Elia het bang geword en … gevlug (1 Kon 19:3).

Toe hy op 31 Oktober 1517 die stellings teen die deur vasgespyker het, wou Luther maar net ‘n gesprek begin het en niks meer nie. Daar was dinge wat hom gehinder het en daaroor wou hy praat. Een was die aflaatstelsel. Omdat die kerk geld vir bouwerk in Rome nodig gehad het, het hulle oral groot geldkiste gesit en gesê dat as iemand ‘n muntstuk daarin gooi, spring ‘n geliefde se siel uit die vagevuur.

          Dít was vir Luther verskriklik en hy het geprotesteer. Wie ‘n aflaat gekoop het, het niks van God se genade verstaan nie. Sy protes het egter die kerk se woede ontlok en dít het Luther amper geknak. Hy het onbedoeld magtige sosio-politieke kragte losgemaak wat die wêreld radikaal verander en hom amper verwoes het. Hy het daarom dikwels oor alles gewonder en getwyfel. In sy diepste wanhoop het hy mettertyd geleer dat laagtepunte deel van menswees was. Niemand ontkom dit nie.

          Met Elia se ‘insinking’ kon Luther identifiseer. Elia was aan die begin so sterk. Hy het sommer ‘n droogte afgekondig en selfs die weduwee se seun lewendig gemaak (1 Kon 17). Op Karmelberg het hy Baäl en sy priesters verneder. Aan die einde van die dag se gebeure was Elia opvallend gelukkig en vol krag (1 Kon 18:42-46). Niks was vir sy wêreldoorwinnende geloof te groot nie.

          En dan die volgende dag stort Elia in duie. Hy het gehoor Isebel wou hom doodmaak en hy het in wanhoop gevlug. Van die vorige dag se geloofsoptimisme het niks oorgebly nie. Luther het dit so goed verstaan. Die kerk het met ‘n senuwee-oorlog teen hom begin en die een uitmergelende verhoor na die ander het gevolg. Hy het diepe laagtepunte geken en baie getwyfel.

          Elia moes uiteindelik leer dat weghardloop nie werk nie. God het hom in die woestyn gekry en hom laat omdraai (1 Kon 19). God het hom laat teruggaan na ‘n plek waar hy nie wou wees nie.

          Luther het sy hele lewe lank ervaar dat God nie kortpaadjies het nie. Soos Elia het hy tot die einde toe God se pad met hom gestap. En dikwels was dit vol frustrasie, moedeloosheid en selfs pyn.

          En Luther kon volhard omdat God se genade vir hom ‘n werklikheid was. Uit genade het God hom teen die steiltes gehelp, hom krag in moedeloosheid gegee en hoop wanneer die depressie hom gevat het.

Here, soms is ons pad ook steil en ons drag te swaar, maar gee U ons krag en moed.

Share this / Deel hierdie: