Spanning oor die Ou Testament

Volgens ‘n artikel in die Frankfurter Allgemeine van 22 Januarie 2016 heers daar spanning in die Fakulteit Teologie aan die Humboldt Universiteit in Berlyn oor die Ou Testament (Bingener 2016). In ‘n artikel het een van die dosente, Notger Slenczka, aangevoer dat die Ou Testament nie meer deel van die Christelike kanon moet wees nie want wat is so ‘Christelik’ aan die Ou Testament? In die daaglikse gang van die kerk speel die Ou Testament eintlik nie so ‘n groot rol nie. En behalwe vir die psalms is die Ou Testament nie so ‘n kerndeel van die gewone gelowige se lewe nie (Slenczka 2013).

Reaksie op Slenczka se artikel was fel. Uiteraard het die kerk gereageer, maar ook die Joodse gelowiges. Hulle het dit as anti-Joods en ‘n terugbeweeg na die Nazitydperk gesien. ‘n Bekende Joodse geleerde Peter Schäfer het selfs gedreig om sy bande met die Fakulteit Teologie te verbreek. Ook mede-dosente het Slenczka skerp gekritiseer, veral die bekende kerkhistorikus, Christoph Markschies.

Aan die begin van sy omstrede 2013-artikel fokus Slenczka veral op Adolf Von Harnack en Friedrich Schleiermacher. Dié twee se denke oor die Ou Testament het Slenczka se eie sieninge help en hieronder iets oor die Marcion-Von Harnack-lyn.

Von Harnack se klassieke siening

Adolf Von Harnack (1851-1930) wou hoegenaamd nie die Ou Testament verwerp nie. Volgens hom sou die psalms en die profete altyd hulle glans behou, maar tog het dit geen kanoniese gesag nie. Die Ou Testament het dieselfde gesag as die apokriewe boeke: hulle is goed en nuttig om te lees, maar is niks meer nie. En Von Harnack was van mening dat dit ook die siening van Luther was, maar uiteindelik het laasgenoemde tog die band met die Nuwe Testament behou.

Von Harnack se kanonbeskouing het geen ruimte vir die Ou Testament gelaat nie. Vir ‘n boek of die Ou Testament om kanonies te wees, impliseer dat dit ‘n normatiewe funksie het en dié funksie het die Ou Testament tog nie in die kerk vervul nie. Die Nuwe Testament is wel normatief omdat dit die kerk na die oergebeure of die oorspronklike Jesusgebeure terugvoer. En vir die kerk is daar maar net een boek wat die wese van Christenwees kan verduidelik en dít is die Nuwe Testament. Anders gestel: die Nuwe Testament bied die antwoord op die vraag na die wese van die kerk en die Ou Testament hoegenaamd nie (Slenczka 2013:83-93).

Die negentiende eeu was die eeu van die geskiedenis en ‘n mens kon slegs iets verstaan as jy dit histories kon verstaan. Die Christendom kon ook net in die lig van sy eie geskiedenis verstaan word en dit was ‘n geskiedenis wat by die Jesusgebeure ontstaan en toe op verskilende maniere geherinterpreteer en uitgebrei is. Elke idee groei en ontwikkel in die loop van die geskiedenis tot groter volheid en helderheid en dit is ook van die Christendom waar. Jesus was die bron van nuwe sieninge wat in die loop van die geskiedenis tot groter wasdom gegroei het. Weereens: dit was is ‘n proses wat by Jesus begin het en nie by Israel of die Ou Testament nie.

In die loop van die geskiedenis het die Christendom tot ‘n universele instellng gegroei en daarom moes dit as ‘t ware die Ou Testament ontgroei het. Volgens Von Harnack het die liefde van God in Jesus ‘n universele dimensie verkry wat totaal in die Ou Testament ontbreek. Alhoewel van God se liefde in die Ou Testament gepraat word, was dit op Israel gerig en geensins universeel nie. Dít het eers by Jesus gebeur en is in die gang van die geskiedenis op verskillende maniere uitgebou (Slenczka 2013:93-94).

Kortom: die Ou Testament vertel van Israel se stamgodsdiens en is hoogstens voorgeskiedenis tot die verhaal van Jesus, die kerk en die verhaal van die Christendom. Dat die Ou Testament inderdaad nog in die twintigste eeu deel van die Protestantse kanon was, was vir Von Harnack ‘n teken van geestelike swakheid: ‘but still to preserve it (the Old Testament) in Protestantism as a canonical document since the nineteenth century is the consequence of a religious and ecclesiastical crippling’ (Von Harnack 1990:134).

’n Boek oor Marcion

Von Harnack se sieninge is gevorm deur ‘n tweede-eeuse teoloog genaamd Marcion. Von Harnack het vyftig jaar aan ’n boek oor Marcion gewerk omdat dié hom so geboei het (Markschies 2001:365-395). Marcion was Von Harnack se eerste liefde in die kerkgeskiedenis en nie eers Augustinus kon hom meer boei nie. Hy was volgens Von Harnack die grootste teoloog tussen Paulus en Augustinus en sy denke bly tot vandag toe relevant (Von Harnack 1990:Foreword).

In die tweede eeu het Marcion die ‘groot kerk’ uitgedaag (Altaner 1951:106-109; Seeberg 1965:312-321). Hy het die fondamente van die kerk geskud, die geloofsgemeenskap met hulle eie teologiese tekortkominge gekonfronteer en die Bybel, die grondslag van hulle geloof, aangetas. Hy het van Sinope aan die Swartsee gekom waar sy pa ‘n biskop was. Sy sieninge het gou probleme veroorsaak en hy is geskors. Ten einde raad is hy Klein Asië toe waar hy oral erkenning en aanvaarding gesoek het. Oral is hy egter verwerp. Daar is selfs gesê dat hy Policarpus van Smirna gaan opsoek het, maar dat dié hom as eersgeborene van die Satan afgemaak het (Hoffmann 1984:37-39). Uiteindelik is in hy in 139 Rome toe waar hy vyf jaar gebly het. Hy is waarskynlik in 160 oorlede (Drobner 1994:91-92).

Marcion was nie so boosaardig soos wat die vroeë kerk hom gemaak het nie. Hy was ‘n opregte gelowige vir wie die geloof in Christus besondere betekenis gehad het. Hy is deur God se liefde en genade oorweldig (vgl Tertullianus IV.25.8-11;IV.26.7). Vir die evangelie het hy ‘n allesoorheersende liefde gehad en die evangelieboodskap het hom sprakeloos gelaat. Iets radikaal nuut het in Christus aangebreek. So rakikaal dat die band met die Ou Testament gesny móés word. So nuut dat geen kontinuïteit met die Ou Testament enigsins meer moontlik was nie: ‘Any continuity or sequence (ordo) was unnecassary, for the coming of Christ had been sudden and immediate. The keynote of the teaching of Christ had been its newness … The ineffable newness of the gospel would be fundamentally compromised if it were represented as having already been present in the Jewish Scriptures’ (Pelikan 1971:78). Hierdie gedagte kan nie genoeg beklemtoon word nie. Marcion se uiteindelike verwerping van die Ou Testament was die gevolg van die totale nuutheid wat in Christus ‘n werklikheid geword het. Vanweë hierdie nuutheid kon die Ou Testament nou eenmaal net nie meer behou word nie.

Hierdie radikaal nuwe in Christus het tot die afmaak van die god van die Ou Testament gelei. Dié god was soos ’n tipiese antieke despoot wat van almal verwag het om sy wette streng na te kom. Hierdie god se ego is deur eerbied en respek gestreel. Volkome onderworpenheid en ‘n slaafse navolging van sy wil was belangrik. Alle ontrouheid en oortredings is swaar gestraf. Die god van die Ou Testament was dus hard, streng en het absolute trou vereis (Von Harnack 1964:299-302).

Hierdie god het ook bepaalde gebreke gehad (Origenes, Contra Celsum VI.53). Jaloesie was een. Hy het geen ander gode en godsdienste geduld nie en sy navolgers moes Hom alleen dien. Hy was ook nie alwetend nie: hy het nie geweet waar Adam en Eva na die sondeval was nie. Hy was selfsugtig: hy het nie van kompetisie gehou nie en daarom is ander gode nie geduld nie. Sy goedheid was begrensd: hy het net sy eie mense gehelp en dan ook net diegene wat aan sy wette getrou was. Hy was swak en inkompetent: hy kon nie ‘n beter mensetipe gemaak of die bose uit hierdie lewe weggeruim het nie (vgl Tertullianus II.16.5-6). Hy was naywerig: hy het die eerste mense van die boom van die lewe af weggehou en sommige van sy aanbidders bo ander voorgetrek (Von Harnack 1990:69-71). Kortom: ‘Thus: the God of the Old Testament was righteous and even holy but compared to the God of the gospel inferior, second-rate and mediocre (Von Harnack 1990:69).

Hierdie siening het dus tot ’n radikale verwerping van die Ou Testament gelei. In die kerk moes die Ou Testament geweer en gelowiges ontmoedig word om dit te lees. Von Harnack het wel van Marcion verskil en het nie gemeen die Ou Testament moes verban word nie, dit moes net nie as deel van die kanon beskou word nie. Anders as Marcion het Von Harnack ook nie gemeen die God van die Ou Testament boos is nie en dat die lees van Ou Testament waardeloos is nie. Soos hierbo gesê, staan die Ou Testament op dieselfde vlak as die apokriewe boeke en kan daarom nuttige, maar nie kanoniese literatuur wees nie.

Volgens Slenckza vorm die Marcion-Von Harnack-denke die agtergrond van sy eie siening rondom die mindere waarde van die Ou Testament in die kerk. Die hele debat dwing ons opnuut om oor die Ou Testament te besin. Waarom sal ons die Ou Testament nog lees? Watter waarde het dit nog vir die kerk? Wat sê dit nog vir vandag se gelowiges? In die tweede eeu het die kerk vir die Ou Testament gekies en dit het deel van die kerk se kanon gevorm, maar was dit die regte besluit?

Laat die Ou Testament vir homself praat

Daar is iets in die Ou Testament (en ook Nuwe Testament) wat mense aantrek, wat maak dat hulle telkens daarheen terugkeer en dit lees. Waarskynlik is dit omdat mense in die Ou Testament iets van hulle self ontdek. Hulle twyfel en verset, hulle geloof en vreugde. Anders gesê: in die Ou Testament het mense oor die eeue God op ‘n baie eksistensiële ontdek en Israel se geloofsinterpretasies van Hom hulle eie gemaak.

En die lees van die Ou Testament is nie maar net ‘n goeie gewoonte of ‘n lukrake rondlees op soek na ‘n gawe teks nie. Die lees van die Ou Testament het baie diep historiese wortels. Die gedagte dat die Ou Testament ‘dag en nag’ gelees moes word, het tydens die harde vroeg-hellenistiese era (330-250 vC) ontstaan. Dit was die tyd toe ‘n nuwe spiritualiteit in Israel gestalte gekry het en die geloof verpersoonlik is. Spore daarvan kry ons nou nog in Psalms 1, 19 en 119.

En die hart van hierdie nuwe spiritualiteit was ‘n boek. Meer nog: geloof, geestelike groei is aan ‘n boek (die Tora of die Pentateug – dit is die boeke Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium) gekoppel. Hierdie ‘boekgodsdiens’ het ‘n totaal nuwe dimensie aan die geloofslewe verleen. Die persoonlike verhouding met God moes deur die Tora verinnig word. Anders gestel: die Tora was die ‘medium’ waardeur die ontmoeting tussen God en die gelowige moes plaasvind; die manier waarop God ervaar is (Hossfeld & Zenger 1993:45-49).

Die gelowige kon die woorde van die Tora vertrou: ‘want ek vertrou op u woord’ (Ps 119:43); ‘ek stel my vertroue in u gebooie’ (Ps 119:66); ‘By U skuil ek, U beskerm my, in u woord stel ek my vertroue’ (Ps 119:114). Wie dit gelees het, het blydskap ervaar: ‘Dit gaan goed met die mens … wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink’ (Ps 1:1-2). Wie op die woord vertrou het, kon op die toekoms hoop: ‘Ek sien verlangend uit na die vervulling van u belofte’ (Ps 119:82). Dit het riglyne vir die alledaagse lewe verskaf: ‘U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad’ (Ps 119:105). Oor en oor word van die liefde vir die woord vertel: ‘Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by’ (Ps 119:97); ‘U woord is baie suiwer, ek het dit lief’ (Ps 119:140). Wie die woord uitleef, is ‘n gelukkige mens: ‘Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die hele wêreld’ (Ps 119:14). Die Tora het rigting aan die lewe gegee: ‘ … ek (het) gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord’ (Ps 119:67) (vgl Albertz 1992).

Boekelys

  • Aland, B 1992. Marcion. TRE 22, 89-101.
  • Albertz, R. 1992. Religionsgeschichte Israels in alttestamentlicher Zeit, 1 & 2. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • Altaner, B 1951. Patrologie. Freiburg: Verlag Herder.
  • Bingener, R 2016. Der Gott des Gemetzels, Frankfurter Allgemeine, 22 Januarie 2016.
  • Borret, M 1976. Contra Celsum. Paris: Les Éditions du Cerf. (Sources Chrétiennes)
  • Braun, R 1990. Contre Marcion, I. Paris: Les Éditions du Cerf. (Sources Chrétiennes)
  • Braun, R 1991. Contre Marcion, II. Paris: Les Éditions du Cerf. (Sources Chrétiennes)
  • Braun, R 1994. Contre Marcion, III. Paris: Les Éditions du Cerf. (Sources Chrétiennes)
  • Braun, R 2001. Contre Marcion, IV. Paris: Les Éditions du Cerf. (Sources Chrétiennes)
  • Daniélou, J 1977. The origins of Latin Christianity. London: Darton, Longman & Todd.
  • Drobner, H R 1994. Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.
  • Frend, W H C 1984. The rise of Christianity. London: Darton, Longman & Todd.
  • Gangolf, G 2001. Harnack, Rade und Troeltsch, in Nowak & Oexle 2001, 85-102.
  • Hoffmann, R J 1982. Marcion: on the restitution of Christianity. California: Scholars Press.
  • Hossfeld, F-L & Zenger, E 1993. Die Psalmen, I. Würzburg. Echter Verlag.
  • Markschies, C 2001. Adolf von Harnack als Neutestamentler, in Nowak & Oexle 2001, 365-395.
  • Meijering, E P 1985. Die Hellenisierung des Christentums im Urteil Adolf von Harnacks. Amsterdam: North-Holland Publishing Company.
  • Meijering, E P 1986. F C Baur als Patristiker. Amsterdam: J C Gieben.
  • Nowak, K 2001.Theologie, Philologie und Geschichte, in Nowak & Oexle 2001, 189-237
  • Origenes, Contra Celsum. SC 227, in Borret.
  • Origenes, De Principiis. GCS 22, in Koetschau.
  • Pelikan, J 1971. The emergence of the catholic tradition. Chicago: University of Chicago Press.
  • Pelikan, J 1971. The emergence of the catholic tradition. Chicago: University of Chicago Press.
  • Rendtorff, T 2001. Adolf von Harnack und die Theologie, in Nowak & Oexle 2001, 397-417.
  • Rumscheidt, M 1989. Adolf von Harnack. Liberal theology at its height. Glasgow: Collins Publishers.
  • Schütz, W 1984. Der Christliche Gottesdienst bei Origenes. Stuttgart: Calwer Verlag.
  • Seeberg, R 1965. Lehrbuch der Dogmengeschichte. Darmstadt: WBG.
  • Slenczka, N 2013. Die Kirche und das Alte Testament, 83-119. https://www.theologie.hu-berlin.de/de/st/slenczka-die-kirche-und-das-alte-testament.pdf
  • Slenczka, N 2013. Die Kirche und das Alte Testament, 83-119. https://www.theologie.hu-berlin.de/de/st/slenczka-die-kirche-und-das-alte-testament.pdf
  • Söding, Th 2003. Der Kanon des Alten und Neuen Testaments zur Frage nach seinem Theologischen Anspruch, in J-M Auwers & H J De Jonge, The Biblical canons, XLVII-LXXXVIII. Leuven: Peeters.
  • Tertullianus, Adversus Marcionem, I. SC 365, in Braun 1990.
  • Tertullianus, Adversus Marcionem, II. SC 368, in Braun 1991.
  • Tertullianus, Adversus Marcionem, III. SC 399, in Braun 1994.
  • Tertullianus, Adversus Marcionem, IV. SC 456, in Braun 2001.
  • Von Harnack, A 1964. Lehrbuch der Dogmengeschicte. Darmstadt: WBG.
  • Von Harnack, A 1990. The Gospel of the alien God. Durham: The Labyrinth Press.
  • Zenger, E (red) 1998. Einleitung in das Alte Testament. Stuttgart: W. Kohlhammer.
  • Zenger, E (red) 2008. Einleitung in das Alte Testament. Stuttgart: W. Kohlhammer.
  • Zenger, E 1998. Heilige Schrift der Juden und der Christen, in Zenger (red) 1998, 12-35.
Share this / Deel hierdie: