Inleiding
In die Ou Nabye Ooste was die hemel daarbo, en dit was die blyplek van die gode. Vir die meeste volke van die antieke tyd – Mesopotamië, Kanaän, Egipte, die Grieke, die Romeine, maar ook vir Ou Israel – was die hemelruim bevolk met gode en ander hemelwesens. Ou Israel was ‘n kind van haar tyd – maar die hemel van Israel sou tog anders lyk as die voorstellings van die hemel van die buurvolke. In hierdie teo-artikel gaan ek kortliks skryf oor die hemelse wesens wat Ou Israel geken het: die gerubs, die serafs en die engele.

Die gerubs
   Wat is ‘gerubs’ en hoe lyk hulle? Die Ou Meesters het hulle geskilder: skattige, mollige baba-engeltjies, dikwels naak en die onskuld vanself. Is hierdie voorstelling korrek?
Die Hebreeuse Bybel verwys altesaam 91 keer na ‘gerubs’. Hierdie wesens word die heel eerste keer in Genesis 3:24 aangetref. Hulle bewaak die tuin van Eden met flikkerende swaarde nadat die Here God die mens daar uitgedryf het. Hulle word egter nie beskrywe nie, waarskynlik omdat die Ou Nabye Oosterse mens presies geweet het wat bedoel word. Die leser in die een en twintigste eeu, word op hierdie punt in die duister gelaat.
Enkele leidrade oor die voorkoms van gerubs word wel in ‘n paar perikope gegee: 1 Konings 6:23-29 (vgl 2 Kron 3:11-13) en Esegiël 1 en 10. Die beskrywing in 1 Konings 6 is die uitvoeringste. Salomo is besig om die tempel vir die Here te bou en die binneste heiligdom – die Allerheiligste – word ingerig.  Twee reusagtige gerubs staan daar die hele vertrek vol – vlerk aan vlerk, muur tot muur. Hierdie vertrek, die binneste heiligdom van die tempel, is ook die plek waar die verbondsark van die Here hoort.
‘n Paar dinge word nou duidelik. Destyds in die woestyn sou die Here vir Moses by die verbondsark ontmoet om vir hom bevele oor die Israeliete te gee (Eks 25:22). In Eksodus se tabernakel was daar ook gerubs wat by die verbondsark staan (Eks 25:17-20), maar hulle word nie is soveel detail soos in 1 Konings 6:19-29 beskryf nie. Hulle is ook aansienlik kleiner as die gerubs in Salomo se tempel, en hul posisie verskil: hulle staan nie parallel en kyk voor hulle uit nie, hulle staan teenoor mekaar, kyk na die versoendeksel en bedek dit met hul vlerke (Eks 25:20).
Gerubs word dus veral in die tabernakel of tempel by die verbondsark van die Here aangetref.
Verdere leidrade oor gerubs kan gevind word in die uitdrukking ‘JHWH Sebaôt’ – die Here die Almagtige of die Here van die leërskare (Ou Vertaling) – ‘wat oor die gerubs troon’ (vgl bv 1 Sameul 4:4, 2 Samuel 6:2, Jesaja 37:16). Op die een of ander manier hou JHWH se ‘troon’ en gerubs met mekaar verband. Kontemporêre Ou Nabye Oosterse ikonografie mag dalk hier help om ‘n duideliker voorstelling oor die voorkoms van gerubs te vorm. Reusagtige mens-dier figure wat amper soos gevleuelde sfinkse lyk, staan weerskante van ‘n god of godin se troon, en hul funksie is hoofsaaklik om die goddelike domein te bewaak. Maar Ou Israel verskil in een belangrike opsig van die meeste van haar Ou Nabye Oosterse bure: die goddelike troon is leeg.
Die prag en praal van Salomo se tempel, die pronk en sieraad van die gerubs wat daar staan, sou egter ‘n paar eeue later tot ‘n bitter einde kom. Die volk het hul rug op JHWH gekeer, en daarom het Hy hulle in die hand van die Babiloniërs oorgegee. Die magtige teenwoordigheid van die Here (kabod-JHWH) het van die Jerusalemse tempel gewyk, en alles het tot niet gegaan. Waar Esegiël in ballingskap langs die Kebarrivier sit, sien hy weer gerubs, maar hierdie keer is dit anders. Die gerubs staan of buig nie by ‘n goddelike troon nie, hulle dra ‘n troonwa, ‘n magtige vreesaanjaende bewegende goddelike strydwa. Die kabod-JHWH kom nou na die ballinge toe. (Esegiël 1:5-28 praat slegs van ‘wesens’, maar uit 10:1 kan ‘n mens aflei dat hier ook gerubs bedoel word.) Die vorstelike beskrywing van die gerubs in Salomo se tempel, word nou vervang met terme van skrik. Die gedaantes wat Esegiël sien, het vlerke en is mengelwesens tussen mens en dier: man, leeu, bul en arend met voete soos beeskloue. G’n wonder dat die profeet sommer platval nie! Maar die oortreffende voorkoms van hierdie gerubs beklemtoon ook ‘n ander belangrike saak: die grootsheid en andersheid van JHWH. Meer as slegs die beskerming van sy troon, gaan dit hier om sy eer. Soos wat die Here in die verlede vanaf die verbondsark – wat tussen gerubs staan – sy wil bekend gemaak het, praat Hy ook nou met die profeet vanaf sy magtige troonwa – tussen die gerubs. Maar hierdie keer volg ‘n reeks oordeelsaankondinge: die Here, die God van Israel is heilig, en uiteindelik moet Israel se ontrou gestraf word.

Die serafs
   Verwysings na ‘serafs’ in die Hebreeuse Bybel is skaarser as dié na gerubs. Die woord self hou verband met die betekenis van brand. In die boeke Numeri (21:6-8) en Deuteronomium (8:15)  is serafs die giftige slange wat die Israeliete in die woestyn pik. Die assosiasie met brand is waarskynlik toe te skryf aan die brand van die slange se gif. Jesaja (14:29; 30:6) ken ook serafs in die betekenis van werklike giftige slange, maar in 6:2-6 is die serafim hemelse wesens wat voortdurend die heiligheid, die almag en magtige teenwoordigheid van die Here oor die hele aarde toeroep. Een van hulle reinig die profeet se mond met ‘n gloeiende kool wat sy oortredinge vergewe en hom in staat stel om as boodskapper van JHWH op te tree.
Uit Jesaja se beskrywing word die hemelse bonatuurlike serafs voorgestel as gevleuelde slange. Dalk hou hierdie voorstelling ook verband met die ureaus-motief (die giftige kobra) van die Egiptiese farao’s. Die kobra wat hulle as hooftooisel gedra het, was ‘n simbool van beskerming omdat die gif wat hy spoeg natuurlik op die vyand gemik was. Maar behalwe die feit dat die Egiptiese ureaus nie vlerke het nie, is daar weereens ‘n belangrike verskil tussen die ureaus en Jesaja se serafs. Jesaja se serafs beskerm nie vir JHWH nie, inteendeel, hulle het hul vlerke nodig om hulself van kop tot toon van sy onaanskoubare heiligheid te beskerm. JHWH het niemand se beskerming nodig nie. Hy is almagtig, Hy is heilig.

Die engele
   Die woord ‘engel’ is afgelei van die Griekse angelos – wat in sy oorspronklike betekenis op ‘n menslike of ‘n goddelike boodskapper betrekking kan hê. En dit is ook die implikasies van die Hebreeuse woord mal’āk. In Afrikaans, wanneer dit blyk dat die boodskapper deur JHWH gestuur is, word mal’āk met ‘engel’ vertaal. Anders gestel, in die Hebreeuse Bybel is ‘n engel ‘n boodskapper wat deur JHWH gestuur is.
Alle panteons in die Ou Nabye Ooste en ook in die Grieks-Romeinse wêreld het  boodskappergode gehad. Hermes van die Grieke en Mercurius van die Romeine is waarskynlik die bekendste. Die Kanaänities-Ugaritiese panteon het ‘n goddelike hiërargie gehad wat op die burokratiese struktuur van die Ou Nabye Oosterse stadstaat gemodelleer was. Die boodskappergode het die laagste rang beklee. Hulle het geen wil of sê van hul eie gehad nie, hul enigste taak was om boodskappe oor te dra wat hulle van die meerdere gode ontvang het. Die skrywers van die Hebreeuse Bybel was waarskynlik veral vertroud met die Ugaritiese voorstelling van die gode en godeboodskappers, maar tog is daar ‘n groot verskil. Die ander volke se boodskappergode was gode wat ook binne die kultus vereer is. JHWH se boodskappers is weliswaar hemelwesens, maar hulle het nie die status van gode nie, en hulle word nooit in die kultus vereer nie.
Take van menslike boodskappers en dié van goddelike boodskappers het nie veel verskil nie, en hulle het ook meer gedoen as om bloot boodskappe van sender na ontvanger oor te dra. In die Ou Nabye Ooste het heersers dikwels gesante gebruik om mense op reis te begelei en te beskerm totdat hulle veilig by hul bestemming uitgekom het. ‘n Soortgelyke taak is ook aan Ou Testamentiese engele gegee en die beste voorbeelde hiervan is die vertellinge van Israel se tog deur die woestyn (Eks 14:19; 23:20-23; 32:34; 33:2; vgl ook Ps 91:11-12). ‘n Verdere taak was om belangrike gebeurtenisse aan te kondig: ‘n Engel bring aan Hagar word die belofte van ‘n groot nageslag (Gen 10), en Manoag en sy kinderlose vrou hoor van ‘n swangerskap (Ri 1:3). Die engel wat waarsku, tree op in Numeri 22: as Bileam die verkeerde koers inslaan, sien eers sy donkie ‘n engel en dan hyself. En Elia vind die versorgende engel – of eintlik andersom, die engel vind Elia – as hy moeg en moedeloos onder die besembos sit, en dié vir hom kos bring omdat sy pad nog lank en ver is (1 Kon 19:5-7). En dan is daar ook ‘n engel wat doodmaak: hy bring honderd vyf en tagtig man in die Assiriese kamp om die lewe (2 Kon 19:35; Jes 37:36).
Om boodskappe oor te dra, is een ding, maar om misverstand uit die weg te ruim, is dit belangrik dat die bedoeling van die sender korrek deur die ontvanger verstaan moet word. Dit geld vir menslike sowel as hemelse boodskappers. Verder, as daar enige vrae van die kant van die ontvanger was, moes die gesant help interpreteer. Die hermeneutiese funksie van die engel kom veral na vore in die boek Sagaria (1:9, 14; 2:7, 4:1-6; 5:5-11; 6:4 ev).
Wanneer die interaksie tussen mens en hemelse boodskapper baie direk en persoonlik is, is daar gewoonlik net van een engel sprake. Dikwels word hy ‘die Engel van die Here’ genoem, maar dit is ‘n besonder problematiese kategorie. Dié beskrywing kom in die genetief- oftewel status-constructus vorm voor. Hierdie grammatikale konstruksie dui ‘n besondere noue band tussen besitter en besitting aan. Maar die bepaalde lidwoord (die) (in Hebreeus ha) word nooit saam met ‘n eienaam gebruik nie, en in die geval van die ‘Engel’, is daar ‘n wel eienaam betrokke: JHWH. Gevolglik is dit onmoontlik om te weet of dit die Engel van JHWH is, dus ‘n engel wat moontlik ‘n spesiale posisie beklee, en of dit eenvoudig ‘n engel uit menigte ander is wat JHWH vir ‘n bepaalde taak gestuur het.
Soms is daar egter ook sprake van meerdere engele, byvoorbeeld as Lot en sy gesin in lewensgevaar verkeer, is daar twee engele wat hulle red (Gen 19:1-22). Jakob, in sy slaap sien ‘n leer waar talle engele tussen hemel en aarde op- en afklim. En dan is daar ook voorstellinge van die hemelse troonsaal waar menigte engele die Here loof, sy opdragte uitvoer en sy bevele gehoorsaam (bv Ps 103:20).
Engele was egter nie altyd deel van Ou Israel se vroeë teologie nie. Soms praat die Here direk en spontaan met mense en is daar geen tussenganger nodig nie. Ander kere gebruik Hy profete om sy wil oor te dra. Maar presies wanneer engele op die toneel verskyn het, is onseker. Die feit dat hulle veral in die latere tekste van die Ou Testament ‘n beduidende rol begin speel, laat die vermoede ontstaan dat die Perse se godsdiens van Zoroaster ná die Ballingskap moontlik ‘n rol kon speel. Die Ou Testament ken egter nie ‘n uitgebreide engeleleer soos wat dit by Zoroaster voorkom nie. Die latere Juaïsme maak meer daarvan, soos blyk in die apokriewe – en apokaliptiese geskrifte. ‘n Ander moontlikheid is dat Ou Israel se godsdiens geleidelik van politeïsme na monoteïsme ontwikkel het. In die proses is sommige gode gedemoveer, het op ‘n stadium hul status as gode verloor en engele geword. Teorieë oor die oorsprong van engele bly egter omstrede.
Maar wie is daardie hemelse bewoners wat die Ou Vertaling die ‘seuns van God’ en die Nuwe Vertaling ‘hemelwesens’ noem? (vgl bv Gen 6:2; Job 1:6; 2:1; Ps 29:1). Dit sou ‘n fout wees om hulle ook as ‘engele’ voor te stel, aangesien hul funksie glad nie duidelik is nie. Ewe duister is die sogenaamde hemelse ‘leërskare’ (vgl Ps 148:2; 1 Kon 22:19). Is dit die horde perde en strydwaens vol vuur wat Elisa se slaaf sien (2 Kon 6:17; vgl 7:6)? Is dit die leër wat JHWH gaan ondersteun as Hy oorlog maak (Jes 13:4)? Is dit hulle wat die skitterende strydwaens van God beman (Ps 68:18)? Kan ‘n mens hierdie hemelse wesens ook in die kategorie van ‘engel’ plaas?
Eers op ‘n baie laat stadium in Ou-Israel se geskiedenis is daar engele wat as ‘n leërmag aktief aan die kant van God veg: in die apokriewe boeke (2 Makk 10:29-31) en die Qumran-geskrifte. Waarskynlik het konsepte oor die ‘hemelse leërskare’ en die engele-leer teen hierdie tyd saamgesmelt.
Teen die draai van die eeu, in die laat-Ou Testamentiese vroeg-Joodse tyd het ‘n sistematiese leer oor die engele ontwikkel. Daar is baie engele wat verskillende pligte moet uitvoer. Sommige engele is ook belangriker as ander. Die aartsengele kry ‘n besondere bevoorregte posisie, waarskynlik omdat hulle voortdurend voor die aangesig van JHWH verkeer. In die grootste gedeelte van die Hebreeuse Bybel is engele naamloos, maar slegs in die boek Daniël, die laatste Ou Testamentiese boek, word twee van die aartsengele by die naam genoem: Migael (Dan 10:13; 12:1) en Gabriël (Dan 8:16; 9:21). Hierdie twee engele kom ook in die Nuwe Testament voor. God stuur die engel Gabriël na die maagd Maria om vir haar te sê dat sy swanger gaan word (Luk 1:26 ev) en in Openbaring 12:7 veg Migael en sy engele teen die draak en sy engele.

Slot
Gerubs, serafs, engele, seuns-van-God, die hemelse leërskare is terme en kategorieë waarvan die betekenis die leser van die een en twintigste eeu tot ‘n groot mate ontwyk. Die Ou Nabye Oosterse mens het die hemel radikaal anders voorgestel as dit wat die Westerling met sy teleskoop kan waarneem. Die hemelruim was vir die antieke mens nie ‘n oneindigheid van ontelbare sterrestelsels nie, dit was ‘n spesifieke blyplek waar gode, hemelinge en fantastiese maar verskriklike half-dier, half-mens wesens gewoon het. Die wêreld – die hemel en die aarde – van die Ou Testament is ‘n vreemde wêreld, en die pad daarheen is grotendeels verborge.

Bronne

  • Berlejung, A 2006. Engel. Paginae 151-153 in Angelika Berlejung und Christian Frevel und (Hrsg.), Handbuch theologischer Grundbegriffe zum Alten und Neuen Testament. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.
  • —–, 2006. Mischwesen / Kerub. Paginae 319-321 in Angelika Berlejung und Christian Frevel (Hrsg.), Handbuch theologischer Grundbegriffe zum Alten und Neuen Testament. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.   
  • Handy, LK 1993. Among the Host of Heaven. The Syro Palestinian Pantheon as Bureaucracy. Winona Lake: Eisenbrauns.  
  • Mettinger, TND 1999.Chrubim. Paginae 189-192 in Bob Becking, Karel van der Toorn en Pieter W van der Horst (reds), Dictionary of Deities and Demons in the Bible. Leyden: Brill.
  • —–, 1999. Seraphim. Paginae 742-744 in Bob Becking, Karel van der Toorn en Pieter W van der Horst (reds), Dictionary of Deities and Demons in the Bible. Leyden: Brill.  
  • Meyer, SA 1999. Angel I. Paginae 45-50 in Bob Becking, Karel van der Toorn en Pieter W van der Horst (reds), Dictionary of Deities and Demons in the Bible. Leyden: Brill.
  • —–, 1999. Angel of Yahweh. Paginae 53-59 in Bob Becking, Karel van der Toorn en Pieter W van der Horst (reds), Dictionary of Deities and Demons in the Bible. Leyden: Brill.
  • Niehr, H 1999. Host of Heaven. Paginae 428-430 in Bob Becking, Karel van der Toorn en Pieter W van der Horst (reds), Dictionary of Deities and Demons in the Bible. Leyden: Brill.
  • Parker, SB 1999. Sons of (the) God(s). Paginae 794-800 in Bob Becking, Karel van der Toorn en Pieter W van der Horst (reds), Dictionary of Deities and Demons in the Bible. Leyden: Brill.     
  • Van Henten, JW 1999. Angel II. Paginae 51-53 in Bob Becking, Karel van der Toorn en Pieter W van der Horst (reds), Dictionary of Deities and Demons in the Bible. Leyden: Brill.
Share this / Deel hierdie: