Agter die Ou Testament (en ook die Nuwe Testament) lê ‘n wêreld wat ons nie ken nie en wat altyd onbereikbaar sal wees. Ons het net die Hebreeuse (en Griekse woorde) wat soms so pynlik leweloos op die wit papier lê asook ‘n gevoel van magteloosheid omdat ons die wêreld agter die teks nie kan raakvat nie en nie ‘n greep op die tekswêreld kan kry nie. Die verlede maak nie oop nie, daar is vele donker, onverstaanbare en onkenbare dinge in die geskiedenis, daar is geen direkte toegang tot Israel se verlede of die vroeë kerk se geskiedenis nie. Al wat oorgebly het, is spoortjies wat vertel dat daar op ‘n keer groot spore was. Al wat ons het, is die swart letters op die wit bladsye van die Ou Testament wat vertel dat iets lank gelede gebeur het, maar ons weet nie presies wat nie. Al wat ons het, is ‘n gevoel van verlies en Karel Schoeman het dié gevoel mooi verwoord en hieronder meer daaroor.

Die verlede is ‘n ver en onbereikbare land

‘n Bekende Afrikaanse skrywer, Karel Schoeman, het in sy werk ‘Verliesfontein’ hierdie vlugtigheid en onvatbaarheid van die geskiedenis mooi verwoord. Hy begin met die opmerking dat die verlede soos ‘n ander land is en vra dan: “waar is die pad wat soontoe loop?” Schoeman neem dan die leser op ‘n moeisame soeke na Verliesfontein. Dit was ‘n dorp, ‘n gehuggie tydens die Anglo-Boere-oorlog, maar niks daarvan het oorgebly nie en tog het Schoeman daarna bly soek. Hy het min of meer geweet waar dit vroeër was, maar hy kon dit nie kry nie; hy kon dit nie vind nie; dit was daar, maar tog ook nie daar nie.

En dan skielik verstaan ‘n mens gister en eergister se andersheid. Dit is ‘n ongekarteerde land. Niemand bereik dit ooit ten volle nie. En hoe verder ‘n mens die boek lees hoe meer pak ‘n gevoel van wanhoop jou. Verliesfontein se verlede is onherroeplik verby; dit is heeltemal onmoontlik om die geskiedenis vas te vat, dit om en om te draai, dit oor en oor te bekyk. Dit is weg. Vir altyd weg. Al wat van die verlede oorbly, is vae en soms onleesbare merke, tekens wat die oorspronklike gebeure in sy haastige vlugtog as ‘t ware nagelaat het. Al wat die historikus het, is spore. Nie die vergange werklikheid in al sy volheid nie, net die merke dat iets gebeur het. Nie die outentieke oorspronklike gebeure nie, maar die vae onleesbare tekens dat iets plaasgevind het. Vir altyd het die verlede ons ontglip.

Schoeman weet dit en daarom die vraag aan die begin van sy verhaal: “Hoe moet mens begin? … Hoe ver moet mens terugstaan en hoe wyd is die blikveld wat nodig is om … te begryp?” Saam soek ons na Verliesfontein “op die hitte van die dag op die oop veld in die son”. Saam kyk skrywer en leser op ‘n snikhete agtermiddag êrens tussen Kromburg en Donkerpoort oor ‘n leë landskap sonder om iets van die verlede raak te sien. Van al die intense stipkyk word die oë naderhand seer. ‘n Mens se sinne begin jou ook bedrieg. Vir ‘n oomblik is daar ‘n glimp van die verlede, maar verdwyn dan weer.

Soms is daar stemme, maar dan is dit weer skielik weg: “Die stemme fluister, ruis en sterf weg in die omringende stilte, nouliks nog waarneembaar; jy tas in die donker verder, en maak uiteindelik jou oë toe om noodgedwonde die desperate sprong in die duister te waag”. En hoe meer ons die historiese Verliesfontein in al sy volheid miskyk, hoe meer desperaat word skrywer en leser. Verbeeldingspronge word uiteindelik die enigste uitweg: “Jy knyp jou oë toe, spring en raak geen grond nie, swewend deur die donker”. Onsekere verbeeldingsvlugte word die enigste toegang tot ‘n geslote verlede: “Toe-oog spring jy, swewend in vrye vlug deur die donker van die verlede sonder om te weet wat jy sal ontdek” (Schoeman 1998:10-11).

Enige een wat die verlede (ook dié van Israel en die vroeë kerk) dus wil vasgryp, ervaar eerder ‘n gevoel van verlies en rou. In sy andersheid is die verlede uiteindelik onbereikbaar. Niemand kan hierdie land meer betree nie. Alles is verby.

Gister en vandag is naby mekaar

In Deuteronomium is die verlede (soos die uittog en veral Sinai of Horeb) ‘gerekonstrueer’ en dan eksistensieel ervaar. ‘n Mens kan dit met Collingwood se siening van geskiedenis illustreer. Collingwood was ‘n Britse historikus wat baie oor die filosofie van die geskiedenis nagedink het. Wat gebeur as ‘n mens met die geskiedenis besig is? Dikwels word die verlede slegs vanweë die een of ander sosio-politieke rede bestudeer, maar volgens Collingwood is daar soveel meer op die spel: dit moet gaan om die herbelewing van die verlede. Of soos hy dit gesê het: ‘the re-enactment of the past in the mind’. Dié siening het ons gehelp om iets van die wêreld agter die swart woorde op die wit bladsye te begryp. Nie die presiese wêreld nie; nie die feite-wêreld of die werklike korrekte verlede nie, maar die verlede soos wat Israel dit verstaan en hulle eie gemaak het. Anders gesê, Israel het hulle verlede herbeleef en dié ervaring op hulle eie manier weergegee.

In die boek Deuteronomium word dié herbelewenis mooi veruidelik. Die geslag wat na veertig jaar aan die einde van die woestyntog voor die beloofde land gestaan het, het hulle verlede intens meegeleef. So intens dat dit vir hulle gevoel het húlle is sélf uit Egipte gelei. Dit was ook asof húlle sélf by Sinai gestaan en die wette ontvang het. Die woordjie ons het die geslagte aanmekaargebind. Soveel so dat ‘n latere geslag so één met die vorige geslagte gevoel het dat dit was asof die huidige geslag self uit Egipte gelei is en by Sinai gestaan het. So intens was dit dat die huidige geslag die verlede as ‘the re-enactment of the past in the mind’ beleef het. Lees byvoorbeeld net die volgende: ‘Israeliete, luister na die voorskrifte en die bepalings wat ek vandag hier in julle teenwoordigheid aankondig. Julle moet dit leer, dit gehoorsaam en daarvolgens lewe. Die Here ons God het by Horeb ’n verbond met ons gesluit. Dit is nie ons voorvaders met wie Hy hierdie verbond gesluit het nie, maar ons, ons almal wat hier is en nou lewe’ (Dt 5:1-5).

Interessant is die gebruik van die woordjie ‘vandag’ in die boek Deuteronomium. Dít bring verlede en hede bymekaar. Elke hoorder van Moses se woorde (selfs tot in die verste geslagte) was onmiddellik (deur die woordjie ‘vandag’) by Israel se verlede betrokke. Die uittog, die woestyn, Sinai (of Horeb soos Deuteronomium dit noem) het deel van elkeen se lewe geword. Pragtig word die onmiddellike betrokkenheid van elke toehoorder deur ‘vandag’ beklemtoon. Deur die woordjie ‘vandag’ het die afstand tussen hede en verlede baie kleiner geword en is dit ook met dieselfde doel in ander dele van Deuteronomium gebruik: ‘Luister, Israel, jy gaan nou deur die Jordaanrivier trek’ (Dt 9:1); ‘Jy moet onthou jy was self ’n slaaf in Egipte en die Here jou God het jou bevry. Dit is daarom dat ek jou vandag hierdie bevel gee’ (Dt 15:15); ‘Jy het vandag verklaar dat die Here jou God is’ (Dt 26:17); ‘Vandag het jy die volk van die Here jou God geword’ (Dt 27:9); ‘Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou’ (Dt 30:15); ‘Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie’ (Dt 30:19).

Slot

‘n Studie van Israel se verlede of die wêreld agter die teks moet nooit ‘n soeke na presiese harde feite wees nie, maar eerder ‘n poging om te verstaan hoe Israel self God se geskiedenis met hulle begryp het. Dié geskiedenis wou elke geslag telkens hulle eie maak en herbeleef. Hulle wou die uittog en ander gebeure so verinnerlik dat dit hulle geloof sou versterk en dit is dié proses van herbelewing wat ons moet probeer verstaan.