Jimmie Loader se besondere kennis van Israel se wysheid het ’n groot invloed op vele van ons se verstaan van boeke soos Spreuke, Job en Prediker gehad. Sy vertrek na Wene in 1997 was daarom in vele opsigte ’n gevoelige slag vir die Suid-Afrikaanse Ou-Testamentiese gemeenskap en ook vir die studie van die wysheid hier te lande. ‘n Sjarmante faset van Loader se teologie was sy verinnerliking van Israel se wysheid op so ‘n wyse dat dit sy belewing van God, die wêreld, die natuur, die kuns, gekleur het. Dit was amper ‘n soort alles-verduidelikende perspektief aan die hand waarvan oor God en sy wêreld gepraat het.

Sy wysheidsdenke het baie verder as die boeke Spreuke, Job en Prediker gestrek. Met al sy wysheidsinsigte kon hy ook lig op gedeeltes soos die Josefsverhaal, die sogenaamde Troonbestygingsverhaal van Dawid, die boek Ester, ensovoorts werp. Sy wysheidsverstaan van die Ou Testament het respek afgedwing en hy het vele navolgers gehad. Anders gestel: deur hom het ons Israel se wysheid leer ken.

Hieronder let ons maar op ‘n paar aspekte van hierdie wysheidsdenke. Eers word op die begrip ‘wysheid’ gelet en dan word baie kortliks na Job en Prediker verwys.

Wat is wysheid?

Tot dusver het ons nog net oor die wysheid gepraat sonder om te sê wat dit nou eintlik is. Jimmie Loader het dit soos volg verwoord: Die nadenkende manier van kyk na die werklikheid waarmee Oud-Oosterlinge hulle in die wêreld probeer oriënteer het, word ‘wysheid’ genoem. Aan die een kant het hulle besin oor die aard en betekenis van die lewe en die wêreld, en aan die ander kant het hulle riglyne opgestel oor hoe n mens in harmonie daarmee kon lewe (Loader 1986a:103). Hiervolgens het wysheid met nadenke, lewensoriëntering, lewensin en riglyne vir lewensgedrag te make. Ons sou ook kon sê dat wysheid ’n denkende en praktiese kant het (Loader 1986a:108-112).

Wysheid is ‘n lewensfilosofie vir almal

In die verlengde van Loader se siening kan ons Israel se wysheid ook ‘lewensfilosofie’ noem. Baie mense bedoel verskillende dinge met die woordjie ‘filosofie’, maar ons kan dit as nadenke oor die lewe omskryf. So is die wysheid van die boek Spreuke byvoorbeeld ‘n stuk filosofie, want dit wil oor die lewe nadink. ‘n Mens kan sê Israel se wysheid was ‘n radikale nadenke oor die lewe: oor die sin en die vreugdes daarvan, oor die maniere waarop gelewe moes word asook die gevolge van wyse en dwase gedrag, oor lyding en die rol van God, oor sinloosheid en die lekker van die lewe. Israel se wyses het denkend met hulle werklikheid omgegaan en hulle nooi ons om dieselfde te doen. Wat ons dus in die boek Spreuke het, is lewenswysheid waaroor veel nagedink is.

Belangrik is dat Israel se wysheid in die lewe gedrenk is. Dit kom uit die alledaagse lewe voort. Anders gestel: dit is deur die lewenservaring van mense gevorm. Armoede, rykdom, humeurigheid, borgstaan, sinloosheid, frustrasie, magteloosheid, ensovoorts is as’t ware die konteks waaruit die wysheid gegroei het. Wie dus die wysheidsboeke bestudeer, is baie naby aan die lewe. Wie die wysheidsboeke sy eie maak, verkry ‘n wonderlike dimensie op die gewone alledaagse lewe (vgl Loader 1989:686-687).

  

Ervaring die basis van alle wysheid

Alles is op lewenservaring gegrond. Wat ons in Spreuke, Job en Prediker het, is iets wat uit die ervaring ontstaan het. Dit kan tog ook nie anders nie. Oor aardse dinge (soos geld, rykdom, slawe, diere, donderweer) en menslike ervaringe (soos pyn, lyding, frustrasie) is gepraat en kennis hiervan kom alleen uit die ervaring. So byvoorbeeld, is die ernstige sosiale gevolge van luiheid raakgesien en daarom skryf die Spreukeboeke daaroor: ‘nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie handevou om te slaap, en daar kom jou armoede aangestap’ (24:33-34). Wie lui is, bly honger: ‘Luiheid laat ‘n mens diep slaap; ‘n lui mens ly honger’ (19:15). Luiheid veroorsaak dat werksgeleenthede verbygaan: ”n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie, en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie’ (20:4). Daarom dan die raad: ‘Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom … Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy opstaan’ (6:6,9) (vgl Loader 1989:693-700).

  

Die regte woorde op die regte oomblik

Die verhouding tussen die regte optrede en die regte oomblik baie belangrik. Daardeur is verseker dat die harmonieuse orde nie versteur word nie. Volgens die boek Spreuke moes ‘n woord op die regte oomblik gespreek word: ”n Mens vind vreugde daarin as hy die antwoord het; wat is beter as die regte woord op die regte tyd?’ (Spr 15:23); ‘Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd’ (Spr 25:11). Woorde wat op die verkeerde oomblik gespreek word, kan woede wek. Iemand wat nie ‘n aanvoeling vir die regte oomblik het nie, sê die verkeerde dinge. Dit is soos ‘n groet op ‘n ongeleë tyd: ‘As iemand sy buurman vroegdag met ‘n geskreeu môre-sê, kan mense dink hy is besig om hom te vervloek’ (Spr 27:14) (Loader 1989:706,715,717)

  

Dink, dink, dink

Die toepassing van hierdie wysheid het nie net sommer maar vanself gekom nie, maar ‘n wyse moes sy kop gebruik. Hy kon nie op ‘n openbaring wag nie, maar moes dink. Berekenende optrede was belangrik: hy moes die tye en geleenthede ken en op grond van sy wysheidsopleiding weet hoe om op te tree. Pragtig word dit in Spreuke 26:4 en 5 geïllustreer (Loader 1989:716).

Moenie ‘n dwaas se vraag

op net so ‘n dwase manier

beantwoord nie;

hy sal dink jy is soos hy.

Beantwoord ‘n dwaas se vraag

op net so ‘n dwase manier,

anders dink hy hy het wysheid.

Pasop wat jy praat.

Beide verse weerspreek mekaar. Volgens die een moet jy ‘n dwaas na sy dwaasheid antwoord terwyl die ander vers eerder swye voorstel. Twee moontlikhede word geskets en albei is geldig. Alles hang van die wyse self af. Hy moet die situasie ‘lees’, alles mooi deurdenk en dan self besluit wat hy gaan doen. Dit is so belangrik dat ons dit weer verduidelik. In elke situasie moet die wyse mooi dink wat om te doen. En na gelang van die omstandighede sal hy weet of hy moet praat of stilbly.

  

Die vergeldingsteologie

’n Kernbelangrike aspek van die wysheidsteologie is die vergeldingsteorie. Daar is geglo dat wysheid iets aan ‘n mens doen. Miskien moet ons eerder sê dat die wyse iets besonder kry vir sy lewensgedrag. Ons sou dit ‘n ‘vergeldingsteorie’ kan noem. Wyses het iets vir hulle vroom lewe ontvang terwyl ‘n dwase lewe tot ondergang gelei het. Mettergaan is die noue band tussen gedrag en gevolg krasser en meer rigoristies geformuleer. Rykes en welvarendes is as wyses gesien terwyl lyding aan die een of ander dwase misstap toegeskryf is. Aanvanklik was die vergeldingsteorie mild en soepel aangewend (soos in die boek Spreuke), maar mettertyd het dit strakker geword en het dit tot ‘n onverbiddelike ideologie gegroei. Job en Prediker sou hulle hierteen verset.

  

Iets het verskriklik skeefgeloop: die verstarring van die wysheid.

Goeie dade word dus beloon en dwase optrede gestraf. Mettergaan het hierdie teologie in ‘n starre dogma verander. Seën en straf het vanselfsprekend op menslike gedrag gevolg. Moraliteit en geskiedenis was nou verweef: die geskiedenis was na ‘n eindbestemming op pad en die mens het deur sy morele optrede rigting daaraan verleen; deur sekere gedragskodes (soos byvoorbeeld in die boek Spreuke) kon die gelowige die daaglikse lewe in bepaalde rigting stuur. Basies was die menslike samelewing ook moreel: geregtigheid het bestaan en elkeen sal ooreenkomstig sy dade beloon of gestraf word.

Job en Prediker het hierteen in opstand gekom. Volgens hulle het die gewone alledaagse lewe bewys dat hierdie vergeldingsteologie nie ‘werk’ is nie. In die daaglikse lewe het dit duidelik geblyk dat ‘goeie werke’ (wyse optrede) ‘n mens nie van swaarkry en ellende kan vrywaar nie. In die boek Prediker word alle waardes gerelativeer, het die geskiedenis sy waarde verloor en bestaan moraliteit byna nie. Job beklemtoon weer die mens se magteloosheid voor die soewereine God. Selfs die vrome kan nie die noodlot se mag ontglip nie.

Loader het die geskiedenis van die wysheid só beskryf: ‘Aanvankelijk een waardering voor de relatie tussen het optreden en de juiste tijd, dan een verlies van dat tijdsbewustzijn, zodat er een dogmatisch systeem ontstaat, en ten slotte een protest tegen deze verstarring’ (Loader 1984c:17). Die eerste stadium van die wysheid ‘word die onproblematiese fase genoem. Dit beteken dat die wysheidsleraars nog nie aandag gegee het aan allerlei probleme wat uit hulle opvattings kon voortvloei nie’ (Loader 1989:688).

Tydens die tweede fase is wysheid verabsoluteer. Wysheid het ‘n dogmatiese sisteeem geword met behulp waarvan ‘n mens God en lyding kon verklaar. Hiervolgens was daar net goeie en slegte mense, wyses en dwases en voorspoed en geluk was afhanklik van menslike optrede. Hierdie ‘veranderde benadering word die verstarde fase in die wysheidontwikkeling genoem’ (Loader 1989:688). Die derde fase van ontwikkeling was een van protes en Job en Prediker is goeie voorbeelde van proteswysheid.

 

Let op die lewe van Job

Op 3 Maart 1983 het Loader sy intreerede aan die boek Job gewy. Dit was ’n besondere rede waarin hy op ’n besondere manier die probleme van die boek Job belig het, maar ook weer gewys het hoe ’n kritiese teologie gebruik kon word. Van hierdie rede het Loader se leermeester, Adrianus van Selms, die volgende gesê: ‘Op 22 (?) Maart 1983 hoorden wij onze oud-leerling J A Loader zijn inaugurale rede as hoogleraar aan die “Universiteit van Suid-Afrika’ uitspreken: Job – antwoord of enigma? en de palma nobilis ging naar onze jonge vriend. Als deze rede as publikasie verschenen is, kunnen wij enkel zeggen: Ite ad bibliopolas, tolit, legite’ (Le Roux 1993:344). Vrylik kan ons die laaste stukkie Latyn só vertaal: ‘Haas jou na die biblioteek, kry die intreerede en lees dit’.

By Job het die tradisionele wysheid (volgens Loader) skeefgeloop. Hier het die wysheid net nie meer ‘gewerk’ nie. Alles word op die kop gekeer. Soos ‘n wyse man was hy ‘n vroom en opregte man wat die kwade vermy en Jahwe gedien het (Job 1:1). Volgens die heersende wysheidsdenke moes hy dus ryk en vernaam gewees. Dit was inderdaad ook die geval. Job was ryk en gelukkig (Job 1:2-5). Op ‘n dag het alles egter radikaal verander. Verskillende rampe het die arme Job getref en skielik was die bestaande wysheidsteologie kragteloos. Die beskouing dat dit goed met die wyse sal gaan, was aan skerwe. Hier was nou ‘n wyse man genaamd Job wat wys gedink en wys geleef het en tog tref die ellende hom. Hoe moet dit verstaan word? In die soeke na ‘n antwoord word diepgaande in die boek Job oor lyding, die lyding van goeie mense, nagedink (Loader 1983:15-21).

In die proses was daar Job se vriende, Elifas uit Teman, Bildad uit Suag en Sofar uit Naäma. Hulle het van ver gekom en het opregte medelye met Job gehad. Uit die gesprekke blyk dat hulle in die vergeldingsteologie gedrenk was. Uitdruklik word daarom vir Job gesê dat hy vir sy eie ellende verantwoordelik was. Hy het oortree daarom die verskriklike gebeure. Hy moet regmaak dan sal dit weer goed gaan. Alle lyding kan dus met ‘n oorsaak-gevolg-skema verklaar word: alle ellende is die gevolg van oortredinge en die situasie kan verander indien Job weer wys en reg sal optree (Le Roux 1993:316-417).

Soos in ‘n vorige aflewering verduidelik, het Loader se studie van die Nederlandse Ou Testamentiese etici sy verstaan van Israel se wysheidstekste gevorm en geslyp. ‘n Mens sien dit byvoorbeeld in sy beskrywing van die gesprekke tussen Job en sy vriende.  Om dit te verduidelik, noem ons net weer ‘n belangrik kenmerk van die etici. Volgens hulle was waarheid eties van aard. Waarheid kon nooit in absolute of rigiede proposisies of stellings uitgedruk word nie. Waarheid is iets wat ‘n mens ten diepste in jou verhouding met God ervaar en dit kan nooit volledig in konsepte of dogmas uitgedruk word nie. Of soos Valeton, een van hierdie Ou Testamentiese etici, gesê het: ‘Dat de door God geopenbaarde waarheid ethisch is, wil zeggen dat zij zich richt tot het hart en niet in de eerste plaats tot het verstand van den mensch (Loader 1984a:1).

Hierdie siening gebruik Loader dan om die verhouding tussen Job en sy vriende te verduidelik. Uit al die gepraat, blyk een ding egter baie duidelik: lyding is onverklaarbaar. Job se vriende het egter anders gedink. Hulle het gemeen alles kan logies verklaar word. ‘n Mens kán tog God se handelinge in hierdie wêreld verstaan en alle lyding kán veklaar word. God straf tog dwase en beloon tog wyse optrede. Job verduur soveel lyding omdat hy oortree het. Dít het die vriende Job oor en probeer vertel. Al wat hulle van hom verwag het, was om weer goed en wys te begin optree. Dan sal alles weer goed gaan. In die proses het God vir Job se vriende voorspelbaar geword. ‘n Mens kon voorspel hoe Hy in sekere omstandighede gaan optree. God het vir hulle netjies in ‘n oorsaak-en-gevolg-skema ingepas. Hierteen skreeu die boek Job: God is nie voorspelbaar nie en lyding kan nie verklaar word nie — dit bly ‘n misterie (Loader 1983:15-21).

 

‘Alles is tervergeefs’, sê die Prediker

By Prediker bereik die verset teen die heersende wysheidsteologie ‘n besondere hoogtepunt. So skerp is hy dat dat sy woorde vandag nog mense afstoot. Ons moet hom egter verstaan: al die bestaande waardes het in sy tyd in duie gestort en daar was niks meer om aan vas te hou nie. Die wysheidsteologie het nie meer ‘gewerk’ nie. Dit was magteloos teenoor die groot lewensvrae. Dit was nie meer lewensondersteunend nie. Dit het nie meer sin aan die lewe verskaf nie. Dit het ook nie meer saak gemaak of jy wys of dwaas is nie, want almal is magteloos aan tyd en noodlot uitgelewer. Of iemand wys of nie-wys is, dit maak nie eintlik saak nie, want alles kom tog tot niks. Die lewe is daarom ’n klug (Loader 1984:1-100).

 

’n Laaste woord

Wat Van Selms gesê het, is ook waar van al Loader se wysheidswerk in die beginjare. Kry dit en lees dit. Of dit Afrikaans of Engels is, maar dit is uitstekend verwoord, duidelik uiteengesit en dit het iets van ’n ‘wysheidslogika’. Dit vertel hoe die wysheid inmekaarsit en hoe so baie gedeeltes in die Ou Testament eers vanuit ’n wysheidsperspektief sin maak.

 

Bibliografie

Le Roux, J H 1993. A Story of Two Ways. Pretoria.

Loader, J A 1973. Different reactions of Job and Qohelet to the doctrine of retribution. OTWSA/OTSSA 15 & 16, 49-58.

Loader, J A 1974. Polariteit in die denke van Qohelet. UP: Pretoria. (DLitt- proefskrif)

Loader, J A 1975. Aspekte van menslike mag. Universiteit van Groningen: Groningen. (DD-proefskrif)

Loader, J A 1978a. Esther as a novel with different levels of meaning. ZAW 90, 417-421.

Loader, J A 1978b. Gedagtes oor gekontroleerde eksegese. HTS 34, 1-40.

Loader, J A 1979. Polar structures in the Book of Qohelet. Berlin: De Gruyter. (BZAW 152).

Loader, J A 1980. Esther. Nijkerk: Callenbach. (POT)

Loader, J A 1983. Job: antwoord of enigma? ThEv 16/2, 15-21.

Loader, J A 1984a. Die etiese Ou-Testamentici in Nederland tussen 1870 en 1914. UNISA: Pretoria. (DTh-proefskrif)

Loader, J A 1984b. Job: answer or enigma. OTE 2, 1-38.

Loader, J A 1984c. Prediker. Kampen: Kok.

Loader, J A 1985a. J J P Valeton jr as godsdienshistorikus. HTS 41/2, 233-251.

Loader, J A 1985b. The concept of revelation in Dutch ethical theology: its implications for Old Testament scholarship. OTE 3, 18-33.

Loader, J A 1986a. Die bydrae van Gerrit Wildenboer (1855-1911) tot die Ou-Testamentiese inleidingswetenskap. OTWSA/OTSSA 27 & 28, 148-166.

Loader, J A 1986b. De structuuranalytische methode, in A S Van der Woude (red), Inleiding tot de studie van het Oude Testament. Kampen: Kok, 128-142).

Loader, J A 1989. Spreuke, in Verklarende Bybel, 684-721.