My God … waarom het U my verlaat (Ps 22:2).

Tussen sy daaglikse take deur het Luther graag lank gelees en hard gestudeer. Wat het hy gelees? Waarmee het hy elke nag tot die kleinure toe geworstel? Daar was natuurlik die populêre geestelike leesstof van die dag wat uit die kringe van die ‘Moderne toewyding’ (of ‘Devotio Moderna’) gekom het en wyd gelees is. Luther het dit egter te lig, te oppervlakkig gevind en gou gelos.

Dit was veral Augustinus se werk wat hom lewenslank geboei en hom radikaal verander het. ’n Klompie jare gelede is daar ’n boek van Luther ontdek wat hy baie goed bestudeer het. Dit was ’n versameling van Augustinus se belangrikste werke, wat in 1489 gedruk is en waarin Luther met sy fyn handskrif in die kantlyn geskryf het.

In die tyd van sy groot worsteling was dit  Augustinus se Psalmkommentaar wat hom die meeste gehelp het. Vir Augustinus was die psalms belangrik omdat dit ons die woorde gee om God mee te loof. Geen mens weet hoe om Hom te prys nie en niemand beskik oor die regte lofwoorde nie. In die psalms, veral die himnes of lofliedere, het God egter die gepaste woordeskat gegee en wie Hom dus wou loof, moes die lofpsalms se woorde en uitdrukkinge toe-eien, leer en in hulle gebede opsê.

Luther was egter nie aldag lus vir lof nie. Soms het sy innerlike stryd hom amper gebreek en sy soeke na ’n genadige God hom moedeloos gemaak. En as hy dan Augustinus se Psalmkommentaar nadergetrek en begin lees het, het dit hom weer hoop gegee.

Dit het veral in Augustinus se styl gelê. Hy het elke psalm op Christus betrek. Elke psalm moes met Christus verbind en elke vers en uitdrukking Christologies verklaar word. Of dit nou gepas het of nie, maar Augustinus het Christus in die psalms hoor praat en in Luther se eerste brose jare het dié teologie hom gehelp.

So het Augustinus Psalm 22 se Godverlatenheid op Christus betrek en eeue later het Luther toe gevra: Waarom was Christus van Godverlate? En sy antwoord: Sodat hy wat Luther is nooit van Godverlate hoef te voel nie. Dít was vir Luther dié bewys van God se liefde en genade; dié teken dat hy nie na God toe hoef te geklim het nie. Of soos Lied 190 dit stel: ‘Voordat ek kon kies, kon vra, het u Seun my vloek gedra. Ek kon vind: U‘t my gekry voor ek nog my skuld bely’.

Here, vat vandag so aan ons dat ons nie meer so eensaam en verlate sal voel nie.

Share this / Deel hierdie: