Godsdiens as ʼn verskynsel het merendeels ʼn negatiewe impak in die wêreld van vandag wat ontwikkeling rem en die oorsaak is van erge konflik en bloedige oorloë. Aanhangers van verskillende godsdienste veroorsaak verdriet en vernietig lewe. Dít is ʼn redelik algemene beeld van die rol van godsdiens in die wêreld wat deur tydskrifte en koerante voorgehou word en versterk word deur beeldmateriaal op televisie wat die negatiewe gevolge van godsdienstige konflik graag beeldsend. Kerkleiers is bloedsuiende uitbuiters, enige liturgiese byeenkoms van meer as ʼn paar honderd mense en waar daar nie orrelklanke opklink nie is ʼn sameswering om die mense van hulle hard verdiende geldjies te beroof en beloftes van genesing is meedoënlose bedrog. Dan ook natuurlik word alle priesters as pedofiele beskou en gelowiges van ʼn fundamentalistiese oortuiging as potensiële moordenaars. En ja, hierdie is alleen maar nog ʼn afstandelike meer sosiaal-wetenskaplike blik op godsdiens as verskynsel. Nog kritiek kom eie die geledere van diegene wat met geloof na begrip soek. En ook uit hierdie oord kom dikwels veralgemenende opmerkings oor fundamentaliste, biblisiste, geesdrywende oëverblindery, genereerders van valse hoop, skeppers van versteurde godsbeelde ensovoorts. In kort; vanuit die geledere van die media, (sosiaal-)wetenskaplikes en teoloë kom die boodskap dat godsdiens sleg is en die wêreld beteraf sou gewees het daarsonder. Indien ek hierdie perspektief hier herbevestig sal weinig lesers ʼn wenkbrou lig. Ek wil egter kortliks en uiters voorlopig hier die ander kant van die munt verken, in ons dag die minder bekende en dus minder beminde perspektief. Met ander woorde die vraag of godsdiens dalk ook potensieel goed kan wees?
Susan Sontag (1977) skryf in haar boek On photography dat ʼn foto dikwels meer vertel van die fotograaf as van die gefotografeerde objek. Miskien geld dieselfde ten opsigte van hierdie verslaggewers en kommentators van godsdiens in ons eie dag (en natuurlik ook van die skrywer van hierdie bydrae). Bied bogenoemde verdoemende oordele vir ons regtig ʼn goed oorwoë en ewewigtige prentjie van wat die werklike rol van godsdiens in die wêreld is? Of skets dit eerder vir ons ʼn prentjie van die verslaggewers se eie persoonlike geloof en ingesteldheid teenoor godsdiens (en natuurlik word negatiewe beriggewing oor godsdiens en dominees as meer nuuswaardig beskou as positiewe beriggewing). Godsdiens is net sleg en die stimulus van meer kwaad as goed in ons wêreld? Regtig? Natuurlik kan hierdie vraag as beide waar en vals bewys word, daar is voorbeelde na beide kante, naamlik dat godsdiens as ʼn verskynsel beide ten goede en kwade funksioneer. En die argument kan ook vanuit verskillende invalshoeke geargumenteer word. ʼn Nuwe opkomende domein in die sosiale wetenskappe, die sogenaamde veld van “Godsdiens en Ontwikkeling” bring byvoorbeeld ʼn positiewe klank uit ʼn redelik onverwagse oord, soos ons vind in die werk van byvoorbeeld Gerrie ter Haar[1] en Katherine Marshall[2].
In ʼn resente boek getiteld Religion and Development (Ter Haar, 2011) skryf die voormalige hoof van die Wêreldbank, James Wolfensohn, “religion could be an important driver of change, even as it could be a brake to progress”. Hy gaan voort deur te sê dat hy in sy termyn as president van die Wêreldbank besef het “how religious ideas and attitudes that are linked to them underpin vital facets of societies like social trust and cohesion.” Toegegee, in hierdie boek word hoofsaaklik nog maar met sosiaal-wetenskaplike lense na die onderwerp gekyk en is dit nog reduksionisties vanuit ʼn sekere teologiese perspektief. Tog, wanneer akademici konkludeer dat die waarde van godsdiens in die generering van sosiale kapitaal, sosiale kohesie en geestelike kapitaal en krag nie onderskat moet word nie, maar eerder aktief in ag geneem moet word as een van die belangrikste faktore in pogings tot ontwikkeling, dan lê konsepte soos koinonia, versoening en bekering nie so heel ver buite die blikveld nie. Nee, die begrippe kan nie gelykgestel word met mekaar nie, maar laasgenoemde teologiese begrippe gaan eintlik net nog dieper en onderskryf soveel te meer die vreemde gedagte in ons eie dag dat godsdiens as ʼn verskynsel óók ʼn positiewe bydrae maak. Sou die Suid-Afrika van 2012 beter, slegter of dieselfde gewees het sonder die bydrae van praktyke soos prediking, gebed en sakramentsvierings in ons land oor die laaste twee dekades? Dit is nie ʼn vraag wat beantwoord kan word nie, maar ʼn vraag wat ons dalk wel moet noop om weer ʼn rondte te dink oor die rol van godsdiens en gepaardgaande praktyke.
Tydens ʼn onlangse besoek aan Akkra in Ghana woon ek soos ek altyd graag doen tydens besoek aan ander plekke enkele van die plaaslike eredienste by. Die betrokke dienste kan glo geklassifiseer word as behorende tot die opkomende Wes-Afrikaanse Pentekostalisme. Die kerkgebou is enorm en in die vorm van ʼn ouditorium gebou en eredienste (daar is elke twee uur een) word deur duisende kerkgangers bygewoon, die musiek word begelei deur ʼn koor en ʼn orkes en die aartsbiskop lewer ʼn vurige boodskap. En terwyl ek as erediensganger alles meemaak, kom daar onwillekeurig ʼn rits vrae by my op: hoe Skrifgetrou is hierdie boodskap waarin soveel verskillende tekste saam gebruik word? Hoekom word daar Westerse musiekinstrumente op die kontinent van Afrika gebruik, waar is die tradisionele instrumente? En natuurlik, hoe lyk hierdie prediker se salaristjek wat hy van die kerk ontvang te midde van soveel armoede op die kontinent en in die betrokke land? Teen die einde van die diens met die ‘altar call’ vir diegene wat die eerste keer die diens bywoon, gaan ek vorentoe. Daar is vir ons gebid, ons is uitgerus met ʼn ‘starter pack’ wat alle belangrike inligting rakende die betrokke kerk bevat en ʼn yskoue Pepsi (uiters welkom in die spesifieke klimaat!). Pepsi in die hand stap ek buitentoe en probeer om met soveel mense moontlik te gesels. Ek moet darem bevestiging kry dat my kollektegeld aangewend word vir die sitplekaanwysers se deftige pakke klere en blink dasse, uitvind hoeveel miljoen die aartsbiskop van die kerk ontvang as salaris en my latente vermoedens jeens ʼn vernietegende voorspoedsevangelie wat deur hierdie kerk bevorder word, bevestig kry.
Ek het egter bedroë daarvan afgekom en kon nie my vooropgestelde vooroordele bevestig kry nie. Nie die aartsbiskop of enige van die amptenare van die kerk ontvang ʼn sent van die gemeente nie. Hulle beklee almal professionele beroepe en dien as biskoppe en aartsbiskop sonder enige verwagting van besoldiging. Selfs die deftige uitrustings van die sitplekaanwysers is op hulle eie persoonlike rekening. Die kerk het verskeie ontwikkelingsprojekte, onder andere een wat gemik is op die bekamping van dwelmafhanklikheid. En indien ek in retrospek moet eerlik wees, dan was dit eintlik glad nie so ʼn slegte preek nie! En wie het besluit dat hulle tradisionele Afrika dromme moet slaan in die erediens? Soos die Ghanees Emmanuel Asante dit in sy boek Culture, Politics & Development stel, “Culture, understood both as dynamic reality and as a human attempt to cope with the changing realities of the environment is more than traditional drumming and dancing.” Natuurlik sal joernaliste voorbeelde kan vind wat presies die teenoorgestelde is van my belewenis, maar ek vermoed daar word deurentyd harder gesoek na diesulke negatiewe voorbeelde as na positiewe voorbeelde.
Teen die tyd dat ek by my huurmotor aangekom het, het ek ʼn onderrok gehad wat soos ʼn trourok se sleep agter my aankom. En deur die motorruit lees ek weer die opnuut die leuse van die kerk: “The City of Prayer Where Divinity Meets Humanity”. Miskien is dit presies wat daardie oggend met my gebeur het, indien ek die moed het om eerlik te wees daaroor. En dalk moet ek volgende keer my skoene by die voordeur van ander medegelowiges se kerkdeur uittrek alvorens ek so ʼn heilige ruimte betree. Ja, natuurlik is godsdiens sleg en ʼn negatiewe faktor in die wêreld wat baie hartseer en verwoesting saai, dit weet ons en herbevestig die media vir ons op ʼn daaglikse basis. Wat kan egter nie alles gebeur indien ons in ons eie dag ‘n kontra-kulturele gedagte ook so ʼn bietjie lugtyd gee nie, te wete die vreemde gedagte dat godsdiens ook potensieel positiewe bydraes kan maak.

Geraadpleegde bronne
 

  • Asante, E. Culture, Politics & Development. Ethical and Theological Reflections on the Ghanaian Experience. Ghana: Challenge Enterprise.
  • Sontag, S. 1989 (first published 1977). On photography. New York: Anchor Books Doubleday.
  • Ter Haar, G. 2011. Religion and Development. Ways of Transforming the World. Londen: Hurst & Company.
  • Woolfensohn, J. 2011. “Foreword”. in: Ter haar, G. (red.). Religion and Development. Ways of Transforming the World. Londen: Hurst & Company.

 


[1] Sien van haar werk wat sy doen by die Knowledge centre for Religion and Development by http://www.religion-and-development.nl/home (besoek op 03/10/2012)

[2] Sien van haar werk wat sy doen by die Berkeley Center for Religion, Peace and World Affairs by http://berkleycenter.georgetown.edu/ (besoek op 03/10/2012).

Share this / Deel hierdie: