Die soeke na identiteit is nie ‘n nuwe ding nie, maar is deel van menswees en sy/haar soeke na sin en betekenis. In elke tyd en elke konteks word anders en nuut daaroor gepraat. Dikwels verskil mense oor die manier waarop hulle oor hulself moet praat en daarom dink verskillende groepe verskillend oor wie en wat hulle is. In elke tyd en konteks is daar dus verskikllende identiteite wat as ‘t ware langs mekaar bestaan en wat mekaar moet verdra. Dit het ook gebeur na die ballingskap en in die Persiese tyd toe die na-eksiliese gemeente in Jerusalem in die provinsie van Jehud oor hulself gewonder het. Om antwoorde te kry het hierdie mense opnuut oor Abraham se betekenis begin nadink. In hulle lewendie herinneringe aan hulle verlede het die figuur van Abraham ‘n belangrike rol gespeel en in die na-eksiliese tyd herinterpreteer verskillende groepe in Jerusalem hom op so ‘n manier dat hy vir hulle tyd nuwe betekenis kry (Hagedorn 2011:39-66; Ben Zvi 2013:3-37).

Die lewe was nie maklik nie

Jesaja 40 begin met die vreugde dat die ballingskap verby was en dat die ballinge kon huistoe gaan. Dít het in die jaar 538 vC gebeur. Die Perse het die Babiloniërs oorwin en het gemeen dit sou beter wees indien die ballinge teruggaan. Dit sou ‘n elk geval baie goedkoper wees en die eerste groep het waarskynlik al in 538 in Jerusalem aangekom, maar daar was geen helde-ontvangs nie. Daar was klaarblyklik spanning tussen die mense van Jerusalem en die ballinge. Die Jerusalemmers het agtergebly toe die ander in ballingskap weggeneem is en oor die jare het die kloof tussen hulle net groter geword (Blenkinsopp 2011:461-482).

Dié spanning en swaarkry sien ons nie altyd raak nie omdat ons die terugkeer uit ballingskap te idealisties of dan te romanties verstaan. Ja, hulle het in 538 vC teruggekom, maar hulle wêreld het intussen heeltemal verander. Jerusalem was ‘n puinhoop, die tempel ‘n ruïne, die paleis aan flarde en daar sou nooit weer ‘n koning wees nie. Profete sou ook minder word en soos die tye aangestap het, het die magsbalans na die priester oorgeskuif. Een van die eerste groot probleme na die terugkeer, was die bou van die tempel. Tydens die ballingskap het Esegiël sy visie vir ‘n nuwe tempel geformuleer (Esg 40-48) en die terugkerendes wou onmiddellik begin, maar die mense van Jerusalem wou nie. Daar was waarskynlik spanning hieroor want hulle het eers in 520 vC, agtien jaar na die eerste ballinge teruggekom het, met die tempelbou begin. Kortom, die mense wat uit ballingskap teruggekom gekom het, het ‘n intense gevoel van diskontinuïteit ervaar (Römer & Brettler 2000:408-409).

Daar was ook iets anders wat gekrap het en dit was die vraag na identiteit. Wie was hierdie klein ou groepie mense wat in moeilike omstandighede met hulle lewens moes aangaan. Hulle was ingeprop in ‘n gebied van twintig, dertig kilometer rondom Jerusalem in die provinsie van Jehud. Rondom hulle was ander nasies en Israel moes leer om met hulle of sommige van hulle saam te leef. Dit was nie so maklik nie en die mense van Jehud moes veel oor hulle identiteit gewonder het. Hulle wêreld was weg, of dan die ouwêreld waarvan hulle ouers hulle in ballingskap vertel het. Hulle was nou een van vele ander nasies en hoe moes hulle oor hulself dink? En hoe moes oor die ander volke gedink word? (Frevel 2008:673-678).

En dit was toe dat hulle Abraham, die figuur uit hulle vroeë geskiedenis opnuut ontdek het en hom vir hulle tyd en konteks nuut geherinterpreteer is. Abraham sou hulle help om oor hulself en hulle identiteit te praat.

God is groot en daarom moes identiteit inklusief wees

Daar was ten minste twee denkstrome in verband met tyd. Volgens die een moes groot oor God en die wêreld gedink word terwyl die ander een baie meer vanuit die eie wêreld gedink het en spore van albei sien ons veral in Genesis 15 en 17 (vgl Köckert 2013). Ons let eers op laasgenoemde. Van al die sogenaamde Pentateugbronne J, E, D en P het P of die Priesterskrywer oorleef en in Genesis 17 hoor ons sy/hulle stem wat oor God se grootheid en mag oor alle nasies praat (Otto 1997:1-50). Al word dit nie so genoem nie, handel Genesis 17 oor twee stede, Hebron en Jerusalem. As mens na ‘n kaart van die Persiese Ryk kyk, val dit op dat Hebron nie deel van Jehud was nie. Dít was die woonplek van die Arabiere en die Ismaeliete wat radikaal van Israel in Jerusalem en Jehud verskil het (De Pury 2000:163). Die dilemma was egter dat Abraham in Hebron begrawe was. Hebron die plek waar die ander nasies gewoon het. En toe het ‘n kwelvraag ontstaan: Kon die Jode of Israel die graf van Abraham in ‘dié vreemde plek’ besoek of nie? Was God ook buite die eng mure van Jerusalem en Jehud te vind (vgl Köckert 1988:166–177).

Die Priesterskrywer los dan die probleem op ‘n briljante manier op deur van Abraham se ander seun te vertel; die seun wat hy by Hagar ‘n Egiptiese slavin verwek het. Sy naam was Ismael en Abraham was lief vir dié seun. In Genesis 17 word van die besnydenis as teken van die verbond vertel en die interessante is dat almal besny word. Ismael en al die ander mans wat deel van Abraham se huishouding was. Almal was deel van die verbond en almal het in die seën van die verbond gedeel. Abraham word in Genesis 17 ‘n soort ‘ekumeniese figuur’ wat talle volke aan hom verbind en daarmee het P die kwelvraag van die Jerusalemmers beantwoord: hulle kon Hebron sonder gewetenskwelling besoek want die mense wat daar woon, was deel van die Abraham-Hagar-Ismael-lyn wat ook in die verbond van God gedeel het (De Pury 2000:177).

Volgens P moes dus groot oor God gedink word. Soos P ook in Genesis 1 vertel, word God in Genesis 17 as groot en almagtig beskryf; dieselfde God wat hemel en aarde gemaak het, regeer oor alle volke; ook die volke buite die grense van Jehud en daarom laat hy hulle (volgens Gen 17) ook in sy verbond met Abraham deel. Vir die mense wat soos P gedink het, het identiteit verby die eie groep geloop en het ook ander ingesluit (Gerstenberger 2005:138). Anders gesê: in die formulering van identiteit is die ander nie net uitgesluit nie; het die gevoel van die eie identiteit nie alles oorheers nie, maar was die ander (die mense van Hebron) ook deel van hoe hulle oor hulself gedink het. Die nageslag van Ismael was ook deel van die mense wat in Jerusalem en in Jehud gewoon want vir albei groepe was Abraham hulle vader (vgl Ziemer 2013:386-388).

Die ware Israel is klein

Daar was ook ander siening wat identiteit enger gedefinieer en die spore daarvan kry ons in Genesis 15 (vgl De Villiers 2015). Volgens dié mense moes identiteit slegs in terme van Abraham se nageslag omskryf word. Die verhaal begin met Abraham se moedeloosheid oor sy kinderloosheid en God wat sy belofte deur middel van ‘n verbond bevestig (Römer 1989:32-49). Abraham sou inderdaad nog ‘n groot nageslag word. Interesant is egter hoe die skrywer die verhaal vertel (Mühling 2011:56). Dit is asof die toekoms van Israel voorspel word en identiteit streng net aan Abraham se nageslag gekoppel word. Geen ekumeniese Abraham meer nie, maar die vader van die Abraham-Sara-Isak-Jakob-lyn. Israel se identiteit word beskryf in terme van Abraham se nageslag wat dieselfde geskiedenis deel: die geskiedenis van die verdrukking in Egipte, die omswerwinge in die woestyn, die ervaring by Sinai en die beloofde land. Hierdie gedeelde geskiedenis moes die mense in die Persiese tyd in Jehud en Jerusalem se identiteit geslyp en gevorm het. Ismael was nie deel hiervan nie want hy was anders omdat hy deel van die Abraham-Hagar-lyn was (Levin 2013:216-230).

Bogenoemde is so tipies van Israel. In die Ou Testament is daar altyd verskillende stemme wat soms teenoor mekaar staan, maar wat geduld word. Dít sien ons ook in Genesis 15 en 17. Daar word ons van mense vertel wat worstel en daar was nie een antwoord nie, maar verskillende moontlikhede. Elke groep moes net opreg worstel want met verloop groei mense nader aan mekaar.

Bronnelys

  • Albertz, R., 1992, Religionsgeschichte Israels in alttestamentlicher Zeit, Vol 1, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • Albertz, R., 2001, Die Exilszeit: 6. Jahrhundert v. Chr., W. Kohlhammer, Stuttgart.
  • Ben Zvi, E., 2013, ‘The memory of Abraham in Late Persian/ Early Hellenistic Yehud/ Judah’, in V. E. Edelman & E. Ben Zvi, Remembering Biblical figures in the late Persian and the early Hellenistic periods, pp. 3-37, Oxford Press, Oxford.
  • Blenkinsopp, J., 2011, ‘Judaens, Jews, Children of Abraham’, in O. Lipschits, G. N. Knoppers & M. Oeming (eds.), Judah and the Judaeans in the Achaemenid period, pp. 461-482, Eisenbrauns, Winona Lake, Indiana.
  • De Pury, A., 2000, ‘Abraham: The Priestly Writer’s “Ecumenical” Ancestor’, in S. L. McKenzie and T. Römer (eds), Rethinking the Foundations: Historiography in the ancient world and the Bible, pp. 163-181, Walter de Gruyter, Berlin.
  • Frevel, C., 2008, ‘Grundriss der Geschichte Israels’, in E. Zenger (ed.), Einleitung in das Alte Testament, Kohlhammer, Stuttgart.
  • Gerstenberger, E. S., 2005, Israel in der Perserzeit, W. Kohlhammer, Stuttgart.
  • Hagendorn, A. C., 2011, ‘The absent presence: Cultural responses to Persian presence in the Eastern Mediterranean’, in O. Lipschits, G. N. Knoppers & M. Oeming (eds.), Judah and the Judeans in the Achaemenid period, pp. 39-66, Eisenbrauns, Winona Lake, Indiana.
  • Köckert, M., 1988, Vätergott und Väterverheissungen, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.
  • Köckert, M., 2013, ‘Vom “Urgestein” der Väterüberlieferung zum “theologischen Programmtext” der späten Perserzeit’, Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaft, 125(1), 25-48.
  • Levin, C., 2013, ‘Jahwe und Abraham im Dialog: Genesis 15’, in C. Levin Gesammelte Studien zum Alten Testament, Vol 2, pp.80-102, Walter De Gruyter, Berlin.
  • Mühling, A., 2011, Blickt auf Abraham, euren Vater, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.
  • Otto, E., 1997, ‘Forschungen zu Priesterschrift’, Theologische Rundschau, 62, 1997, 1-50.
  • Römer, T. & Brettler, M.Z., 2000, ‘Deuteronomy 34 and the Case for a Persian Hexateuch’, Journal of Biblical Literature, 119 (3), 401–419.
  • Römer, T., 1989, ‘Genesis 15 und Genesis 17’, DBAT, 26, 32-49.
  • Schaper, J., 2011, ‘Torah and identity in the Persian Period’, in O. Lipschits, G. N. Knoppers & M. Oeming (eds.), Judah and the Judeans in the Achaemenid period, pp. 27-38, Eisenbrauns, Winona Lake, Indiana.
  • Ziemer, B., 2005, Abram–Abraham, Walter de Gruyter, Berlin.
  • Ziemer, B., 2013, ‘Die aktuelle Diskussion zur Redaktionsgeschichte des Pentateuch und empirische Evidenz nach Qumran’, Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaf 125(3)3, 386–388.
  • Zimmerli, W., 1979, Ezekiel, Vol 1, Fortress Press, Philadelphia.

 

 

Share this / Deel hierdie: