Dit is opvallend hoe los en vas die woordjie ‘hermeneutiek’ gebruik word. Oral word dit aangewend en eintlik sê ons nooit wat daarmee bedoel word nie. Dit word naderhand ‘n stopwoord wat betekenisloos in ons woorde en sinne loshang en eintlik geen impak meer het nie. Hieronder volg opmerkings oor hermeneutiek as ‘n poging om te verstaan en dat elke verstaan iets van die eksegeet se verborge wese verraai en daarom moet ons altyd probeer om eerder te verstaan hoe ander die Skrif verstaan. Ter illustrasie let ons op Origenes en Theodorus van Mopsuentia.

Verstaan teenoor metode


Hermeneutiek het met ‘verstaan’ te make en nie primêr met eksegetiese metodes nie. Vroeër is hermeneutiek wel met metodeleer gelykgestel: met die eksegetiese stappe wat geneem moes word, die korrekte toepassing daarvan, die regte uitleg van die Ou Testament, die korrekte formulering van die boodskap, ensovoorts.

Na twee duisend jaar se teologiegeskiedenis blyk dit egter dat daar nog nooit net ‘n enkele eksegetiese metode was en steeds is nie; dat die enigste, absolute, ware en objektiewe betekenis van ‘n woord of ‘n vers nooit deur ‘n enkele metode ontsluit kan word nie; dat die een enkele betekenis ons nog steeds ontglip.

En geen metode kan ons help nie. Dit was ’n Aufklärungse ideaal dat redelike mense met redelike argumente en redelike metodes mekaar sou oortuig, maar hiervan het nie veel gekom nie. Daar was net te veel persoonlike dinge of ‘issues’ wat so ’n bowe-historiese algemene waarheid onmoontlik gemaak het.

Verborge drange en begeertes

Ricoeur se hermeneutiese suspisie en sy ‘drie meesers van die valse bewussyn’ verduidelik dit nogal mooi. Dié drie meesters, Friedrich Nietzsche, Karl Marx en Sigmund Freud het altyd nog ons vroom maskers afgeruk en op die vele ‘onsuiwerhede’ binne ons gewys; hulle het hard daarop gewys dat ons nie in staat is om net een ware betekenis of boodskap te formuleer nie. Ongenaakbaar het hulle ons valse pretensies ontbloot en ons metodes se beperkthede aan die kaak gestel.

Volgens Nietzsche skuil in elkeen van ons ’n onblusbare drang na mag en daarom wil ons mense by ons eksegese en Skrifversaan laat inpas. Volgens Marx bepaal jou sosio-ekonomiese plek in die samelewing hoe jy die Skrif gaan lees en dit is waarom armes die Bybel anders as gegoede of ryk mense lees. Elke lees en uitleg van ’n teks is ook die produk van ’n bepaalde tyd en konteks. Anders gesê: elke preek of teologie dra dus die merke van sy tyd en die betrokke persone se konteks. Ten slotte het Freud gesê daar is in ons onderbewuste dinge waarvan ons nie eers bewus is nie, maar wat ons lees van die Bybel ingrypend bepaal (soos byvoorbeeld ’n skuldgevoel).

Volgens hierdie drie meesters is ’n volmaakte greep op teks en werklikheid dus onmoontlik. En daar is ook geen metode wat ons uit hierdie dilemma kan help nie.  Só, hermeneutiek as metodeleer deug dus nie en ons moet veel eerder op ‘verstaan’ fokus. Hermeneutiek het eerder met verstaan as die toepassing van ’n metode te make. Hermeneutiek moet ons eerder help om te verstaan hoe verstaan werk; hoe sit ons verstaan van God en die Bybel inmekaar; watter faktore in ons daaglikse lewe en ons leefwêreld onbewustelik ons Skrifverstaan en eksegese bepaal.

Die Franse filosoof, Michel Foucault, het ons baie gehelp om tydperke te verstaan en te verwoord. Volgens hom het elke eeu sy eie ‘episteme’ gehad. Dit was iets soos ’n intellektuele ondergrond wat in elke eeu en tydperk aan die werk was en mense die woorde, die idees, die denke gegee het om te sê wat hulle wou sê. So ’n intellektuele onderbou het bepaal hoe mense hulle self, die lewe en die wêreld sou sien en beskryf, en almal is onbewustelik daardeur gevorm en geslyp. En die hermeneutiek moet ons help om hierdie ‘episteme’ of intellektuele ondergrond van elke era raak te sien, te verstaan en te vertel.

As ons byvoorbeeld Origenes en Theodorus van Mopsuestia wil verstaan, moet ons ten diepste elkeen se intellektuele ondergrond probeer begryp want van daaruit is hulle as‘t ware gevoed, gevorm en gelei om te sê wat hulle wou.

 Eksegese moet die teks vergeestelik


Origenes (185-254) is in die derde eeu radikaal deur sy konteks gevorm. Sy wêreld was Aleksandrië, slim Grieke, Philo se vergeesteliking van tekste en sy voorganger Klemens se allegoriese verstaan van die Skrif. Origenes was onherroeplik deel hiervan en hy sou sy leefwêreld nooit kon ontsnap nie. Hy sou in dieselfde voetspore van sy tydgenote loop en ’n voorkeur vir die vergeesteliking van die teks ontwikkel. Dit kon eintlik ook nie anders nie.

Origenes was ’n ongelooflike harde werker wat soms op sy studeerkamer se vloer aan die slaap geraak en na ’n ruk weer opgestaan en begin werk het.  Een van die groot werke wat hy nagelaat het, was sy ‘Hexapla’: ses uitgawes van die Ou Testament wat hy langs mekaar gerangskik het. Eers was daar die Hebreeuse teks en dan is die Hebreeus netso met Griekse letters oorgeskryf en dan het die Griekse vertalings van Aquila, Symmachus, die Septuagint en Theodotus gevolg. Hierdie werk was so oorweldigend dat sommige dit ‘onsterflik’ genoem het.

Dit was egter nie al nie. Ewe skerpsinnig was sy ‘drievoudige Skrifsin’. Volgens hom bestaan ’n mens uit liggaam, gees en siel, en só ook die Ou Testament. Daar was die somatiese of die letterlike, die psigiese of morele, en dan die pneumatiese of allegoriese en mistieke aspekte van die teks waaraan die eksegeet baie aandag moes gee. Eers moes op die letterlike, die woorde in die teks en hulle ‘woordeboek-betekenisse’, gelet word. En die Hexapla was ’n wonderlike hulpmiddel om hierdie uiterlike woorde op die teks se oppervlakte te verstaan.

Geen eksegeet moes egter by die liggaamlike, die fisiese, die fisiese woorde stilstaan nie. Hy moes verder, dieper gaan en die morele en geestelike betekenis van die Bybel ontsluit. In en deur die vergeesteliking van die teks is die eintlike betekenis van die teks oopgemaak en die diepte van die Skrif ontsluit.

Origenes kon eintlik nie anders nie. Sy tyd, sy plek, sy leefwêreld het hom so gevorm. Sy ‘episteme’, sy intellektuele ondergrond het hom die Bybel laat vergeestelik.

Tekste moet histories verstaan word


Antiochië was ver van Aleksandrië en daar het die mense die lewe anders verstaan. In die vierde eeu het die Antiocheense skool hartstogtelik probeer om teks en geskiedenis bymekaar te hou. Theodorus van Mopsuestia (350-428) was ‘n belangrike verteenwoordiger van hierdie benadering en het ‘n historiese lees van die Ou Testament beklemtoon. Volgens hom moes die Ou Testament as ‘n verslag van God se historiese handelinge met Israel verstaan word; moes die Ou Testament slegs binne sy eie historiese konteks gelees en verstaan word; moes die leser ‘n historiese ontwikkeling binne die Ou Testament raakgesien het; was die fisiese woorde in die teks die begin en die einde van alle eksegese. Alhoewel die Ou Testament tipes van die nuwe bedeling in Christus reflekteer, moes die historiese konteks waarbinne hierdie tipes gefunksioneer het, nooit uit die oog verloor word nie.

Theodorus is ook radikaal deur sy tydsgees gevorm en daarom was ’n historiese lees vir hom belangrik. Sy manier van doen moes egter lank wag om tot volle wasdom te groei. Eers in die negentiende eeu het die intellektuele ondergrond so ontwikkel dat verstaan aan geskiedenis (en die ontstaan en groei van tekste) gekoppel is.

 ’n Slotwoord


Oor die jare het daar ‘n belangrike klemverskuiwing in ons siening van hermeneutiek gekom: nie die eksegetiese metode nie, maar die proses van verstaan is allengs beklemtoon. Dít het die eksegetiese proses verruim en ons ander dinge in die teks laat raaksien. En wie met die hermeneutiek besig is, is met hom-/haarself besig. Deur die hermeneutiek leer ons onsself ken, want ons begryp iets van die manier waarop ons (en ook andere) ‘n teks lees en verstaan.

Share this / Deel hierdie: