In die voetspore van die onsienlike

Volle bibliografiese besonderhede:

Esterhuyse, W 2009. God en die gode van Egipte. In die voetspore van die onsienlike. Epping: Lux Verbi.BM. 256 bladsye, leesgids ingesluit.

 

Hierdie boek, uit die pen van ‘n voormalige en welbekende filosofie-professor  maak ‘n baie tydige verskyning op Afrikaanse boekrakke. Die meeste van ons het soos Esterhuyse self reeds aan moedersknie in aanraking gekom met konsepte wat ons beskouinge oor God, geloof, voorsienigheid en gebed ensovoorts bepalend gestempel het. Esterhuyse se openingshoofstuk het my veral meegevoer, terug na my kinderjare en besoeke aan Oupa en Ouma op ‘n Vrystaatse plaas. Oupa het egter nog die Godswoord in Hooghollands gelees en in Hooghollands gebid, want dit was die enigste taal waarmee ‘n mens die nodige respek aan Gij Heere God kon betoon. Oupa se Gij Heere God het my met groot ontsag vervul. Tot vandag. Willie Esterhuyse se Godsbegrippe (p 11) is die Godsbegrippe waarmee ek ook grootgeword het.       

   Die skrywer neem die leser op reis saam met hom, deur die mites, deur die tempels en deur die geskiedenis van Ou Egipte. Dit is egter ook ‘n geloofsreis wat stukkie vir stukkie die Godsbesef wat hy as kind op Laingsburg via sy ouers, dominee Alheit en Klaas Mentoor gevorm het, dekonstrueer. Wanneer hy in kontak kom met religieuse verhale en konsepte van ander kulture in die Ou Nabye Ooste, maar veral dié van Ou Egipte, ontdek die skrywer dat daar heelwat parallelle met die Bybel is. Mettertyd raak hy ook daarvan bewus dat godsdienstige konsepte nie losstaan van geskiedenis, politiek en mag nie, en dat religieuse idees eintlik hierdeur gevorm word. Alle mense deur alle eeue soek na die sin van lewe, wil antwoorde kry op wesenlike vrae en religieuse tekste – soos die Bybel – is dikwels ‘n getuienis hiervan (p 67). Dit wat ons ‘geloof’ noem, kom nie van ‘Bo’ nie, maar is deurspek van ‘menslike woorde, voorkeure, vooroordele, tradisies en die noodlot van interpretasie’ (p 92). Religieuse tekste, sê Esterhuyse verder (p 134) ontvang ook nie heiligheid van ‘Bo’ of het dit vanself nie, dit is mense binne ‘n bepaalde geloofstradisie wat buitengewone gesag aan sulke tekste toeken en hulle daarom anders hanteer as ander tekste. Sulke tekste het dus ‘n geskiedenis – dit weerspieël mense se nadenke en pogings om sin te maak uit hul omstandighede en die betrokkenheid van hul God of gode daarby. En uiteindelik neem die skrywer finaal afskeid van ‘die meganistiese verstaan van die “wil” of die “hand” van God’ (p 188), die lang godsdienstige tradisie waarmee hy grootgeword het.

   ‘n Belangrike motief wat soos ‘n goue draad deur die boek loop, is sol iustitiae illustra nos – ‘die son van geregtigheid verlig/bestraal ons’ (p 13). Hierdie kragtige simbool/metafoor loop Esterhuyse vir die eerste keer raak op die gewel van die Kweekskool op Stellenbosch en dit laat ‘n onuitwisbare indruk op die res van sy lewe. Uiteraard handel baie vertellings in die boek oor die songodsdiens en die songod in Ou Egipte, en die skrywer waarsku telkens oor die gevare van magsmisbruik wat dikwels met heerskappy gepaard gaan. En heel gepas is die opskrif van die laaste hoofstuk in die boek, ‘Die son van geregtigheid’ (hoofstuk 16) met ‘n afdruk van die leuse by Stellenbosch se Kweekskool. Dis veral in hierdie hoofstuk waar Esterhuyse as latere professor in etiek aan die woord kom. Morele en godsdienstige stories oor alle eeue en kulture heen, behoort op een punt te kulmuneer: geregtigheid (p 231), en uitgebrei met die frase persoonlike verantwoordelikheid (p 234). Hierdie twee begrippe is nie bo-wêrelds of ander-wêrelds nie, maar kry praktiese gestalte in die hier en nou van ons elke dagse bestaan.

   In hierdie hoofstuk bind Esterhuyse die lyne saam tussen Moses, Horus, Jesus, Lukas, Paulus, Augustinus, Martin Luther King jr – om maar ‘n paar te noem. Hy vra nie meer ‘wie’ is God nie, maar ‘hoe’ is God? (p 250). ‘n God wat ‘n ‘begripsmummie’ word, is ‘n God gekelder, gestorwe en begrawe binne ‘alle dogmatiese en fundamentalistiese lewens- en wêreldbeskouings waar die etiese, morele, godsdienstige en politieke dimensies klokhelder gedefinieer is en soos gebalsemde mummies in hulle goue doodskiste lê’ (p 233). In so ‘n godsbegrip skuil die dood. Esterhuyse bepleit uiteindelik ‘n samelewing waar die son van geregtigheid almal sal verlig, en waar mense selfloos, na die voorbeeld van Jesus hulself vir ander sal gee. Sonder om in voorskrifte en dogma vasgevang te word. Hy pas Jack Welch se stelling aan, in sy eie woorde ‘omstrede’: ‘ Wanneer die pas van verandering buite godsdienste die pas van verandering binne godsdienste oorskry, is die einde van die godsdieste in sig.’ En hy voeg by: ‘En as mense se vertolking van die woord van “God” nie praktiese sin maak nie, is “God” dood’ (p 253).      

   Het ek enige kritiek op die boek?

   Ek is veronderstel om te hê. Laat ek dan eers by die negatiewe begin en by ‘n saak wat my baie na my hart lê: Die Gilgamesj-Epos! Esterhuyse verwys op p 114 na Gilgamesj. Ek kan nie agterkom watter bronne hy gebruik het nie, maar hulle is ongelukkig nie betroubaar nie. Dis tog jammer. Temas van Vloed en Skepping speel ‘n minimale rol in die Gilgamesj-epos. Belangriker temas in hierdie eeue oue epos is inderdaad die aspekte wat Esterhuyse in sy boek aanraak: magsmisbruik, eer, roem, vrees vir die dood, soeke na die ewige lewe, gode wat daarbo toutjies trek oor die lot van mense, maar bo alles, ‘n soeke na die sin van die lewe as alles rondom jou in duie stort. Dit is maar ‘n tersyde punt van kritiek, en nie eers baie belangrik nie, maar ek is dit aan Gilgamesj verskuldig.

   Verder sou ek hom wel vanuit ‘n Bybelwetenskaplike hoek kon kritiseer. Figure soos die Aartsvaders, Josef en Moses hanteer hy as historiese werklikhede en probeer ook hul bestaan min of meer dateer. In Egipte sou hierdie karakters dan in kontak met die ‘ander gode’ kom, en ten spyte van hul monoteïstiese godsbeskouing, kon hulle die Egiptiese invloed nie ontkom nie. Byvoorbeeld in hoofstuk 6 bespreek hy ‘Ander Gode’ waarin hy Moses in die tydperk van Raamses II (1304-1237 vC) plaas en aanvaar dat die ‘Eksodus-Jode deel van hierdie farao se dwangarbeiders was’ (p 95). En net daarna verwys hy na die besondere simboliek wat die ark vir die ‘Jode’ gehad het aangesien hulle dit goed leer ken het toe hulle slawe in Egipte was en ooggetuies by baie van hierdie priesterlike prosessies was (p 96). Hy posisioneer dus die Bybelfigure binne die Egiptiese tydlyn, en lê regstreekse verbande. So asof monoteïsme in die Bybel van die begin af ‘ingedra’ is, maar daarmee saam, die spore van Egipte. 

   Die lyne kan nie so direk deurgetrek word nie. Die Egiptiese invloed word myns insiens te veel ingelees terwyl die Assiriese polemiek so te sê geïgnoreer word. En Esterhuyse se hantering van die Bybel as ‘n historiese betroubare bron, skep die paradokse indruk dat ‘dan is die Bybel tog waar, nie waar nie?’ Is dit nie juis waaruit hy vanuit sy benouende benouende geloofstradisie wil ontsnap nie?

   Ten spyte van my kritiek, is hierdie boek ‘n deurbraak. Uiteraard is dit nie die plek vir ingewikkelde Pentateug-teorieë en ellelange diskussies oor wie is nou eintlik die Jode – Judeërs, Israeliete, Hebreërs (?) nie. Dit is nie die bedoeling van die skrywer nie, en om indringende Bybelwetenskaplike insigte te verwag, is onbillik. Uiteindelik wil ek tog my waardering uitspreek vir iemand wat dit waag om die ‘voetspore van die onsienlike te betree’ en die leser saam te neem op ‘n baie persoonlike reis van ‘n eerlike soeke om sy geloofshorisonne te verbreed.

   God en die gode van Egipte is ‘n uiters geslaagde filosofiese, spirituele ontdekkingsreis, en beslis ‘n aanwins in die eenogige geloofslewens van die Afrikaanse Christendom. 

Share this / Deel hierdie: