Onder redaksie van Diek van Wyk, Coenie Nolte & Leon Atterbury

Volledige titel
Hier staan ek …
maar ek kan nie sê wie ek is nie (anonieme dominees)
en ek is nie alleen nie (name van predikante en lidmate van die Afrikaanse kerke)
Uitgegee deur
Griffel Media
Kaapstad, 2011
ISBN 978-1-920424-24-4

 

Inleiding
‘My geloof in God en vertroue op sy beloftes het my deur hierdie moeilike tyd gedra.’ Of, ‘Ek glo wat die Bybel sê, die Here sal sy kinders nooit in die steek laat nie.’ En nog, ‘Daar’s ‘n groter doel met alles. Ons verstaan nie nou nie, maar eendag sal ons weet dat die Here alles ten goede laat meewerk het.’
Woorde van troos en bemoediging?
Maar juis hierdie siening van God, geloof, en die Bybel het ‘n handjievol dominees en gemeentelede (en ek vermoed daar is meer) geruk, want skielik het hierdie woorde nie meer sin gemaak nie.
In Hier staan ek … vertel hulle hul verhale. Sommige (maar ek kan nie sê wie ek is nie) verkies om anoniem te bly. Ander (en ek is nie alleen nie) het die vrymoedigheid om hulself te identifiseer.
Wat is die vrae? Wat is die antwoorde? En waarheen nou?

Die Waarheid?

  • Die Bybel is die onfeilbare geïnspireerde Woord van God

So word die meeste Afrikaanse kinders gekatkiseer. Alles wat in die Bybel staan, is letterlik histories waar. Die waarheid is duisende jare gelede reeds vasgepen, deur God geïnspireer en onveranderlik vasgestel. Die Bybel bevat die enigste en finale waarheid, die gesaghebbende norm en die maatstaf waarteen alles getoets word. Jy vra nie vrae nie. Jy waag dit nie om die Bybel, die Woord van God en God se gesalfde, die dominee met kritiese vrae te peper nie. Indien jy dit doen, word jy stilgemaak, of jy word ‘n gemaklike, vertroostende antwoord gebied wat alle teenstrydighede sonder meer gelykstryk.

 

Die Vrae!

  • Lewenskrisisse

–      Jou eie verlede. Die bagasie wat jy sedert jou kinderdae saamdra. Humeur. Gevoelens van minderwaardigheid. Woede. En die bede – ‘Here, verlos my hiervan … ’ maar dit gebeur nie;

–      Hoekom is mense wat sê hulle is lief vir God, nie lief vir hulself nie? Hoekom is hulle so behep met hul eie sonde, en so onverdraagsaam teen die swakhede van andere?

–      Die magtelose woede van ‘n kind by sy pa se dood – hoekom het dit die Here behaag om ons Pappa weg te neem? Hoe antwoord die dominee hom?

–      Die teodisee-vraagstuk: hoekom bewaar ‘n liefdevolle God nie sy kinders nie? As Hy tot alles in staat is, hoekom tref die allerverskriklikste rampe diep gelowige mense?

–      Ly God nie dalk aan ‘n bi-polêre versteuring nie? Enersyds liefdevol, sonder veroordeling, andersyds ongenaakbaar, vergeldend, jaloers, wraaksugtig?

  • ’n Wrede God    

–      Die Ou Testament: oorloë wat in die Naam van die Here gevoer word. Nasies, mans vroue en kinders wat in die Naam van die Here uitgedelg word;

–      Die Nuwe Testament: kan ‘n liefdevolle genadige God dan net deur ‘n wreedaardige bloedoffer, en dit, die bloed van sy eie geliefde Seun gepaai word? Vir my sonde?

–      Watse God is dit wat net met bloed – mens en dier – tevrede kan wees?

  • Draai of braai

–      Geloof op angs gebou;

–      God hou boek van die kwaad, Hy sien alles, jy’s bang vir wat Hy aan jou kan doen;

–      As jy vannag doodgaan, waar gaan jy wakker word? Angs. Gered of nie gered nie, hemel of hel;

–      Hoe kan ‘n genadige liefdevolle God toekyk hoedat miljuisende opregte Hindoes, Boeddhiste, Jode en Moslems in die hel brand? Hulle wat nog nooit van Jesus gehoor het nie?

–      As jy nie glo dat Jesus vir jou sondes gesterwe het nie, is die hel jou voorland: vrees. Die hel word gebruik om jou in die hemel in te skrik.

  • Die wetenskap

–      Kan ‘n slang praat?

–      Is ‘n vrou uit ‘n man se ribbekas geskape?

–      Kan ‘n maagd swanger word? Regtig?

–      Kan iemand wat klinies dood was, weer lewendig word? Regtig?

[en veral Jesus se maagdelike geboorte en sy opstanding uit die dood word voorgehou as die toetssteen vir ware geloof, om die ketters van die opregte gelowiges te skei. Dit moet histories letterlik waar wees.]

–      Die Christendom is nie uniek nie. Ander godsdoenste het ook vloedverhale, verhale van god-mensfigure wat wonders doen, gode wat sterf en weer uit die dood opgewek word.

Antwoorde?
Die uitgangspunt dat die Bybel die enigste waarheid, die unieke onfeilbare Woord van God is, het vir die skrywers in Hier staan ek … meer vrae as antwoorde gebied. Sommige het seergekry. Die Kerk, en medegelowiges wat hulle gehoop het hulle sou ondersteun en bemoedig, het hulle die rug gekeer. Ander het stilweg besluit om nie oor hul geloofskrisis te praat nie, en gaan net nie meer kerk toe nie. Hulle vind antwoorde op lewensvrae eerder in die sielkunde of filosofie as in godsdiens en geloof.
Vervolgens is daar die mistieke sy van geloof. God is die ‘Groot Geheim’ en kan nie met die redelike verstand begryp word nie. Die mistiek help om die ongemak met die tradisionele Godsbeeld en tradisionele wyse van glo draaglik te maak in ‘n gemeentes waar mense op ‘n premoderne, moderne en postmoderne wyse glo, en almal saam in dieselfde diens sit. Ook op hierdie vlak is daar diegene wat heeltemal afstand gedoen het van die tradisionele Godsbeeld, en kies vir God as ‘n onpersoonlike, volmaakte alomteenwoordige Opperwese. Anders gestel, hulle handhaaf ‘n panenteïstiese beskouing oor God en die wêreld waarin ons leef.
By enkele skrywers is daar woede omdat die kerk van hulle verwag om alles wat in die Bybel staan vir soetkoek op te eet, terwyl dit in die globale post-moderne wêreld van vandag regtig nie moontlik is nie. In hierdie verband maak anonieme predikant A ‘n belangrike opmerking: deur die internet en kritiese teologiese boeke op die mark, is lidmate vandag teologies ingelig. Een of ander tyd gaan hierdie nuwere insigte die kerk inhaal …

Tradisie en fundamentalisme
Die Suid Afrikaanse teologiese landskap is ‘n slagveld, ‘n slagveld van gestorwe, gewonde en verwarde dominees en lidmate. Dit is hartverskeurend. Hartverskeurend, omdat godsdienstige tradisie en daarmee saam godsdienstige fundamentalisme vir eeue lank geseëvier het. Tradisie as sodanig is nie verkeerd nie, maar wel tradisie wat nie vrae vra nie en onkrities aanvaar word. In Suid Afrika het niemand dit gewaag om die Christelike tradisie te kritiseer nie, en die enkele kere wat dit wel gebeur het, het godsdienstige fundamentalisme toegeslaan. Fundamentalisme wat die godsdiens, geloof en God self met alle mag en mening verdedig, helaas, nie met argumente wat van teologiese diepgang getuig nie, maar met starre, liefdelose dogma.
Hierdie situasie is besig om sy tol te eis. Die leraars van tradisionele Afrikaanse kerke – en ook die pinkster- en charismatiese kerke – kan nie bevredigende antwoorde op hul eie en hul lidmate se kritiese vrae bied nie. Die Bybel as die enigste Waarheid, as die onfeilbare geïnspireerde Woord van God, blyk op wankelrige bene te staan.

 

 

En wat nou?
Tradisie is mooi en goed, maar tradisie moet homself teen argumente kan handhaaf ten einde te oorleef. Hoe is dit moontlik?
Met die uitgangspunt dat die Bybel die enigste Waarheid en die onfeilbare Wood van God is, het Suid Afrikaanse teologie die Bybel van sy historiese wortels afgesny. En dit is ‘n diepe tragedie. Want diepgaande teologiese eksegese staan nooit los van geskiedenis nie. Hiermee bedoel ek die geskiedenis van Ou Israel, maar nie in die letterlike historiese sin van die woord nie. Ek bedoel die geskiedenis van Ou Israel se tekste en die geskiedenis van hul interpretasie – want dít is die ‘Woord van God’.
By baie mense vandag bestaan die gedagte nog steeds dat die Bybel een lang koherente verhaal is: God se storie, naatloos, probleemloos, foutloos, en God self is die outeur. Dink maar byvoorbeeld aan Die Storie, ‘n boek wat nie so lank gelede nie verskyn het, en by baie gelowiges groot aanklank gevind het!
Groot is dan die skok om te ontdek dat die God van Jona en die God van Nahum direk teenstrydige opdragte gee. Of dat Esegiël en Jesaja dalk nie langs dieselfde vuur sou wou sit nie. Ook nie Petrus en Paulus nie.
Hoe nou? Selektief lees? Teksies kies wat my ‘kinderlik-naïewe’ geloof voed en in stand hou? Soos dat daar net een sentrale Waarheid is? Maar as volwassene – gelowige volwassene – is dit immers my plig om die hele Bybel te lees (ja, selfs die geslagsregisters) en alles wat daarin staan, ernstig op te neem. En nie te stuit voor ongemaklike vrae wat my geloof ruk nie, maar eerder – soos ‘n kind! – nie ophou te vra nie: hoekom, hoekom, hoekom? En glo my, kinders is selde indien ooit tevrede met maklike antwoorde!
Dan vind ek uit: die tekste in die Bybel het in verskillende historiese situasies tot stand gekom. Hierna is hulle voortdurend geïnterpreteer en geherinterpreteer (‘Fortschreibung’) om nuwe krisisse aan te spreek. En in die proses staan die tekste nie los van mekaar nie, maar tree met mekaar in gesprek – weerspreek mekaar selfs. Die Bybel eerder dissonant as harmonies. Grondige teologiese wetenskap moet wanklanke en breuke ernstig opneem en deurdringende (historiese) vra vrae, eerder as om alles met gerieflike dogma te probeer laat klop. Laasgenoemde soort teologie is waarmee ons in Suid Afrika vir te lank gepaai en gedreig is – en dit werk nie meer nie.

 

Slot
Hier staan ek … is ‘n boek waarin verskillende skrywers vertel waarom hulle nie meer op die tradisionele wyse kan glo nie. Hiermee wil hulle andere wat soos hulle voel, bemoedig. Hulle is nie alleen nie.
My hoop is egter dat die doel van die boek verder as bemoediging sal reik. Naamlik, dat predikante dit sal waag om diepgaande eksegese te doen en teologiese wetenskap van die kansels te verkondig. Die kerke loop leeg, omdat intelligente denkende lidmate soms teologies meer ingelig as hul predikante is. Of omdat predikante te bang is om te sê ‘waar hulle staan’.
Ongelukkig is ‘n wetenskaplike teologiese standplaas nie vas en seker nie; dis oop vir diskoers, vir die lewendige debat binne die ‘Woord’ self. Want só klink die Woord van die Lewe.

Share this / Deel hierdie: