Inleiding
In ‘n belangrike werk van 2012 het Juliana (Julie) Claassens, professor in die Ou Testament aan die Universiteit van Stellenbosch, op ‘n heel ander manier oor God in die Ou Testament geskryf. Volgens haar moet ons die waagmoed hê om anders oor God en sy teenwoordigheid by ons na te dink. Ons verstaan God te veel in harde manlike terme as die magtige kryger wat sy mense met kragtige dade bevry en die vyand vernietig. Dit is beelde wat nou nog politieke en ander maghebbers tot dade van geweld en vernietiging aanspoor.

Volgens Claassens het hierdie magstaal ook ons teologie binnegesluip en ons Godsbeeld hard en ongenaakbaar gemaak en daarteen het sy in gesprek getree: ‘My work has also been dedicated to a critical as well as constructive engagement with biblical metaphors for God that have the potential to be misused or abused by those in power’ (3).

Claassens het ‘n ‘sagter siening’ van God ontwikkel en dít kon sy bewerkstellig omdat sy ‘n ma-beeld van God gevorm en uitgebou het. ‘n Ma wat huil en sáámly, maar wat ook weer nuut begin, het die kern van haar denke gevorm. Die woorde wat sy gebruik het, was ‘Mourner, Mother, Midwife’ en dít het haar verstaan van God gevorm en geslyp. Met dié drie woorde of metafore het sy die ballingskapsliteratuur (soos Jeremia, Deutero-Jesaja en Trito-Jesaja) gefynkam vir inligting oor God as ma wat naby die gebrokenes en getraumatiseerdes was. Claassens gee toe dat dit dalk ‘n ongewone manier is om oor God te dink, maar dit open tegelykertyd ook nuwe perspektiewe en verstaansmoontlikhede om oor Hom te praat en die teologie te beoefen.

Só ‘n siening van God wat huil, onttroon ten minste ook die harde God van krag en mag en geweld: ‘A radically new view of God is present here. If God can be represented as weeping over what happened to Israel, indeed what God made happen to Israel, then the angry, all powerful God of retribution has been detrhoned’ (Levine soos aangehaal deur Claassens)(35). Trouens, Claassens stel dit nogal dikwels dat haar siening van God wat huil en broos is vanweë Israel se pyn, die harder manlike beelde van God as oorwinnaar en verwoester van die nasies ondermyn (11).

Wat het haar gevorm?
Claassens se anti-geweldsteologie is deur twee gebeure in haar lewe geslyp. Een was apartheid en die pogings om die Bybel te gebruik om ander mense weg te stoot. God was die sterke en die kragtige wat Afrikaners teen die geweld van anderskleuriges moes beskerm. Dié magstaal het Claassens gedwing om na alternatiewe metafore te soek en het dit toe in die woorde ‘Mourner, Mother, Midwife’ gevind.

‘n Tweede vormende krag is haar bewustelike keuse vir ‘n feministiese Bybelse teologie. Sy is onlosmaaklik deel van hierdie denke en daarom sku sy weg van enige magsteologie en ‘n Bybelverstaan wat tot nuwe magsdade lei (4-7). Vandag se mens is broos en staan weerloos teen vele magsvergrype en daarom moet oor God in ‘n ander taal gepraat word en moet ons teologie ook anders lyk.

Die rede vir die ballingskapse trauma
In 597 het Nebukadneser vir die eerste keer in Jerusalem se nek geblaas, maar is na ‘n ruk weg. Jeremia het geweet hy sou terugkom en dat Jerusalem dan geknak sou word. Dít het toe in 586 gebeur. Baie mense is doodgemaak, eiendom is verwoes en talle is in ballingskap weggevoer. Volgens Claassenshet die boek Jeremia hierop gereageer. In Jeremia 4:23-26 beskryf die profeet sy absolute verlatenheid: ‘O die krampe in my ingewande, o die benoudheid in my hart! My hart bons wild, ek kan dit nie tot bedaring bring nie, want ek het die geluid van die ramshoring gehoor, en die oorlogskrete! (Jer 4:19). In hierdie en ander verse word die rouheid van verlies en verbrokkeling gevoel.

Wie se skuld was dit? Wel, in die daaglikse lewe is daar nie netjies verpakte antwoorde op al ons probleme nie en van die Bybel is dit ook waar (12). Antwoorde word soms gegee wat eerder vernietig as wat dit bou. So was die antwoord van die Deuteronomis ook verwoestend. Volgens dié skrywer was die trauma van die ballingskap die gevolg van Israel se oortredinge. Israel het verkeerd gedoen deur ander gode te aanbid en hulle lyding was dus hulle eie skuld. So ‘n siening was vernietigend en het nie gehelp om die pyn en trauma te verwerk nie.

Claassens verwys tereg na Martin Sweeney wat sê, ‘the uncritical acceptance of a charge that the victims of evil are responsible for their own suffering is unconscionable’ (12). So ‘n stanpunt is onhoudbaar en ‘n boek soos Job het ook sterk daarteen gepolemiseer. Volgens Job kan ‘n mens nie lyding verklaar nie. Sy vriende het wel geglo dat alle lyding deur sonde veroorsaak word, maar Job het ontdek dat lyding buite die greep van die rede lê en daarom nie logies verklaar kan word nie.

Daar is ‘n ander kant
En tog is daar ook ‘n ander perspektief. Die perspektief van God se trane. Claassens hoor in Jeremia 8:22-9:3 die profeet sowel as God se woorde en in die profeet se trane sien sy ook God s’n. God en Jeremia se trane het vermeng geraak en deurmekaargeloop: ‘My volk se wonde is ook my wonde, ek is in die rou, deur angs oorweldig. Is daar nie balsem in Gilead nie? Is daar nie ‘n dokter nie? Waarom het my volk nie gesond geword nie? … Ag, was my kop maar vol water en my oë ‘n fontein met trane, dan sou ek dag en nag huil oor my volksgenote wat gesneuwel het’ (Jer 8:21-9:1). God se trane het nuwe betekenismoontlikhede vir die ballinge ontsluit. Dit het beteken dat Hy sáám met hulle gely en hulle nie verwerp het nie. God se liefde vir die ballinge kon ‘n mens dus in sy trane sien. God se trane moes alle ballinge elke dag bemoedig en nuwe krag gee want dit het hulle vereker dat Hy by hulle is.

En as God oor die ballinge se pyn huil, verstaan ons die skuldvraag ‘n bietjie anders. Al was die Deuteronomis se harde oordele reg, God se trane het Israel se skuld versag. Al het hulle verkeerd gedoen, God het by die ballinge gesit en saam oor hulle pyn gehuil. En God se trane het die oue toegemaak en ‘n nuwe toekoms vir hulle oopgemaak (26).

Die klaagvroue
In Jeremia 9:17-20 word die klaagvroue opgeroep om te ween en hulle trane vervul ‘n belangrike funksie: ‘So sê die Here die Almagtige: Luister goed! Roep al die klaagvroue dat hulle kom, laat kom die vroue wat weet hoe om klaagliedere te sing. Hulle moet gou maak en ‘n klaaglied oor ons sing, sodat die trane uit ons oë loop, ons oë nat is van die trane. Hoor hoe kla dit uit Sion; hoe het die verwoesting ons getref, hoe is ons verslaan! Ons moet die land verlaat, ons huise word omgestoot. Vrouens, luister na die woord van die Here, neem alles in wat Hy sê. Leer julle dogters om te kla, laat hulle mekaar klaagliedere leer’.

Hierdie klaagvroue moes uitdrukking aan die ballinge se trauma gee want hulle was die getuies van onbeskryflike smart en pyn (29). En die getuie is altyd die oorlewende wat innerlik gekneus en vernietig is en met rou emosies moet worstel. Die klaagvroue se trane was egter meer as net ‘n uitdrukking van pyn: dit was ‘n verset teen die brutaliteit van die staat en die verontregting van gewone mense: ‘By means of this very limited act of resistance, their tears also become a powerful sign of hope that contributes to the broader community’s will to survive’ (30).

Trane se gevolge
God se trane het ook etiese gevolge: dit laat ons anders na die wêreld en mense kyk. Claassens haal ‘n bekende filosoof aan: ‘I shall look at the world through tears. Perhaps I shall see things that dry-eyed I could not’ (35). Ander se trane kan jou verhoed om seer te maak en dit kan ook uiteenlopende mense bymekaarbring.

Sy noem byvoorbeeld die filmweergawe van Alan Paton se ‘Cry the beloved country’ waarin ‘n woedende wit boer en ‘n swart predikant in ‘n bouvallige kerkie ontmoet. Die swart predikant is gebroke want sy seun het die witman se kind vermoor en hy huil aanmekaar daaroor. In die kerkie gebeur daar egter iets tussen dié twee. Claassens stel dit mooi: ‘(T)he pastor’s tears wash away the animosity and anger between the two men and they can meet each other in a new way’ (36).

Claassens se lees maak ons ook gevoelig vir die ander klein en dowwe stemme in die Ou Testament wat nooit gehoor of waardeer word nie. Stemme in die teks wat deur politieke magte en belange net versmoor word. ‘n Mooi voorbeeld hiervan is die verkragting van Tamar deur Amnon in 2 Samuel 13. Tamar se lewe is vernietig en sy het ‘n wrak geword, maar niemand het eintlik iets daaraan gedoen nie. Haar broer, Absalom, sou wel later met Amnon afreken, maar haar pa Dawid sou dinge net daar laat (2 Sam 13:20-21). Niemand sou arme Tamar verder ondersteun of help nie want daar was belangriker dinge waaraan aandag gegee moes word. Vanaf 2 Samuel 7 tot 1 Konings 2 draai alles om Dawid se moontlike opvolger en volg die een magsdaad die ander en is almal in allerlei politieke magspeletjies vasgevang. Te midde van al die magspraatjies is van Tamar vergeet en het die berig oor haar verkragting (2 Sam 13) nie eintlik reaksie ontlok nie. Die fokuspunt was politieke mag en Tamar se pyn het nie eintlik ingepas nie.

God as vroedvrou
Met verwysing na Deutero- en Trito-Jesaja het Claassens ook die moontlikhede van ‘God as moeder’ ontgin (41-63). In Jesaja 42:13-14, 45:9-10, 49:13-15 en 66:10-13 het sy die beelde gevind waarmee sy God as ma kon beskryf. Die ma wat die ballinge getroos en gehelp het. In Psalms 22 en 71 het sy weer die woorde gevind om oor ‘God as vroedvrou’ te praat. In die een staan daar: ‘U het my die eerste lewenslig laat sien, my veilig laat rus aan die bors van my moeder. Van my geboorte af is ek onder u sorg, van die begin van my lewe af is U my God’ (Ps 22:10-11). En in die ander: ‘U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm. U loof ek gedurigdeur’ (Ps 71:6).

In albei gedeeltes word God as vroedvrou beskryf en hierdie beeld is net so kragtig want dit vertel iets van God se bevrydende of helende nabyheid (‘liberating presence’). Claassens verstaan Psalm 71 as die gemeenskap se reaksie op die druk van die Perse kort na die ballingskap en die psalmskryfster vind dan haar (en die gemeenskap se) troos in dié God wat al voor geboorte naby was en gehelp het. Psalm 22 beklemtoon dieselfde gedagte: God het haar uit haar ma verlos en toe veilig en warm teen haar ma se bors neergesit. Meer nog: ‘From that moment on she was cast upon God, whom she boldly calls “my God”’ (73). Die beeld van God as vroedvrou beklemtoon God se nabyheid by dié wat ly, maar ook die hoop dat Hy mense se lot sal verander: ‘This twofold function of God’s nurturing presence and saving power is captured in the metaphor of God as Midwife, who is both present and active for change that results in new life’ (74).

Pastorale waarde
Claassens verskaf voorbeelde van die pastorale impak van die God-as-ma-beeld wat saamly en alles nuut laat word. Sy verwys na Teresa Berger wat die metafore ‘Mourner, Mother, Midwife’ saamgebruik om die groot ramp in New York van 2001 radikaal anders te verstaan. Dinsdag 11 September 2001 was ‘n dag van verskrikking toe duisende gesterf en onbeskryflike verwoesting gesaai is en tot vandag toe roep dit om eerlike teologiese antwoorde. Waar was God toe alles gebeur het? Hoe kon ‘n goeie God dít toegelaat het? Claassens se teologie skep die moontlikheid van ‘n totaal ander interpretasie en Berger wys hoe dit gesê kan word as ons God as ma binne-in die konteks van verwoesting plaas.

Toe die rook uit die geboue geborrel en berge van staal en glas gevorm is, was sy (dit is God) daar. ‘n Dik as-laag het op haar gesig kom lê en sy het begin huil. Stadig maar seker het sy die reste van haar mooi skepping begin optel. Almal wat verbrand en deur die vuur misvorm is. Al die dooies en dié wat sterwe, die ongeborenes en hulle wat wees geword het. En terwyl die trane nog oor haar as-wange rol, het sy húlle gevang wat uit die geboue gespring het en in haar handpalm het sy ‘n sterwende priester gekoester (80).

Berger se verhaal gaan nog verder, maar dit is genoeg om die krag van moederbeelde vir die pastoraat te verduidelik. Dit is ‘n ander manier om oor God te praat en van sy nabyheid by mense en hulle swaarkry te vertel. En soos Claassens dit self sê: ‘(T)his alternative understanding of the Deliverer God that we gain from the metaphors of God as Mourner, Mother and Midwife may present resources not only to survive but also to take up the task of living’ (82).

‘n Slotwoord
Julie Claassens se boek is anders en miskien sal haar radikale omduiding van God as ma wat huil en nuut begin dalk vir sommige moeilik wees om te aanvaar. Dit hoef egter ook nie en dit kan eerder as ‘n uitdaging dien. ‘n Uitdaging om in donker dae aan God as ma te dink wat ook saam met ons ly en huil. ‘n Uitdaging om in die pastoraat met God se sagtheid en moederlike deernis op te tree. ‘n Uitdaging om in die teologie meer oor God as ma na te besin.

Op ‘n persoonlike vlak het dié boek my aangespreek want vir agt en dertig jaar was ek ook predikant (met ‘n beperkte opdrag) in ‘n Pretoriase middestadsgemeente van die N G Kerk en van die begin af was die moederbeeld vir my kernbelangrik. In die vroeë kerk is veel van die kerk as moeder gemaak (Vgl Altaner: 1951; Adam 1965:171-172). Ciprianus byvoorbeeld het gesê dat wie God as Vader het, het die kerk as moeder en dié beeld het ek in die middestad verinnerlik en uitgeleef.

Dit het onder andere beteken dat die ma-kerk sag met haar kinders omgaan. Geen verwyt aan dié wat hulle geloof verloor en eenkant-lidmate geword het nie. Geen harde woorde aan hulle wat saamleef, kinders buite die eg verwek of op iemand van dieselfde geslag verlief geraak het nie.

Kortom: Die kerk as moeder moes almal omhels, koester en nuwe moed gee en dít is waarom Julie Claassens se boek gelees moet word.

Bibliografie

  • Adam, A 1965. Lehrbuch der Dogmengeschichte. Gütersloh: Gerd Mohn.
  • Altaner, B 1951. Patrologie. Freiburg: Verlag Herder.
  • Claassens, L Juliana M, 2012. Mourner, Mother, Midwife. Louisville: WJK Press.
Share this / Deel hierdie: