Libanon, land van die Fenisiërs, Baälbek, Beirut en seders

[Hierdie artikel het reeds in 2005 op die ou webblad van teo.co.za verskyn.]

Op die middaguur van ‘n warm dag in April 2004 gaan ons die grens tussen Sirië en Libanon oor om die land van die seders te verken – ons laaste Midde-Oosterse bestemming. Die Republiek van Libanon is ‘n klein landjie langs die Middellandse See, tussen Sirië en Israel. Topografies is dit al beskryf as “‘n berg wat in die see stort”, want feitlik teenaan die see, plek-plek minder as 20 kilometer ver, verrys die indrukwekkende Libanonberge. Die Anti-Libanonreeks, wat parallel met die Libanonreeks loop, vorm die Oosgrens, en skei die woestynagtige Sirië van die waterryke Libanon. Ingeklem tussen die twee bergreekse is die Beka-vallei. Daaroor weldra meer.

Die naam Libanon kom van die Arabiese woord loubnan, wat “wit” beteken, en verwys na die sneeu wat vir die grootste deel van die jaar op die Libanonberge lê. Die land word 75 maal in die Bybel genoem, meestal in verband met haar rykdomme in die vorm van oorvloedige water, sederhout, wyn en vrugbare valleie. Soveel so, dat Moses God smeek om die volk te laat trek na “daardie goeie land oorkant die Jordaan, die goeie bergland en die Libanon” (Deuteronomium 3:25).

Maar dit is juis die “goeie” van die land wat daarvan so ’n begeerlike én konflikgeteisterde stukkie aarde maak. Die verskeidenheid van godsdiensgroeperinge (Christene, Shiïete, Soenniete, Druze, en meer nog) wat hier woon, dra natuurlik grootliks daartoe by. Vir 17 jaar, van 1975 tot 1992, het Libanon een van die langste en bloedigste burgeroorloë in die moderne geskiedenis beleef, wat nie ‘n enkele mens of dier, straat of huis, ongeskonde gelaat het nie. 150 000 Libanese lewens is verloor. Wie kan ooit die destydse persfoto’s van ‘n oorlogvernielde Beirut vergeet? Ons jong gids vertel: “We like guns in Lebanon; we live with it; it is part of us”. Vandag is dit veilig om hier te reis. Net die Israelse grens in die Suide is verbode terrein, omdat koeëls nog soms oor die grens verdwaal. Die talle hyskrane wat deel van die hedendaagse Beirut se silhoeët vorm, getuig van ‘n land in die proses van heropbou.

Ons kom die land van die Oostekant, uit Sirië binne, sodat ons eers die Anti-Libanonreeks moes oor. Voor ons lê die breë groen Beka-vallei wat lyk soos ‘n enorme tuin. Dit is die graanskuur en voedselmandjie van Libanon. Onder in die vallei vloei die Orontesrivier Noordwaarts en die Litani Suidwaarts. Tot onlangs was die vallei ook die papawerskuur van Libanon, waar hashish en papawers (gekamoefleer in sonneblomlande) verbou is om die internasionale dwelmmarkte van opium en heroïen te voorsien. Gerugte wil dit hê dat die land se wapens uit die dwelmhandel befonds word, maar ons gids verseker ons dat die bedrywighede vandag streng beheer word.

Ons bestemming was Baälbek in die Noorde van die Beka-vallei, vandag die indrukwekkendste Romeinse terrein in die Midde-Ooste. Oorspronklik was dit ‘n florerende Fenisiese stad gewy aan die Baälkultus (vandaar die naam van die stad), maar die Grieke het dit herdoop na Heliopolis, die Sonstad. Geleë op ‘n hoogte, was dit volgens ‘n tradisie wat ook in die Ou Testament bekend is, ‘n heilige plek waar religieuse seremonies plaasgevind het. Teen die einde van die eerste eeu na Christus het die Romeine die “Groot Tempel van Jupiter” hier opgerig. Van die tempel het net ses reusagtige pilare van 22 meter hoog en 2.2 meter in omvang, behoue gebly. Op die foto, regs hierbo (kliek daarop om die foto te vergroot), staan ek verdwerg langs die konstruksie. Dit is die grootste pilare ter wêreld, en hoe hulle staangemaak is, bly ‘n misterie. Die tempels van Bacchus (groter as die Parthenon in Athene) en Venus het oor die jare gevolg. Met die koms van die amptelike Christendom teen 330 na Christus was die bouery nog nie klaar nie, en Konstantyn het ‘n einde daaraan gemaak en ‘n basilika in die middel van die terrein opgerig, waarvan net reste vandag oorgebly het. Die enorme bouwerke van Baälbek laat ‘n mens gestroop van enige sweem van grootheidswaan. Maar is dit hoe religie moet lyk?

Die reisiger in Libanon word altyd daaraan herinner dat die Libanese afstammelinge van die Fenisiërs was – een van die grootste antieke beskawings in die Levant. Sedert 3 000 voor Christus het hulle die kusstrook van die moderne Libanon bewoon, en met hulle sederhout-skepe het hulle die handel in die Middellandse See-gebied oorheers. ‘n Mens kan die seevaartbedrywighede visualiseer as jy die mooi verhaaltjie lees van Hiram, koning van Tirus, se onderneming met Salomo om die sederhout uit die Libanon met vlotte na Israel te vervoer vir die bou van die tempel (1 Konings 5). Hierdie mense was natuurlik verwant aan die Kanaäniete, en het die El-Baäl-Astarte-Ashera-panteon gedeel.

Ons volgende bestemming, die hoofstad Beirut, is een van die Fenisiese hawestede.

Ons eerste indruk van Beirut, terwyl ons afdaal van die berg se kant af, was dié van ‘n prentjiemooi hawestad teen die agtergrond van die mistige blou see. Maar die skok was groot om van naderby die wonde van die oorlog te sien: oral geboue wat soos ou kant vol gate geskiet is en nog bewoon word. Die stadsentrum wat totaal vernietig was, word vandag teen ‘n verstommende pas herbou, en die straatkafees en moderne boetieks en ‘n bruisende energie wys dat die stad op pad is om weer, soos vroeër, die Parys van die Midde-Ooste te word. In ‘n stad sonder verkeersligte, speel Mercedesse en BMW’s spoedspeletjies in die strate, terwyl kerkklokke en die roep van die muezzin elektronies teen mekaar kompeteer. In die Nasionale Museum is ook restourasiebedrywighede sigbaar. Baie van die ou Fenisiese artefakte staan nog rond in kratte, waarin dit tydens die oorlog verpak was, en die beton wat die sarkofae van die Fenisiese heersers beskerm het, word nog versigtig deur argeoloë afgekap. Terwyl van ons dié aand met volmaan langs die see stap, filosofeer ons oor Beirut as toonbeeld van die tragedie wat godsdiensonverdraagsaamheid meebring.

Die volgende dag vertrek ons na Bcharré, ‘n bergdorpie bo in die Libanonberge, waar die oudste seders groei en waar ons die nag sou slaap. Die pad is steil en volg die kontoere van die Kadisha-vallei wat diep deur die berg sny. Oral is dorpies met rooi teëldakke en kloosters van die Maronitiese Christene teen die berghange gebalanseer. Al die watervalle herinner my aan Hooglied 4:15: “Fontein van die tuine, put van lewende water wat van die Libanon afvloei”.

Meteens ry ons deur sneeu van amper ‘n meter diep, en toe is ons in die sederwoud waar al die bome met ‘n sneeukombers bedek is! Mooier kan ‘n mens hulle nie tref nie. Hier is nog twaalf ou reuse van ‘n duisend jaar oud, wat vandag omhein is en soos goud opgepas word. Ons besoek ook die Gibranmuseum, want die mistikus Kahlil Gibran van The Prophet-faam was ‘n inwoner van Bcharré. Die aand in die hotel word besluit dat ‘n mens nie die Midde-Ooste kan verlaat sonder om ‘n teug aan ‘n waterpyp te neem nie, en so sluit ons ‘n sneeu-koue dag in die berge af met ‘n borrelende waterpyp wat die rondte doen.

Die laaste dag besoek ons die historiese Biblos, Tirus en Sidon, al drie belangrike hawestede van die Fenisiërs. Vandag lyk hulle soos ons kusstede, met breë wit(terige) strande waar kinders in die water speel en ma’s wat in abbeyas geklee toesig hou. Biblos word onthou vir die Fenisiese alfabet wat hier ontwikkel is en die skrifstelsel van die wêreld verander het. Sidon is bekend vir die murex-skulpe uit die see waarvan die purperkleurstof van antieke tye vervaardig is. Tirus is in die Suide, naby die Israelse grens. Ons ry verby uitgestrekte Palestyne vlugtelingkampe waar duisende inwoners in haglike omstandighede bly. Tirus was Isebel van Samaria se tuisdorp – onder koning Hiram die sterkste Fenisiese stadstaat, bekend vir sy prag en rykdom. Van hier het die Fenisiese seevaarders vertrek om Kartage in Noord-Afrika in besit te neem. Tirus was altyd ‘n gesogte teiken, en het vele oorloë deurleef. In ‘n televisieprogram, op die geskiedenis-kanaal, is onlangs gewys hoe Aleksander die Grote in sy veldtog teen Tirus die stad van die see se kant af ingeneem het deur ‘n landbrug te bou tussen ‘n eiland buite die hawe en die stad.

My Midde-Oosterse reisverhaal is klaar. In die namiddag vertrek ons na Beirut se lughawe, oorweldig deur indrukke van vreemde en, tog, “bekende” plekke. Ek sien weer die Libanese vlag: twee rooi horisontale stroke met ‘n breë wit strook in die middel, en ‘n groen sederboom op die wit strook. Rooi vir die bloed wat gevloei het; wit vir vrede en die sneeu op die Libanon. Die seder is vandag ‘n heilige boom, en beliggaam die natuurbronne wat Libanon se geskiedenis gestuur het: die see, die berge, die sneeu, die valleie en die fonteine van dié mooi land.

Bibliografie
Friedman, T 1995. From Beirut to Jerusalem. London: Harper & Collins.
Gibran-museumgids 1999.
Lebanon (The Golden Book) 2002. Italy: Editoriale Bonechi.
Pinta, P 1997. De Libanon reisgids. Rijswijk: Elmar.

Share this / Deel hierdie: