1. Inleiding

Aan die begin van die 21ste eeu lyk die studie van die boek van Jesaja heeltemal anders as ‘n paar dekades gelede. Dit wat geld vir die ander boeke van die Hebreeuse Bybel/Ou Testament, geld ook vir die interpretasie van die boek van Jesaja. In die afgelope aantal dekades het kennis eksponensieel toegeneem en tradisionele hipoteses en metodes het byna heeltemal gedisintegreer (Baker 1999:266; Becker 2004:31; Berges 1999:118-120; Berges 2000:168-171).

Die laaste dekades van Jesaja-navorsing is gekenmerk deur ‘n voortdurende bevraagtekening van “aanvaarde resultate”, asook ‘n bereidwilligheid om nuwe vrae te vra en nuwe weë te bewandel. Nuwe insigte het die ou voorveronderstellings bevraagteken, asook die epistemologieë waarop hierdie voorveronderstellings gebou is. Huidige diskussies betreffende die boek van Jesaja as “eenheid” is gewortel in die vroeëre debatte aangaande die literêre groei van die boek as “geheel”, en sy onderskeie dele waarin die boek onderverdeel word.

 

2. Nuwe tendense in Jesajanavorsing

Nuwere navorsing oor die boek van Jesaja word gekenmerk deur ‘n al hoe groter diversiteit in wetenskaplike benaderings. Becker (2003:123) beskryf hierdie situasie soos volg:

Die Jesajaforschung der Gegenwart ist gekennzeichnet durch eine groβe methodisch-hermeneutische Vielfalt, die unmittelbar Einfluss hat auf die erzielten Ergebnisse. Diese Lage ist angesichts des hochkomplexen Gegenstands kaum verwunderlich”.

Die volgende bronne kan ook geraadpleeg word vir ‘n oorsig oor die geskiedenis van Jesaja-navorsing: Becker (1999:1-37; 117-152); Berges (1998:11-49); Hardmeier (1986:3-31); Höffken (2004); Seebaβ (1995:315-318); Sweeney (1993:141-162); Tate (1996:22-56).

Heelwat uiteenlopende standpunte bestaan oor die sogenaamde 8ste-eeuse kern van die boek, asook oor die historiese profeet. Dit blyk dat die soektog na die historiese Jesaja eintlik onmoontlik geword het as gevolg van ‘n hele reeks onoplosbare probleme en vrae waarmee die navorser gekonfronteer word (Barthel (2003:125); Köckert (2003:112); vgl ook Ackroyd (1978:16-48); Berges (2008:3) en Jeremias (1999:19-35).

Daar is veral twee belangrike veranderinge wat in die laaste aantal jare in Jesaja-navorsing plaas gevind het. Eerstens kan ons sê dat die vorige beklemtoning van Jesaja as profetiese persoonlikheid vervang is met die klem op die boek Jesaja. Tweedens, soos wat die fokus van interpretasie verskuif het na die boek as ‘n geheel, is die streng driedeling van die boek Jesaja ook uitgedaag (De Jong 2007:5). In hierdie verband merk Steck (1996:17) soos volg op:

Das ist jetzt die Lage: Vor dem Propheten steht das Buch. Wer zum Propheten will, ist zuerst an das Buch gewiesen. Gegenüber der lange alles dominierenden Rückfrage nach den prophetischen Person ist deshalb die klärende Nachfrage nach den prophetischen Büchern jetzt die vordringliche Aufgabe.

Becker (2004:30-31) konstateer dat die groot tendens in die profetenavorsing in die laaste aantal dekades – veral sedert die 70er jare van die 20ste eeu – die feit is dat daar weer van ‘n herontdekking van die profeteboek gepraat kan word. Daar is geleer om die profeteboeke weer as boeke, as literêre werke sui generis, te lees en te interpreteer. Die fokus is nou eerder daarop om hierdie boeke se ontstaansgeskiedenis, vanaf hulle begin tot hulle eindgestalte, te rekonstrueer en hulle as ‘n spieëlbeeld van die geloofsgeskiedenis van Israel te beskou. Dit het duidelik geword dat die groot teologiese idees nie altyd net van die (vermoedelik) groot profete af gekom het nie.

Dit is belangrik om nou vervolgens te let op die volgende algemene oorsig oor die geskiedenis van die eksegese van die boek Jesaja. Sedert Bernhard Duhm (1892:7-15) is die geskiedenis van Jesaja-navorsing domineer deur die driedelige verdeling van die boek Jesaja: Proto-Jesaja (1-39); Deutero-Jesaja (40-55) and Trito-Jesaja (56-66) (Beuken 2003:27; Höffken 2004:19). Volgens hierdie teorie van Duhm word hoofstukke 1-39 geassosieer met die 8ste eeuse-profeet Jesaja ben Amos; hoofstukke 40-55 is die werk van ‘n anonieme profeet tydens die Babiloniese ballingskap, geïdentifiseer as Deutero-Jesaja. Hoofstukke 56-66 reflekteer die werk van ‘n post-eksiliese profeet wat bekend gestaan het as Trito-Jesaja. Tradisioneel word hierdie boeke aan drie historiese tydperke gekoppel: Assiriese, Babiloniese en Persiese tydperke.

Vir die grootste gedeelte van die 20ste eeu was wetenskaplike navorsing gedoen asof hierdie drie dele eintlik drie onafhanklike boeke los van mekaar vorm. Dit het daartoe aanleiding gegee dat eksegete Proto-Jesaja in relatiewe isolasie van die res van die boek geïnterpreteer het (Höffken 2004:27). Die eksegese van Eerste Jesaja was gekenmerk deur relatiewe konsensus. Die hoof eksegetiese taak was gesien as die identifikasie en die beskrywing van die sieninge en die “boodskap” van die historiese profeet. Dit het selfs daartoe aanleiding gegee dat eksegete ‘n onderskeid gemaak het tussen “outentieke” en “nie-outentieke” materiaal binne Eerste Jesaja (Becker 1968:44-68).

Hierdie benadering is egter atomisties van aard: die kern van Eerste Jesaja was beskou as ‘n versameling van 8ste-eeuse profetiese tekste, waaraan divergerende fragmente later tydens die eksiliese en post-eksiliese periodes bygevoeg is. Gevolglik was die profeet se lewe en bediening belangrik vir die eksegese, en hy was beskou as een van die groot profete wat geleef en gewerk het in die 8ste-eeuse Juda en Jerusalem (ca. 740-701). Die teks van Eerste Jesaja was gevolglik geanaliseer, en selfs gerekonstrueer, volgens die veronderstelde gees en boodskap van die profetiese persoonlikheid. As voorbeeld hiervan kan na Gerhard von Rad verwys word. Volgens hom (1968:154) verteenwoordig die prediking van Jesaja die teologiese hoogtepunt van die hele Ou Testament. Geen ander profeet kon die intellek van Jesaja, of enige van sy teologiese idees, ewenaar nie. Selfs die gedagtes en idees wat hy van die tradisie ontvang het, het hy in die uitdagendste manier geherformuleer.

Jesaja-navorsing, soos die res van die Bybelwetenskappe, het egter ‘n paradigmaskuif in die laaste paar dekades ondergaan. Ons het ‘n beweging weg van die “drie-boek interpretasie” na ‘n “een-boek interpretasie” gesien (Berges 1998:12-15). Die nuutste navorsing oor die literêre karakter van die boek Jesaja het hierdie nuwe standpunt ook ondersteun. Dit moet egter kategories gestel word dat hierdie nuutste tendens baie duidelik onderskei moet word van die fundamentalistiese standpunt wat nog steeds daaraan vashou dat die inhoud van die boek deur een menslike outeur, naamlik Jesaja ben Amos, aan ons oorgelewer is (Oswalt 1986:25).

In verband met die nuwere tendense merk Becker (2004:41) soos volg op: die hoofdoel van die eksegese is nie meer om by die oudste teksbestande uit te kom en die egte profetiese woord oop te breek nie, maar eerder om die boek – in sy geskiedkundige groeiproses – te verstaan en te ontleed. Aangesien die boek op literêre, sowel as teologiese vlak, ‘n uiters komplekse teks is wat nie opsig self verstaan kan word nie, is die eksegeet van redaksiekritiese analise afhanklik. In die 2de helfte van die 20ste eeu het die fokus op redaksiekritiek die aandag dus na die literêre lewe, asook na-lewe, van die profetiese tekste laat verskuif (Berges 2006:190-197; 2008:3-4).

Die fokus in die profetenavorsing het dus verskuif van die historiese persoonlikheid van Jesaja na die boek Jesaja as ‘n literê produk (Sweeney 1993:141; 2005:1). In sy kommentaar op Jesaja het Wildberger (1965-82) nog gefokus op Jesaja as die profeet-teoloog, en sy kommentaar kan gesien word as die kulminasiepunt van die ou benadering. Die skuif weg van dei 8ste-eeuse profeet na die geskiedenis van die ontwikkeling van die boek Jesaja was vir die eerste keer toegepas deur Otto Kaiser in sy verwerkte weergawe van sy kommentaar op Jesaja 1-12 (Kaiser 1981).

Onder eksegete het die nuwe insig algaande gegroei dat die verskillende dele van die boek Jesaja veel meer onderling aanmekaar verbonde was as wat ‘n streng driedelige skeiding dit moontlik gemaak het om raak te sien (Berges 1998:12-15, 41-49; Becker 2004:40). In die eksegese se verskuiwing na die boek Jesaja as geheel het die komposisionele, redaksionele en teologiese eenheid van die boek die hooffokus van Jesaja-navorsing geword (Becker 1999:3-4; Steck 1996:12). Volgens Berges (2006:190) is die motto van die profetenavorsing soos volg: die boek staan voorop, en die woord daaragter.

Hierdie ontwikkeling het ‘n geweldige impak op die studie van Eerste Jesaja gehad, asook op die onderlinge dele waaruit Eerste Jesaja opgebou is (1-12; 13-27; 28-39). Dit is vandag ‘n aanvaarde feit dat hierdie gedeelte van die boek Jesaja nie net ou materiaal bevat nie, maar ook materiaal uit latere tydvakke van die geskiedenis van Israel. Dit bevat selfs tekste uit die tydperke waarin die boek die laaste redaksionele verwerkings ondergaan het.

As gevolg van hierdie ontwikkelinge het eksegete hulle aandag verskuif van ‘n rekonstruksie van die gebeure asook van die historiese personages wat in die bybelse tradisie genoem word. Daar word nou eerder geargumenteer dat die beeld van die profeet wat uit die tekste na vore tree in die eerste plek ‘n literêre karakter besit (Becker 2004:31). Eksegete het dus toenemend bewus geword van die groot gaping wat bestaan tussen die boek en die historiese profeet – asook van die onmoontlikheid om hierdie gaping selfs te probeer oorbrug.

 

3. Slot

In Jesaja-navorsing is die fokus vandag daarop om die literêre werk en die teologiese perspektiewe te probeer identifiseer van die anonieme tradente en redaktors wat gestalte gegee het aan hierdie profetiese tradisie. Volgens Berges (2006:190) word dit toenemend duidelik dat hierdie literêre katedraal nie sonder die medewerking van ‘n hele tradentegroep moontlik kon wees nie. Dit gaan hier egter nie maar sommer net oor ‘n groep mense wat slegs die tekste versamel of dit na-geaap het nie, maar oor hoogs geskoolde literatore wat die oue en die nuwe op ‘n kreatiewe wyse aanmekaar verbind het, asook die tekskomposisies vir hulle eie tyd voortgeskryf (Fortschreibung) het. Alhoewel historiese rekonstruksie nog steeds ‘n belangrike rol speel in kritiese navorsing, gee eksegete meer en meer aandag aan die literêre karakter en agtergrond van die tekste. Dit sluit in ‘n fokus op hulle struktuur en tematiese ontwikkeling, die redaksionele intensie van die tekste, asook hulle sosiale en institusionele matrikse.

 

Bronnelys

Ackroyd, P R 1978. Isaiah I-XII, in Emerton, J A (ed.), Congress Volume Göttingen 1977, Leiden: Brill (VT.S 29), 16-48.

Baker, D W 1999. Israelite prophets and prophecy, in Baker, D W & Arnold B T (eds.), The face of Old Testament studies. A survey of contemporary approaches, Grand Rapids, MI: Baker Books, 266-294.

Barthel, J 2003. Das Problem des historischen Jesaja, in Fischer, I et al (Hrsg.), Prophetie in Israel. Beiträge des Symposiums »Das Alte Testament und die Kultur der Moderne« anlässlich des 100. Geburtstags Gerhard von Rads (1901-1971) Heidelberg, 18.-21. Oktober 2001, Münster: Lit-Verlag (ATM 11), 125-135.

Becker, J 1968. Isaias – der Prophet und sein Buch. Stuttgart: Katholisches Bibelwerk (SBS 30).

Becker, U 1999. Jesajaforschung (Jes 1-39). ThR 64, 1-37; 117-152.

———- 2003. Das Problem des historischen Jesaja, in Fischer, I et al (Hrsg.), Prophetie in Israel. Beiträge des Symposiums »Das Alte Testament und die Kultur der Moderne« anlässlich des 100. Geburtstags Gerhard von Rads (1901-1971) Heidelberg, 18.-21. Oktober 2001, Münster: Lit-Verlag (ATM 11), 117-124.

———- 2004. Die Wiederentdeckung des Prophetenbuches. Tendenzen und Aufgaben der gegenwärtigen Prophetenforschung. BThZ 21/1, 30-60.

Berges, U 1998. Das Buch Jesaja. Komposition und Endgestalt. Freiburg: Herder (HBS 16).

———- 1999. Sion als thema in het boek Jesaja. Nieuwe exegetische benadering en theologische gevolgen. TvT 39, 118-138.

———- 2000. Die Zionstheologie des Buches Jesaja. EstB 58, 167-198.

———- 2006. Das Jesajabuch als literarische Kathedrale. BiKi 4, 190-197.

———- 2008. Das Jesajabuch als Jesajas Buch. Zu neuesten Entwicklungen in der Prophetenforschung. ThRv 104, 4-14.

Beuken, W A M 2003. Jesaja 1-12. Freiburg: Herders (HThKAT).

De Jong, M J 2007. Isaiah among the Ancient Near Eastern Prophets. A comparative study of the earliest stages of the Isaiah tradition and the Neo-Assyrian prophets. Leiden: Brill (VT.S 117).

Duhm, B 1892. Das Buch Jesaia. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Hardmeier, C 1986. Jesajaforschung im Umbruch. VF 31, 3-31.

Höffken, P 2004. Jesaja. Der stand der theologischen Diskussion. Darmstadt: WBG.

Jeremias, J 1999. Prophetenwort und Prophetenbuch. Zur Rekonstruktion mündlicher Verkündigung der Propheten. JBTh 14, 19-35.

Kaiser, O 51981. Das Buch des Propheten Jesaja. Kapitel 1-12. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht (ATD 17).

Köckert, M 2003. Das Problem des historischen Jesaja, in Fischer, I et al (Hrsg.), Prophetie in Israel. Beiträge des Symposiums »Das Alte Testament und die Kultur der Moderne« anlässlich des 100. Geburtstags Gerhard von Rads (1901-1971) Heidelberg, 18.-21. Oktober 2001, Münster: Lit-Verlag (ATM 11), 105-116.

Oswalt, J N 1986. The book of Isaiah. Chapters 1-39. Grand Rapids, MI: Eerdmans.

Seebaβ, H 1995. Art. “Jesaja (Buch)”. NBL 2, 315-318.

Steck, O H 1996. Die Prophetenbücher und ihr theologisches Zeugnis. Wege der Nachfrage und Fährten zur Antwort. Tübingen: Mohr (Siebeck).

Sweeney, M Sweeney, M A 1988. Isaiah 1-4 and the post-exilic understanding of the Isaianic tradition. Berlin: Walter de Gruyter (BZAW 171).

———– 1993. The book of Isaiah in recent research. CR:BS 1, 141-162.

———- 1996. Isaiah 1-39, with an introduction to prophetic literature. Grand Rapids, MI: Eerdmans (FOTL 16).

———- 2005. Form and intertextuality in prophetic and apocalyptic literature. Tübingen: Mohr Siebeck (FAT 45).

Tate, M E 1996. The book of Isaiah in recent study, in Watts, J W & House, P R (eds.), Forming prophetic literature. Essays on Isaiah and the Twelve in honor of John D.W. Watts, Sheffield: Sheffield Academic Press (JSOT.S 235), 22-56.

Von Rad, G 1968. Theologie des Alten Testaments. Band II. Die Theologie der prophetischen Überlieferungen Israels. München: Chr. Kaiser Verlag.

Wildberger, H 1965-82. Jesaja 1-39, 3 vols. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag (BKAT X).

Share this / Deel hierdie: