Vanaf 4 tot 9 September vanjaar het IOSOT of die International Organization for the Study of the Old Testsament op Stellenbosch plaasgevind. IOSOT is die enigste internasionale vakkongres vir Ou-Testamentici wat elke driejaar byeenkom, oop vir alle vakmense, studente en belangstellendes is, en vir die eerste keer in sy bestaan in Afrika vergader het. ‘n Geleentheid wat waarskynlik nooit of in elk geval nie gou weer herhaal sal word nie.

IOSOT-2017 het egter nie maklik gebeur nie. Dit het baie jare se onderhandeling en oortuigingswerk gekos en eers tydens die 2010-kongres in Helsinki is dit in beginsel goedgekeur en by die 2013-München-kongres finaal bekragtig en is op Suid-Afrika en Stellenbosch besluit. Prof Johann Cook is vir die driejaartermyn tot 2016 as IOSOT-president en Prof Louis Jonker as kongressekretaris aangewys. Dit was egter Louis Jonker wat sedert 2006 die saak met onvermoeide passie en ywer voortgedryf en die IOSOT-bestuur uiteindelik oortuig het om na Suid-Afrika en Stellenbosch te kom en dít het dan begin September vanjaar gebeur. Dit was ‘n uitstekende kongres en daar was groot lof en waardering vir die Stellenbossers onder leiding van Louis Jonker se jare lange voorbereiding en vir ‘n onvergeetlike kongres.

Vyf dae lank was daar in die oggende volsessies wat almal bygewoon het en in die middae was daar talle parallelle sessies wat in spesialiseenhede (soos die Pentateug of die psalms of Qumran) verdeel is en waar kleiner spesialisgroepe byeengekom het. IOSOT se hooftale is Duits, Frans, Italiaans en Engels en uitstekende vertaaldienste is deur Stellenbosch voorsien.

Groot en belangrike internasionale Ou-Testamentici woon gewoonlik IOSOT by en dit is ‘n uitstalvenster vir die nuutste insigte en boeke in die vak. Almal wat dié vyf dae deur al die ‘papers’ en al die gesels met vakgenote oorweldig is, het opnuut respek vir die internasionale gemeenskap van Ou-Testamentici en hulle enorme bydraes gekry. Dit was ‘n viering van die Ou-Testamentiese wetenskap en die baie lang intellektuele tradisie waarbinne die vak gedrenk is.

Vir sommige bly dit egter ‘n knellende vraag of Afrika enigsins aan so ‘n hoë-vlak-navorsing behoefte het. Afrika se mense en hulle probleme is anders en die Ou-Testamentiese wetenskap is te westers en te Afrikavreemd en moet daarom eerder vervang of afgeskaal word.

IOSOT het dit egter weer beklemtoon dat niemand sonder die westerse wetenskap kan klaarkom nie. Die metodes, perspektiewe, insigte en begrippe van sêmaar die afgelope twee eeue is so oorweldigend dat dit nie sondermeer en sonder ontsettende skade verwerp kan word nie. Indien ‘n mens net die pad van die Ou-Testamentiese wetenskap sedert Wilhelm Leberecht de Wette in 1805 volg, word jy deur ‘n vloedgolf van wetenskaplike insigte in verband met die ontstaan en teologie van die Ou Testament getref en dit is haas onvervangbaar (vgl Schmid 2015:1-33).

En indien dit vervang sou word wat sou in die plek daarvan kom? Die Ou-Testamentiese wetenskap is tog lank nie meer ‘n wit of ‘n westerse of ‘n Europese wetenskap nie, maar is ons almal se eiendom. Dit is soos ‘n standhoudende fontein waaruit ons almal kan put. Nog anders gestel: die Ou-Testamentiese wetenskap is ‘n ekumeniese onderneming wiese deure vir almal oor die hele wêreld oopstaan en almal (alle volke, tale, nasies) wat dié insigte gebruik, voel ‘n diepe verbondenheid aan mekaar.

Uiteraard het IOSOT-2017 ons weer oor ons plek in Afrika laat nadink en ons weer aangespoor om ons posisie in die lig van die vroeë kerk in Afrika te verstaan en te verwoord. Ons weet nie presies wanneer die Africa ecclesiae of die kerk in Noord-Afrika gestig is nie. Daar is wel ’n dokument uit 180 wat van Afrika-martelare vertel en dan is daar ook ’n berig oor ’n Afrika-sinode van ongeveer 220 (Dassmann 2000:264). Van die begin af was die Afrika-kerk egter ’n kruising tussen hierdie kontinent en die weste. Dit was nooit net Afrika of weste nie, maar altyd ’n kruising, ’n mengsel van die twee. Dit was aan die een kant deel van die groot Romeinse Ryk en tog ook weer niks anders as ’n eenkant en soms vergete Afrika-provinsie nie. Van die begin af het Afrika-teologie op die kruising van die partikuliere (Afrika/ later Suid-Afrika) en die universele (die westerse teologie) gehuiwer (Coyle 2001:13-26). Van die begin af was dit ’n spanning wat nooit opgelos is of ooit moet word nie.

Tipies van hierdie Afrika-teologie was die toe-eiening, die verinnerliking van die beste teologiese tradisies. Van die begin af is die beste intellektuele tradisies van die weste en ook Afrika oorgeneem en vir die teologie asook praktiese gemeentewerk gebruik (Le Roux 2008a:309-311; 2008b:140-142). ’n Mens sien dit ook in die werk van Klemens en Origines. Hulle was deel van die wonderlik Aleksandrynse kategeteskool. Nooit kan ons die waarde van dié skool oorbeklemtoon nie (Von Harnack 1964:637-656). Oor die ontstaan daarvan heers onsekerheid, maar ten tye van Pantaenus (sterfdatum: 200), Klemens (sterfdatum: 215) en Origenes (186-254) het dit ‘n besondere hoogtepunt beleef. Vaste leerplanne is gevolg, die studentekorps het uit persone van verskillende kulture en godsdienste bestaan, geen klasgeld is gevra nie, maar ryk beskermhere het groot bedrae geld geskenk. Die hooftaak van hierdie skool was Bybelstudie. En dié manier waarop hulle dit gedoen het, was om die magtige Hellenistiese of Griekse kultuur- en intellektuele wêreld toe te eien en te gebruik. Dít het hulle gehelp om hulle teologiese stem te vind en Afrika se bedieningsprobleme te hanteer (Drobner  1994:107-111).

In Suid-Afrika is ons in die unieke posisie om ons plek op die kruispunt van twee wêrelde te verwoord: die weste en Afrika, die internasionale Ou-Testamentiese wetenskap en Afrika. Dit is nie ‘n maklike opdrag nie want die radikale toe-eiening van die afgelope twee honderd jaar se internasionale wetenskap en die Afrikakonteks moet elke dag nuut bedink, verbeel en verwoord word.

 

Bronnelys

Adam, Alfred. 1965. Lehrbuch der Dogmengeschichte. Gütersloh: Gerd Mohn.

Bakhuizen van den Brink, J H 1965. Handboek der Kerkgeschiedenis. Den Haag: Bert Bakker.

Coyle, J K 2001. Particularities of Christianity in Roman Africa. Studia Patristica XXXIX, 13-26.

Dassmann, E 2000. Kirchengeschichte, vol I. Stuttgart: Kohlhammer

Drobner, Hubartus R. 1994. Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.

Klemens, The rich man’s salvation. Loeb Classical Library. London: William Heineman.

Kraus, H–J 1969. Geschichte der historisch–kritischen Erforschung des Alten Testaments. Neukirchen: Neukirchener Verlag.

Le Roux, J.H., 2008a, Africa and the future of our scholarly past, in H. de Wit & G.O. West (eds.), African and European readers of the Bible in dialogue, pp. 307–323, Brill, Leiden.

Le Roux, J.H., 2008b, Confrontation with the African ‘other’: a response, in H. de Wit & G.O. West (eds.), African and European readers of the Bible in dialogue, pp. 140–142, Brill, Leiden.

Markschies, C M 2006. Das Antiken Christentum. Munchen: C H Beck.

Paget, James N.B.C. 1996. The Christian Exegesis of the Old Testament in the Alexandrian Tradition. Pages 478–542 in Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Procopé, John F. 1996. Greek Philosophy, Hermeneutics and Alexandrian Understanding of the Old Testament. Pages 451–77 in Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Reventlow, H.G. 1994. Epochen der Bibelauslegung. München: C.H. Beck.

Siegert, Folker. 1996. Early Jewish Interpretation in a Hellenistic Style. Pages 130–198 in Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.