Al hoe meer kom die vroeër sterker geskeide wêrelde van – verskoon die té growwe terminologie – die konserwatiewe en liberale Christendom nader aan mekaar.

Maar dalk ook nie…

Aan die een kant sien ‘n mens die groeiende gewaarwording (lank reeds daar, maar in mineur-tone) binne evangelikale kringe dat kritiese denke nie geloofsvervreemdend hoef te wees nie. Die rede kan geloof, kerk, sending en dies meer dien. Andersom gestel, sonder die rede word dié sake swak bedien. Saamgevat: ook die kop word deur God geroep.

Aan die ander kant kring die besef in liberale kringe al hoe meer uit dat om iets uit te sluit of te ignorer bloot omdat dit van evangelikale oord stam, is darem erg onliberaal. Soos die Sistematiese Teoloog Danie Veldsman dit ‘n keer insiggewend gestel het: waarom sou verdraagsaamheid net na links moet wees?

Al hoe meer word toenadering gevind. Dalk nie aldag doelbewus nie, maar as ‘n stadig-toenemende, natuurlike proses. Wat ook nie sonder historiese wortels is nie: die befaamde Sendingwetenskaplike David Bosch (1980:202-220; vgl. Kritzinger & Saayman 2011:120) het in die taal van drie tot vier dekades gelede al die skeidslyn tussen ‘evangelicals’ en ‘ecumenicals’ onhoudbaar gevind.

Sover dit die balans tussen hart en kop, oftewel geloof en rede, aangaan, vind dié twee vroeër sterker geskeide wêrelde mekaar dus makliker deesdae.

Soos met baie ander sake, is hier egter ook ‘n ‘maar’…

Máár: as dit kom by die lyflike, lê hierdie skeidslyn steeds sterk. Rondom seksuele denke, praktyke en selfs taal, bly die konserwatiewe en liberale Christendom (verskoon steeds dié ongemaklike terminologie) van tafel en bed geskei. Waar lg. stroom nuut dink-doen-praat – of minstens probeer – rondom seksualiteit/e, bly leiers uit Pentekostalistiese, Charismatiese en, ánders, Rooms Katolieke en Ortodokse kringe meestal staan by wat hulle sien as goeie ou weë.

Die onverwagte: binne die Pentekostalisme lê minstens deel van die impulse tot groter intellektualiteit in die seksskandale van die Amerikaanse televangeliste Jimmy Swaggert en Jim Bakker gedurende die 1980s en vroeë-‘90s. Die vrae het hulself aan ‘n jong geslag konserwatiewe, selfs fundamentalistiese, gelowiges opgedring: hoe kon dít gebeur het, en hoe kan dit in die toekoms ánders wees? Een van die maniere waarop na antwoorde gesoek is (en steeds gesoek word), is deur – vir dié groep nuwe – akademiese weë. En dit is hierdie geslag wat leierskapsposisies binne en buite kerklike omgewings begin inneem.

Op ‘n interessante manier lê in hierdie kringe dus, deels, die tradisioneel-behoudende beskouinge rondom die seksuele aan die gronde van die ontwakende waardering van die rede.

Ook in die 1980s het die Afrikaanse radiopersoonlikheid Fanus Rautenbach die spreekwoord ‘Hoe kaler jonker hoe groter pronker’ op sy slim manier gedraai tot ‘Hoe kaler jonker hoe stouter in die donker’. Kan dié kwinkslag hier nuut aangepas word, om ‘Hoe evangelikaler jonker…’ iewers by die rede uit te bring…?

Bibliografie

Bosch, DJ 1980. Witness to the world. The Christian mission in theological perspective. Atlanta: John Knox.

Feller, J & Lombaard, C 2016. Spiritual formation towards Pentecostal leadership as discipleship. Pharos Journal of Theology, einde 2016.

Kritzinger, JNJ & Saayman, W 2011. David J. Bosch: prophetic integrity, cruciform praxis. Pietermaritzburg: Cluster Publications.

 

Share this / Deel hierdie: