Daar is iets aan universiteitsopleiding wat nêrens elders te vinde is nie en waarsonder die teologie ook nie kan klaarkom nie. Wat hierdie ‘iets’ is, kan ‘n mens moeilik verwoord, maar dalk kan ons dit só omskryf: soos geen ander instelling staan ‘n universiteit op die voorpunt van die wetenskap, word daar intens oor wetenskapsteorie nagedink, beïnvloed en verryk vakdissiplines mekaar onderling en word studente so gevorm dat hulle lewenslank wetenskaplik met die lewe en hulle vak sal omgaan (vgl Meuleman 1991:1-27).

Die universiteit is die ruimte waar mense intellektueel vir ‘n beroep voorberei word. Anders gestel: dit is nie ‘n plek waar ‘n mens prakties opgelei en beroepstegnieke aangeleer word nie. Heidegger help ons nogal om hierdie onderskeiding te verstaan.

Twee soorte denke

Martin Heidegger het op ’n keer twee soorte denke onderskei: rekende denke en nadenke. Rekende denke fokus op beplanning, ordening, sistematisering, regulering, administrasie en organisasie. Alhoewel dié soort denke onontbeerlik is, is dit nie egte of eintlike denke nie. Alles draai egter om nadenke, diepdenke, kontemplasie oor ons wêreld en menswees. Teologie moet by laasgenoemde denktipe aansluit. Dít (teologie) is daarom nie in die eerste plek beplanning of organisasie of die formulering van praktiese reëls nie, maar nadenke, radikale nadenke en besinning (Heidegger 1998:).

Krities-wetenskaplike denke en universiteit hoort saam; is onlosmaaklik inmekaarverstrengel. En dit kan daar gebeur want die universiteit is ‘’n sentrum van vrye, onafhanklike ondersoek, ‘n agent van intellektuele en kulturele vernuwing en (die) bakermat van dié soort opvoeding wat inklusiewe, universele ervaring en ekspressie van menslikheid bevorder’ (Rossouw 1993:30); die universiteit is die ‘bakermat van nuwe kennis, van intellektuele kreatiwiteit en kritiese denke —  die dinge waarsonder ‘n vrye en ope samelewing self nie moontlik is nie’ (Rossouw 1993:48).

Die universiteit is dus die plek waar teologiese diepdenke ’n plek kry om te gedy en waar mense se lewens gevorm en omvorm word. En dít het vir die opleiding van predikante geweldige konsekwensies.

Hoe lyk die student na die studie?

Die kerk het inderdaad belang by die opleiding en die eindresultaat. Indien die kerk bloot net in praktiese vorming belangstel, is die universiteit dalk nie die regte plek nie. Indien die kerk egter universiteitsopleiding vir die bediening vereis, moet sy ‘n spesifieke ‘produk’ verwag wat radikaal van ‘n student met ‘n nie-universiteitsopleiding sal verskil (vgl Le Roux 1992:291-300). ‘n Universiteitstudent se intellektuele en wetenskaplike vermoëns word ontwikkel en mettergaan word navorsing ‘n kerndeel van sy/haar menswees en predikantskap. Die ‘gees van kritiese bevraagtekening (en) van verbeeldingryke vernuwing’, die dors na ‘avontuurlike ontdekking op die grense van die onbekende’ (Rossouw 1993:34), die vermoë tot ‘kritiese bevraagtekening’ (Rossouw 1993:43) asook ‘n ‘vrye, skeppende denke’ vorm die lewensbloed van teologiese opleiding aan ‘n universiteit (Rossouw 1993:73).

Dié soort opleiding ‘skep’ ‘n sekere soort student en predikant. En dié soort teologiese opleiding is so totaal anders as dié van ander opleidingsinstansies want daar is ‘n hemelsbreë verskil tussen ‘die opvoeding van beroepsbekwame intellektuele’ en ‘die afrigting van funksionele praktisyns’ nie (Rossouw 1993:17; vgl Van Niekerk 1993a:1-10;1993b:i-iv;1993c:1-43). Kortom: die kerk moet dus nie in die eerste plek studente met praktiese vaardighede verwag nie, maar mense wat intellektueel vir die bediening gevorm is (vgl Jaspers & Rossman 1961:62-100).

Geestelike groei en harde wetenskap

Vir sommige jong studente skep dié intellektuele eise egter ‘n ernstige ‘geestelike probleem’. Hulle meen te veel kennis ondermyn hulle ‘geestelike lewe’ en daarom moet teologiese onderrig eerder afgeskaal en die opleiding baie meer op prakiese sake afgestem word. Hulle het ‘n diepe behoefte aan geestelike groei en beleef die teologiese wetenskap dikwels as iets wat teenoor die geloof staan. Hulle sukkel om rede en geloof bymekaar te bring en sal nooit lewenslank teologie wil studeer nie.

Met hierdie vrae en bekommernisse moet groot erns gemaak word en een manier waarop dit hanteer kan word, is om tegelyk die vreugde van wetenskaplike verstaan en die vreugde van geloof te beklemtoon. Dié twee staan nie teenoormekaar nie, maar moet tot ’n eenheid gesmee word. Anders gestel: teologiese opleiding kan by hierdie behoefte aan geestelike groei aansluit en dit aan die teologiese wetenskap koppel. ‘n Student moet gehelp word om geestelik te groei deur middel van die toe-eiening van die teologiese wetenskap. Vir die jong student kan gesê word dat om jouself in die wetenskap te verloor net ‘n ander manier is om God lief te hê en jouself weer te herontdek; deur jouself resloos aan die teologie te wy, beteken om God, die mens en die wêreld nuut en anders te ervaar en te verwoord.

Geloof en verstaan

Ons kan bogenoemde met behulp van die Middeleeuse skolastiek illustreer. Die skolastiek wou die ‘ratio’ (die rede) gebruik om die geopenbaarde waarhede van die Skrif te verstaan, sistematies uiteen te sit en ‘n redelike grondslag daarvoor te verskaf. Anselmus van Kantelberg wou nie net glo en aanvaar nie, maar ook alles rasioneel begrond. Vir Anselmus was die ‘ratio’ nie iets afsonderlik wat teenoor die geloof staan nie, maar streef die geloof self ook na verstaan (‘fides quaerens intellectum’); wat geglo word, moet ook (met behulp van die rede) verstaan kan word; wat redelik verstaan word, is as ‘t ware die konsekwensie van die geloof (‘credo ut intelligam’). Vir Anselmus gaan dit dus hoegenaamd nie om ‘n koue rasionele verstaan van God of die geloof nie, maar om ‘n verstaan wat deur die geloof aangevuur word: ‘the quaerere intellectum is really immanent in fides’ (Barth 1962:16). Omdat ons glo, ‘we must hunger after the fidei ratio’ (Barth 1962:21; Busch 1976:206).

En wanneer iemand verstaan, is daar vreugde. Intense vreugde omdat dít wat die gelowige glo nou ook verstaan, begryp kan word (Barth 1962:17-19). ‘n Student moet dus byvoorbeeld deur middel van fyn tekswerk, moeisame woordstudie en langsame worsteling met Israel se geskiedenis spatsels van God kan raaksien en dít moet hom/haar gelukkig maak. ‘n Student moet byvoorbeeld deur intense studie van sistemantiese teologie, praktiese teologie of die kerkgeskiedenis geestelik kan groei. Hy/sy moet kan ervaar dat sy/haar geloof in God ook ’n ander kwaliteit móét toon: dit moet dors na verstaan, wetenskaplike verstaan en dat dié ‘intellegere’ (kennis, insig) ‘n diepe vreugde meebring.

Die kerk was van die begin af daar

Aan die begin van die twaalfde eeu was die kerk in Europa stewig gevestig en het daar ‘n groter dors na kennis en geleerdheid ontstaan. Aan hierdie begeerte is toe op ‘n besondere manier gestalte gegee. Skole, kerkskole is gestig waar mense hulle ongestoord aan die wetenskap kon wy. Die belangrikste was Sint Victor, ‘n Augustynse klooster in Parys en een van dié skool se roemryke ‘professore’, Hugo of Hugo van St Victor, het ‘n heel nuwe siening van die wetenskap gehad. Volgens hom moes die jong priesters hulle volledig aan geleerdheid, ook ‘sekulere geleerdheid’, gewy het. So kon kennis van die natuurwetenskappe hulle byvoorbeeld help om hulle wêreld beter te verstaan en dié insigte kon weer tot ‘n dieper nadenke oor God en ‘n kontemplasie van die werklikheid lei. Volgens Hugo moes die priesters alles bestudeer alhoewel hulle eers later die sin daarvan sou verstaan. Hy was vol lof vir die destydse kurrikulum en vakke, die sogenaamde ‘vrye kunste’ of ‘artes liberales’; die ‘trivium’ (grammatika, retorika en dialektiek) asook die ‘quadtrivium’ (rekenkunde, musiek, geometrie en astronomie). Deur harde studie en die verinnerliking van hierdie vakke kon, so het Hugo geglo, God se beeld in die mens herstel word. Teologiese studie het dus groot geestelike waarde (Reventlow 1990:175; De Lubac 1998:211-267).

Uit die kerkskool het die universiteit gegroei. In ongeveer 1170 het die Paryse universiteit onstaan en dit het die deeglike wetenskapsbeoefening van St Victor voortgesit. Die ontstaan van die Middeleeuse universiteite was ‘n grootse gebeurtenis in die westerse geskiedenis. Dit het die Middeleeuse samelewing radikaal verander. Mense het al hoe meer van ‘n groter wêreld bewus geword, het meer vertroue in hulle eie denkvermoë ontwikkel en het meer krities-wetenskaplik met die Bybel en die wêreld omgegaan (Tarnas 1991:169).

En die wonderlike is dat alles as ‘t ware ware in die skoot en aan die boesem van die kerk gebeur het. Op ‘n heel unieke wyse het die kerk die groot ondersteuner, borg en beskermer van wetenskaplike kennis en intellektuele vorming geword. Deur middel van die kerk is die Middeleeuse mens se intellek geslyp en het die destydse wetenskap ‘n besondere diepte bereik. Deur die kerk se toedoen het universiteite ontstaan en het die wetenskap gedy. Al dié bemoeienis met die wetenskap het die kerk ook verander. Dit het meer wêrelds geword in die sin dat dit uit eeue lange afsondering getree en die sekulêre wetenskap en kennis omhels het; so omhels het dat hierdie kennis die kerk gehelp het om krities oor haarself na te dink (Dahan 2000:180-195).

‘n Natuurlike spanning

Uiteraard het universiteitsteologie ook tot groot spanning gelei. Anders gestel: universiteit en klooster het gou teenoormekaar te staan gekom (vgl Köpf 2000:148-179). Bernardus van Clairvaux (1090-1153) byvoorbeeld het hierdie spanning tussen klooster en universiteit intens aangevoel. Hy het gemeen dat die kloosterspiritualiteit van meer waarde was as die dinge wat die jong priester op universiteit moes leer; dat die gevoel en wil vir die jong novice in die klooster belangriker was as die universiteit se voortdurende klem op die rede en die vorming daarvan; dat die direkte mistieke ervaring van God vir die jong kloosterling soveel meer as die intellektuele vorming aan die universiteit beteken het. Kortom: Bernardus was bekommerd dat die geloof voor die rede sou swig en dat wetenskaplike kennis die geloof sou doodmaak .

‘n Mens sien sy teologie mooi in sy kommentaar op Hooglied. Dit is ‘n kommentaar wat ‘n mens nou nog kan lees want sy kyk op die mistiek en die bruidsmistiek is tog boeiend. Bernardus het die bruid in Hooglied op die siel (en nie die kerk of Mariavereerders nie) betrek en volgens sy bruidsmistiek is die liefde tot Christus as ‘n huwelik beskryf; ‘n huweliksverhouding tussen die bruidegom (Christus) en die bruid (die siel). Vir die Bernardus was hierdie mistieke, geestelike, praktiese kloosterteologie baie dieper, ryker, voller as die universiteit en die wetenskap (vgl Leonardi 2000:180-195; Evans 2000: 237-260).

Spanning tussen geloof en rede, praktyk en kritiese wetenskap is as ‘t ware in enige teologie of universiteitsteologie ingebou. Dít gaan nooit opgelos word nie en dit moet ook nie. Daar moet altyd gesprek en besinning hieroor wees en nooit moet kerk en teologie hulle eie paaie loop nie. Hulle is onlosmaak aan mekaar verbonde. En hoe ‘n mens nou ook al hierdie spanning verwoord, die kerk se byna onverbreeklike band met wetenskap, kennis, geleerdheid is eintlik wondermooi en van die wonderlikste teologie het juis in hierdie wetenskaplike dampkring ontstaan

Universiteitsopleding maak saak

Van die begin af was die universiteit of dan die teologiese fakulteit die plek, die ruimte waar die geloof se dors na intellektuele verstaan bevredig kan word. Uiteraard kan ‘n mens enige plek teologie studeer, maar die kerk het nou eenmaal die universiteit as die ruimte vir teologiese besinning gekies en daarmee by ‘n lang tradisie sedert die begin van die universiteitswese en ook die Reformasie aangeknoop (Solte 1982:788-790). En volgens dié tradisie was universiteitsonderrig onontbeerlik vir die bediening.

Dit word mooi geïllustreer deur ‘n besondere weddenskap wat tussen twee Duitse vriende, Franz Burckhardt en George von Boyneburg, op 20 Oktober 1538 in London aangegaan is. lndien Burckhardt sou wen, sou hy van die ander party 112 goue gulde ontvang het. Boyneburg sou op sy beurt 122 goue gulde en ‘n papegaai ontvang indien die uitslag in sy guns beklink sou word. En die saak waaroor gewed is, was die geleerdheid van Luther. Vir hulle het die saak van die Reformasie daarvan afgehang of Luther teen 1517 reeds oor ‘n doktorsgraad beskik het of nie. Hierdie weddenskap illustreer iets van die Middeleeuse (en ook reformatoriese) denke oor die waarde van universiteitsonderrig. So hoog is dit geag dat as Luther nie oor ‘n doktorsgraad beskik het nie, was sy woorde blote lekepraatjies en nie waardig om ernstig geneem te word nie. Slegs as geleerde kon hy die ware geloof toegelig en die ketters bestry het. Slegs as ‘doctor theologiae’ kon hy geldigheid vir sy reformatoriese insigte opeis.

Sonder geleerdheid sou sy werk nie veel waarde gehad het nie. Sonder ‘n doktorsgraad was Luther ‘n ‘indoctus’ en sy werk dié van ‘n ongeleerde. Die twee vriende het terstond aan die Universiteit van Wittenberg geskryf en Luther, wat sedert 1538 die dekaan was, het die nodige dokumente verskaf waarin verklaar is dat hy reeds in 1512 ‘n ‘doctor theologiae’ was (Posthumus-Meyjes 1973:21,24). Hierdie eenvoudige voorval beklemtoon dat universiteitskwalifikasies in die teologie vir die kerk sedert die Reformasie nogal belangrik was. Bewustelik of onbewustelik het die kerk by hierdie tradisie aangeknoop en sy opleiding aan die universiteit vasgemaak. Kortom: die weg na die bediening loop vir die teologiestudent deur die universiteit, die teologiese fakulteit en harde teologiese studie (vgl De Villiers 1975:100-159; Ferreira 1972:1-45).

Slot

Die verbondenheid van wetenskaplike teologiese opleiding aan ‘n universiteit kom ‘n ver pad en dit is iets waarvoor ons ons altyd moet beywer. Dit is goed vir die kerk en die samelewing, maar dit stel ook groot eise. Onder andere sal ons altyd ons plek aan ‘n universiteit moet verdien deur denke en wetenskaplike arbeid.

Bronne

  • Barth, K 1962. Anselm. Fides quaerens intellectum. Cleveland/ New York: The World Publishing Company.
  • Barth, K 1964. Die Kircliche Dogmatik, I/1. Zürich: EVZ-Verlag.
  • Busch, E 1976. Karl Barth. London: SCM, Press.
  • Dahan, G 2000. Genres, forms and various methods in Christian exegesis of the Middle Ages, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 180-195.
  • De Lubac, H 1998. Medieval exegesis, vol 1. Grand Rapids: William B Eerdmans.
  • De Villiers, D R 1975. Teologiese Opleiding vir Wit en Swart deur die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika. Pretoria 1975.
  • Evans, G R 2000. Masters and disciplines: aspects of Christian interpretation of the Old Testament in the eleventh and twelfth centuries, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 237-260.
  • Ferreira, I L 1979. Die Teologiese Seminarium van Stellenbosch, 1858-1963. Pretoria: Makro Boeke.
  • Heidegger, M 1998. Zijn en tijd. Nijmegen: SUN.
  • Jaspers, K & Rossman, K 1961. Die ldee der Universität. Heidelberg: Springer Verlag.
  • Köpf, U 2000. The institutional framework of Christian exegesis, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 148-179.
  • Le Roux, J H 1992. Op die breuklyn. NGTT 33/3, 291-300.
  • Leonardi, C 2000. Aspects of Old Testament interpretation in the church from the seventh to the tenth century, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible/ Old Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 180-195.
  • Meuleman G E 1991. Theologie aan de universiteit. Gereformeerd Theologisch Tijdschrift 91/1, 1-27.
  • Meuleman, G E 1984. De theologie als habitus en als doctrina volgens enkele vertegenwoordigers der oudprotestantse orthodoxie. Gereformeerd Theologisch Tijdschrijt 84, 221-247.
  • Paget, James N.B.C. 1996. The Christian Exegesis of the Old Testament in the Alexandrian Tradition. Pages 478–542 in Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • Posthumus Meyjes, G H M 1973. Het doctorenambt in Middeleeuwen en Reformatie. Rondom het Woord 3, 21-45.
  • Reventlow, H.G. 1990. Epochen der Bibelauslegung. Vom Alten Testament bis Origines, vol 1. München: C.H. Beck.
  • Rossouw, H W 1993. Universiteit, wetenskap en kultuur. Kaapstad: Tafelberg.
  • Solte, E-L 1982. Fakultäten, Theologische. Theologische Realenzyklopädie X.  Berlin: De Gruyter.
  • Tarnas, R 2000. The passion of the western mind. London: Pimlico.
  • Van Niekerk, A & Esterhuyse, W 1993. Intellektueel in konteks. Pretoria: RGN.
  • Van Niekerk, A 1993a. Ter inleiding, in Rossouw 1993, 1-10.
  • Van Niekerk, A 1993b. Voorwoord, in Van Niekerk & Esterhuyse, i-iv.
  • Van Niekerk, A 1993c. Wetenskap, kultuur en universiteit in die denke van Hennie Rossouw, in Van Niekerk & Esterhuyse, 1-43.