Daarna het die Here God vir die mens en sy vrou velklere gemaak, en hulle het dit aangetrek (Gen 3:2

Al die Ou Nabye Oosterse volke het verhale vertel oor die skepping, gode, mense en die natuur. Die gode het die mense op verskillende maniere gemaak – soms uit die bloed van ander gode wat hulle verslaan het, soms uit klei van die aarde. Maar in al hierdie verhale is die mens slegs met een doel geskape: hulle moet werk sodat die gode kan rus.

  Genesis 2 vanaf vers 4b vertel vir ons een van Ou Israel se skeppingsverhale. Dit begin met ‘n bar en droë wêreld, ‘n woestynwêreld wat die mense van daardie tyd maar alte goed geken het. Tuine was nie volop nie – net konings of ryk mense kon dit bekostig, want om ‘n tuin aan te lê, te besproei en in stand te hou, moes jy baie slawe hê wat harde hande-arbeid kon verrig.

  En dan, met een enkele sin keer die skrywer van Genesis 2 die wêreldbeeld van die Ou Nabye Ooste op sy kop. In die onherbergsame woestyn is die Here God aan die werk! Ons Bybel gebruik Eden as ‘n pleknaam, maar dit is ‘n woord wat verwant is aan edinu, Oud Assiries vir ‘woestyn’. ‘n Skokkende gedagte vir die mense van daardie tyd: die Here God van Israel werk vir ‘n mens – nie andersom nie!

  Die prentjie ontvou verder: in die tuin gee die Here God vir die mens alles wat hy nodig het, kos en water, en as Hy sien dat die mens alleen is, gee Hy vir hom ‘n maat, ‘n vrou (Gen 2:22). Maar dan loop dinge lelik skeef: die mens en sy vrou minag God se bevel, en Hy moet hulle uit die pragtige tuin wegjaag. Nou moet hulle self tuinmaak, self spook en spartel om ‘n bestaan uit te werk. Die wêreld daarbuite is hard. God het genoeg rede om hulle aan hul eie lot oor te laat. Maar nog los Hy hulle nie heeltemal weerloos nie: as hulle kaal en skaam is, maak Hy vir hulle velklere  (Gen 3:21).

  Die woestyn is wreed. Die lewe is moeilik en behandel die mens meestal onbillik. God se troue sorg, sy omgee, sy gemoedelike besoek teen die tyd dat die aandwind opkom (Gen 3:8) word selde beleef. Met God se velklere moet die mens en sy vrou die lewe aandurf.

  Velklere, as herinnering aan sy sorg, en as beskutting teen die ongenaakbare woestyn.

  Velklere wat God self gemaak het.

 

Here, maak ons bewus van u velklere as alles inmekaarstort.

Share this / Deel hierdie: