Inleiding

In ons hedendaagse wêreld besit ieder en elk die een of ander vorm van ‘n identiteitsdokument, oftewel ‘n ID-boekie. Dit vertel van jou wettige bestaan as landsburger, waar jy gebore is, of jy getroud of ongetroud is, hoeveel keer jy in jou land gestem het, en getuig daarvan dat jy tot op hede binne die wette van jou land gelewe het. Sonder ‘n ID boekie kan jy niks doen nie: jy kan nie stem nie, jy kan nie belangrike transaksies aangaan nie, jy kan nie ‘n rekening opmaak nie, jy kan nie aansoek doen vir ‘n paspoort as jy wil reis nie. Jou ID-boekie bewys jy as’t ware jou bestaan. ‘n Mens se identiteit kan nie betwis word nie.

Ook in antieke samelewings was identiteit belangrik. Vreemdelinge, buitestaanders is meestal as ‘n bedreiging gesien, en daarom was identiteit iets wat deurgaans beskerm moes word. In die vorige teo-bydrae oor xenofobie is kortliks verwys na die rol wat herinneringe en etnisiteit in terme van groepsidentiteit gespeel het – vervolgens gaan hierop uitgebrei word.

Groepsidentiteit

  • Herinneringe

Herinneringe, stories. In die bydrae oor xenofobie is opgemerk dat ‘n sterk gevoel van groepsverbondenheid teweeg gebring word wanneer mense hulself en hul groep in terme van ‘n gemeenskaplike verlede identifiseer, hulle vertel stories oor wie hulle is en waar hulle vandaan kom. Kortom, dit is die groep of volk se geskiedenis Ben Zvi 2011:100; Lau 2011:175; Southwood 2012:20). Deur die geskiedenis onthou volksgenote al daardie mense en gebeure wat daartoe bygedra het om van hulle ‘n unieke volk te maak, ‘n volk wat anders as al die ander volke is. Gemeenskaplike herinneringe bind ‘n gemeenskap aan mekaar. Só ‘n gemeenskap kan ‘n ‘onthou-gemeenskap’ genoem word (Ben Zvi 2011:100). Dit is die positiewe, selfs romantiese beeld wat stories en herinneringe oproep.

Sulke vertellings uit die verlede is egter nie veronderstel om feitelik en histories waar te wees nie, maar is meestal denkbeeldig en ideologies van aard. Wat eintlik gebeur is dat ‘n kontemporêre – gewoonlik ‘n problematiese – situasie ‘n antwoord op ‘n probleem soek; probleem en antwoord daarop word vanuit die verlede verhaal. Geskiedenis, soos wat dit vertel word, het nie in die eerste plek op werklike gebeure uit die verlede betrekking nie, maar lewer kommentaar op die hede. Geldende norme – dit wat die gemeenskap dink wat reg en goed is, of wat behoort te wees – word na die verlede terug geprojekteer; geskiedenis – die sogenaamde kollektiewe herinneringe, bied eintlik ‘n verwronge beeld want dit wil eintlik net ‘n huidige gemeenskap se ideologieë en waardes geldig verklaar en ondersteun.

In terme van identiteit, legitimeer geskiedenis die identiteit van ‘n volk; geskiedenis kan nie anders as om van helde en skurke te vertel nie; geskiedenis posisioneer ‘ons’ teenoor ‘hulle’ waar ‘hulle’ ‘ons’ op die een of ander wyse probeer het om ‘ons’ te na te kom. Geskiedenis, gemeenskaplike herinneringe is nooit neutraal nie, dis nooit ‘n feitelike verslag van gebeure en datums nie. Geskiedenis is geïnterpreteerde gebeure, en die doel is om aan ‘ons’ ‘n meesternarratief – gemeenskaplike herinneringe – te verskaf. Daardeur ontwikkel ‘ons’ ‘n gevoel van samehorigheid, en ‘n begrip van ‘n unieke identiteit – ‘ons’ teenoor ‘hulle’.

  •  Etnisiteit

Etnisiteit is ook kortliks in die afdeling oor xenofobie bespreek. Kortliks is die volgende genoem: ‘etnies’ is ‘n term wat nie in antieke tale bestaan nie maar ‘n begrip is wat uit moderne antropologie ontleen word. Nogtans is dit ‘n nuttige begrip om ook na antieke samelewings te kyk en te probeer verstaan hoe volke hulself identifiseer en van ander volke onderskei het. Etnisiteit word meestal met ras of bloedverwantskap in verband gebring, en as ‘n soort biologiese gegewe aanvaar. In die eerste plek is daar iets soos ‘n DNA wat bepaal dat mense wat in terme van ras en afkoms aan mekaar verwant is, dieselfde herkenbare gelaatstrekke en dieselfde velkleur sal hê, en dat hulle dieselfde taal sal praat.

Hieruit vloei voort dat groepe wat so nou aan mekaar verbonde is, ook dieselfde godsdienstige oortuigings sal hê, en dieselfde kulturele gewoontes en gebruike handhaaf soos besnydenis, dieet, ensovoorts. ‘n Groep se identiteit het te make met voorkoms, oortuiginge en gebruike, met ander woorde, wanneer mense etnies aan mekaar verwant is, lyk hulle na mekaar, verstaan mekaar, en glo en doen dieselfde dinge (Berquist 2006:54; Southwood 2012:19; Edelman et al 2012:17; Schweitzer 2013:21-22). Groepe konstrueer dus hul identiteit op hul genealogiese afkoms, en hul etnisiteit onderskei hulle van ander groepe wat anders lyk, anders glo en anders doen. Maar weereens is etnisiteit alles behalwe ‘n kliniese, neutrale onderskeid tussen volke.

  •  Grense en stereotipes

Wanneer groepe hulself in terme van hul etnisiteit identifiseer, is dit ‘n onvermydelike gevolg dat hulle grense rondom hulself trek. ‘Ons’ teenoor ‘hulle’. Daar word veral van kategorieë gebruik gemaak om uitdrukking aan hierdie verskille te gee. ‘Ons’ baken daardie kenmerke af wat ‘ons’ met mekaar deel, wat ‘ons’ uniek en anders as ‘hulle’ maak. Die resultaat is gewoonlik ‘n persepsie van eksklusiwiteit wat meestal ook met ‘n gevoel van superioriteit gepaard gaan (Rom-Shiloni:2011:130). Sekere etniese kenmerke, soos fisiese voorkoms, gewoontes en gebruike word uitgelig en oorbeklemtoon om daardeur te bevestig dat een groep radikaal anders as ‘n ander is; die ‘ander’ kry ‘n etiket en word as ‘n stereotipe – meestal van ‘n negatiewe aard gesien (Lau 2011:175). Veral groepe wat negatief teenoor mekaar staan, is geneig om van etikette en stereotipes gebruik te maak om daardeur hul eie eksklusiwiteit te bevestig.

Grense wat groepe rondom hulself trek en die kategorieë wat hulle gebruik om te kenne te gee dat hulle beter as ander groepe is, is dikwels nie suiwer op etnisiteit gegrond nie. Grense is dikwels kunsmatig en word doelbewus gemotiveer, juis wanneer die onderskeid tussen groepe nie so duidelik is nie. In werklikheid is ‘hulle’ nie soveel anders as ‘ons’ nie; die groot probleem is eintlik dat ‘hulle-amper-soos-ons’ is. Daarom bedink, selekteer en radikaliseer ‘ons’ sekere (etniese) kategorieë om verskille te simboliseer sodat ‘ons’ genoeg rede het om ‘hulle-amper-soos-ons’ radikaal anders te beskou en van ‘ons’ af te grens. Biologies, etnies en kultureel gesproke, is ‘hulle’ identiteit in wese baie naby aan ‘ons’ s’n, maar ‘hulle’ is net te naby, en hierdie nabyheid is vir ‘ons’ ongemaklik, en ‘ons’ beleef dit selfs as ‘n bedreiging. Daarom trek ‘ons’ denkbeeldige grense om ‘hulle-amper-soos-ons’ uit ons ruimte te verban (Brenner 2011:85-85; Stulman 1990:631-632).

  •  Die Hebreeuse Bybel, herinnering en etnisiteit

Israel vind sy identiteit in stories. Stories van Abraham, Isak, Jakob, die onderdrukking in Egipte en bevryding uit die huis van slawerny. Mooi stories. Gedeelde herinneringe. Ons het swaargekry, dit was ‘hulle’ teen ‘ons’. Die Here het ‘ons’ teen ‘hulle’ gehelp. Etnies gesproke is die kinders van Israel almal die kinders van die vaders – Abraham Isak, Jakob en die twaalf stamme. Maar dis nie heeltemal so vanselfsprekend nie.

In die Hebreeuse Bybel word die ideologieë waarmee herinneringe en etnisiteit deurdrenk is, maar al te duidelik wanneer dit by Israel en die ‘nasies’ kom. As voorbeeld kan ons kyk na Deuteronomium 7:1 waar die ‘nasies’ gelys word met wie Israel nie mag vermeng nie: Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Hierdie verse probeer ‘n sterk grens rondom die identiteit van Israel teenoor die nasies te trek. Sommige van die nasies, soos die Hetiete, was werklik volksvreemd, maar die ander is almal van Kanaänitiese herkoms. In Genesis 9:24 word Noag se kleinseun Kanaän en sy nageslag vervloek oor wat die pa, Gam gedoen het.

Deuteronomium 23:3 verbied Ammoniete en Moabiete om lid van die ‘gemeente van die Here’ te word. Die rede wat aangegee word, is dat hulle – dit is eintlik die Moabiete – nie vir Israel met kos en water tydens hul deurtog deur die woestyn voorsien het nie en vir Bileam gehuur het om die kinders van Israel te vervloek (v 4). Genesis 19: 30-38 vertel egter die storie van wat gebeur het nadat Sodom en Gomorra verwoes is. Lot, Abraham se broerskind gaan bly in ‘n grot met sy twee dogters, die enigste oorlewendes van die ramp. Die meisies is bekommerd dat daar nie vir hulle mans gaan wees om ‘n nageslag te verwek nie, en hulle neem sake in eie hande. Hulle maak hul vader dronk en verkeer seksueel met hom al om die ander aand. Die oudste se kind is Moab, die voorvader van die Moabiete en die jongste s’n is Ben-Ammi, die voorvader van die Ammoniete.

Die Kanaäniete en verwante volke, asook die Moabiete en Ammoniete is in wese etnies aan die Israeliete verwant. Stories maak hulle egter anders. Stories gee redes waarom die Israeliete niks met hulle te doen mag hê nie. Etnies gesproke is ‘hulle-amper-soos-ons’ en daarom moet ‘ons’ redes vind waarom ‘ons’ niks met ‘hulle-amper-soos-ons’ te doen wil hê nie.

Slot

Herinneringe, en afkoms is glad nie so onskuldig soos wat dit lyk nie. Die stories in die Hebreeuse Bybel spreek van ‘n komplekse proses van identiteitsvorming in die geskiedenis van Israel. Wanneer baie van hierdie stories teen die agtergrond van die posteksiliese tydperk gelees word, is dit duidelik dat daar verskillende belange op die spel was. Uiteindelik word Israel se identiteit nie deur etnisiteit nie, maar deur stories bepaal.

Bronne

  • Ben Zvi, E 2011. ‘On Social Memory and Identity Formation in the Late Persian Yehud. A Historian’s Viewpoint with Focus on Prophetic Literature, Chronicles and the Deuteronomistic Historical Collection.’ Paginae 95-148 in Jonker, L (red), Texts, Contexts and Readings in Postexilic Literature. Tübingen: Mohr Siebeck.
  • Berquist, JL 2006. ‘Constructions of Identity in Postcolonial Yehud.’ Paginae 53-66 in Lipschits, O & Oeming, M (red). Judah and the Judeans in the Persian Period. Winona Lake: Eisenbrauns.
  • Brenner, A 2011. ‘Ruth: The Art of Memorizing Territory an Religion.’ Paginae 82-89 in Clines, DJA & Van Wolde E (red), A Critical Engagement. Essays on the Hebrew Bible in Honour of J. Cheryl Exum. Sheffield: Sheffield Academic Press.
  • Edelman, DV, Davies, PR, Nihan, C & Römer, T (red) 2012. Opening the Books of Moses. Sheffield : Equinox Pub.
  • Lau, PHW 2011. Identity and Ethics in the Book of Ruth. A Social Identity Approach. Berlin: De Gruyter.
  • Rom-Shiloni, D 2011. ‘From Ezekiel to Ezra-Nehemiah: Shifts of Group Identities within the Babylonian Exile Ideology.’ Paginae 127-151 in Lipschitz, O, Knoppers GN & Oeming, M (red), Judah and the Judeans in the Achaemenid Period. Winona Lake: Eisenbrauns.
  • Southwood, KE 2012. Ethnicity and the Mixed Marriage Crisis in Ezra 9-10. An Anthropological Approach. Oxford: Oxford University press.
  • Stulman L 1990. ‘Encroachment in Deuteronomy: An Analysis of the Social World of the D Code.’ JBL 109/4: 613-632.
Share this / Deel hierdie: