Ek is opreg opgewonde oor die nuwe moontlikhede vir ‘n oop gesprek oor Jesus se opstanding, maar daar sal gewaak moet word teen drie faktore wat die gesprek kan strem. Vir die eerste keer in meer as vier jaar is ons by die punt waar daar ’n oop gesprek oor die opstanding van Christus kan plaasvind. Tot dusver was die gesprek gekenmerk deur óf terughoudendheid óf verdagmaking en beskuldigings. Die onlangse besluite van die NG Kerk se Algemene Moderatuur waar die meer genuanseerde standpunt oor die “liggaamlike” opstanding geseëvier het, is vir my ’n onteenseglike aanduiding van ’n nuwe fase in die gesprek. Hoewel daar by hierdie vergadering kritiek uitgespreek is teen die tien moderators se besluite, moet mens aan die moderators erkenning gee dat hulle ’n poging aangewend het om die gesprek op ’n beter basis te kry met hul oproep tot ’n “robuuste gesprek”.

 

Ek sou graag hul inleidende paragraaf heelhartig onderskryf:

“Verskil van mening in die kerk is ’n goeie ding. Dit help ons om die kaf van die koring te skei. Ons onderskei daarom ook tussen menings veral deur met mekaar in gesprek te tree. Ons doen dit onder meer deur briewe, artikels, boeke en toesprake.

“Sonder so ’n robuuste onderskeidende gesprek kan ’n kerk nie werklik teologie bedryf nie. Dit help ons met oorleg saam aan die Here gehoorsaam te wees.” Nie mooi broodjies.

 

Hierdie uitspraak vra dit van ons om opnuut oor die saak van die opstanding na te dink, maar ook na te dink oor die wyse waarop die gesprek verloop. My verstaan van ’n robuuste gesprek is dat dit ’n onverskrokke, intense en ontledende gesprek is. Dit is nie om mooi broodjies te bak nie. Dit is indringend en krities, maar respekvol en daarom sonder persoonlike aanvalle en selfs beledigings.

 

Die robuustheid moet in die indringendheid van die teologiese argumentvoering na vore kom en nie in die waaghalsigheid van aanvalle op mekaar nie. N.P. van Wyk Louw se Oop gesprek lê in hierdie rigting. Respekvolle gesprek behels ook ’n nie-voorskriftelike gesprek. Die ander party moet toegelaat word om die gesprek op sy of haar manier te voer en nie volgens enigiemand se voorskrifte nie. Die bekende regsbeginsel van audi alteram partem moet sekerlik in enige oop gesprek geld.

 

Daar moet ’n bereidheid wees by al die deelnemers om na al die partye te luister. Die oproep van die moderators tot so ’n soort gesprek is op sigself waagmoedig en dit verdien ons waardering. As kerkleiers gesprek wil oopmaak en nie smoor nie, is dit sekerlik ’n teken van die teologiese volwassenheid van daardie kerk. En soos gesê, was dit vir my die duidelike teken dat van amptelike kerklike kant die eerste grond gebreek word na ’n meer volwasse fase in die gesprek.

 

Sedert 2005, toe ek en twee van my kollegas by die fakulteit van Tukkies van dwaling aangekla is, het ons sekerlik gevorder tot ’n oper en vrymoediger gesprek. Juis daarom was die daaropvolgende gesprekke in die ASM (Algemene Sinodale Moderatuur) so hoopgewend. Daardie vergadering het hom daarvan weerhou om weer eens ’n paar stellings te formuleer wat die onbegryplike van die opstanding van Christus en die broosheid van die opstandingsgeloof eerder ondermyn as bevorder.

 

Ek is opgewonde daaroor dat ons ’n meer volwasse gesprekfase betree, maar ek is tegelyk ook bekommerd oor ’n paar inhiberende faktore wat juis die robuustheid van die diskussie teenwerk en nie oop gesprek bevorder nie. Ek noem hier onder drie sulke inhiberende faktore.

 

Onvolwassenheid

1. Die fundamentalistiese onvolwassenheid van ’n groot deel van die Afrikaanse geloofsgemeenskap:

  • Kyk mens na standpunte van briefskrywers in koerante dan is dit verstommend hoe beangs gelowiges is vir ’n openlike gesprek. Eerlike twyfel en vrae word sommer maklik met ’n teks of twee reggesien. Gangbare interpretasies van die Bybel word eenvoudig onbevraag gehandhaaf en gesprek daaroor is taboe.
  • Daarmee saam gaan die gebruik om mense wat ander standpunte inneem te etiketteer. So word dit al ’n gemeenplaas om na Tukkies se “liberale teoloë” te verwys. Die blote indeling van die teoloë van die land in twee kategorieë, naamlik “fundamentalisties” en “liberalisties” is reeds ’n vorm van verdagmaking
  • Verskeie briefskrywers verwys na die klagtes wat deur ’n teologiestudent teen myself en twee kollegas ingedien is, sonder om te meld dat die klagtes behoorlik ondersoek en die betrokkenes van enige dwaling vrygespreek is. Daar word daarna verwys as ’n “regsgeding” wat “tegnies van aard” is, terwyl ondersoeke oor suiwerheid van leer volledige teologiese ondersoeke behels.
  • En dan is daar Christelike boekwinkels wat traag of onwillig is om sekere boeke te verkoop. Dit was die geval met my eie boek, Opstanding, en nou onlangs het ek dit weer ervaar met prof. Willie Esterhuyse se boek God en die gode van Egipte.

 

Moddergooiery

2. Stereotipering en persoonlike aanvalle:

In plaas van ’n saaklike teologiese debat vind ons ongelukkig soms tekens van ’n moddergooiery. Die moderators verwys na die “uitrafeling” van die gesprek en betreur dit met reg. Maar die gesprek rafel uit en raak persoonlik wanneer mense in magteloosheid hulself probeer beskerm teen verdagmaking. Met stereotipering en etikettering word karikature van ander opgebou en so word die tafel gedek vir sterk emosionele teenreaksies.

 

Twee paradigmas

3. Die feit dat die uiteenlopende teologiese uitgangspunte nie onderskei en verwoord word nie:

Die “gesprek” het tot dusver bitter min vordering getoon omdat dit vanuit twee verskillende paradigmas gevoer word. Die een groep bedryf skynbaar teologie op ’n epistemiese (kennis) en proposisionalistiese (stellings formuleer) vlak, terwyl ’n groeiende groep gemakliker daarmee is om hul teologie vanuit ’n hermeneutiese (verstaan), of kultuur-linguistiese paradigma te verwoord.

 

Ek word byvoorbeeld verwyt dat ek op vrae wat aan my gestel is nie pertinente antwoorde gegee het nie. My weiering om op daardie manier in die debat ingetrek te word spruit uit die tweede manier van teologiebeoefening. Ek is ongemaklik met ’n teologie wat gebaseer is op waarheidsaansprake en -uitsprake. Ek kan nie saampraat wanneer komplekse konsepte soos die opstanding op ’n oorvereenvoudige, slagspreukagtige manier aangebied word nie.

 

Die skool van denke en teologiebeoefening waarby ek myself tuis voel, werk eerder hermeneuties (met die oog op verstaan) of postfundamenteel, waar die paradoksale en misterieuse beklemtoon word. Teenoor die prosaïese en byna regstegniese stellings, word in hierdie geledere die taal van poësie en kuns omhels om die onsêbare gesê te kry.

 

Dit lyk asof die twee groepe mekaar nie goed hoor en verstaan nie omdat hulle verskillende teologiese tale gebruik. Die gesprek sal eintlik eers werklik robuust kan word indien ons daarin kan slaag om oor hierdie uitgangspunte, paradigmas en teologiese tale met mekaar in gesprek te tree.

 

As ons dit nie doen nie, sal die gesprek negatief robuust bly in die sin dat elke kant die ander probeer uitoorlê met heftige stellings en nog heftiger teenstellings. Ons as teoloë is dit nie alleen aan mekaar nie, maar aan die breë geloofsgemeenskap verskuldig om ons gesprek oor heilige en sensitiewe geloofskonsepte op ’n volwasse vlak te voer.

Share this / Deel hierdie: