Episode 2: ʼn Besinning oor hoe kragtige verhale oor tyd groei.

Waar episode 1 (kyk  http://teo.co.za/die-uittogstorie-feit-of-fiksie-sias-meyer/) van hierdie reeks gefokus het op die uittogverhaal self en die historisiteit daarvan, gaan hier gekyk word na hoe die uittogverhaal moontlik ʼn belangrik rol kon speel in die Noordryk. Soos met episode 1, behels die vernaamste bronne wat hieronder gebruik word, Noord-Amerikaanse bronne wat baie sterk deur die Duitse Historiese Kritiek geïnformeer is. Die werk van David M. Carr en John J. Collins word gebruik, maar word nou aangevul met die nuutste geskiedenis van Israel wat vanjaar deur Christian Frevel gepubliseer is. Frevel se geskiedenis neig om minimalisties te wees en laat Carr en Collins eintlik konserwatief lyk, maar dit is baie sterk deur die nuutste argeologiese data geïnformeer en moet eenvoudig deel van hierdie gesprek wees. Dit sal hopelik duidelik word in die loop van die bespreking wat ek met hierdie mondvol bedoel.

In episode 1 het ons tot die slotsom gekom dat daar moontlik ʼn historiese kern agter die uittogverhaal is. ʼn Klein groepie Semitiese slawe het bevryding uit Egipte beleef en hulle sluit later aan by die stamme in Kanaän wat uiteindelik Israel sou word, of dalk reeds was. Die vraag is egter hoe die storie gegroei het en uiteindelik verteenwoordigend geword het van die hele Israel? Om die vraag te beantwoord beteken ongelukkig noodwendig spekulasie, maar die teks van die OT gee tog vir ons sekere leidrade. Een so ʼn leidraad is die verhaal rondom die “afstigting” van die Noordryk, beter bekend as Israel. Die bekende verhaal van Rehabeam, die seun van Salomo, en Jerobeam word beskryf in 1 Konings 12, maar ons lees reeds in 1 Konings 11 van Jerobeam. Hy word beskryf as “gesiene” en “bekwaam” en werk aanvanklik vir Salomo. Dinge verander eers wanneer die profeet Agija aankondig dat Jerobeam oor tien stamme gaan regeer na die dood van Salomo. Omdat Salomo vir Jerobeam wil doodmaak, moet hy vlug na Egipte. Vir die doeleindes van ons gesprek is veral twee aspekte van die verhaal van 1 Konings 11 tot 13 belangrik. Die eerste het te doen met die ooreenkomste tussen Jerobeam en Moses en die tweede met Jerobeam se instelling van ʼn alternatiewe kultus.

Carr (2010:95-97) argumenteer dat daar ten minste ses ooreenkomste is tussen Moses en Jerobeam: 1. Beide kom uit gesiene huishoudings. Moses word in Farao se huis groot en Jerobeam word as welgesteld beskryf (1 Kon. 11:28). 2. Beide identifiseer met hulle mense wat onderdruk word. Die storie van Moses is welbekend, maar ek is nie oortuig dat hierdie element teenwoordig is in Jerobeam se verhaal nie. Jerobeam is verantwoordelik vir die dwangarbeid van sy eie mense (1 Kon. 11:28), maar dit klink nie of dit Jerobeam te veel gepla het nie. Sommige geleerdes dink tog dat dit geïmpliseer word dat Jerobeam in opstand kom teen dwangarbeid (Toews 2008:241). Ek is egter nie so oortuig nie. 3. Albei van hulle moet vlug. Moses vlug uit Egipte uit en Jerobeam juis soontoe. In die opsig vorm hulle verhale spieëlbeelde van mekaar. 4. Jerobeam en Moses keer terug wanneer die vorige heerser sterf. 5. Beide van hulle onderhandel met die nuwe heerser, hoewel dit ook nie so duidelik is in Jerobeam se geval nie. 6. Beide lei hulle volk na vryheid weg van die onderdrukking. Hierdie aspek van Salomo se onderdrukking word duidelik uitgespel in die onderhandelings wat in 1 Konings 12 plaasvind. Die vraag is natuurlik hoekom die twee karakters so veel in gemeen het. Carr (2010:96-97) beantwoord die vraag as volg:

It is more likely, however, that these parallels in stories came about because scribes working for Jeroboam in the early northern kingdom shaped the ancient exodus traditions of the north in light of the recent “exodus” they had experienced under Jeroboam from oppression by Solomon and his son, Rehoboam.

M.a.w. die literêre Moses word aangepas op grond van die historiese Jerobeam. Deur die Mosesverhaal te vertel en dit te laat klink soos dit wat Jerobeam sopas gedoen het, skep die skrywers (my vertaling vir scribes) van Jerobeam ʼn soort literêre eggo tussen hulle koning en die groot bevryder Moses. Die doel is natuurlik om Jerobeam se beeld ʼn hupstootjie te gee. Vir Carr gaan dit ook oor ʼn groter argument dat die nuutgestigte Israel hul eie alternatiewe “leerplan” nodig gehad het. In Jerusalem het tekste veral gefokus op Sionsteologie en die feit dat Jerusalem deur Jahwe uitverkies is, maar wat word die belangrikste teologie in die Noorde? Baie geleerdes sal antwoord: die uittogverhaal. Behalwe vir die oorskryf van die Mosesverhaal in die beeld van Jerobeam, is daar nog ʼn belangrike aspek wat na vore kom in die verhaal in 1 Konings, naamlik, Jerobeam se alternatiewe kultusse.

Volgens 1 Konings 12:26-32 bou Jerobeam twee heiligdomme by Betel en Dan. Sy vrees was dat mense na Jerusalem sou gaan om te aanbid en die twee nuwe heiligdomme word heel bo in die Noorde en onder in die Suide, op die grens met Juda gebou. Wat veral belangrik is vir ons groter argument is die instellingswoorde van Jerobeam in 1 Konings 12:28:

“Julle het lank genoeg Jerusalem toe gegaan, Israel; hier is nou die beelde van julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het.”

Hierdie woorde herinner natuurlik sterk aan Aäron se woorde in Eksodus 32:4 en dit is duidelik dat die klem hier gelê word op uittogteologie. Die God wat hier aanbid word, is die God wat hulle uit Egipte gelei het. In terme van die Tien Gebooie is dit ʼn oortreding van die tweede gebod, naamlik om nie beelde van Jahwe te maak nie. Sommige geleerdes soos Collins (2004:110) argumenteer dat die uittogverhaal ʼn soort “charter myth” was van die Noordryk en dat uittogteologie sterk deel was van die Noorde se verstaan van hulself. Hulle het immers sopas ʼn bevrydende uittog beleef, toe hulle van die verdrukkende afstammeling van Dawid ontslae geraak het. In aansluiting by episode 1 van hierdie reeks, sou ʼn mens kon spekuleer dat as daar ʼn klein groepie Semitiese slawe uit Egipte ontsnap het, dan is daardie groepie heelwaarskynlik geassimileer onder noordelike stamme, en daarom is hulle storie juis in die Noorde belangrik.

Carr (2010:97) voeg verder by dat hierdie oorskryf van die Mosesverhaal in die beeld van Jerobeam ook nie beteken dat die uittogverhaal totaal uit die duim gesuig was nie. Dit is meer ʼn geval van om ʼn ou bekende verhaal te vat en dit opnuut te kontekstualiseer in ʼn nuwe historiese konteks. Die ou storie word opnuut relevant gemaak deurdat dit juis aan die onlangse ervaring van bevryding uit Dawidiese oorheersing geknoop word. ʼn Mens sou ook kon bevoeg dat Moses ʼn bekende figuur moes gewees het anders sou Jerobeam hom nie vir reklame doeleindes kon gebruik nie. Hierdie proses waardeur die Mosesverhaal opnuut oorgeskryf is, gebeur dan volgens Carr in die tyd van Jerobeam I en is die werk van sy skrywers. Tog moet ook in ag geneem word dat die verhaal soos ons dit vandag het, beide van Moses en Jerobeam, later opnuut deur Judese skrywers oorgewerk is. Dit is duidelik dat hierdie suidelike skrywers niks van Jerobeam gehou het nie en daarom word hy uitgesonder as een van die grootste sondaars ooit, juis omdat hy die ander heiligdomme gebou het (1 Kon. 13:33-34). Dit is dus verstommend dat daar nog steeds so baie parallelle oorgebly het tussen Moses en Jerobeam en ʼn mens wonder hoekom latere skrywers dit nie verander het nie? Die groot sondaar Jerobeam en die groot bevryder Moses se stories klink maar “soos vinkel en koljander, die een is soos die ander”.

Die opinies wat tot op hede bespreek is, was die van geleerdes wat tog grootliks die Bybelse verhaal volg, al lees hulle dit baie fyn en ook baie krities. Daar was immers volgens hulle ʼn Jerobeam en ʼn Rehabeam. Christian Frevel is nie so seker nie en sy onsekerheid het te doen met die feit dat hy die argeologie deeglik benut. Hy praat van “die sogenaamde ryksdeling” (die sogenannte Reichsteilung).

Frevel (2016:151-157) het veral drie argumente wat hom laat dink dat die hele Bybelse verhaal soos tot op hede bespreek eenvoudig fiktief is. Die een is literêr van aard en die ander twee steun op argeologie.

Eerstens, vra Frevel (2016:151) hoekom die twee name so eenders klink. Volgens Frevel beteken Rehabeam iets soos “volksuitbreier” en Jerobeam “volksstryder”. Die meeste woordeboeke soos KB en Clines dink egter dat Jerobeam ook iets soos “volksgroeier” of “volksmeermaker” sou kon beteken wat dit dan nader bring aan Rehabeam. Dit maak egter nie saak nie, hoofsaak is dat die twee opponente soortgelyke name het wat volgens Frevel ʼn literêre tegniek kan wees om die twee opponente teen mekaar af te speel. Jerobeam as naam is ook te vinde in ʼn buite-Bybelse teks (Clines V. 4:284, Seël 682 Megiddo) en verwys na die agste eeu se koning van Israel, Jerobeam II. Dit was natuurlik die koning tydens Amos se optrede as profeet in die Noordryk. Frevel se hipotese is eenvoudig dat Jerobeam II histories was, maar Jerobeam I ʼn terugwaartse projeksie is en nooit regtig bestaan het nie. Rehabeam is ook ʼn literêre skepping met ʼn pasgemaakte naam om die rol van die opponent van Jerobeam te speel. Twee ander fasette van Frevel se argument sal verder uitgelig word, wat gebaseer is op argeologie en bietjie meer stukrag aan sy hipotese gee.

Volgens die Bybelse verhaal bou Jerobeam eers Sigem en dan Pniël (1 Kon. 12:25) as hoofstede en later dalk ook Tirsa (1 Kon. 14:17). Frevel (2016:153) wonder nogal oor Pniël, want dit is in die Transjordaanse gebied en ver van die magsentrum van Israel. Die rondtrekkery getuig ook nie juis van ʼn stabiele regering nie, maar die eintlike probleem met hierdie verhaal is dat die argeologie dit nie ondersteun nie. Sigem is volgens alle aanduidings eers werklik in die negende/agste eeu bewoon en dus ʼn eeu later as Jerobeam. Pniël is ook ʼn probleem omdat daar onsekerheid is oor presies waar dit sou wees. En indien ʼn mens die plek sou bestudeer waar sommige argeoloë dink dit is, dan is daar weinig bewyse van bewoning tydens die tyd van Jerobeam I. In die geval van Tirsa is daar soortelyke vraagstukke soos met Sigem. Daar is eenvoudige boustrukture in die tiende eeu, maar dit is moeilik om jou in te dink dat dit deur konings opgerig is. In kort, wat al drie plekke betref bevraagteken die argeologie of dit ordentlik bewoon is in die tiende eeu.

Ons het reeds genoem dat Jerobeam twee heiligdomme sou oprig in Betel en Dan, maar weereens duik daar volgens Frevel (2016:155) argeologiese probleme op. Dan was volgens alle aanduidings nie bewoon in die tiende eeu nie. Die oudste bewoonde dele dateer uit die einde van die negende of begin agste eeu. Dit lyk ook of dit toe grotendeels Aramees was. Frevel vermoed dat dit eers laat in die agste eeu, toe Aramese mag aan die kwyn was, deel van Israel geword het. Betel was wel deel van Israel, dit was immers maar 16 km noord van Jerusalem in die gebied van Benjamin. Die heiligdom by Betel is (nog nie) gevind nie en ook hierdie stad is eers in die agste eeu bewoon wat ons natuurlik neem na die tyd van Jerobeam II, of dan volgens Frevel die enigste Jerobeam. Volgens huidige argeologiese data tot ons beskikking wonder Frevel dus of die hele verhaal oor die verdeling van die ryke nie eenvoudig fiksie is nie? Frevel dink dat Israel eintlik eers werklik begin bestaan het met Omri en alles wat vertel word van die tyd voor Omri, eenvoudig ʼn latere skrywer se pogings was om historiese gapings te vul. Hy dink ook dat Juda meestal ʼn vasal van Israel was en wys daarop dat daar ten minste drie konings aan beide kante was wat dieselfde naam gehad het, naamlik, Joram, Ahasia en Joas. Vir Frevel is dit eenvoudig. In al drie gevalle was dit dieselfde persoon wat dikwels eers in Jerusalem ontplooi is en dan later opgeroep is vir diens in Samaria, of soms selfs andersom, maar dit is ʼn gesprek vir ander dag. Waar laat dit alles ons?

Die groot verskil tussen Carr en Collins aan die een kant en Frevel aan die ander, is dat eersgenoemde groep tog Jerobeam I as ʼn historiese figuur aanvaar. Hulle aanvaar ook dat die uittogverhaal teologies belangrik was in die Noordryk. In Carr se verstaan is dit die literêre Moses wat op die historiese Jerobeam gemodelleer word. Frevel dink nie dat daar iemand soos Jerobeam of Rehabeam was nie en hy het die argeologie wat sy hipotese ondersteun. Al die plekke wat beskryf word as belangrik vir Jerobeam was eers ʼn eeu later belangrik. Frevel laat Carr en Collins eintlik konserwatief lyk. Daar is egter een vraag wat Frevel nie regtig kan beantwoord nie. Hoekom klink die verhaal van Jerobeam dan so baie soos Moses? Frevel (2016:158-159) gee toe dat Jerobeam se verhaal “von Anklängen an die Exoduserzählung durchzogen” is en dit is deel van sy argument dat dit fiktief is. Frevel (2016:159) voer ook aan dat Juda duidelik prioriteit het in die verhaal en dat die verhaal uit ʼn suidelike perspektief vertel word. Maar hoekom sou suidelike skrywers vir Jerobeam, die groot sondaar, so baie laat klink soos Moses die groot verlosser? ʼn Mens wonder tog of daar nie dalk in historiese kern agter Jerobeam lê nie. Hoekom sou suidelike skrywers dan hierdie “fiktiewe” stories juis so vertel?

Bibliografie

Carr, D.M. 2010. An Introduction to the Old Testament. Sacred Texts and Imperial Contexts of the Hebrew Bible. Chichester: Wiley-Blackwell.

Collins, J.J. 2004. Introduction to the Hebrew Bible. Minneapolis: Fortress Press. (http://www.sbl-site.org/publications/ICI_FortressPress.aspx)

Frevel, C. 2016. Geschichte Israels. Stuttgart: Kohlhammer.

Toews, W.I. 2008. “Jeroboam” in Sakenfeld, K. (red.) The New Interpreter’s Dictionary. Volume 3. Nashville: Abingdon Press, pp. 241-244.