Volgens die Franse filosoof, Michel Faucault, het elke eeu sy eie ‘episteme’. Dit was iets soos ’n intellektuele ondergrond of onderbou wat in elke eeu en tydperk aan die werk was en mense die woorde, die idees, die denke gegee het om te sê wat hulle wou sê. So ’n intellektuele onderbou het bepaal hoe mense hulle self, die lewe en die wêreld sou sien en beskryf, en almal is onbewustelik daardeur gevorm en geslyp. En wanneer ons oor persone of tydperke skryf, moet ons hierdie ‘episteme’ kan raaksien, verstaan en beskryf.
Willem Prinsloo, of ‘Riempies’ soos ons hom genoem het, weerspieël op ’n besondere wyse die ‘episteme’, die intellektuele onderbou en eksegetiese ideale van ’n bepaalde tyd. Hy het die pad wat Willem Vorster aangedui en Jimmie Loader vir die Ou Testamentici toeganklik gemaak het, uitgebrei en dit veral op die psalms toegepas. Prinsloo verteenwoordig ‘n era ons wetenskapsgeskiedenis waarin die Ou Testament op ’n baie spesifieke wyse verstaan en uitgelê is.
Dié teksverstaan is verskillende name genoem: struktuur-analise, immanente metode, finale-teks-uitleg, ensovoorts. Willem Prinsloo het op ‘n besondere manier aan hierdie teksverstaan gestalte gegee.

Eers iets oor Joël
Prinsloo het ’n studiebeurs van die prestige-ryke Alexander von Humboldt Stiftung ontvang wat hom in staat gestel het om in 1982/83 in Tübingen deur te bring en hom aan die profeet Joël te wy. Sy arbeid het neerslag in ’n boek (Prinsloo 1985) gevind wat as ’n ‘Beiheft’ van die internasionale Ou-Testamentiese tydskrif, Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaft verskyn het. Hierdie werk van Prinsloo het presies vyftig jaar na die eerste professor in die Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria, Johan Kritzinger se proefskrif oor Joël verskyn.
Wanneer ‘n mens egter vandag Kritzinger se 1935-proefskrif lees, tref sy gereformeerde oortuiging en ‘behoudendheid’ ‘n mens. Hy het lewenslank ‘radikaal-kritiese werke’ vermy en hom altyd by die ‘behoudende Skrifverklaarders’ gevoeg. Kritzinger moes vanweë gesondheidsredes vroeg aftree en in ’n kort artikel artikel sê hy toe dat hy opreg dankbaar was dat hy nooit ’n leerkrisis in die kerk veroorsaak het nie. Kritzinger was konserwatief en so het hy geglo, geleef en sy vak (die Ou Testament) beoefen (vgl Kritzinger 1935).
Toe Kritzinger in 1935 sy boek oor Joël geskryf het, het die intellektuele wêreld anders gelyk. In sy tyd het is die klem op gereformeerde behoudendheid en ‘n konserwatiewe gelê. Vyftig jaar later het dinge anders in Suid-Afrika en veral Pretoria gelyk en Prinsloo se Joëlstudie weerspieël die destydse denke oor eksegese. Gedurende die die laat sewentiger en begin tagtiger jare van die vorige eeu was daar ‘n ‘intellektuele ondergrond’ wat die beskouinge oor eksegese gevorm het en Prinsloo se Joëlboek reflekteer die tipiese kenmerke van dié tyd: die finale Hebreeuse teks vorm die beginpunt van alle eksegese; struktuur-analise is die mees geskikte metode om die teks in sy finale vorm te ondersoek; struktuur-analise of immanente eksegese is ‘n objektiewe en empiriese wetenskap wat objektiewe eksegetiese inligting kan ontsluit; hierdie inligting kan objektief geverifieer word; die teks wat voor ons lê, moes dus tegnies-objektief ondersoek word sodat objektiewe eksegetiese resultate verkry kon word (vgl Prinsloo 1985:1-100).
Prinsloo was sterk teen ‘n historise verstaan van Joël gekant. Bernhard Duhm (1911) se belangrike historiese ondersoek van Joël was vir hom onaanvaarbaar. Duhm het op ‘n tipies literêr-kritiese wyse Joël soos ‘n ui afgeskil totdat hy by ‘n ‘Urschrift’ of ‘n oorspronklike kern gekom het. Vandaar af het hy Joël se verdere groei beskryf. Volgens Duhm is die eerste twee hoofstukke dalk nog van die profeet afkomstig, maar die res is deur ‘n priester met ‘n apokaliptiese perspektief tydens die Makkabeërtyd geskryf (Prinsloo 1992:67). Volgens Prinsloo het dié soort benadering die teks net gefragmenteer en was die soeke na ‘n oorspronklike kern, wat as beginpunt vir Joël se groei mies dien, sinneloos en ‘vir ons van geen wesenlike waarde nie’ (Prinsloo 1983:258).
          Dit maak geen teologiese sin om die historiese wording van ‘n boek na te vors en te probeer beskryf nie. Die eenheid van die boek Joël moes daarom eerder beklemtoon word. En dit het Prinsloo dan ook objektief met behulp van die struktuur-analise gedoen (vgl Prinsloo 1992).

Die finale teks van die Psalms

Willem Prinsloo was die eerste Suid-Afrikaanse Ou-Testamentikus wat so indringend die psalms aan die hand van die struktuur-analise ondersoek het. Histories-kritiese ondersoek is ook hier skepties bejeën en elke psalm is sorgvuldig in sy struktuurelemente uitgelê en verstaan. Volgens hom was ‘n teksimmanente benadering of ‘n struktuur-analise van ‘n psalm ook hier die beste manier waarop ‘n psalm se betekenis ontsluit kon word. Dit is ‘ons eerste en belangrikste invalspoort’ (Prinsloo 1988a:206).

Historiese inligting in verband met ‘n psalm kan belangrike inligting verskaf, maar dit kon helaas nie so maklik ontsluit word nie en boonop is die kennis van ‘n psalm se historiese ontstaan en groei ook nie so belangrik nie. Historiese inligting konstitueer nie betekenis nie. Die betekenis van ‘n psalm moes opsigself en sonder die inmenging van historiese inligting begryp word. Anders gestel: die histories-kritiese metode het op die wording van ‘n teks gefokus en die teks voor ons heeltemal verwaarloos. Of soos Prinsloo self sê: dit bly ‘die winspunt van die struktuuranalise nog steeds dat dit die groot leemte van die histories-kritiese metode ondervang het, naamlik om die teks soos wat dit nou voor ons le, in die sentrum te plaas’ (Prinsloo 1988a:204).

Hoe het hy te werk gegaan? Dit kom eintlik op ‘n intense en deeglike ondersoek van elke Hebreeuse woordjie in die teks neer. Tydrowend, maar so moes dit gebeur. Prinsloo was in struktuur geïnteresseerd; sy oë het strukture gesoek. Niks het hom ontglip nie. In sy poging om ‘n psalm se struktuur te bepaal, het die kleinste detail in die Hebreeuse teks ‘n rol gespeel. Dinge soos metrum, alliterasie, klanknabootsing was belangrik want dit het die eenheid en kohesie van die teks beklemtoon.

Hy het ook op die werkwoordvorm (perfektum, imperfektum, partisipium, ens) gelet; die posisie van ‘n elke woord in die vers, die relasie van dié woord tot ander woorde in dié en ander psalms bepaal; die verandering van die subjek en die redes daarvoor ontrafel, ensovoorts. Die soeklig moes ook op die selfstandige naamwoorde val en net soos in die geval van werkwoorde moes hulle posisie in die vers, die psalm en die psalmbundel bepaal word; die suffikse is vir moontlike afwykings ondersoek . Voorsetsels en partikels is ook baie belangrik en die funksie van elkeen moes duidelik bepaal word. Daar is ook na ‘Leitwörter’ in die psalm gesoek want dit kon help om die struktuur en inhoud te bepaal. Besondere aandag is ook aan stylfigure gegee. Voorbeelde hiervan is anadiplosis (wanneer ‘n Hebreeuse woor(vgl Prinsloo 1991)d of die ‘woordgroep’ waarmee ‘n vers eindig netso in die volgende vers herhaal word) doelbewuste kontraste (wat ‘n bepaalde saak beklemtoon). Van parallelisme en chiasme het Prnsloo ook baie gemaak (vgl Prinsloo 2000:141–154).

Kortom: Prinsloo het ‘n fyn oog vir die Hebreeuse taal en grammatika gehad en hy het alle moontlikhede ondersoek om die struktuur en teologie van ‘n psalm vas te lê. Met so ‘n konsentrasie op die finale teks en wat taal en styl jou kon bied, is dit duidelik dat ‘n historiese interpretasie hoegenaamd nie by Prinsloo se denke ingepas het nie. Hy was nie in historiese inligting geïntereseerd nie. Of liewer: historiese kennis was nie vir hom so belangrik om ‘n psalm te verstaan nie en daarom het hy ook nie doelbewus daar na gesoek nie.

Sy verklaring van Psalm 1 kan as voorbeeld dien (vgl Prinsloo 1984:8-23). Sy beginpunt was die Hebreeuse teks in sy finale vorm. Met ander woorde die teks soos wat dit voor ons lê. En hy wou die struktuur van die psalm bepaal omdat dit vir hom die toegang tot die boodskap sou bied. Eers het hy op die metrum gelet, maar in die geval van Psalm 1 het dit hom nie veel gehelp nie want daar was te veel onsekerhede. Wat hom opgeval het, was die alliterasie in byvoorbeeld verse 1 en 2 waar die herhaling van die s-klank voorgekom het. Belangrik is die voorkoms van chiasme en Prinsloo het ook voortdurend na chiastiese vorme gesoek.

In hierdie betrokke psalm kom daar geykte motiewe voor, soos byvoorbeeld die motief van die regverdige man wat met ‘n vrugbare boom vergelyk word en wat dikwels in die Ou Testament voorkom. ‘n Soortgelyke motief verskyn ook in ‘n Egiptiese wysheidsteks wat ons tussen 1000 en 600 vC kan dateer. Motiewe soos hierdie dien volgens Prinsloo om die onderlinge struktuurelemente in die teks te verstewig en die boodskap duideliker te maak (Prinsloo 1984:13). Anders gestel: ‘n motief soos die regverdige man moes nie histories nagevors en die psalm se historiese wording bepaal word nie, maar die funksie van dié motief binne-in die psalmteks moes eerder beskryf word.

 

‘n Kort historiese vergelyking

In die spanning tussen Julius Wellhausen en Hermann Gunkel ontdek ‘n mens iets van Willem Prinsloo se verstaan van die teks (vgl Klatt 1969:72). Wellhausen se beginpunt was die finale Hebreeuse teks. Hy het die teks intens en woord vir woord bestudeer en met behulp van al die taalkundige en teologiese spanninge in die teks bronne en hulle skrywers onderskei. Eers was daar die Jahwis en Elohis wat die Jehowisbron geword het, dan Deuteronomium en ten slotte die Priestergeskrif. Al drie het afsonderlik en in spesifieke tye ontstaan en vertel iets van die groei in die denke (of godsdiens of teologie) van Israel (vgl Wellhausen 1963 & 2001).

Vir Wellhausen was dit genoeg, maar vir Gunkel was dit weer te min. Gunkel het gemeen dat ’n mens verby die ‘finale skriftelike teks’ na die wêreld agter die teks moes beweeg. Daar was ’n groot Ou Nabye Oosterse wêreld wat ’n mens in ag moes neem. In sy belangrike werk, Schöpfung und Chaos, sê Gunkel dat agter die skeppingsverhaal van Genesis 1 daar ’n ou tradisie lê waarby die skrywer aangesluit het (Gunkel 1921:16, 143-161). En dié tradisie was die Babiloniese skeppingsmite, Enuma elis, en dit was volgens Gunkel hiér waar ons vir die ontstaan en wording van Genesis 1 se skeppingsverhaal moes gaan soek (Gunkel 1963:4-6, 45-47).

Wellhausen het aanvanklik skerp op Gunkel gereageer. Daar was vir hom in Schöpfung und Chaos meer chaos as skepping, maar later was sy kritiek meer gematig. Hy het ’n groter waardering vir Gunkel ontwikkel, maar sy gekrap agter die teks was vir Wellhausen onaanvaarbaar. Vir hom was die gesoek na die oorsprong van die Ou Testament en wording van die teks in die Ou Nabye Oosterse wêreld teologies geheel en al irrelevant. Wat Gunkel doen, mag wel interresante historiese of antikwariese waarde hê, maar dit mag nooit die hooftaak van die teoloog of eksegeet word nie. Ons moes eerder baie fyn op die teks voor ons let en dit aan die hand van die bronne en hulle skrywers verstaan. Dít was volgens Wellhausen ons eintlike taak (Klatt 1969:71).

Prinsloo sou ‘n ver pad met Wellhausen kon loop. Albei het die teks fyn gelees het. ‘Close reading’ noem ons dit. Op ‘n gegewe oomblik skei die paaie dan. Wellhausen gebruik sy resultaat om die teks in verskillende bronne (soos die Jahwis, die Elohis, Deuteronomium en die Priesterskrif) te verdeel en dié inligting dan te gebruik om die ontstaan en groei van die Pentateug te beskryf.

Prinsloo het heeltemal hiervan verskil. Hy het ook die teks fyn gelees, maar sy teksinligting gebruik om die eenheid van die teks te bepaal.  Dit was juis sy verset teen die historiese kritiek dat ‘n verdeling van ‘n teks in bronne of skrywers en die naspeur van ‘n teks se groei heeltemal onnodig was. ‘n Psalm sou heeltemal voldoende sonder hierdie inligting verstaan kon word.

Soos Wellhausen sou Prinsloo ook moeite met Gunkel se bemoeienis met inligting agter die teks gehad het.


Slot

Vir ‘n wetenskaplike metode om te kan voortleef, moet dit populêr word. Met ander woorde, dit moet so vereenvoudig en toeganklik word dat almal dit kan gebruik. Willem Prinsloo het juis dít reggekry. In die tagtiger- en negentiger jare van die vorige eeu het hy vir baie studente sy metode op so ‘n manier verduidelik dat hulle dit verinnerlik het en tot vandag toe nog gebruik. Dít kan ‘n mens nou nog in preke hoor en in die wetenskaplike werk van sy oudstudente raaklees.

Dít is ‘n besondere nalatenskap wat min beskore is.

Bronnelys

Gunkel, H 1921. Schöpfung und Chaos. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Gunkel, H 1975. Einleitung in die Psalmen. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Kearney, R., 1989, Modern movements in European philosophy, University Press, Manchester.

Kritzinger, J H 1935, Die profesie van Joël, De Bussy, Amsterdam.

Kritzinger, J H 1939, Die skeppingsdae in Genesis, Van Schaik, Pretoria.

Kritzinger, J H 1963, Die stand van die Ou Testament aan ons fakulteit gedurende die afgelope kwarteeu, NGTT, 4, 77–85.

Kritzinger, J H 1965, Outobiografie, Deo Gloria, 2–5.

Prinsloo, W.S., 1979, Die metodiek van eksegese: ‘n diskussie, NGTT, 20/3, 201–210.

Prinsloo, W.S., 1980, The theology of the book of Ruth, ZAW, 30, 331.

Prinsloo, W.S., 1981, Isaiah 14:12–15: humiliation, hubris, humiliation, ZAW, 93, 432–433.

Prinsloo, W.S., 1983, Die boek Joël: verleentheid of geleentheid? NGTT, 24/3, 255–256.

Prinsloo, W.S., 1984, Van kateder tot kansel, N.G. Kerkboekhandel, Pretoria.

Prinsloo, W.S., 1985, The theology of the book of Joel, De Gruyter, Berlin. 

Prinsloo, W.S., 1987, Die Ou Testament, ‘n verouderde boek? Enkele gedagtes na aanleiding van Psalm 15, UP, Pretoria.

Prinsloo, W.S., 1988, Die histories-kritiese metode(s) in perspektief, SK, 9/2, 196–209.

Prinsloo, W.S., 1991, Die psalms leef, N.G. Kerkboekhandel, Pretoria.

Prinsloo, W.S., 1992, The unity of the book of Joel, ZAW, 104/1, 66–81.

Prinsloo, W.S., 2000, Psalm 93: Jahwe is van altyd af koning oor alles en almal, in D.J. Human (ed.), Die lof van my God solank ek lewe: verklaring van aantal psalms deur WS Prinsloo, pp. 141–154, Medpharm Publikasies, Pretoria.

Wellhausen, J 1963. Die Composition des Hexateuchs und der Historischen Bücher des Alten Testaments. Berlin: Walter de Gruyter.

Wellhausen, J 2001. Prolegomena zur Geschichte Israels. Berlin: Walter de Gruyter.