Verloor ons nie die evangelie in die Emerging Church nie

 

Volle bibliografiese besonderhede:

Titel: Jesus is die Een

Subtitel: Verloor ons nie die evangelie in die Emerging Church nie

Outeur: Johan Janse van Rensburg

Datum: 2011

Paginae: 161, bibliografie ingesluit

Uitgewer: Christelike Media Publikasies

ISBN 978 1 920460 26 6

Prys: Onbekend

 

Jesus is die Een! deur Johan Janse van Rensburg bestaan uit drie onderafdelings. Afdeling A (pp 19-57) handel oor ‘Die Jesus van die Skrif’, in Afdeling B (pp 61-123) neem die outeur ‘Die ander teologie’ onder die loep, en in Afdeling C (pp 127-157) stel hy ‘Emerge in perspektief’. Soos dit uit die subtitel blyk, tree Johan Janse van Rensburg in hierdie publikasie met die sogenaamde Emerging Church-beweging – afgekort na EC – in gesprek.

          Janse van Rensburg doen moeite om die EC te verstaan. Hy maak ‘n deeglike studie van hul werk en wy meer as ‘n derde van sy boek aan ‘n uiteensetting van hul benadering tot die geloof en die kerk (Afdeling B). Volgens die EC gaan dit daaroor dat die Christelike geloof vir die postmoderne mens herbedink moet word om in die een en twintigste eeu te kan bly voortbestaan. Die ou strakke en onverbiddelike ‘waarhede’ is eenvoudig nie meer bevatlik of aanvaarbaar nie. ‘n God wat veroordeel, ‘n evangelie wat eksklusief is, moet hervorm word na ‘n God van liefde wat almal insluit, ongeag geloof (pp 63-68).

Jesus se lewe is baie meer belangrik as die leer oor Hom. Jesus is nie die Een wat ons van ons sonde kom verlos het nie, Hy was eerder iemand wat sosiale geregtigheid laat geskied het en wat naasteliefde aan alle mense bewys het (p 72). Daarom vervaag begrippe soos hemel en hel. Die leer oor sonde het geen plek nie. Hel is waar daar die uiterste nood en ellende op aarde is (armoede, ellende, onreg ens), en hemel is waar die kerk hierdie toedrag van sake met mag en mening beveg (p 114).

Volgens die EC is die postmoderne mens van die een en twintigste eeu ook baie meer op ervaring as op dogma ingestel. Meditasie, (‘centering prayer’) word beklemtoon, maar die verrassende is dat God slegs deur ‘n diepe kennis van die self gevind word (p 101).

In die een en twintigste eeu, sê die EC, moet daar heeltemal nuut en anders oor kerk en kerk-wees gedink word. Die fokus op struktuur, strategiese beplanning, begroting en akademiese opleiding is onnodig (pp 75, 84), die kerk moet weer haar antieke wortels ontdek en die kerk van Nuwe Testament laat herleef (pp 75, 83). Denominasies moet verdwyn, die Koninkryk van God moet kom!

Johan Janse van Rensburg kritiseer hierdie sienswyses van die EC. Wat laasgenoemde mening oor die terugkeer van die kerk na haar Nuwe Testamentiese gestalte, merk hy tereg op: ‘Daar is ‘n innerlike teenstrydigheid in die dringende oproep dat die kerk moet verander en die vreemde droom dat die kerk in ‘n postmoderne tyd sal terugkeer na die eenvoudige kerk-wees van die Bybel’ (p89). En hy veg ook vir teologiese opleiding (p 77).

Maar ongelukkig slaag die res van sy argumente teen die EC-beweging nie. Janse van Rensburg voer aan dat die EC die belangrike geloofswaarhede van die Skrif verwerp (p 177) as hulle beweer dat geen sekerheid oor enige geloofsake uit die Bybel te kry is nie (pp 119, 123). ‘As daar geen absolute waarheid is nie, kan die Christelike geloof nie daarop aanspraak maak om die enigste ware geloof te wees nie,’  skryf hy op bladsy 87. Die enigste ware geloof is die Christelike geloof. Die Bybel is die gesaghebbende Woord van God en die evangelie van Jesus Christus is ‘so duidelik soos daglig’ (p 117). Die Skrif leer belangrike geloofswaarhede en sleutelwaarhede oor Jesus en sy verlossing. Die hooftemas in die Bybel, is sonde, verlossing deur Jesus Christus en ‘n lewe van dankbaarheid (p 123). Volgens Janse van Rensburg mag daar onsekerheid oor sommige sake in die Skrif bestaan, maar oor hierdie hooftemas is daar geen twyfel nie. Dis alles so ‘deursigtig dat selfs ‘n kindjie dit kan verstaan!’

Is dit werklik al waaroor dit gaan? Deur slegs enkele sogenaamde ‘geloofswaarhede’ uit die Skrif te belig, gaan die volle rykdom en verskillende skakerings van die Bybel – die Ou – en die Nuwe Testament – verlore. Die Skrif vertel van aansienlik meer as bloot sonde, verlossing deur Jesus en ‘n dankbare lewe. En klein kindertjies verstaan hierdie ingewikkelde en abstrakte konsepte gewoonlik glad nie. Dit maak hulle eintlik baie baie bang.

Wanneer Janse van Rensburg in Afdeling A die ‘Jesus van die Skrif’ aan die leser voorstel, is sy Skrifhantering letterlik en onkrities. Jesus se woorde, byvoorbeeld in die Johannes-evangelie (p 23, 24), is volgens hom Jesus se werklike woorde. So ook die afskeidswoorde van Jesus in Matteus 28:19 (p 41; vgl ook p 71 waar Jesus as oordeelsfiguur voorgestel word.) Hy hou hoegenaamd nie rekening met die verskillende teologiese motiewe van die Nuwe Testamentiese skrywers nie, en ook nie met die verskillende historiese kontekste van die evangelies en die briewe nie.

Meer ontstellend is egter Janse van Rensburg se vermoë om Jesus wel in die Ou Testament te vind! Op bladsy 28 skryf hy: ‘Jesus is die vervulling van die profesie van Psalm 118:22.’ Die uiters problematiese teks in Job 19:25 is ‘n bewys van geloofsekerheid in Jesus Christus (p 36). Jesaja 40:3-5 se profesie het betrekking op Johannes die Doper (p 37), en op bladsy 38 is die wondergenesings in Matteus 11:5 die vervulling van Jesaja se beloftes (28:18-19; 35:5-6; 61:1-2). So wil Jesus vir Johannes die Doper wys dat die beloftes van profete in Hom vervul is. Hierdie teologie is hopeloos verouder, en totaal onwetenskaplik. Jesus word nêrens in die Ou Testament voorspel nie, en al is Janse van Rensburg nie ‘n Ou Testamentikus nie, behoort hy as ‘n professor in teologie ten minste hiervan bewus te wees!

Verder skryf hy: ‘Satan het in die Ou Testamentiese tyd die Here se kerk probeer vernietig deur Israel as klein volkie deur ander nasies te laat verswelg’ (p 56); en ‘Satan se versekering aan Eva, dat as hulle van die verbode vrugte eet …’ (p 111). Weer eens, die Ou Testament ken nie Satan as ‘n bose duiwelse figuur nie. Satan word in die Hebreeuse Bybel slegs op drie plekke by die naam genoem: 1 Kronieke 21:1; Sagaria 3: 1&2; en Job 1&2 – en hier is Satan een van die seuns van God. Janse van Rensburg se aantygings teen die Ou Testamentiese Satan is Skriftuurlik volkome ongegrond.

Uiteindelik slaag sy kritiek teen die EC nie, want albei redeneer volgens dieselfde gebreke: ‘n gebrek aan Bybelwetenskaplike kennis – selfs basiese kennis; ‘n onvermoë om die Skrif binne historiese konteks te plaas en gevolglik krities te hanteer; ‘n blindheid vir die uiteenlopende, selfs teenstrydige tekste in die Ou en die Nuwe Testament. Albei probeer om die Skrif op ‘n bepaalde manier en vir ‘n bepaalde doel aan die woord te stel, of dit nou is deur middel van sekerheid (Janse van Rensburg) of deur middel van onsekerheid (EC). Die ryke verskeidenheid en die lewendige dialoog binne die Bybel self word verskraal tot ‘n verpakking van die evangelie vir die post-moderne mens, of die enigste sekere geloofswaarheid dat Jesus die Een is.

Die EC oortuig nie, en Johan Janse van Rensburg se argumente ook nie.

Share this / Deel hierdie: