Dikwels word die kerk van te veel dink en te min voel (of glo) beskuldig. Vandag se mens sou geen lus vir geleerde preke hê nie en dinktyd in die kerk is lankal verby. Die kerk het reeds gewys hy kan dink en nou moet hy wys hy kan voel. Vandag se mens soek praktiese, konkrete, op-die-mens-af-preke en het geen erg aan eksegese, teologiese insigte of wat ook al nie. Niks moet moeilik, vreemd of uitdagend wees nie. Soms word dié spanning so op die spits gedryf dat dit byna ondraaglik word en die ergste is dat dit ook in veral die prediking gehoor kan word.

 

Kenmerke van ’n tweespalt

In die kerk en teologie is daar merkers wat dié tweespalt beklemtoon. Ons noem ’n paar:

  • ·     Daar is ’n onlus in die teologiese wetenskap en ’n onvermoë om die teologie vir die prediking en pastoraat diensbaar te maak nie. Gou word ook gesê die gemeente het geen behae in goeie eksegese nie, is nie in die minste in die teks se konteks geïnteresseerd nie, wil niks van die mooi wêreld van die teologie weet nie, is nie lus om verskillende standpunte oor ’n saak te hoor nie. Kortom: hulle wil nie dink nie, maar net voel.
  • ·     Eksegese word afgeskeep en tot die elektroniese naslaan van ’n woord se betekenis verskraal. Woordbetekenis is egter nog lank nie eksegese nie. Eksegese kry eers gestalte wanneer met woorde, teksgedeeltes en groter eenhede (soos Bybelboeke) se sinsamehange geworstel word; wanneer dit binne Israel of die vroeë kerk se lewenswêreld verstaan word. Dié eksegetiese opdrag is waarskynlik vir vele onnodig, te rasioneel, nie belangrik vir teksverstaan nie en te veeleisend.
  • ·     Vanweë Suid-Afrika en die Afrikaner se intellektuele geskiedenis is kennis, wetenskaplike kennis, wetenskaplik-teologiese insigte vir vele net nie meer so iets kosbaar dat hy/sy hard sal studeer om dit ter wille van die prediking en die pastoraat te bekom nie; die gevoel, die geestelike opwelling het belangriker geword en dít doen die teologiese wetenskap en die kerk in Suid-Afrika groot skade aan.
  • ·     Die gebrek aan wetenskaplik-teologiese insigte moet met allerlei praktiese dinge ‘opgevul’ word. Wat wetenskaplik ontbreek, moet met allerlei praktykgerigte vaardighede aangevul word. Dit word ook so gedoen asof praktyk en wetenskap teenoormekaar staan.
  • ·     Soms skep die akademie ook vir die student probleme. Hy/sy weet nie waar om die streep te trek nie. Te veel studie is nie altyd goed vir die geloof nie; te veel Grieks en Hebreeus kan jou geloof demp; te veel wetenskap is ’n geloofsbedreiging. By die fakulteit teologie moet die klem eerder op geloofservaringe val en teen te veel akademie, studie moet gewaak word. Karl Barth praat êrens van studente wat ’n erotiese begeerte na kennis moet hê; ’n brandende dors na die wetenskap moet ontwikkel; ’n onverteerbare sug en verlange na teologiese kennis moet koester; ’n onblusbare lus tot harde werk en studie moet kweek. Dít gebeur nie altyd nie want binne die breë Afrikanersamelewing en die kerk is daar net iets wat goeie studente ontmoedig om met sulke oorgawe alles vir die teologiese wetenskap te gee. Êrens leef nog die gedagte dat geloof en rede, geloof en wetenskap net nie lekker pas nie en dat die student versigtig moet wees.  

 

Iets klop nie

Dié houding (hierbo) gaan so teen die Christendom se grein in en is so wesensvreemd aan twee duisend jaar se teologiegeskiedenis dat dit eintlik seermaak; dat dit dreig om alles wat teologies diep en mooi is, te vernietig. So was dit waaragtig in die geskiedenis van die kerk nie.

Natuurlik was daar altyd ’n kreatiewe spanning tussen geloof en rede, geloof en ’n wetenskaplik teologie en dit moet ook nooit verdwyn nie. Die een kan tog nie sonder die ander nie, maar nooit is die krities-teologiese nadenke ter wille van nie-denkende praktyke opgegee nie. ’n Mooi voorbeeld van dié spanning word in die ‘bediening’ van Franciskus van Assisi (1182-1226) en Dominicus die Spanjaard (1170-1221) gesien.

In 1204 is Franciskus se lewe ingrypend verander. Ernstige siekte het hom die lewe se sinloosheid laat ervaar en hy besluit op ’n lewe van totale armoede. In navolging van Christus (of so het hy gedink) het hy hom in volstrekte armoede aan siekes en armes gewy. Geklee in eenvoudige klere het hy kaalvoet rondgetrek en van die vreugde van armoede gepreek. Armoede het sy bruid geword en haar lof oral besing. Hy het hom in eensaamheid onttrek, aan armoede gewy, ’n orde van ‘mindere broeders’ geskep en harde kloosterreëls (in verband met armoede en privaatbesit) geformuleer. Hierdie soort spiritualiteit het vir studie, intellektuele vorming, boekekennis, wetenskaplike insig nie veel ruimte gemaak nie (De Bruin 1965:146-156).

Dominicus van Spanje het egter anders gedink. Hy was twaalf jaar ouer as Franciscus en het van armoede ook veel gemaak, maar van die begin af het harde studie, teologiese skoling, wetenskaplike vorming sentraal gestaan. Volgens hom het die kerk goeie, skerp teoloë nodig gehad want so kon die geloof fyner verwoord en ketters geweldloos beveg word. Vanaf die universiteitwese se beginjare in die dertiende eeu was die Dominikane deel daarvan en het hulle die denke en die teologie van hulle tyd ingrypend geslyp. Veral in Parys en Oxford was hulle invloed voelbaar en het teologiese reuse soos Thomas Aquinas uit dié geledere gegroei .

En die Franciskane? Ook hulle het toenemend die gebrek aan intellektuele vorming gevoel en in 1236 is die eerste Franciskaanse professor in die teologie aan die Universiteit van Parys aangestel. Vir die eerste keer het Franciskus se ‘mindere broeders’ ’n teologie-professor aan ’n universiteit gehad en in ’n ommesientjie was daar Franciskane by alle belangrike universiteite.

 

Die vreugde van verstaan

Die kerk se radikale betrokkenheid by wetenskaplike denke, wetenskaplik-teologiese nadenke en universiteite was ’n onafwendbare proses wat al vroeg begin het. Geloof en wetenskap hóórt bymekaar! ’n Eeu of wat voor Franciskus en Dominicus het Anselmus van Kantelberg (1033-1109) al dié verhouding wondermooi verwoord. 

Ons kan dié punt met behulp van die Middeleeuse skolastiek illustreer. Die skolastiek wou die ‘ratio’ (die rede) gebruik om die geopenbaarde waarhede van die Skrif te verstaan, sistematies uiteen te sit en ‘n redelike (rasionele) grondslag daarvoor te verskaf. Anselmus wou nie net glo en aanvaar nie, maar ook alles rasioneel begrond. Vir Anselmus was die ‘ratio’ nie iets afsonderlik wat teenoor die geloof staan nie, maar streef die geloof self ook na verstaan (‘fides quaerens intellectum’); wat geglo word, moet ook (met behulp van die rede) verstaan kan word; wat redelik verstaan word, is as ‘t ware die konsekwensie van die geloof (‘credo ut intelligam’); die ‘geloof activeert de rede om de inhoud van de openbaring te bewijzen ; het zoekt het inzicht’  (De Bruin 1965:90).

Vir Anselmus gaan dit dus hoegenaamd nie om ‘n koue rasionele verstaan van God of die geloof nie, maar om ‘n verstaan wat deur die geloof aangevuur word: ‘the quaerere intellectum is really immanent in fides’ (Barth 1962:16). Omdat ons glo, ‘we must hunger after the fidei ratio’ (Barth 1962:21; Busch 1976:206). 

En wanneer iemand verstaan, is daar vreugde. Intense vreugde omdat dít wat die gelowige glo nou ook verstaan, begryp kan word (Barth 1962:17-19). ‘n Predikant of teoloog moet dus byvoorbeeld deur middel van fyn tekswerk, moeisame woordstudie en langsame worsteling met Israel se geskiedenis spatsels van God kan raaksien en dít moet hom/haar gelukkig maak. Hy/sy moet kan ervaar dat sy/haar geloofsverbondenheid aan die Ou Testament smag en dors na verstaan, wetenskaplike verstaan en dat dié ‘intellegere’ (kennis, insig) ‘n diepe vreugde meebring. 

 

So was dit van die begin af

Vanaf die kerk se begin af was geloof en rede onherroeplik verweef; kon die een nooit sonder die ander nie. Wat ons vandag glo is deur geloof en harde denke in die eerste ses of wat eeue gevorm; is deur die onverskrokke omhelsing en verinnerliking van die allerbeste wetenskaplike en filosofiese tradisies van hulle tyd geslyp; is deur die wete dat die Christelike geloof slegs gaan oorleef indien dit ook rasioneel verwoord kan word, voortgedryf; is deur die oortuiging dat geloofswaarhede ook redelik verwoord moes word, voortgestu. Dit was trouens die vroeë kerk se naatlose versmelting van geloof en rede wat die Christendom se greep op die massas versterk en sy uitbreiding aangehelp het (Tarnas 2000:112).

Toe die kerk in die tweede eeu veral deur die Griekse filosoof Celsus afgemaak is, is daar nie met gevoel of ekstase geantwoord nie, maar met die rede. Die vroeg-Christelike apologete het meedoënloos en hard met die rede teruggeveg en groot geloofwaardigheid vir die Christendom teruggewen. So het Justinus die Martelaar die filosofie verinnerlik en ‘verchristelik’ om die geleerde Grieke te oortuig dat hulle filosofie eintlik die Christelike boodskap bevestig en dat hulle ook deel het aan die ‘saad van die Logos’ wat oor die ganse mensheid versprei is.

Irenaeus was die eerste groot teoloog en sy nadenke oor die ‘dispositio’ (die verwerkliking van God se heilsplan) en ‘recapitulatio’ (dit wat die gelowige in Christus terugkry wat hy in die paradys verloor het) was geweldig belangrik. Tertullianus se formulering, ‘tres peronae, una substantia’, het die nadenke oor die Triniteit radikaal beïnvloed. Ciprianus se woorde, ‘salus extra ecclesiam non est’, is tot vandag toe belangrik. En omdat daar vir hom buite die kerk geen saligheid was nie, is ook gesê dat wie God as Vader het, het die kerk as moeder. Clemens van Aleksandrië was van oortuiging dat die Griekse filosofie die kerk moet dien en daarmee is die waarde van die filosofie vir die formulering van die Christelike geloof beklemtoon. Origenes se werk kan ons nooit oorskat nie. Hy het die eerste groot dogmatiek geskryf en was die eerste groot Bybelwetenskaplike. 

 

’n Donker slot

So sou ons kan voortgaan. Teologiegeskiedenis is ’n geskiedenis van ’n denke wat die westerse kerk en gemeenskap gevorm en geslyp het. Iemand wat dit probeer ontken of ontvlug, is soos iemand wat oor sy eie skaduwee wil probeer spring. Dit kan nie. Christendom is geloof én denke en wat die geskiedenis bymekaargebring het, kan geen mens skei nie.

Maar het ons teologie die ‘historiese impak’ van die rede gemis? Dalk het iets verlore geaan. Hoekom? Miskien lê dit in die Afrikaner se aard. In dít wat hy gemis het (manlike vorm doelbewus gebruik). Hy  noem hom graag westers, maar hy is dit nie heeltemal nie. Denkprosesse wat die westerse mens die afgelope eeue ingrypend geslyp en gevorm het, het hy gemis. So het die Aufklärung se oproep om vir jouself te dink nooit eintlik hier diep ingesak nie. Nog minder die strominge soos die Romantiek wat juis met finesse die gevoel vir die verstaan van tekste wou aanwend nie. En die opkoms van die historiese bewussyn in die negentiende eeu het hier nooit in sy volheid aangebreek nie. En só het daar tussen geloof en rede, geloofsoortuiginge en teologiese studie ’n byna ondraaglike tweespalt en spanning gegroei. Vir die kerk, die teologie en die prediking was en is dit nou nog sleg.

Is daar ’n uitweg uit hierdie doodloopstraat? Waarskynlik nie. En sonskyn, braaivleis en rugby bied ook geen intellektuele stimuli om ons te help nie.

 

 

 

Adam, Alfred. 1965. Lehrbuch der Dogmengeschichte. Gütersloh: Gerd Mohn.

Albertz, R. 1992. Religionsgeschichte Israels in alttestamentlicher Zeit, 1 & 2. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Altaner, Berthold. 1951. Patrologie. Freiburg: Herder.

Ankersmit, Frank R. 1990. De Navel van de Geschiedenis. Groningen: Historische Uitgeverij.

Bakhuizen van den Brink, J N 1965. Handboek der Kerkgeschiedenis, I. Den Haag: Bert Bakker.

Barth, K 1962. Anselm. Fides quaerens intellectum. Cleveland/ New York: The World Publishing Company.  

Barth, K 1964. Die Kircliche Dogmatik, I/1. Zürich: EVZ-Verlag. 

Busch, E 1976. Karl Barth. London: SCM, Press. 

De Bruin, C C 1965. Handboek der Kerkgeschiedenis, II. Den Haag: Bert Bakker.

De Villiers, D R 1975. Teologiese Opleiding vir Wit en Swart deur die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika. Pretoria 1975. 

Drobner, Hubartus R 1994. Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.

Eichrodt, W 1929. Hat die Alttestamentliche Theologie noch selbstÿaundige Bedeutung innerhalb der Alttestamentliche Wissenschaft? ZAW 47, 83–91.

Ferreira, I L 1979. Die Teologiese Seminarium van Stellenbosch, 1858-1963. Pretoria: Makro Boeke. 

Figal, Günter. 2002. The Doing of the Thing itself: Gadamer’s Hermeneutic Ontology of Language. Pages 102–125 in The Cambridge Companion to Gadamer. Edited by Robert J. Dostal. Cambridge: University Press.

Gabler, J P 1992. An Oration on the Proper Distinction between Biblical and Dogmatic Theology and the Specific Objectives of Each. Pages 489–502 in The Fowering of Old Testament theology. Edited by Ben C. Ollenburger, Elmar A. Martens & Gerhard F. Hasel. Winona Lake: Eisenbrauns.

Jaspers, K & Rossman, K 1961. Die ldee der Universität. Heidelberg: Springer Verlag. 

Le Roux, J. 1997. Our historical heritage. OTE 10/3: 401–23.

Meuleman G E 1991. Theologie aan de universiteit. Gereformeerd Theologisch Tijdschrift 91/1, 1-27. 

Meuleman, G E 1984. De theologie als habitus en als doctrina volgens enkele vertegenwoordigers der oudprotestantse orthodoxie. Gereformeerd Theologisch Tijdschrijt 84, 221-247. 

Paget, James N.B.C. 1996. The Christian Exegesis of the Old Testament in the Alexandrian Tradition. Pages 478–542 in Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Posthumus Meyjes, G H M 1973. Het doctorenambt in Middeleeuwen en Reformatie. Rondom het Woord 3, 21-45. 

Procopé, John F. 1996. Greek Philosophy, Hermeneutics and Alexandrian Understanding of the Old Testament. Pages 451–77 in Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Reventlow, H.G. 1994. Epochen der Bibelauslegung. München: C.H. Beck.

Rossouw, H W 1993. Universiteit, wetenskap en kultuur. Kaapstad: Tafelberg.

Rothuizen, G Th 1970. Wat is theologie?. Kampen: Kok. 

Rutten, Thijs. 2005. Augustinus en de Spiritualiteit van de Psalmen: de ‘Confessiones’ asl een aan de Psalmen Ontleed Rollenspel. Pages 113–13 in Augustiana Neerlandica. Edited by Paul Van Geest  & Johannes Van Oort. Leuven: Peeters.

Siegert, Folker. 1996. Early Jewish Interpretation in a Hellenistic Style. Pages 130–198 in Hebrew Bible/Old Testament. The History of its Beginnings. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Solte, E-L 1982. Fakultäten, Theologische. Theologische Realenzyklopädie X.  Berlin: De Gruyter. 

Tarnas, R 2000. The passion of the western mind. London: Pimlico.

Taylor, Charles. 2002. Gadamer on the human sciences. Pages 126–42 in The Cambridge companion to Gadamer. Edited by Robert J. Dostal. Cambridge: University Press.

Thiselton, Anthony C. 1980. The two horizons. Exeter:Pater Noster.

Van Bavel, Tarsicius. 2005. ‘Wij moeten lere het onuitspreekbare op onuitsprekelijke wijze te zien’. Theologie en spiritualiteit in Augustinus’ ‘De Trinitate’. Pages 165–186 in Augustiana Neerlandica. Edited by Paul Van Geest  & Johannes Van Oort. Leuven: Peeters.

Zenger, Erich, 1998. Die Bücher der Tora/des Pentateuch. Pages 66–124 Einleitung in das Alte Testament. Stuttgart. Edited by Erich Zenger. Stuttgart:  Kohlhammer.

Share this / Deel hierdie: