Jordanië, land van Madaba, Nebo en Petra

[Hierdie artikel het reeds in 2005 op die ou webblad van teo.co.za verskyn.]

In Maart/April 2004 het ek die geleentheid gehad om saam met prof Fanie Vermaak van Unisa ‘n Midde-Oosterse toer na Jordanië, Sirië en Libanon mee te maak – lande wat vroeër deel gevorm het van die Bybelse leefwêreld. Die eerste aflewering van die reisberig vertel van Jordanië, oftewel die land “oorkant” of “Oos van die Jordaan”, soos die Ou Testament daarna verwys.

Jordanië, land van Madaba, Nebo en Petra

Om 8h00 die oggend van 24 Maart verlede jaar, het Emirates se vliegtuig neergestryk op die lughawe van Amman, hoofstad van die Hasmitiese koninkryk van Jordanië. Haleikum! Welcome!, groet die Jordaniese gids in die bus. Dit was die eerste dag, en ons vertrek suidwaarts op die ou Koningsweg op pad na Madaba, Nebo, al-Kerak en Petra waar ons sou oornag – dieselfde Koningsweg wat in die Bybelse tyd reeds die hoof-handelsroete tussen Arabië en Damaskus was. Wat óns die dag teëgekom het, was Amerikaanse oorlogsvoertuie met toerusting, op pad na Irak van die hawe van Aqaba!

Die pad kronkel al langs die vrugbare plato van die Oosbank. Die Jabbok-, Arnon- en Zeredriviere, vandag met Arabiese name, sny diep ravyne in die rand van die plato in hulle weswaartse vloei na die Jordaanvallei. Die Jordaan en die Dooie See lê ver onderkant ons aan die regterkant, en links strek die steppe-woestyn tot by die grens van Sirië, Irak en Saoedi-Arabië. My gedagtes gaan na Jordanië se verweefdheid met die Bybelse geskiedenis. Ons ry immers deur die land van die Ammoniete (tussen die Jabbok en die Arnon) met hulle hoofstad Rabbat-Ammon, vandag Amman, en het arme Uria nie met die beleg van dié stad sy lewe verloor nie? Binnekort sou ons die Arnon oorsteek na ou Moab (tussen die Arnon en die Zered), met Kir-Hareset (vandag al-Kerak) as hoofstad. Hier op die muur van die ou stad, berig 2 Konings 3, het Mesa, die koning van Moab, sy seun geoffer. Ek dink aan Rut van Moab, en wonder hoe die vroue deur die rivier gekom het? Met dié obstruksie het die Israeliete darem hulp gehad toe hulle volgens oorlewering van hier die beloofde land binnegegaan het. Maar ons bestemming is in die hartland van die geslag van Esau, in Edom, wat van die Zered tot by die Golf van Aqaba gestrek het. In die Seïrgebergte van ou Edom wag Petra.

Eers draai ons regs af na Madaba. Die dorp gee ‘n moeë indruk maar het ‘n lang geskiedenis gehad, want dit word op die Mesa-steen genoem, en volgens Josua 13 is Medeba een van die stede wat aan die twaalf stamme toegeken is. Die groot toeriste-aantreklikheid is natuurlik die indrukwekkende mosaïekkaart op die vloer van die Grieks-Ortodokse kerk van Sint George. My hart mis ‘n slag toe die bekende ou kaart voor ons voete lê, baie groter as wat ek gedink het. Dis erg beskadig en die kleure is dof van ouderdom en rommel wat vir honderde jare daarop gelê het, na ‘n vlaag van ikonoklasme gedurende die Ottomaanse bewind wat vanaf 1600 tot 1918 geduur het. Van die oorspronklike 93 vierkante meter het net 30 behoue gebly. Madaba was in die Bisantynse tyd (400-700 nC) ‘n florerende stad en ‘n biskopsetel van die Roomse kerk. Waarskynlik rondom 565 het kunstenaars van die plaaslike mosaïekgilde die merkwaardige akkurate kaart van sesde eeuse Palestina, met Jerusalem opsigtelik as middelpunt, op die vloer van ‘n katedraal uitgelê. Soos met enige padkaart, was die doel daarmee om pelgrims in te lig oor waar om die heilige plekke van die Heilige Land te vind. Die mooi daarvan is dat die pelgrims met hulle kaal voete, want dit was heilige grond, op die paaie van die kaart kon loop. Dit is in 1884 ontdek toe Christene van al-Kerak, na ‘n struweling met die Moslem-inwoners, na die vervalle Madaba verhuis het. Terwyl hulle besig was om op die ruïnes van die ou kerke nuwe plekke van aanbidding te bou, is die merkwaardige ontdekking gemaak. Hier het ek ‘n kersie aangesteek vir die kaalvoet-pelgrims en hulle passie om God se heilsgeskiedenis te herbeleef, want ten slotte is dit wat die kaart wou uitbeeld.

Tien kilometers verder op die Madabapad in ‘n Westelike rigting, is die berg Nebo, op die rand van die plato, hoog teenoor die noordelike punt van die Dooie See. Op ‘n helder dag, wat ons nie beskore was nie, kan ‘n mens die Dooie See en glo selfs die kerktorings in Jerusalem sien. Nebo het groot simboliese betekenis vir Jode en Christene, en van my reisgenote kon nie genoeg foto’s van hulleself laat neem by die groot swart kruis wat die plek aandui waar Moses sou gesterf het terwyl hy die beloofde land aanskou het nie.

Twee uur later nader ons al-Kerak langs die Koningsweg. Die dorp en omgewing word verdwerg deur een van die Jordaniese kruisvaarderkastele. Ek was bewus van dié vestings in die Midde-Ooste – ‘n ry van hulle is in die twaalfde eeu van Aqaba tot in Turkye opgerig – maar was nie voorbereid op die massiewe grootte van Qasr al-Kerak nie. Gebou in 1132 deur die Frankiese koning Boudewyn (Baldwin) op die plek van die Moabitiese Kir-Hareset, het die vesting die karavaanhandel langs die Koningsweg gekontroleer en die Heilige Land teen Moslem-invalle beskerm. Terwyl ons deur die massiewe, koue konstruksie stap, hoor ons van die skrikbewind wat die kruisvaarders in die naam van Christus gedurende hulle eeu van oorheersing in die Midde-Ooste gevoer het, en ons sien die hoë bastionne vanwaar gevangenes afgegooi is.

Laatmiddag arriveer ons in die dorpie buite Petra waar ons oorslaap om vroeg die volgende oggend die stad in te gaan. Soveel woorde is al oor Petra geskryf, maar niks kan reg laat geskied aan die emosies wat die Nabatese stad by ‘n mens oproep nie. Ons stap deur die siq, n twee kilometer-lang smal kloof in die Wadi Musa, met hoë rotswande wat plek-plek bo ons koppe wil toemaak. In 1963 het drie en twintig toeriste in die siq verdrink toe die wadi hulle met ‘n watervloed verras het! Die afwagting is voelbaar voor ‘n mens om die laaste draai uit die skemerlig van die siq ‘n eerste blik op die bekende fasade van die Khazneh kry. Die reusagtige graftombe is soos al die monumente in Petra – wonings, tempels en graftombes – uit soliede sandsteen gesny. Ysterneerslae in die sandsteen vorm bisarre pienk, geel en blougrys patrone op die enorme rotsmure, wat ‘n vreemde misterie aan die plek verleen. Soos ‘n heuningkoek is honderde grotwonings en -grafte uit die rotswande gekap. Die Nabateërs, ‘n nomadiese stam uit Noord-Arabië, het Edom rondom 300 vC binnegekom en deur handel ‘n welvarende volk geword. In 100 vC vestig hulle hulle in die Wadi Musa-vallei, met Petra as hoofstad. In hierdie tyd word die fasades van die Khazneh en die Deir en ander monumente met hulle hellenistiese kolomme en pilare uit die rots gekap. Ondanks die beskerming van die berge en die siq as enigste toegang, word Petra in 106 nC deur Trajanus ingeneem en die stad kry ‘n Romeinse karakter met ‘n kolonnade-straat, baddens en ‘n amfiteater. ‘n Kerkkompleks getuig van Bisantynse besetting in die vyfde eeu. Maar weggesteek in die berge, het Petra toe ‘n vergete stad geword, totdat Johann Burckhardt, ‘n Switserse ontdekkingsreisiger, in 1812 die bestaan daarvan bekend gemaak het.

Soveel emosies en indrukke. Teen skemeraand kom ‘n laaste groepie van ons met lam bene en seer voete weer by die Kazneh en die ingang van die siq aan. Dankbaar aanvaar ons ‘n saamrygeleentheid op die kamele wat, asof gestuur, daar wag. Nooit het ek kon dink ‘n skommelende rit op ‘n kameel se rug kan so gerusstellend wees nie, want die siq was leeg en vol eggo’s en onheilspellend donker ….

Ons besoek aan Jordanië was amper verby. Dag vier het ons na die skouspelagtige woestynlandskap van Wadi Rum in die Suide geneem en terug na Amman om te oornag. Wat Wadi Rum so uniek maak, is die bergspitse van tot 1 200 meter en die fabelagtige rotsformasies wat uit die see van sand verrys. Hier het TE Lawrence (Lawrence of Arabia) in 1918 sy troepe teen die Ottomane gemonster, en hier is die slottonele van die film oor hom geskiet.

In Amman het ons nie veel tyd verwyl nie, maar 50 kilometer Noord van Amman is die ruïnes van Gerasa (of Jerash, in Arabies) in die heuwels van Gilead. Die stad sal my altyd bybly as ‘n volmaakte voorbeeld van ‘n provinsiale Romeinse stad wat na eeue onder die sand wonderlik behoue gebly het. ‘n Ommuurde stad met ‘n cardo maximus, ‘n elliptiese forum, twee tempels gewy aan Artemis en Zeus, warm baddens, ‘n nymphaeum of fonteinekompleks, kolonnade-strate en selfs ‘n hippodroom. Hier kan ‘n mens die daaglikse lewe van ‘n besige Romeinse gemeenskap uit die eerste en tweede eeu met jou verbeelding en al jou sintuie herbeleef. Maar ons moet die grens oor na Sirië en Damaskus.

Daaroor in die tweede aflewering…

Share this / Deel hierdie: