Sirië, land van Damaskus, Aleppo, Ugarit en Palmyra

[Hierdie artikel het reeds in 2005 op die ou webblad van teo.co.za verskyn.]

Ons het nou lank, té lank ná die verskyning van die eerste aflewering oor Jordanië, op die grens van Sirië vertoef. Dit het tyd geword om die ‘wieg van die beskawing’ te verken.

Die Siriese Arabiese Republiek lê op die Noord-Westelike draai van die ou Vrugbare Halfmaan, en was nog altyd die Oos-Wes handelskorridor van die Midde-Ooste. Die besit van Sirië was essensieel vir enige wêreldmag wat die are van die geskiedenis wou beheer. Dit is ‘n land van kontraste, met ‘n mooi stukkie Mediterreense kus en die dorre Siriese woestyn na die Ooste; die Suid-vloeiende Eufraatrivier en die Noord-vloeiende Orontes, met die gepaste benaming “Ongehoorsame Rivier”, omdat dit die reisiger lelik kan disoriënteer. ‘n Land met twee van die oudste stede ter wêreld, Damaskus en Aleppo, wat nog dig bewoon word, en waar vroue geklee in swart abbeyas saam met modieuse stadsvroue op die sypaadjies skouers skuur. ‘n Onopgesmukte land sonder toeristeglans, met ’n eie karakter en ‘n ryk geskiedenis wat oor baie millennia strek.

Om in die stemming van Sirië te kom, moet ‘n reis deur dié land in die wonderlike ou hoofstad, Damaskus, begin.Van Damaskus het Mark Twain gesê: “She measures time not by days and months and years but by the empires she has seen rise and crumble to ruin. She has seen all that ever occurred on earth and still she lives.” Inderdaad, want ons ken Damaskus uit die Bybel as hoofstad van die Aramese ryk, koninkryk van Hasael en Ben-Hadad, wat slaags was met die konings van die Noordryk van Israel. En Naäman, die Arameër, wat meer in die genesende krag van die Abanarivier (vandag die Barada) geglo het as in die troebel water van die Jordaan (2 Kon. 5). Damaskus is uitgelê teen die hange van die anti-Libanonberge, langs die Barada, wat vandag geensins minder troebel is nie!

Damaskus is ‘n metropool met ses miljoen inwoners, maar in die ou stad het die tyd stil gestaan. Die ou stad se betowering lê in die eeue-oue straatjies en winkeltjies van die suqs of die basaars, waar die swaar geur van koffie, speserye en water-pype in die lug hang. Hier word luidrugtig oor pryse geknibbel – ‘n fyn kuns wat ons gou moes aanleer. Een doolhof van straatjies staan in Arabies bekend as “die plek waar die aap sy kind verloor het”, soveel hoekies en draaitjies is daar. Die bekende Reguitstraat waar Paulus in die huis van Ananias geskuil het, is vandag nog die ou stad se hoof Oos-Wes deurgang. Die drie kilometer-lange straat dateer uit die Griekse besetting van Damaskus in 332 v.C., en is ‘n oorblyfsel van die Grieke se deeglike stadsuitleg volgens ‘n straatblokplan. Vandag is dit ‘n besige enkellaan-straatjie met oorhang-balkonnetjies, en omtrent so reguit soos ‘n reënboog!

In die ou stad is die Ummayad-moskee. Dié asemrowende struktuur van wit marmer en goue minarette, massiewe brons deure, kandelare en mosaïekpanele wat die sonlig in skakerings van geel opvang, is saam met die al Aqsa in Jerusalem, die belangrikste monument van Islam. Drie millennia gelede was dit ‘n heiligdom van die Kanaänitiese god Hadad, daarna ‘n Romeinse tempel en ‘n Christelike kerk (Johannes die Doper se kop word binne bewaar!). Met skoene in die hand en ons van die vroulike geslag in bruin abbeyas geklee, het ons die heilige ruimte met stil ontsag betree. Maar die atmosfeer was heel gesellig. Groepe vroue sit op die vloer en gesels, en mans bestudeer saam die Koran of bid in die rigting van Mekka, terwyl die duiwe vrolik rondvlieg. Damaskus se museum is onbeskryflik, en bewaar veral vondste uit Ugarit en Mari – maar dit sal moet wag vir ‘n ander keer, want ons spasie is beperk hier en die reis het skaars begin.

Noord van Damaskus is Ma’alula, ‘n pragtige bergdorpie waar die inwoners nog ‘n dialek van Aramees praat. In ‘n piepklein Bisantynse kerkie ervaar ons ‘n Godsontmoeting as ‘n jong Katolieke vader vir ons die Onse Vader in Jesus se Aramees bid. Vir my het die klooster van Thecla ‘n entjie daarvandaan nogal geraak, omdat Thecla se geskrifte deur ons studente bestudeer word en dié dapper jong vroulike martelaar, ‘n leerling van Paulus, vandag nog ‘n inspirasie in eie reg is.

Langs die pad besoek ons ook die antieke slagveld van Kadesh, op die Orontes, waar die historiese slag tussen die Hettiete (vandag Turkye) onder Muwatallis en die Egiptenare onder Ramses ll in 1300 v.C. om die beheer van Noord-Sirië plaasgevind het. Die geveg is met ‘n vredesverdrag beslis, maar vandag nog is die tonele van Egipte se “oorwinning” op Ramses se propaganda-panele in ou Tebes, in Egipte, te sien. Die verloop van die interessante slag is op die internet te lees, en ek het ‘n Hollandse weergawe in romanvorm raakgeloop.

Homs, naas Damaskus en Aleppo die derde grootste stad in Sirië, sou ons oorslaapbestemming wees, vanwaar ons Noord-Sirië verken het. Ons is na die indrukwekkendste van alle kruisvaarderkastele in die Midde-Ooste: Krak des Chevaliers, gebou op ‘n heuwel in die Homs-breuk, die enigste opening in die anti-Libanonbergreeks waardeur handelskaravane van die kusstede die Siriese binneland kon bereik. Vanuit die massiewe dubbel-versterkte mure het ‘n garnisoen van tweeduisend man met hulle perde vir twintig jaar lank (tot 1271) die omgewing oorheers, handelsware gebuit, en Moslem-aanvalle afgeweer.

Vandaar is ons verder Wes na die terrein van Ugarit by die dorpie Ras Shamra, op die Siriese kus. Ugarit is elke Ou-Testamentikus se droom, want dit is die rykste bron van inligting oor die Kanaänitiese kultuur en mitologie, wat so ‘n diepgaande invloed op die godsdiens van ou Israel gehad het. Dit was ‘n aardige gevoel om te staan by die fondamente van die Baältempel uit die Laatbronstydperk en die stoorkamers waar die tablette gevind is waarop die mites van Baäl, Mot, El, Anat en Ashera in ‘n nuwe alfabetiese spykerskrif geskryf was. Altyd sal die fees van veldblomme wat die ruïnes van die antieke stad getooi het, my bybly as herinnering aan die vrugbaarheidskultus van die ou Kanaäniete.

En dan Apamea. Die ry suile van Apamea se cardo maximus het ons al van ver afgeteken teen die laatmiddaglug gesien. Die Grieks-Romeinse stad is in die derde eeu v.C. deur Seleucus 1, een van Aleksander die Grote se generaals, aangelê op die vrugbare grasvlaktes van Al Ghab. Hier is die perde en olifante van die Griekse kavallerie geteel. Die stad se goue eeu het aangebreek na 64 n.C., onder Romeinse bewind, en toe is die skouspelagtige twee kilometer-lange hoofstraat met sy pilare aan weerskante gebou. Die diep spore van perderytuie in die keistene is nog sigbaar, en ‘n mens kon jou voorstel hoe Markus Antonius en Cleopatra hier gery het toe hulle saam die stad besoek het. Toe was daar beelde en winkeltjies op die sypaadjies agter die suile, maar dié dag het jong seuns in die skemer vanagter die suile verskyn om artefakte van die opgrawingsterreine teen swartmarkpryse te verkwansel. Soms duik outentieke silinderseëls só op, wat moeilik is om te weerstaan!

Vandaar is ons Noord om in Aleppo oor te slaap. Aleppo is Sirië se tweede grootste stad, met 3½ miljoen inwoners (40% is Christene), en is net so oud soos Damaskus, maar tog anders. Aleppo se suqs vibreer ook, en in die museum is bekende ou stukke wat jou asem wegslaan, soos die beeld van Mari se fonteinvrou uit 1300 v.C., maar hier het die Weste ‘n stempel afgedruk toe die stad nog die eindbestemming van die beroemde Orient Express was. Bekende reisigers soos Agatha Christie en TE Lawrence het altyd in die Baron Hotel tuisgegaan (Agatha Christie, omdat haar man, die argeoloog Max Mallowan, in die 1930’s in Noord-Sirië opgegrawe het). In die Baron ervaar ‘n mens ‘n koloniale swier (nou ietwat vervalle) wat nie verander het van die dag toe die gaste vertrek het nie. Selfs Lawrence se onbetaalde kroegrekening is nog op die toonbank te sien. Ook Aleppo se tuine en koffiewinkels en sjokolade- en koekiewinkels is so keurig soos in enige Europese stad.

Ek wou nog vertel van Hama op die Orontes en die enorme hout-waterwiele, of norias, wat al vir 600 jaar met ‘n onaardse gekreun soos dié van dors kamele, water vir die stad uit die rivier skep. En van die wonderskone basilika van Sint Simeon, Noord-Wes van Aleppo, wat in 490 n.C. oor die 18 meter hoë pilaar gebou is, waarop Simeon die Askeet vir 40 jaar gebly en gepreek het. Sy vrouehaat het meegebring dat hy vroue op sig van bo-af met die dood vervloek het, en ten minste een arme vrou het op dié manier die lewe gelaat!

Maar dan het ek nie uitgekom by die eintlike rede waarom ek op die toer gegaan het nie, en dit is Palmyra, die oasestad van die Siriese woestyn. Palmyra (Tadmor, in Arabies) word saam met Petra en die piramides genoem as een van die wonderterreine van die antieke wêreld. Ons moes weer Suid ry na Homs om die woestynpad na Palmyra te kry. In die middel van nêrens, tussen Damaskus en die Eufraatrivier (Sirië se Oostelike grens), ín die harde steppe-woestyn, is ‘n groen woud van palmbome wat gevoed word deur sterk ondergrondse fonteine. Vanaf die 19de eeu v.C. was dié oase ‘n oorstaanplek vir karavane uit Mesopotamië en China (met syware) oppad na die Fenisiese hawens. Vandag bestaan die terrein uit indrukwekkende ruïnes van ‘n Romeinse stad uit die tweede eeu wat oor tien kilometer versprei is, met die massiewe Tempel van Bel en die cardo maximus wat daarheen lei. Die verhaal van Zenobia, die koningin-heerser van Palmyra, sal moet wag vir ‘n ander keer.

Soveel tydperke en beskawings is in Sirië vasgevang. ‘n Mens kan net hoop dat die skatte nie in die toekoms deur die toeristebedryf (of militêre ingryping) bederf sal word nie. Volgende keer, Libanon…

Bibliografie
Jordanië
Donner, H 1995. The mosaic map of Madaba. Kampen: Kok Pharos.
Khouri, R 1989. Art and history of Jordan. Italy: Bonechi.
Queen Noor, 2004. Leap of faith: Memoirs of an unexpected life. London: Phoenix. (Koningin Noor is die jong Amerikaanse vrou van Koning Hoessein wat in 1999 aan kanker gesterf het)

Sirië
Burns, R 1999. Monuments of Syria. An historical guide. London: Tauris.
Haydar, J H Ugarit: History and Archaeology. Plaaslike publikasie.
Jacq, C 2002. Ramses. De slag by Kadesj. Amsterdam: Poema-Pocket.
Lovell, M S 1996. A scandalous life. The biography of Jane Digby. London: Harper Collins.

Share this / Deel hierdie: