Laai dit hier af. http://hdl.handle.net/2263/60030

Die pad wat die OTWSA gestap het, kan ons baie breedweg in drie tydperke verdeel. Die eerste was die era van die pioniers en het van ongeveer 1957 tot 1971 gestrek. Dit was die era van belangrike geleerdes soos Adrianus van Selms, Barend Gemser, Ian Eybers, Albertus van Zyl, Charles Fensham, Jaap Helberg, Pieter Verhoef, J H Kroeze, Cas Labuschagne, Wouter van Wyk, en nog andere wat die grondslag vir ‘n wetenskaplike studie van die Ou Testament gelê het. Die bydrae van hierdie geleerdes kan nooit oorbeklemtoon word nie want sonder hulle sou die Ou-Testamentiese wetenskap in Suid-Afrika nooit gegroei en gebloei het nie.

Dan was daar die geslag vanaf 1971 tot 1997 en was die era van mense soos Willem Vorster, Ferdinand Deist, Jimmie Loader, Willem Prinsloo en hulle studente. Dié geslag was jonk, entoesiasties, hardwerkend en het in Nederland en veral Duitsland studeer. Hulle tyd is gekenmerk deur die aanvaarding, maar ook kritiek teen die ‘struktuuranalise’ of ‘immanente benadering’ tot die studie van die Ou Testament.

Die derde tydperk strek vanaf 1997 tot vandag toe en dit is ‘n era wat nie so maklik beskryf kan word nie. Dit is die era waarin Afrika se bydrae baie pertinent en belangrik geword het en Ou Testamentici van oor die hele wêreld die kongresse bywoon en artikels in Old Testament Essays publiseer.

Hieronder kan ‘n boek, A story of two ways, (1993) gratis afgelaai word wat die eerste dertig jaar van die OTWSA en Ou Testament-navorsing in Suid-Afrika belig. Die twee paaie het op twee benaderings tot die Ou Testament se verstaan gedui waaroor veral die tweede geslag vanaf 1971 tot 1997 baie heftig gedebatteer het.

Alles het op die tiende Maart 1971 in Pretoria begin. Twaalf lede van die NTWSA se Pretoria-streek het by mekaargekom en daar het Willem Vorster ‘n lesing gelewer wat tot ‘n nuwe manier van die Nuwe Testament se verstaan aanleiding gegee het. Dit was iets soos ‘n paradigmaskuif wat Bybelwetenkaplikes oorweldig het en kort voor lank het hierdie nuwe wyse van teksverstaan soos ‘n veldbrand versprei.

Hierdie nuwe was aan die een kant ’n aanvaarding van die kritiese Bybelwetenskap van die vorige eeue, maar ook ’n harde verwerping daarvan. Die historiese kritiek is goed deurdink en toe verwerp. Geskiedenis was belangrik, maar daar was iets wat nog belangriker was en dit was taal. En vir dié geleerdes het taal na binne oopgemaak en nie na buite nie. Woorde en begrippe het eers in samehang met ander woorde in die teks betekenis gekry. In die beginfase van hierdie nuwe kyk op die teks het die denke van die beroemde Franse taalkundige Ferdinand De Saussure ’n sleutelrol gespeel.

Oornag is daar toe ’n nuwe metode in die geledere van ons Bybelwetenskap gebore en dit sou ‘struktuuranalise’ genoem word. ‘Struktuuranalise’ sou ’n soort gonswoord word wat verskillende reaksies ontlok het, maar wat deel van ’n groep mense se vaktaal geword het. Groot optimisme het geheers dat ons deur middel van struktuuranalise deur die sigbare taalnetwerke na die verborge taalstrukture (die plek waar betekenis gelê het) kon beweeg. Nooit kan ’n mens hierdie eie Suid-Afrikaanse wetenskaplike ontdekking oorbeklemtoon nie. Deuteronomium

it het die aangesig van ons teologiese wetenskap verander want een van die belangrikste kenmerke van die metode is die intense en deeglike manier waarop tekste uitgelê is. Detail-eksegese is gedoen en selfs die kleinste deeltjie in die teks is ondersoek. Eintlik het die struktuuranalise die gewete van die Suid-Afrikaanse teologie geword. ’n Gewete wat ons altyd sal treiter met die vraag of ons diepgaande genoeg met die teks geworstel het.

Struktuuranalise en ander benaderings het die Bybelwetenskap oor die jare tot groot hoogtes gevoer en meer hieroor en ander sake kan in A story of two ways gelees word. Laai dit hier af. http://hdl.handle.net/2263/60030