Jesaja 7 en Matteus 1 in gesprek

’n Klein hermeneutiek

In Jesaja staan daar: Die Here sal daarom self vir julle ‘n teken gee: ‘n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel’. En in Matteus 1:23, 25 lui dit so: Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring en hulle sal Hom Immanuel noem … en Josef het Hom Jesus genoem’. Twee tekste wat amper dieselfde lyk, maar tog nie dieselfde is nie. Een verwys na gebeure in die agste eeu voor Christus en die laaste na ’n geboorte aan die begin van ons jaartelling. Eerstens, wys dit hoe tekste ’n lewe van hulle eie gehad het. Dít wat nóú (in die agtste eeu vC) gesê is, was nie die einde nie, maar eintlik die begin van ’n lang proses van interpretasie en herinterpretasie. Op dié manier het tekste telkens ’n nuwe lewe ontvang en nuwe interpretasies bygekry (Körtner 2006:5-110; vgl Dohman & Stemberger 1996.24-29).

Tweedens, word die ‘moederteks’ (in dié geval Jesaja 7) tellkens heeltemal teen haar grein, bedoeling, oorspronklike betekenis gelees en gebruik. In die herinterpretasie kry die moederteks ’n heeltemal ander, nuwe betekenis. Anders gestel: geen teks word ooit volledig uitgeput of is ooit klaar geïnterpreteer nie; daar bestaan altyd nuwe verstaans- en betekenismoontlikhede (Gadamer 1990:107-138).

Derdens, nuwe kontekste (ander mense en behoeftes) maak nuwe betekenisse moontlik. En elke tyd in die geskiedenis het sy eie ‘intellektuele ondergrond’ (of ‘episteme’ soos Foucault dit noem) waaruit almal onbewustelik tap. Hierdie ‘intellektuele ondergrond’ verskaf as‘t ware die woorde, die begrippe en perspektiewe wat hulle nodig het om hulle wêreld en ook tekste nuut en anders te kan verstaan (Foucault 1989:211, 212, 174).

’n Voorbeeld hiervan kry ons in die Pentateug. Aan die einde van Numeri word gesê dat Moses al die wette ontvang het. Dit is nou die Dekaloog, die Bondsboek [Eks 21-23] en die ander voorskrifte in Eksodus wat deel van die Sinaiverbond uitmaak: ‘Dit is die gebooie en bepalings wat die Here deur middel van Moses die Israeliete beveel het …’ (Num 36:13).     Veertig jaar later staan die trek in die Moabsvlakte reg voor die beloofde land, Moses neem afskeid en hy praat die laaste keer met hulle. Dáár op die grens van die beloofde land verander sy rol skielik en dramaties. Hy ontvang nie meer nuwe wette nie, maar hy lê dit uit: ‘Dit was oos van die Jordaan, in Moab, dat Moses die wet begin verduidelik het’. En Moses herinterpreteer die ‘moederteks’ (die Dekaloog, die Bondsboek, ens) radikaal anders en nuut. By Moses het die eindelose proses van interpretasie en herinterpretasie alreeds begin (Le Roux 2009:27-30).

 

Oorlog, angs en ’n teken (Jesaja 7)

Ons kan Jesaja 7 baie breedweg in twee dele verdeel: verse 1-9 wat van oorlogsangs en geloof vertel, en verse 10-25 waarin die Immanuelteken voorkom. Die teken is hoegenaamd nie die belangrikste gebeurtenis in die verse nie. Dit is bloot ’n teken wat die spanning van ’n naderende beleg van Jerusalem wou breek en die mense bemoedig.

Hierdie hoofstuk begin soos min ander Ou Testament-tekste met ’n heerlike rits name wat ons dieper en dieper in Jesaja se wêreld intrek. Die name mag onskuldig lyk, maar die hele hoofstuk is in angs gedrenk. Eerstens was daar die enorme vrees vir die magtige Assiriërs. In Jesaja se tyd (742-700 vC) was húlle die groot wêreldmag wat alles en almal platgeloop en vernietig het (vgl Cancik-Kirschbaum 2003:56-64; Albertz 1992:245-277). Nou nog boesem die prentjies van die Assiriërs (op klippe uitgekap) vrees in. Een so ’n reeks ‘klipprente’ vertel van Assirië se aanval op Lagis (in 701 vC). Lagis se mense het die Assiriërs dapper probeer weerstaan, maar die oorwig was te sterk en die Assiriërs boonop genadeloos wreed. Afgekapte koppe en liggame is aan hoë pale gehang en rondgeswaai; vroue en kinders het wanhopig probeer ontsnap, maar die Assiriërs het hulle ingehaal en in ballingskap weggevat. Pa en ma en kind sou mekaar nooit weer sien nie en dít was erger as die dood (vgl Ussishkin 1982).

Geen enkel volk kon alleen oorleef nie en daarom het twee konings in 734 vC besluit om saam te staan (Otto 1999:15-105). Een was Peka, die voorlaaste koning van Israel (of die Noordryk). Sy verbrokkelende ryk was aan die uitmekaarval en Assiriese druk sou alles vererger. Die ander was Resin, die koning van Aram. Hy was maar ’n geknakte riet en sou van weinig hulp wees. Angs en spanning het dié twee bymekaargebring, maar hulle was te swak. Daar was egter ’n uitweg: Agas en Jerusalem moes by die koalisie ingedwing word. En dít is waar Jesaja 7 se verhaal begin: Peka en Resin sou op Jerusalem toesak en Agas met Tabeal vervang (vs 6). Benoudheid het die volk gepak en hulle harte het gebewe soos bome in die wind bewe (vs 2) (Maxwell Miller & Hayes 1986:323-326, 3238-332).

Jesaja sê dan hulle moet net glo: ‘ Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel nie’ (Jes 7:4)  Waarskynlik was dit te goed om waar te wees en het Agas hom ook nie ernstig geneem nie (vgl Jes 7:10-12). Geloof was egter so ’n integrale deel van Jesaja se boodskap dat alles rondom geloof gedraai het. Hy het dit nêrens omskryf nie, maar vir hom was dit as ‘t ware ’n daaglikse reslose oorgawe aan Hom. En wie glo, ervaar iets. ’n Kalmte, ’n stilte, ’n rustigheid, ’n gevoel van vrede en vertroosting. Wie glo, sien ook uitweë en oplossings waar niemand anders dit kan sien nie . So het Jesaja se geloofsoog egter verder gekyk en Peka en Resin was vir hom bloot twee stukke rokende brandhout (Jes 7:4). Binnekort sou hulle van die wêreldtoneel verdwyn (Oded 1977:421-434).

En met hierdie optimistiese geloofsoorgawe het Jesaja toe vir Agas gesê hy kon ’n teken kies. Enige teken ‘diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo’ (Jes 7:10) en God sou dit waarmaak. ‘n Mens word yskoud as jy dit lees. Hoe kon Jesaja so iets sê? Alles was in Jesaja se geloof gegrond. Hy het geglo God kon enige iets doen. Selfs vir hierdie hardekop Agas ‘n teken gee. Ewe vroom het Agas die versoek geweier. Hy wou God glo nie getart het nie. Dit was nie die eintlike rede nie. Hy het klaar sy hoop op die Assiriërs geplaas (vgl Jüngling 2008:429-431).

En toe het Jesaja maar self ‘n teken gekies. Jesaja en sy seun, Sear-Jasub, Agas en ‘n paar amptenare het naby die boonste dam gestaan. Daar was ook ‘n vrou, of soos dit in vers 14 staan: ‘’n Jong vrou’. Wie sy was, weet ons nie. Miskien was dit Agas se vrou. Sy sou egter ’n seun in die wêreld bring en hom ‘Immanuel’ noem. Eintlik is hierdie verhaal so mooi in sy eenvoud. Agas weier en toe kies Jesaja maar die teken. Nie ‘n natuurwonder of iets groots nie. Nee, hy wys na ‘n  swanger vrou en haar ongebore kind. Wat is in hierdie lewe tog meer gewoon as ‘n vrou wat geboorte skenk? En haar kind sou die teken wees (Von Rad 1961:169-173; Kaiser 2003:196-198).

Teen die kind se geboorte en nog klompie maande later sou die huidige krisis lankal verby wees. Almal wat die kind sou sien, sou na hom wys en sê dat hy ‘n teken was. Waarvan? Dat God sy beloftes nagekom het, dat Hy by sy mense is en dat Hy naby aan mense in hulle nood kom. Kortom: dat Hy vir Jesaja en sy geloofsgemeenskap waarlik Immanuel, God-met-ons geword het (Jüngling 2008:447-451; vgl ook Sweeney 1988:1-100; Williamson 1994:1-20).

 

’n Ander teken (Matteus)

Matteus se gemeente êrens in Damaskus of Antiochië het veral uit Jode wat Christene geword het, bestaan en hy is ook deur hierdie groot Semitiese of Joodse wêreld gevorm. Uiteraard het die Ou Testament in die Griekse vertaling (die Septuagint) die ‘grondplan’ vir sy evangelie gevorm. Anders gestel: die Ou Testament het hom gehelp om die Jesusfiguur as ‘t ware in die visier te kry en inhoud aan die Jesusgebeure te gee (vgl Schnelle 1999). Dít sien ’n mens sommer ook in die geslagsregister reg aan die begin van die evangelie: Jesus het nie as ’n ruimtereisiger ons wêreld betree nie, maar was ferm aan ons wêreld deur sy Joodse voormense geanker. En dié voorgeslag uit die Ou Testament het Matteus gehelp om Jesus se identiteit te verwoord: dat Hy ’n mens was, uit die wêreld van Israel gekom het, die seun van Abraham (uit die ‘heidenwêreld’) was, maar ook ’n koning soos Dawid. Alles was so eg-menslik. ’n Verhaal oor ’n sagte, deemoedige, nederige mens, soos Irenaeus ’n eeu of wat later oor die Matteusverhaal sou sê (Luz 1985:88-97).

Ewe menslik is die verhaal wat onmiddellik op die geslagsregister volg. Dit vertel van vernedering en ’n groot verleentheid. Maria en Josef was verloof, het nog by hulle ouers gewoon, maar die band was reeds so sterk dat dit net deur ’n skeibrief ongedaan gemaak kon word. Voor die huwelik was Maria egter swanger en Josef het dit agtergekom.

Klaarblyklik was Josef bang. Alles het ondraaglik begin word. Hy wou vinnig uit die hele ding kom, maar Maria ook nie verneder nie. Hy wou ‘haar tog nie in die openbaar tot skande … maak nie’ (1:19) (Luz 1985:102-106). Maar dit was egter nie so maklik nie. Josef was ‘aan die wet van Moses getrou’ (vs 19) en volgens Deuteronomium 22:23 kon die gebeure Maria se dood beteken. Uitdruklik word gesê: ‘Wanneer ‘n man betrap word terwyl hy gemeenskap het met ‘n ander man se vrou, moet die man en die vrou wat gemeenskap gehad het, altwee doodgemaak word’ (Deut 22:23).

Josef sou ook moeilik ‘die verlowing stilweg … (kon) verbreek’ want getuies moes die skeibrief in die openbaar onderteken. In ’n droom en met ’n woord uit Jesaja is die verleë situasie toe ontlont. ’n Engel het Josef van die geheimenisvolle werking van die Heilige Gees vertel en toe na die profeet verwys: ‘Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word’ (Mat 1:22). Onmiddellik volg dan die woorde uit Jesaja: ‘Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem’ (Matt 1:23) (Luz 1985:104-105).

Matteus gebruik egter dieselfde woorde in ’n totaal ander konteks: Jesaja het geensins ’n messias verwag nie en sy woorde was bedoel om mense in ’n ellendige situasie te bemoedig. Vir Matteus dien dié woorde egter om Jesus se ‘ontvangenis’ te verduidelik, dat God by alles betrokke was en dat dit lank gelede reeds voorspel is. Om dit te kon bewerkstellig, moes Matteus sy Ou Testament-teks (die Griekse vertaling, die Septuagint of LXX) verander. Die een verandering is reeds vir Matteus in die LXX gemaak. Die Griekse vertalers het die ‘jong vrou’ in die Hebreeus Bybel na ‘maagd’ verander en dit het Matteus soos ’n handskoen gepas. Anders gestel: die ‘jong vrou’ in die Hebreeuse Jesajateks het die Griekse vertalers in die Septuagint (LXX) na ‘maagd’ verander en Matteus kon dit uitstekend gebruik. Daarmee kon hy sê Maria was ’n maagd en nie sommer ’n jong vrou nie. Hierdie is ’n goeie aanduiding dat Matteus se Ou Testament nie die ‘oorspronklike’ Hebreeuse (Masoretiese teks) was nie, maar ’n vertaling daarvan in Grieks, die Septuagint. Dit was sulke veranderinge wat die vroeë kerk al hoe meer van Israel se geloofswêreld verwyder het. (Ons moet hier skerp tussen Israel van die Ou Testament en die eerste-eeuse Jode onderskei.) (vgl Schnelle 1999).

Dan was daar nog ’n verandering. Eintlik baie klein, maar dit sê tog veel van die manier waarop Ou Testamenttekste in die vroeë kerk gebruik is. Dit gaan oor wie die kind sy naam gee. In die Hebreeuse staan daar: ‘en sy sal hom … noem’. In die Septuagint (LXX) word die tweede persoon enkelvoud (‘en jy sal hom … noem’) en in Matteus die meervoud (‘en hulle sal Hom … noem’ gebruik. Geen jota of tittel staan nog vas nie en die Ou Testament is vir ’n nuwe konteks (die Jesusgebeure en die vroeë kerk) gemaakpas (Weren 1997:447-466).

Daar is nog iets interessant in die Matteusaanhaling van Jesaja 7:14. Nie iets wat bygevoeg of verander is nie, maar iets wat ‘ongebruik’ in die Matteusteks bly lê. Woorde wat klaarblyklik geïgnoreer word en nie ‘vervul’ is nie. En dit is die woordjie ‘Immanuel’. Maria en Josef se seun is toe ‘Jesus’ genoem wat ook heeltemal iets anders as Immanuel, ‘God-met-ons’ beteken. En dit was nogal in opdrag van die Heilige Gees. Net ’n deel van die profeet se woorde is dus klaarblyklik vervul. Dit is egter ook nie heeltemal waar nie. Matteus sê dit net anders; hy wýs in sy evangelie wat God-met-ons in die lewe van gewone mense beteken (Weren 1997:453-455).

As God by mense is, gebeur daar (netsoos by Jesaja) iets met hulle. Hy koester diegene wat arm van gees is en hulle nie self verhef nie; Hy troos dié wat treur en wat langs die lewenspad seergekry het; Hy help mense wat nie meer herwaarts of derwaarts weet nie; Hy gee om vir diegene wat ’n jammerhart vir ander het; Hy verlig die pyn van hulle wat vervolg word of in hierdie lewe swaarkry; Hy staan by hulle wat deur andere vertrap of beledig of verneder word en gee hulle krag. En aan die einde van die evangelie sê Jesus ook: ‘Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld’ (Matt 28:20). Eers aan die einde van Matteus kry Jesaja se Immanuel sy besondere betekenis. Eers aan die einde kon Matteus se geloofsgemeenskap die Immanuelteken se andersheid verstaan: Jesus, die Immanuel, sou altyd by en naby die gemeenskap bly (Luz 1985:106-107).

 

Een teks, twee wêrelde en twee maniere van verstaan

Die Jesajateks is dus êrens in Damaskus of Antiochië in ongeveer 80 nC vir Joodse Christene geherinterpreteer en vir ’n nuwe konteks aangepas. In Jesaja se konteks was die jongvrou se kind ’n teken dat God in die angsvolle jare tussen 734 en 732 by die mense van Jerusalem was. Peka en Resin het verdwyn, die mense was gelukkig en die lewe het weer aangegaan. Matteus neem dit oor, maar gebruik dit anders. Jesus dra nie die naam ‘Immanuel’ nie, maar Hy was lyflik, liggaamlik God-met-ons onder die mense. En heel aan die einde van sy lewe en ook die evangelie van Matteus se einde sê Jesus hierdie wonderlike woorde: ‘Ek is met julle tot aan die voleinding van die wêreld’. Vir altyd sou Jesus by die gemeente van Matteus wees en sou hulle God se nabyheid elke dag in hulle gewone lewens ervaar; sou die sleur van hulle daaglikse lewe meer draaglik word. En Jesaja se mense sou dít ook verstaan.

En kersfees 2009 beklemtoon nou God se nabyheid in ons sinlose, verskeurde wêreld.

 

  • · Albertz, R 1992.  Religionsgeschichte Israels in alttestamentlicher Zeit, vol 1.  Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • · Cancik-Kirschbaum, E 2003. Die Assyrer. München: C H Beck.
  • ·  Dohman, C & Stemberger, G 1996. Hermeneutik der Jüdische Bibel and des Alten Testaments. Stuttgart: Kohlhammer.
  • · Donner,  H 1977. The separate states of Israel and Judah, in Hayes, J H & Maxwell Miller, J (eds),  Israelite and Judaean history.  London: SCM Press, 421-434.
  • · Foucault, M 1989. Archaeology of knowledge. London: Routledge.
  • · Gadamer, H-G 1990. Wahrheit und Methode. Tübingen: J C B Mohr.
  • · Jüngling, H-W  2008.  Das Buch Jesaja, in Zenger, E (hrg),  Einleitung in das Alte Testament.  Stuttgart: Verlag W Kohlhammer.
  • · Kaiser, O 2003. Der Gott des Alten Testaments. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • · Körtner, H J 2006. Einführung in die theologische Hermeneutik. Darmstadt: WBG. 
  • · Le Roux, J H 2009. Suffering and hope during the exile, in Becking, B & Human, D (eds), Exile and suffering. Leiden: Brill,19-32.
  • · Luz, U 1985.  Das Evangelium nach Matthäus. Zürich: Benzinger Verlag.
  • · Maxwell Miller, J & Hayes, J H 1986.  A history of ancient Israel and Judah. Philadelphia: Westminster Press.
  • · Otto, E 1999. Das Deuteronomium. Politische Theologie und Rechtsreform in Juda und Assyrien, BZAW 284, Berlin/New York.
  • · Schnelle, U 1999. Einleitung in das Neue Testament (3.neubearbeitete Auflage). Göttingen: Vandenhoeck und Ruprecht.
  • · Sweeney,  M A 1988.  Isaiah 1-4 and the post-exilic understanding of the Isaianic corpus. Berlin: Walter de Gruyter & Co.
  • · Ussishkin, D 1982. The conquest of Lachish by Sennacherib, Institute of Archaeology, 1982.
  • · Von Rad, G 1961. Theologie des Alten Testaments, II. München: Chr Kaiser Verlag.
  • · Weren, M 1997. Quotations from Isaiah and Matthew’s Christology (Mt 1,23 and 4, 15-16), in Van Ruiten, J & Vervenne, M (eds),  Studies in the Book of Isaiah. Leuven: University Press, 447-466.
  • · Williamson, H G M 1994. The Book called Isaiah. Oxford: Oxford University Press.
Share this / Deel hierdie: