Markus 14:22-24 – Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: ‘Neem dit, dit is my liggaam.’ Toe neem Hy ‘n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. Hy sê vir hulle: ‘Dit is my bloed. Die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word.’

 

Net nadat Jesus hierdie woorde uitgespreek het, begin sy lyding wat in die Markus-evangelie sistematies ontvou tot by sy dood aan die kruis. Die evangelieskrywer maak egter op ‘n besondere kreatiewe manier gebruik van temas wat ook in die boek van die Psalms voorkom:

 

  • die opset om die regverdige om die lewe te bring

Markus 14:55 – Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het geprobeer om n aanklag teen Jesus te kry om Hom dood te maak, maar hulle het niks gekry nie.

Psalm 37:32 – Die goddelose lê die regverdige voor en soek ‘n kans om hom dood te maak …

Psalm 38:13 – Dié wat my lewe soek, stel vir my strikke, dié wat daarop uit is om my kwaad aan te doen, praat al klaar van my ondergang.

Psalm 54:5 – … want vyande staan teen my op, geweldenaars soek my lewe.

 

  • valse getuienis

Markus 14:54 – Sommige van hulle het na vore gekom en vals getuienis teen Hom afgelê deur te sê …

Psalm 27:12 – Moet my tog nie oorgee aan die venyn van die teëstanders nie, want daar staan vals getuies teenoor my en hulle blaas geweld teen my aan.

Psalm 35:11 – Daar is kwaadwillige getuies wat teen my optree.

Psalm 38:13 – … die hele dag deur dink hulle vals beskuldigings teen my uit.

 

  • stilswye

Markus 14:61 – Maar Jesus het niks gesê nie en Hom glad nie verweer nie

Psalm 38:14 Maar ek hou my doof, ek hoor niks, ek hou my stom, ek maak my mond nie oop nie.

Psalm 39:10 Ek kla nie, ek maak my mond nie oop nie, want U het dit oor my gebring.

 

  • klere word verdeel

Markus 15:24 Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy klere onder mekaar deur te loot oor wat elkeen moet kry.

Psalm 22:19 Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel.

 

  • spot en skud die kop

Markus 15:29-30 – Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: ‘Toe, jy wat die tempel afbreek en in drie dae weer opbou! Red jouself en kom van die kruis af!’

Psalm 22:8-9 – Almal wat my sien, spot my, hulle steek vir my tong uit en knik met voldoening die kom en sê: ‘Laat dit aan die Here oor. Laat Hý hom bevry as Hy dan so baie van hom hou!’

 

  • Godverlatenheid

Markus 15:34 – Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: ‘Eloï, Eloï, lemá sabagtani?’. Dit beteken: my God, my God, waarom het U my verlaat?

Psalm 22:2 – My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?

 

  • asyn

Markus 15:36 – Een van hulle het toe gehardloop, ‘n spons in asyn [OV] gesteek en dit vir Hom op ‘n stok gehou om te drink.

Psalm 69:22 – Toe ek honger was, het hulle my gif aangebied, toe ek dors was, wou hulle my asyn laat drink.

 

Die Psalms was een van die mees gelese Bybelboeke van die gelowiges in die antieke tyd, die Jode sowel as die Christene, juis omdat dit so menslik is. In die Psalms stort mense al hul menslike emosies voor God uit – vreugde, verwondering, maar ook hartseer, vertwyfeling, selfs woede. Markus sluit aan by Psalms wat met menslike lyding en Godverlatenheid te make het. Die eerste lesers van die Markus-evangelie sou dan ook dadelik die Psalms in Jesus se lyding herken. Hulle sou verstaan dat Jesus ‘n mens was, dat Hy gely het, leed ervaar het, dat Hy selfs van God verlate gevoel het, net soos die Psalmdigters van ouds. Wat die toespeling op die psalms nog treffender maak, is dat hierdie psalms die klag verwoord van iemand wat onregverdig ly. Jesus dus, ly nie as gevolg van die een of ander sonde wat Hy begaan het nie, sy lyding is die lyding van ‘n geregtige. In die Psalms triomfeer God se geregtigheid uiteindelik, en dit sal ook waar word wat Jesus betref.

Terselfdertyd maak die Markus-evangelie dit deurgaans duidelik dat Jesus meer as ‘n gewone mens was. Die evangelieskrywer weet dat Jesus van Goddelike oorsprong is, en dit wil hy ook aan sy lesers kommunikeer. Maar terselfdertyd wil hy hulle ook laat verstaan dat Jesus solidêr met mense is. In Jesus se lyding wat ten nouste aansluit by die menslike lyding van die Psalms, kommunikeer die Markus-evangelie duidelik ‘God is ook in ons lyding’.

Die karakters – die dissipels en andere – in die Markus-evangelie het nooit presies verstaan Wie Jesus is nie. En die skrywer van die evangelie gebruik die psalms om uitdrukking aan hierdie groot misterie te gee, ‘n misterie wat ons selfs vandag nie begryp nie.

Share this / Deel hierdie: