Die hoofkarakter in Big Fish maak die uitspraak: “To talk about religion is rude, because you are likely to offend someone.” Ek wil nie “rude” wees nie, maar neem tog die vrymoedigheid om te skryf, omdat dit nie oor iemand spesifiek gaan nie, maar oor tendense op die huidige Christelik-godsdienstige toneel in ons land.

Die vraag is wat dit is wat besig is om te “herleef” in die land? Wat bring duisende mense in saamtrekke bymekaar en watter soort spiritualiteit is dit wat so populêr geword het? Is dit herlewing, of is dit dalk die teenoorgestelde – ‘n verduistering, ‘n soort ontaarding? Dit gaan alles ten diepste oor die verhouding tussen geloof en verstand. En as mens hieroor wil nadink baat dit om ‘n entjie in die geskiedenis terug te gaan.

Die Verligting verwys na ‘n intellektuele beweging wat ongeveer die hele 18de eeu beslaan het. Dit was ‘n Europese verskynsel wat die wêreld van destyds ingrypend beïnvloed het. Dit was ‘n tyd van die ontdekking van die krag van die rede. En met die oorheersing van die verstand en rationaliteit, het die outoriteit van bestaande instellings soos die aristrokrasie en die kerk, onder verdenking gekom. Die sogenaamde “heilige sirkel” waarvolgens die kerk met dogmas die denke van mense wou omseil, is deurbreek. Verligting het beteken dat kritiese idees hooggeag is. Daarom is alles, ook godsdiens en kerk krities ondersoek aan die hand van ‘n paar basiese uitgangspunte: vryheid, demokrasie en redelikheid.

Die kerk met sy outoritêre sisteem het tweede gekom. Tog was daar ook ‘n vreemde huwelik tussen godsdiens en die Verligting. Jonathan Sheehan skryf in ‘n artikel (The Americal Historial Review, Vol 108, 2003) dat die negatiewe persepsies oor die verhouding tussen godsdiens en die Verligting hersien behoort te word. Hy maak ‘n saak daarvoor uit die die vryheid wat die Verligting gebring het, positiewe betekenis vir geloof gehad het. Dit moenie verstaan word as ‘n vryheid ván godsdiens (freedom from religion) nie, maar eerder as bevryding van die godsdiens (freedom of religion). So het Die Verligting ook daartoe meegewerk dat die Christendom bevry kon raak van uitwasse soos bygeloof en redelose emosionaliteit.

Die positiwisme, wat ‘n uitvloeisel is van Die Verligting is natuurlik ook giftig vir geloof, want dit behels ‘n onbeheerste vertroue in die menslike verstandelike vermoëns. Dit kan sover gevoer word dat daar neergekyk word op geloof en godsdiens. Aan die ander kant kan geloof en rede nie meer geskei word sedert Die Verligting nie. Die wetenskap hoef nie ‘n bedreiging vir gesonde godsdienstige uitlewing te wees nie. Inteendeel!

Die vrugte van verligte denke is dat geloof en georganiseerde godsdiens ook onderwerp kon word aan kritiese bevraagtekening. Dit het bygedra tot ‘n gesonde skeptisisme oor allerlei aansprake, soos oor wonderwerke en magte wat magies funksioneer. Met wetenskaplike teorieë, soos byvoorbeeld oor massa-psigose, is mense gehelp om nie so maklik die slagoffers te wees van godsdienstige manipuleerders nie. Die teologie kon met die hulp van gesonde empiriese navorsing byvoorbeeld ontdek dat verskynsels wat in die Bybelse tyd aan duiwelbesetenheid toegeskryf is, doodgewoon siekteverskynsels is waarvoor medikasie ‘n oplossing bied. Die wetenskap het gehelp om psigiese en neurologiese siektes, soos epilepsie, te destigmatiseer en te ontmitologiseer – tot groot bevryding van mense wat daaronder ly.

Net so het die wetenskaplike wêreldbeeld en ontdekkings mense gehelp om die natuur en omgewing beter te verstaan. Die geloof wat hierdie insigte van die verstand en die wetenskap integreer, raak bevry van veroordelende en neerdrukkende verklarings vir natuurverskynsels. Natuurrampe soos tsoenamis, aardbewings en siklone is gewone natuurverskynsels en nie die straf van God nie. Ewolusie staan nie in kontras met die skeppingsverhale van Genesis nie.

Danksy die verligting van die verstand kan die gelowige nou dankbaar opgewonde wees oor argeologiese ontdekkings wat nuwe lig werp op miljoene jare van ewolusionêre onwikkeling. Dit is waarskynlik ook Die Verligting wat meegehelp het dat teoloë vandag met wetenskaplike metodes die Bybelse tekste meer getrou aan hulle ware bedoeling kan lees. So kan die Genesis-skeppingsverhale nou waardeer word as “preke” wat in die tyd van die ballingskap van Israel ontstaan het en nie as ooggetuie-verslae van hoe die skepping gebeur het nie.

Daarom kan mens met reg bekommerd wees oor wat lyk na ‘n nuwe tyd van godsdienstige verdonkering. Die verduistering of die onderdrukking van die verstand in godsienstige ervaring, is opnuut ‘n onheilspellende werklikheid. Aansprake oor genesings en bonatuurlike verskynsels was nog altyd daar, maar as dit aan die toeneem is in ‘n tyd van intellektuele verligting, getuig dit van godsdienstige agteruitgang of verdonkering.

Dit is asof daar ‘n diskoers ontwikkel waarvolgens ‘n kritiese ingesteldheid teenoor sulke verskynsels doodgewoon as ongeloof gebrandmerk word. Die geloof wat aangeprys word, is naïewe, kinderlike geloof. As iets binne die raamwerk van ‘n geloofsgetuienis opgedis word, maak nie saak hoe vergesog nie, word vir soetkoek opgeëet.

Dit is verstaanbaar dat in swaar tye van ekonomiese druk en bekommernis oor veiligheid, mense hulle wend tot ‘n wonderwerk-geloof. As daar geen uitweg meer is uit moeilike omstandighede nie, dan is dit ‘n versoeking om geloof en godsdienstigheid ‘n kans te gee. Daar is altyd genoeg getuienisse daarvan dat opregte geloof vrugte afwerp. Sodoende ontwikkel daar ‘n teologie van genade vir dié wat met oortuiging en geloof kan bid en glo. Die gevolg is ‘n suksesgodsdiens wat in meetbare kategorië uitgedruk word. Godsdiens en geloof word gemeet aan getalle, aan die grote van die oes, aan die groeiende wins van die besigheid, aan die vermindering van siekte en pyn, ensovoorts.

Hoewel dit alles by geleentheid deel kan wees van egte geloofservaring, behels die eensydige beklemtoning daarvan uiteindelik ‘n oneindige verarming en verdonkering. Die gesonde verhouding tussen geloof en verstand moet behou word. Ons het opnuut behoefte aan bevryding van bygeloof. Ons moet weereens die vermoë ontwikkel om te onderskei waar dit op aankom en die moed van ons oortuiging te hê om manipulasie en goedkoop godsdienstige propaganda te verwerp en mense daarteen te waarsku.

Share this / Deel hierdie: