Kinderjare

 

Johannes Calvyn, soos hy vandag in Afrikaans genoem word, het Rooms Katoliek grootgeword. Sy pa, Gérard Cauvin, was die notaris en administrateur van die katedraal te Noyon, in die Picardie-distrik van Frankryk. Sy ma, Jeanne le Franc, was die dogter van ‘n herberg-eienaar in Cambrai. Hyself is op 10 Julie 1509 gebore as Jean Cauvin, die middelbroer van Charl en Antoine. Hul moeder is betreklik vroeg oorlede.

 

Jong Jean is ‘n besonder skrander kind. Sy loopbaan begin hy in die Rooms Katolieke kerk. Op twaalfjarige ouderdom neem die plaaslike biskop hom in diens as klerk. Spoedig ontvang hy die ‘tonsuur’ – die hare bo-op sy kop word afgeskeer as ‘n simboliese bewys van sy toewyding. Terselfdertyd ontferm die welgestelde en invloedryke Montmors-familie hulle oor hom. Hulle maak dit vir hom moontlik om klas te loop aan die Collège de la Marche in Parys, ter voorbereiding vir verdere studie aan ‘n Universiteit. Hier leer hy, onder andere, retoriek, wiskunde, geometrie, astronomie, musiek en ook Latyn. Een van die grootste Latynmeesters, Mathurin Cordier is sy onderwyser. ‘n Bietjie later sou hy ook sy naam ver-latyns na Ioannis Calvinus.

 

Opleiding

 

Op veertienjarige ouderdom, in 1523 verlaat die jong student die Collège de la Marche om aan die meer bekende Collège de Montaigu te studeer, hierdie keer om homself in die filosofie te verdiep. Sy pa, Gérard is egter nie daarvan oortuig dat dit ‘n goeie keuse is nie: Regte bied ‘n veel meer lonende loopbaan. ‘n Paar jaar later, in 1525 of 1526, word Ioannis deur sy pa dus ingeskryf aan die Universiteit van Orléans om homself in die Regswese te bekwaam. Die onderrig wat hy hier ontvang, is deurdrenk van die Humanisme en die denke van die Franse Renaissance. Sy Regsopleiding behels deeglike eksegese van tekste, maar eksegese soos voorgeskryf deur die metodiek van die Humaniste, – dit wil sê, toegang tot die teks word op direkte wyse verkry deur historiese en grammatikale analise van die brontaal, en nie indirek via verskeie interpretasies van kommentatore nie. Later sou hy hierdie eksegetiese metodes van die Regswese ook op die Skrif toepas.

 

In 1929 hoor hy dat die Humanistiese regsgeleerde Andreas Alciati aan die Universiteit van Bourges doseer, en hy verlaat Orléans om onder dié groot geleerde te gaan studeer. Hy voltooi sy studies in die Regte en in 1532 publiseer hy sy eerste boek: ‘n kommentaar oor De Clementia van die filosoof Seneca. Waarskynlik is dit gedurende hierdie tydperk wat hy met Grieks in aanraking kom, meer aanklank begin vind by die denke en godsdiens van die Reformasie en uiteindelik ‘n keuse teen die Rooms Katolieke geloof maak. Anders as byvoorbeeld Luther, was hy nooit werklik ‘n toegewyde Rooms Katoliek nie, in sy lewe kan daar dus nie sprake van ‘n radikale bekering of ommekeer van geloof wees nie.

 

Vriendskap   

 

Calvyn vorm hegte vriendskapsbande met ander Reformatore. Een daarvan is Nicolas Cop wat in 1533 tot Rektor van die Collège Royal (later Collège de France) in Parys verkies is. Gedurende hierdie tyd loop die spanning aan die Universiteit hoog. Aan die een kant is daar die humaniste/reformatore en aan die ander kant die konserwatiewe lede van die Fakulteit. Op 1 November 1533 lewer Cop sy intreerede waar hy  die behoefte aan hervorming en vernuwing in die kerk beklemtoon. Hierdie lesing laat ‘n hewige storm ontketen en beide Cop en Calvyn moet uit Parys vlug. Cop vind skuiling by ‘n vriend in Anguolême en Calvyn vestig homself vir ‘n tydlank in Basel. Hier word die eerste uitgawe van sy Institusie gepubliseer.

 

In Frankryk is Calvyn glad nie geliefd nie, en telkens moet sy besoeke aan en vertrek uit sy geboorteland met ‘n ompad geskied. So bevind hy homself op ‘n keer in Genève en raak bevriend met Willem Farel wat sy hulp met die Kerk vra. Aanvanklik is Calvyn onwillig, maar die hand van God lê swaar op hom. Farel en Calvyn stel saam ‘n geloofsbelydenis op en dring daarop aan dat alle burgers dit moet onderskryf. Die stadsraad weier egter om dit te aanvaar, en in 1538 ontneem hulle die twee Reformatore die voorreg om die kerklike ban toe te pas. Dis ‘n klap in die gesig: ekskommunikasie is immers deel van hul amp! Farel en Calvyn se weerwraak is soet: geen inwoner van Genève mag by die Nagmaalstafel aansit nie. Die stadsraad het nou geen keuse as om die twee uit die stad te verban nie: Farel vlug Neuchâtel toe, Calvyn na Strasbourg.

 

Huwelik

 

Vir drie jaar lank werk Calvyn vir ‘n kerk van Franse Hugenote in Strasbourg – as dosent en as pastor. Met die kerksake gaan dit goed, maar finansieel byt hy die spit af. Hy huur ‘n groot huis wat hy aan studente onderverhuur in die hoop om sy kostes te dek, maar sake loop skeef. Benewens finansiële probleme werk sy menseverhoudinge ook nie uit nie. Hy ontwikkel hoofpyne en maagprobleme. Sy besluit om ‘n huishoudster te huur, is ‘n ramp: dis ‘n vrou met ‘n skerp tong wat sy huurders verskree terwyl hy besig is om aan die tweede uitgawe van sy Institusie te werk. Uiteindelik besluit sy vriend Martin Bucer dit is nou tyd vir ‘n vrou, en Calvyn stem in dat ‘n ‘soek-komitee’ in die lewe geroep word om ‘n geskikte partner vir hom te vind. Hy stel egter sy voorwaardes: sy moet ‘kuis, gedienstig, nie te puntenerig nie, ekonomies, en geduldig wees, en na sy gesondheid kan omsien’. Sy gesondheid laat inderdaad veel te wense oor: hy eet slegs een maaltyd per dag, voel dikwels goor as gevolg van slegte spysvertering, ly aan hoofpyne, galstene, aambeie, jig, koors en asma.

 

Na ‘n jaar en ‘n half word ‘n moontlike kandidaat opgespoor. Die vrou is welgesteld, en haar broer ‘n ondersteuner van Calvyn. Ongelukkig praat sy nie Frans nie, en stem baie onwillig in om die taal aan te leer. En waar almal gereken het haar geld sal die arme Calvyn ten minste uit sy finansiële verknorsing red, is dit juis vir hom ‘n verleentheid: rykdom en weelde pas glad nie by die sobere soort lewenswyse waarvan hy ‘n voorbeeld probeer wees nie!

 

Die volgende kandidaat is ‘n toegewyde Protestant, Frans, was nog nooit vantevore getroud nie – maar sy is ten minste vyftien jaar ouer as Calvyn. Hy het besluit om die saak nie verder te voer nie.

 

Die derde vrou het aan al die vereistes voldoen, alhoewel sy in ‘n ander stad gebly het. Calvyn se vriende het al vir die huwelik begin gereed maak. En toe loop iets verkeerd. Hoe meer hy haar leer ken het, hoe minder het hy van haar gehou. Presies die teenoorgestelde het met haar gebeur: in die proses het sy op hom verlief begin raak. Calvyn wou ‘n onemosionele verhouding hê – haar intense gevoelens het alles kompliseer!

 

En toe onthou hy van ‘n jong weduwee in sy gemeente, Idelette Stordeur, gebore de Bure. Sy en haar man was Anabaptiste wat ook vir hul lewens moes vlug. Uiteindelik het hulle by Calvyn-hulle ingeskakel en hulle tot die geloof van die Reformatore bekeer. ‘n Rukkie vantevore is haar man aan die pes oorlede – Calvyn het die begrafnis gehou. Hy het onthou met hoeveel sorg en toewyding sy haar man verpleeg het. Boonop was sy 31, so oud soos hyself. Die feit dat sy jong kinders uit haar vorige huwelik gehad het, was skynbaar nie ‘n probleem nie, want dit was nie te lank nie, of Calvyn tree in die huwelik met Idelette in Augustus, 1540. Ongelukkig oorleef nie een van Calvyn en Idelette se eie kinders nie; Idelette, wat getrou na haar tweede man se gesondheid omgesien het, sterf self na ‘n lang siekbed in 1549.

 

Sedebewaker

 

Calvyn het egter nie die hele tyd in Strasbourg gebly nie – Genève sou die stad wees waaraan sy naam tot vandag toe gekoppel word. Kardinaal Sadolet het intussen ‘n ope brief aan Genève geskryf en ‘n oproep op die inwoners gedoen om weer na die Moederkerk toe terug te keer. Sadolet het daarop gewys dat kerkskeuring ‘n misdaad is; Calvyn, in sy ballingskap het daarop geantwoord dat die Roomse Kerk korrup is. Hierdeur het hy weer eens die guns van die Protestante in die stad gewen, en nadat ‘n klompie van sy ondersteuners sitting op die stadsraad verkry het, is hy oorreed om in 1541 terug te keer.

 

Sy hervormingsmaatreëls, veral die moralistiese inslag van sy ‘Konsistorie’, het hom nie by almal gewild gemaak nie. Die ‘Konsistorie’ was ‘n soort kerklike raad wat uit die pastors en ouderlinge bestaan het, en wat toesig moes hou oor die amptenare en lidmate van die kerk. Oortredinge het verband gehou met leerdwaal en morele wangedrag soos wilde gedans en luidrugtige gesing. As straf is die oortreder verplig om openbare eredienste of kategese-klasse by te woon. Nogtans het Calvyn volgehou dat alles tot die beswil van die individu en die gemeenskap is, en dat hy daardeur die basis vir ‘n gesonde gesinslewe wou vestig. Inderdaad, dit blyk dat hy ook die belange van vroue op die hart gedra het: mans wat die eg verbreek of gewelddadig teenoor hul vrouens opgetree het, is swaar gestraf, nog swaarder as vroue wat soortgelyke oortredinge begaan.

 

Ouderdom en dood

 

Calvyn se migraines, maagprobleme, galstene en jig eis uiteindelik sy tol. Soms moet hy na die kansel toe gedra word om te preek, soms gee hy selfs lesings vanuit sy siekbed. Vir baie jare lank het hy slegs een maaltyd per dag genuttig, maar nou oortuig sy dokter hom om vir middagete tog ‘n eier te eet en ‘n glas wyn te drink. Tot aan die einde van sy lewe het hy onophoudelik bly werk.

 

Johannes Calvyn sterf in Genève op 27 Mei 1564.

 

Dit is nie heeltemal seker waar hy begrawe is nie.

Share this / Deel hierdie: