemtoon word nie. ‘n Hermeneutiese antwoord op kritiese vrae is gegee en ‘n streng wetenskaplike ondersoek van die Ou Testament is hierdeur moontlik gemaak. ‘n Mens kon voluit gelowig wees, maar ook nog die Ou Testament histories-krities of krities-wetenskaplik bestudeer; iemand kon predikant wees en tog nog vir ‘n doktorsgraad in die Ou Testament inskryf.  

 

Israel se wysheid

Alles wat ons hierbo oor Jimmie Loader gesê het, het in sy siening oor Israel se wysheid (in boeke soos Spreuke, Job en Prediker) ‘n besondere diepte bereik. Dit het hom byvoorbeeld gehelp om Job se vriende beter te verstaan, maar daaroor volgende keer meer.

 

Bronnelys

Du Toit, A B 2004. Het diskoersanalise ’n toekoms?, HTS 60(1&2), 207-220.

Gadamer, H-G 1990. Wahrheit und Methode. Tübingen: JCB Mohr.

Gadamer, H-G 1993. Hermeneutik II. Tübingen: JCB Mohr.

Grondin, J 1999. Hans-Georg Gadamer. Tübingen: J. C. B. Mohr.

Kearney, R 1989, Modern movements in European philosophy. Manchester: University Press.

Körtner, H J 2006. Einführung in die theologische Hermeneutik. Darmstadt: WBG

Le Roux, J H 1993. A Story of Two Ways. Pretoria.

Loader, J A 1973. Different reactions of Job and Qohelet to the doctrine of retribution. OTWSA/OTSSA 15 & 16, 49-58.

Loader, J A 1974. Polariteit in die denke van Qohelet. UP: Pretoria. (DLitt- proefskrif)

Loader, J A 1975. Aspekte van menslike mag. Universiteit van Groningen: Groningen. (DD-proefskrif)

Loader, J A 1978a. Esther as a novel with different levels of meaning. ZAW 90, 417-421.

Loader, J A 1978b. Gedagtes oor gekontroleerde eksegese. HTS 34, 1-40.

Loader, J A 1979. Polar structures in the Book of Qohelet. Berlin: De Gruyter. (BZAW 152).

Loader, J A 1980. Esther. Nijkerk: Callenbach. (POT)

Loader, J A 1983. Job: antwoord of enigma? ThEv 16/2, 15-21.

Loader, J A 1984a. Die etiese Ou-Testamentici in Nederland tussen 1870 en 1914. UNISA: Pretoria. (DTh-proefskrif)

Loader, J A 1984b. Job: answer or enigma. OTE 2, 1-38.

Loader, J A 1984c. Prediker. Kampen: Kok.

Loader, J A 1985a. J J P Valeton jr as godsdienshistorikus. HTS 41/2, 233-251.

Loader, J A 1985b. The concept of revelation in Dutch ethical theology: its implications for Old Testament scholarship. OTE 3, 18-33.

Loader, J A 1986a. Die bydrae van Gerrit Wildenboer (1855-1911) tot die Ou-Testamentiese inleidingswetenskap. OTWSA/OTSSA 27 & 28, 148-166.

Loader, J A 1986b. De structuuranalytische methode, in A S Van der Woude (red), Inleiding tot de studie van het Oude Testament. Kampen: Kok, 128-142).

Richter, W 1971. Exegese als Literaturwissenschaft. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.