Geagte Voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, dr Dreyer, lede van die Algemene Kommissie, voorsitter van die Kuratorium, ds Van der Merwe, lede van die Kuratorium, eregaste, afgevaardigdes, my persoonlike gaste, broers en susters:

Die vanselfsprekende openingsparagraaf van so ʼn aanvaardingswoord deur die laureatus sal uiteraard woorde van dankbare erkenning wees. My besondere dank gaan aan die voorsteller en die opsteller van die huldeblyk, asook aan die Kuratorium en die Algemene Kommissie wat die toekenningsvoorstel bekragtig het. My erkenning gaan vanaand veral aan daardie teoloë wat hierdie toekenning voor my ontvang het, met spesifieke verwysing na van diegene wat aan die Universiteit van Pretoria gedoseer het. Ek het ek die grootste waardering vir van hul bydraes en beskou dit as ʼn eer om my in hul geledere te bevind.

Die naam HCM Fourie roep natuurlik ook assosiasies na vore wat glad nie net positief is nie. Afgesien daarvan dat dr Fourie ʼn sterk beyweraar vir die daarstel van ʼn teologiese fakulteit aan ʼn universiteit was en later bekend geraak het as een van die vertalers van die eerste Afrikaanse Bybel wat in 1933 verskyn het, was hy ook aandadig aan die Rebellie van 1914, wat tweestryd in die Hervormde Kerk laat opvlam het. Sy naam het ook later ʼn onderdak gebied vir bedrywighede as gevolg waarvan individue, die Kerk en die evangelie ernstig benadeel is.

Miskien is dit ook die ‘humor van God’ waarvan Desmond Tutu dikwels praat as hy na sekere ironiese situasies verwys, soos dié wat ons ook vanaand hier het: Johan Buitendag en HCM Fourie se name word in ’n positiewe sin met mekaar verbind! Dalk is dit juis tekenend van hoe ek die werklikheid verstaan: paradoksaal, voorlopig en ja, verrassend!

Na hierdie paar inleidende paragrawe wil ek nou my aanvaarding van hierdie toekenning vanuit twee perspektiewe aanbied: eers vanuit die taal van ander en dan vanuit die kontoere van my persoonlike reis.

Laat ek dan met die taal van ander begin. Dikwels onthou ’n mens – altans ek – nie al die titels van boeke wat jy gelees het nie, of jy onthou dit verkeerd. Tog is daar boektitels wat jou eenvoudig net aanspreek. Jy vergeet hulle nooit nie.

Sewe titels het hulle uit die staanspoor aan my opgedring. En dalk voortspruitend uit my teologiese genoom, is dit ook sewe in getal en sluit dit nie af op die sesde dag, toe die mens gemaak is nie, maar op die sewende dag toe God en mens saam in die skepping gerus het.

  • André P Brink publiseer in 2009 sy memoires onder die titel ʼn Vurk in die Pad. In sy voorwoord wys hy daarop dat mense gewoonlik reken dat elke keuse wat gedoen word, die ander opsie uitskakel. Dit is óf die een, óf die ander. Brink is egter van mening, en ek stem saam, dat nadat ʼn opsie uitgeoefen is, ander keuses nie noodwendig uitgeskakel is nie. Dit is soos by die skryf van ʼn sin of ʼn storie: elke woord wat nié gekies word nie, bly skemer agter die een wat wel gekies is. Die saambestaan van moontlikhede bepaal die tekstuur van die lewe. Die tradisionele óf-óf moet vervang word met die oneindig meer komplekse én-én. Grense skei nie, maar verbind, en die tronkmuur tussen twee selle kan juis die membraan wees van die saambestaan van twee mense.
  • Julian Müller publiseer in 1996 ʼn boek in narratiewe pastoraat met die treffende titel Om tot verhaal te kom. Hierin beoefen hy ʼn tipe outobiografiese, oftewel outo-etnografiese, Maar dit is nie net vir die outeur self bedoel nie. Marcus Borg se nuutste boek begin met die sin: ‘Hierdie boek is persoonlik, maar ook méér as persoonlik.’ Los episodes in jou lewe word in groter verhale ingeweef; verhale waarin daar etlike akteurs is, en dus verhale wat bo die outeur uitstyg.
  • Denise Ackerman het in 2014 haar bekroonde boek, Surprised by the man on the borrowed donkey, die lig laat sien. Die leser moet in gedagte hou dat kanker in 2005 by haar gediagnoseer is. Sy skryf hoe sy telkens verras is deur die Man wat Jerusalem op ’n geleende donkie binnegery het om as misdadiger gekruisig te word en drie dae na sy kruisiging – totaal onverwags – aan sy dissipels verskyn het. Die paradoks kom veral duidelik na vore in die middelste van haar sewe saligsprekinge wanneer sy sê: ‘Blessed are those who listen with discernment, for they will hear “the sound of sheer silence.”’
  • Alasdair McGrath se boek The open secret word in 2008 gepubliseer en is ʼn juweel. Hierin word ʼn herwaardering van openbaring en natuur bepleit; interessant genoeg is daar ’n sterk ooreenkoms met die tweede artikel van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Hy redeneer in tipies Calvinistiese trant dat ons kennis van God ons lei na kennis van die mens en die natuur. Wie oë het om te sien, moet sien. Die natuur is daar om geïnterpreteer te word en, soos etlike psalms ook doen, laat dit ’n heerlike loflied weerklink wat die skepping en die Skepper besing.
  • In 2005 gebruik Luco van de Brom die titel Theoloog als jongleur om die rol van die persoon van die teoloog in die posisionering van die Christelike geloofsleer te verduidelik. ʼn Jongleur is ʼn kunstenaar wat allerlei voorwerpe soos balle, pierings, kegels of dergelike deur goeie hand-oog-koördinasie in die lug kan hou. Die werklikheid is ʼn verhouding tussen subjek en objek en niks kan eintlik daarbuite geken word nie. Maar die sin en die eenheid van die werklikheid lê in die vaardigheid van die persoon van die teoloog, geïnspireer deur die Gees.
  • Nog ’n titel wat my altyd bybly, is Menslike mense, ’n boek wat in 1993 deur Adrio König geskryf is. Die mens is ʼn verhoudingswese en is ʼn mens deur mense. Menslike mense is geen toutologie nie, maar dring deur na ons wese: om menslik te wees en om ons in te span om dit toenemend te word. Die sonde ontneem ons én ander, van menslikheid en God wil juis weer menslike mense van ons maak.
  • Jürgen Moltmann se outobiografie, A broad place, het in 2007 verskyn. In Psalm 31:9 lees hy dat God ʼn veilige vesting is, maar veral ook vryheid en beweging Teologie moet hierdie Eksodus karakteriseer. God het alles in tyd begin, maar voltooi dit in ruimte. Die kroon van die skepping is ook nie die mens nie, maar die Sabbat. Dit is die enigste skeppingsdag wat nie met die refrein van ‘dit was aand en dit was môre’ afsluit nie. Daar volg nie nag nie. Dit is oop na vore en die Sabbatstyd roep om vervul te word in die Sabbatsruimte. Ons moet ʼn Sabbatsetiek ontwikkel wat nie bloot op die eerste ses dae gebaseer is nie, maar ook op die rus van die sewende dag. Moenie God gebruik nie, sê hy, geniet God! God kom en mense word vry. Dit is ʼn teologie van vreugde.

Hierdie sewe titels het hulle soos reeds gesê, as’t ware aan my opgedring. Hulle het mý gekies, nie ek hulle nie. Hulle is dus nie koud of neutraal in my vorming nie. En in die taal van die Heidelbergse Kategismus, ook nie toevallig nie. Vergun my nou om hierdie geïnternaliseerde oortuigings te sistematiseer.

Ek het natuurlik geen afgeronde of selfs definieerbare teologiese ontwerp daargestel of probeer aanbied nie. Daarvoor is teologie net te wyd en te diep en te hoog. Ek het gevolglik ook nooit my publikasies aangebied vanuit finale oortuigings nie. My teologiese reis wat terugdateer na my hoërskooljare, het soekend en tastend bepaalde kontoere gevind.

My teologie is daarom ontluikend van aard. Dit ontwikkel voortdurend en algaande vind verfyning en uitbreiding plaas. Dit is waarom ek hou van die beeld van ʼn risoom wat Gilles Deleuze gebruik. Dit is soos spaghetti. Dit het nie ʼn begin of ʼn einde nie, alles is middel en word lateraal veranker. Dit is vir my ʼn metaforiese beskrywing van Faraday se veldteorie in elektromagnetiese straling – die werklikheid is nie in die elemente of atome nie, maar in die energievelde daartussen.

Die begrip triangulasie verskaf taal vir so ʼn geïnternaliseerde waarneming. Dit is ʼn wiskundige begrip wat gebaseer is op Pythagoras se insigte, waarvolgens ʼn derde punt op grond van twee bekende punte bepaal kan word. Die een wat interpreteer (interpretans) en dit wat geïnterpreteer moet word (interpretandum), is onlosmaaklik verbind en so ook die teenwoordigheid van God, oftewel transendente immanensie, en omgekeerd, immanente transendensie. Ons hand-oog-koördinasie laat God in die werklikheid as’t ware gebeur.

Teologie is daarom vir my: werklikheidsverstaan, of meer korrek gesê, ʼn beskeie poging om ʼn verantwoordelike gespreksgenoot te wees in die mens se soeke na begrip en verstaan. Na my mening kán teologie as wetenskaplike dissipline ’n bydrae lewer tot die verstaan van die werklikheid. Daarom verkies ek ook die woord ‘werklikheidsverstaan’ bo ʼn woord soos ‘lewens- of wêreldbeskouing’. Verstaan is weliswaar subjektief, maar dit het darem kritiese verantwoording of minstens sodanige pretensie, en meer as dit, omvat die totale skepping.

Om dié rede is die dialoog met ander wetenskappe so belangrik. Ons moet mekaar hoor en van mekaar leer. Dit is vir my logies dat teologie ook ʼn staanplek by ʼn universiteit moet hê en ’n bydrae moet kan maak in die mens se soeke na waarheid. Die idee van twee verskillende tale wat geloof en rede praat (Einstein) klink vir my al te veel na ʼn Babelse by mekaar verbypraat. Iewers moet teologie ook deelneem aan die lingua franca van die dag.

Ek het my ook met veral twee natuurwetenskaplike dissiplines besig gehou: fisika en biologie. Fisika was vir my belangrik om tyd en ruimte te probeer verstaan, en biologie om meer uit te vind oor evolusie. My proefskrif het oor skepping en ekologie gehandel, en reeds daar het ek die kontoere ontdek van ʼn teologies verantwoordbare werklikheidsverstaan. Die Twaalf Artikels plaas die skepping by die werk van die Vader. Karl Barth het dit christologies uitgelê, terwyl dit vir mý duidelik was dat ons pneumatologies oor die skepping moet besin. Daarom het Gijs Dingemans se ‘pneuma-teologie’ by my byval gevind.

Hierdie betrokkenheid by natuurwetenskaplike insigte in en bevindings oor die werklikheid het my stelselmatig gevorm om al meer induktief en aposteriories oor die werklikheid te besin. Teïstiese openbaringstaal word nie deur mense buite die teologie gehoor of gewaardeer nie. Ek het toenemend tot die besef gekom dat die felle stryd teen ʼn natuurlike teologie die Protestantse teologie groot skade berokken het. Dit het elitisties geraak en sigself uit die wêrelddebat gehaal.

Bepaalde theologoumena moes na my mening noodwendig nuut vertolk word. Soos Brunner is ek ook van mening dat die mens ʼn bepaalde kapasiteit het om met God te verkeer en dat die natuur aan ons baie insig kan bied. So is die kwantumfisika se beskrywing van die werklikheid nie net ʼn model vir die menswetenskappe nie, maar ʼn besondere verstaan van die werklikheid. Dieselfde geld byvoorbeeld vir die mier of die by. Empiriese studies toon dat dit wat in die termietnes of byekorf gebeur, mutatis mutandis op die menslike samelewing toegepas kan word. Ons lees nie net waarheid in die natuur in nie, maar ons lees dit ook daarvan af.

Toe ek amper sewe jaar gelede as Dekaan by die Fakulteit Teologie aangestel is, het die destydse viserektor vir my gesê dat ek 80% van my tyd aan bestuur moes bestee, en 20% aan my navorsing. Ek het vinnig agtergekom dat dit uiters idealisties was. Kort voor lank het ek 120% van my veronderstelde werkure aan bestuur spandeer en my navorsing in die ‘klein uurtjies’ van die nag gedoen. ʼn Kombinasie van bestuur en akademie is egter moontlik het darem ontdek, en ek het ek benewens ander, minstens ook twee artikels oor teologie aan ʼn openbare universiteit gepubliseer.

Dit is moontlik juis omdat ek die oortuiging huldig dat teologie ʼn plek by ʼn universiteit moet hê en, omgekeerd, dat ʼn universiteit sonder teologie lam is. Wetenskap jaag die waarheid na, teologie doen hieraan mee, maar moet sorg dat dit in liefde gedoen word.

Vergun my om ten slotte my persoonlike definisie van teologie met u te deel:

Teologie is ‘n wetenskaplike poging van gelowiges in die openbare sfeer om ’n greep op ‘n multidimensionele werklikheid te kry sodat dit saak maak.

Sal u my toelaat om sommer ook my verstaan van ’n universiteit met u te deel? Dit is immers in my lewe, die belangrikste twee balle wat ek gelyktydig in die lug moet hou:

Universiteite is ruimtes van debat en wetenskaplike ondersoek waar nuwe kennis deur intellektuele aktiwiteit en vryheid van idees ontwikkel word.

Geagte Voorsitters van die Algemene Kommissie en die Kuratorium, terwyl die HCM Fourie Erepenning, soos die oprigtingstatuut dit stel, vir ʼn besondere bydrae tot Bybels-Reformatoriese teologie toegeken word en dat u oordeel my teologie dit vergestalt, aanvaar ek die HCM Fourie Erepenning met dank en in beskeidenheid.

Johan Buitendag – 2 Oktober 2016