Vir hulle gaan daar fonteine oop wanneer hulle deur ’n dorre laagte trek … Keer op keer ontvang

Dit moes seker ’n geweldige ervaring gewees het. Na dae se stap het Jerusalem skielik in die verte geblink. Dalk het dit nog ’n tydjie geduur, maar uiteindelik het hulle die stad binnegestap en slaapplek gesoek. Tydens die groot feeste soos Paasfees en Pinkster het mense van oral gekom en soms het die stad te klein geword.

Vir die gelowige Israeliet was die bymekaarkom by die tempel die hoogtepunt. Dáár was God teenwoordig en dáár kon ’n mens dit aanvoel. Dit was so ’n egte ervaring dat dit die gelowige geborge laat voel het. Pragtig beskryf die psalmskrywer dit met die beeld van die mossies: ‘Selfs ’n mossie het ’n nes, en ’n swaeltjie ’n plek vir haar kleintjies …’ (84:4). Soos ‘n mossie kalm en rustig in die tempeldak nes gemaak het, en onbekommerd haar kleintjies versorg het, so was die gelowige wat die nabyheid van God ervaar het. Dit was asof God vir hom ’n skuiling, ’n beskutting geword het.

En dié nabyheid het iets aan die gelowige gedoen! Vir vele het die reis na Jerusalem en weer terug deur ‘n dorre gebied geloop. Daar was nêrens water nie en die hele gebied was vir vele skrikwekkend. In die dorre laagte moes ‘n mens ook nooit verdwaal het nie. Volgens die psalmskrywer sorg God egter vir die gelowiges wat daardeur moes stap. Hulle kry water waar hulle nie gedink het daar was water nie. Of soos die psalmskrywer sê: ‘Vir hulle gaan daar fonteine oop’. In Jerusalem het hulle sy nabyheid gevoel en in die dorre laagte sy sorg ervaar. In die tempel het sy teenwoordigheid iets aan hulle gedoen en in die dorre laagte was sy nabyheid nie minder werklik nie.

Die ‘dorre laagte’ was nie ’n fisiese plek naby Jerusalem of elders nie, maar het ook op ‘die dal van doodskaduwee’ of ‘dal van onheil’ gedui. Wie dus na God verlang en sy nabyheid gesmaak het, het in die dal van angs en dood ’n fontein van lewende water ontdek. Wie dus met God se nabyheid gevul is, het ’n innerlike lewenskrag gehad wat hom deur die donkerste dale gedra het.

Die ervaring van God se nabyheid by die tempel het die pelgrim anders as ’n gewone reisiger gemaak. Hoe langer laasgenoemde getrek het hoe groter was die moegheid en die tamheid. Anders met die gelowige: God se innerlike krag het hom moed gegee; God se nabyheid het die vermoeides krag gegee en dié versterk wat nie meer kon nie (Jes 40:28).

Here, maak ook vandag vir ons fonteine in ons dorre laagtes oop en laat ons U krag ervaar.

Share this / Deel hierdie: